seegogga's avatarSeegogga se Bloggie

Hiedie was een van my eerste skrywes, lank gelede, en nog een van my idees. Noudat ek ‘n Aandag kategorie begin het, het ek besluit om dit te reblog. Miskien eendag, word iemand anders ryk uit my idees uit! Mmm,miskien moet ek die kategorienaam verander na: idees hoe om ‘n miljoener te word……

“Ek het al lankal gewonder, en dit ook een aand breedvoerig met my man bespreek, hoekom hulle dan nie motorkarre maak soos die rubberducks nie.

Kyk, rondom die rubberduck is daar mos so’n breë, luggevulde rubber”tube”, lekker styf gepomp, en my verstand se vir my, hy kan maar stamp. Hy gaan miskien “puncture’ of selfs bars, maar daardie stukkie boot in die middel gaan mos niks oorkom nie.

Nou hoekom op die aarde het karre nie ook so ‘n beskermende “stamp- proof”‘ rubber tube rondom nie? Sal die mense binne- in nie veiliger wees nie? Die assuransie…

View original post 167 more words

4 Kommentaar

Aandag alle uitvinders, inventors, en planmakers en vervaardigers

Nadat my (gewese) huishulp besluit het dis lekkerder om te kuier as om vir my te werk, en met 3 strandplekke en ons eie huis, is ek hierdie jaar skielik toegegooi: onder die werk, die wasgoed en die STOF!

Vir die wasgoed is daar ‘n wasmasjien- jy gooi net is en haal later weer uit, silwerskoon. Om droog te maak, is daar ‘n tuimeldroer- jy gooi net in en haal later uit, mooi droog( welliswaar effens gekreukel, maar darem- en daarvoor is mos daardie presse deesdae).

Skottelgoed  pak jy vinnig in die skottelgoedwasser en haal later net uit, silwerskoon.

Selfs tuinwerk is deesdae maklik. Jy draai nie eers meer die kraan oop nie! Gerekenariseerde sproeiertjies spuit hom mooi nat in die regte hoeveelhede sonder dat jy ‘n vinger hoef te verroer.

Maar wat van STOF???????

Jaaaa, ek weet mens kry ‘n stofsuier, maar jy moet mos die ellendige ding rondtrek en stoot, hy haak aan die tafelpote vas, sy draad koek, of trek styf om die bank, en jy moet alewig ‘n extension aanklik omdat sy draad nooit lank genoeg is nie. Kort-kort moet jy die ding leegmaak, anders wil hy nie meer suig nie, maar die ergste van alles is daardie taai wolletjies wat aan die mat vassit, en wat hy verseg om op te tel, tot jy later maar hand bysit(letterlik). Ek weet ek moet dankbaar wees en ek mag nie haat nie, maar  gee my maar liewer ‘n gewone ou besem. Ek haat ‘n stofsuier!

En terwyl ek nou so vee en was en skrop, wonder ek by myselwers hoekom iemand nog nie ‘n beter patent kon uitvind as ‘n stofsuier nie. Met die dat alles op die aarde omtrent uit stof bestaan en tot stof sal terugkeer, en met die dat materie nooit ooit in der ewigheid vergaan nie,  is dit g’n wonder dat daar so baie stof is nie. In die Groot Gedagte van Gideon Joubert, vertel hy dat die kleinste deeltjies op die aarde(wie weet, dalk ‘n stukkie van ou Adam of Eva?) so klein is dat  hulle sommer so deur jou beweeg, sonder om eers aan jou molekules of selle te raak, soos wat ‘n spoetnik so tussen die planete deur beweeg sonder om aan hulle te raak .  So klein is stof soms, en dink net hoe baie !

Aan stof is hier op aarde dus nie ‘n tekort nie. Die moeilikheid is: dit mag nie in die huis wees nie! En wetenskaplik gekyk na die saak, is dit ‘n saak van onmoontlikheid. Kom ons sê liewer ‘n mens mag dit net nie sien nie( wat die oog nie sien nie, treur die hart mos nie oor nie). Nee alles moet blink en glad vertoon. So is die mode nog al die jare.

Maar ek het ‘n idee, as ‘n uitvinder dit nou net wil verwerk en prakties moontlik maak. Die plek waar die meeste stof en vuilgoed kom, is mos die vloere( agv die swaartekrag, nie dat stof nou juis swaar is nie.):

“Self cleaning floors!”

Waarom maak een of ander uitvinder nie vloere wat self skoonmaak nie? Ek sien vloere met klomp miniatuur klein spreiertjies in wat net bokant vloervlak ‘n klein missie sprei, met die kliek van ‘n knoppie. In die vloeistof kan jy ‘n blinkmaak ding ingooi om jou vloer mooi te maak. Dan is daar honderde klein suiertjies, wat al die vloeistof weer opsuig en blasertjies om die effense nattigheid vinnig droog te blaas en die verstopte suiggaatjies weer oop te blaas. Al die vloeistof word onder die vloer weggevoer met pype en buite in sakke vrygelaat. Soms is daar net ‘n droe suigaksie ook- taamlik sterk suig om van stod ontslae te raak en wat van fyn ronddraaiende borseltjies wat oppop en die floer liggies vee om die stof los van die vloer te maak?Die vloere het honderde baie klein gaatjies in, maar  jy sal dit nie eers opmerk nie, veral nie al jy dit laat lyk soos die nuwe plankvloere wat nou so in die mode is nie.

Elke aand slaaptyd , druk huisvrou die knoppie, en die vloerwas aksie begin, en hou vanself na ‘n seker tyd op, of jy kan dit ook rekenariseer sodat dit  gereeld plaasvind op tye wat jou pas. Werkendes sal dit dalk in die oggend wil laat gebeur as hulle op kantoor is, mammas snags as die kinders slaap.

Aandag alle uitvinders: So ‘n uitvindsel kan dalk net ‘n Nobelprys losslaan – dink net hoeveel werk, frustrasie en ellende gaan hy die mensdom( en vir my) spaar!

 

Posted in Aandag! Verbeter die lewe en word 'n mijoener! | 10 Kommentaar

renoster, o renoster

Lank gelede , toe renosters nog redelik vry en gelukkig kon lewe, het my man hierdie prent van ‘n renoster gemaak. Dit is ‘n volle vel hardbord, en is gemaak met bier en koeldrankdoppies.

Nou het hy weer so ‘n prent gemaak, hierdie keer met regte bottels. Daar is ongeveer 3100 bottels hier. En hierdie bottels is net so breekbaar soos ons arme pragtige renosters.

Posted in Los opdrifsels | Tagged , | 8 Kommentaar

Briefie aan ‘n Bloggie

Liewe Bloggie,

Ek verlang vannaand na jou. Ek het so uitgesien na ons twee se tydjie saam, en noudat ek hier by jou sit, is my hande lam, my brein suf en my wil min.

Ek het my voorgeneem om oor die fisiese ontwikkeling van die babatjie te skryf- het immers maande gelede al navorsing daaroor gedoen. Miskien is dit nou omdat dit al bietjie laat is, die tweelingetjie loop al amper, dat ek so traag is.

Hierdie afgelope weke het ek so hard gewerk soos nog nooit tevore nie, voel dit my, en noudat ek hier by jou kan sit, is ek te lam. Ag, Bloggie, wees asseblief maar geduldig met my. jy weet mos dat ek baie lief is vir jou.

Vandat jy in my lewe gekom het, het wêrelde oopgegaan, ek het dinge geleer waarvan ek niks geweet het nie, wonderlike nuwe blogvriende het my pad gekruis. In moeilike sowel as gelukkige tye is jy by my en jy verstaan altyd soo goed! Jy is regtig goed vir die siel!

Maar nou is dit baie laat en slaaptyd, dus groet ek eers tot anderdag. Ek stuur vir jou een van my gunsteling liedjies. Die woorde van die liedjie wil my altyd tranerig maak. Maar as ons nou die oorlog en goeie verlore vriende kan vergeet en net aan ons twee dink, dan is die woorde ook heel gepas.

Ek verlang na jou!

Liefde

Seegogga

14 Kommentaar

Ouma se bababoek brief 15 :’n Spesiale slaapliedjie

Liewe Kinders en alle mammas wat hier lees

Ek kry deesdae baie “searches” oor babaliedjies of oumaliedjies. Wel, soos julle eintlik al weet, HET ons so ‘n liedjie, ‘n baie spesiale liedjie, want dit ons familie se eie liedjie!

Dit het so gekom: Soos julle weet, is ons  familie mos super vrugbaar. So het my ouma en oupa niks minder as 12 kinders gehad nie! Die 11 wat grootgeword het, het ook almal hulle eie kinders gekry en nou is die 11 se kinders se  kinders besig om weer kindertjies te kry. My eerste kleinkinders is sommer ‘n tweeling!

Maar nouja, met 12 kinders in die huis, was daar seker vir ‘n baie lang ruk altyd babatjies in die huis. Met julle ouma tweede oudste en Oom Henry net ‘n entjie jonger as sy, veronderstel ek dat hulle baie keer babatjies aan die slaap moes sing. En toe maak oom Henry hierdie liedjie.

Dis ‘n eenvoudige liedjie, gemaak deur ‘n laerskoolseuntjie,( of wie weet hou oud hy was- was hy al ooit in die skool?) – maar so treffend en lekker om te sing -wat is nou mooier en meer eie aan ons omgewing as ‘n klein babaskilpadjie?- maar bowenal: babatjies hou daarvan! Hulle raak sommer tjoef-tjaf salig aan die slaap met hierdie liedjie. Nou, ek weet nie of babatjies weet wat klein skilpadjies is nie, maar ek verseker julle die liedjie werk!

Dis dan seker ook hoekom die liedjie in die geheue van die familie bly voortleef het, en al die Falck kinders ( die 11 wat grootgeword het), dit weer vir hulle kinders gesing het. En hulle kinders het dit weer vir HULLE kinders gesing, en nou sing julle dit weer vir julle kinders ( en hierdie ouma vir haar tweeling kleinkinders!)

Ek self het eers die liedjie vir die eerste keer gehoor toe julle ouma vir jou aan die slaap gesus het, Leanie.Nee, dis nie waar nie, ek is mos self met hom aan die slaap gesus, maar ek kan dit mos nou nie onthou nie. “Waar kom Ma nou aan daardie liedjie?” het ek verbaas gevra, want ek het gedog ek ken omtrent al die wiegeliedjies in Afrikaans. Toe vertel sy my die storie.

Die liedjie het dadelik my herinner aan ‘n dag, jare gelede, toe ek ‘n klein dogtertjie was. Ons het daar naby Robertson in die berg gaan uintjies ( ek is nie seker van die woord nie- dis sulke lang wit wortels wat onder die grond groei en baie lekker), soek, toe ons  ‘n klein skilpadjie onder ‘n bossie sien sit.  Dit was die mooiste dingetjie en ek wou hom so graag hê. My nefie, Harry, het die skilpadjie vir my bo in sy hempsakkie ingesit. Soos die oggend aangegaan het, het hulle my vertel van die arme skilpadjie wat nou ongelukkig gaan wees, ens, en op die ou einde het ons hom weer gaan terugsit – onder ‘n bossie.

Sedertdien het ek gehoor hoe tannie Lydia dit sing en by navraag ken al die Falcke toe die liedjie.

Nou het ek die liedjie neergeskryf. Sover ek weet is die die heel eerte keer wat die liedjie op papier geskryf word – en dit het my die ganse nag geneem, omdat ek aanmekaar die een fout na die ander gemaak het, en omdat hierdie rekenaar vannaand sy eie willetjie het, nes ‘n stout kind. Maar hier is hy nou, min of meer net so, en as iemand wat hier lees dit vir sy babatjie wil sing, is hy welkom- saggies oor en oor, en vervang soms die woord mooie met kleine.

Nouja, dis middernag en ook slaaptyd hier!

Lekker slapies.

Mamma

om verder te lees, klik hier.

KOPIEREG WAARSKUWING: Niemand mag hierdie musiek publiseer in ‘n boek, fotokopieer en versprei of kommersieel sing of opnames van maak sonder die skriftelike toestemming van Mnr Henry Falck of sy nageslag nie. Indien u dit ooit wil doen, kontak my deur middel van hierdie blog  of by seegogga@gmail.com  Op las.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 16 Kommentaar

blogverslawing?

Wag ek loer net gou

het nie nou tyd nie

anders werk dag nie uit nie……..

‘n halfuur later –

ek lees nog sterk!

Herriemerrie,

Maankind,

Toortsie,

Olga,

Son

Ook ander waar ek baie uitkom.

TV het krag verloor

selfs Boek kom flouerig voor

dis nou Blogland vir my!

Wag- ek’t baie werk!

Kom nou, Krap! Wees sterk!

8 Kommentaar

‘n dag in die lewe van ‘n seegogga

Seegoggas se dae verander saam met die getye , die wind , die weer, en die ander gediertes wat dalk hulle pad kruis.

Daar is dus min patroon in die lewe van ‘n seegogga, behalwe dat hulle lief is vir knibbel – aan enigiets wat enigsinds lyk of dit geëet kan word.  Slaaptye is ook anders as die van  ander seegediertes, Soms is dit in die middel van die dag, soms in die middel van die nag, afhangende van omstandighede.

Om te illustreer, word net een dag, vandag, in die lewe van ‘n seegogga beskryf:

Ons noem maar hierdie seegogga Krappie, hoewel sy soms meer gogga as krap is.

Vanoggend het Krappie swaar wakker geword omdat sy gisteraand sommer baie laat gaan slaap het, en omdat Spottie, haar knorhaan, in die middel van die nag haar kom wakker maak het. Hy wou graag uitgaan om te kyk of alles nog veilig is en of daar nie vreemde seekatte is om te jag nie.

Krappie lê nog so in haar onder haar seegraskombersie in haar sandhuisie, toe sy skielik besef: Sy moet op! Daar’s baie werk om te doen! Sy moet strand toe!

Sy bid vanoggend vinniger as gewoonlik haar oggendgebedjie, spring op en skarrel gou rond in haar huisie, gee haar troetel seekatjies kos, haal haar blou seevoëltjie uit sy hok sodat hy kan rondvlieg, kry skoon beddegoed wat sy in krapmandjies pak en maak vir haar en haar man, mnr Krap, warm bruin oggendsap wat darem bietjie krag vir die dag gee. Mnr Krap benodig iets by sy werkklip, en omdat hulle net een seeperd het, moet hulle gou eers daar aangaan. Toe moet sy eers weer by die blaarbank aangaan. Ai, daar is ‘n hele spul krappe , visse en ander goggas en sy moet lank wag voor hulle haar kan help.

Nou is Krappie regtig laat. Sy jaag op haar seeperdjie strand toe. Dit neem so ‘n halfuur om daar te kom. Daar is 3 strandskulphuisies wat moet skoon sodat die hermietkrappies daar kan kom vakansie hou, maar vandag is daar net tyd om een skoon te maak,waarin 2 hermietkrewe gaan kom bly,  omdat sy vroeg weer terug moet wees vir die seeskool.

Die een skulphuisie waarin die hermietkrewe kom, is net mooi amper reg, toe haar seeskulp suis in haar ore. Dis twee verliefde hermietkrappe wat tog asseblief vannaand in een van haar skulphuisies wil bly, want dis mos Valentynsdag. Krappie moet nou ekstra vinnig woel, want nou het sy twee huisies wat moet skoon voor 1 nm en sy het eintlik net beplan om die vuil seegraskomberse te kom haal.

Sy woel en wikkel en werk. Die seeskulp suis weer. Dis mnr Krap wat haar herinner dat sy nie moet laat wees nie. As Krappie so strandskulphuisies toe gaan, gaan kuier sy gewoonlik na die tyd eers by Parrie, die pylstert, voor sy teruggaan, of so nie, gaan loer sy na die groot vuurtoring, Toortsie se liggie, maar vandag is daar nie tyd nie. Krappie spring op haar seeperd en nadat sy hom lekker kossies gegee het, laat waai hulle teen dubbele spoed terug na haar blyplek. Daar gryp sy net haar boeke en laat waai skool  toe.

Dis Dinsdagmiddag en deesdae leer sy die skool visse van die brein , die sintuie , neurone en allerhande snaakse goed. Sy moet net so hard soos hulle leer, want sy het al so ‘n bietjie vergeet net soos daardie heksie wat ons mos ken. Van 2-3.30nm is Krappie net besig met die Biologie. Toe jaag sy huis toe, want die raam-krewel wat vir haar werk, is net tot 4nm daar en hulle moet gou ‘n raamprobleempie oplos. Krappie het mos haar eie klein besigheidjie by die huis. Sy sit prentjies van die ander goggas en visse se kinders in mooi raampies.

By die huis gekom, sê Krappie se man dat hy darem nou baie honger is, wat van ‘n lekker seeburger met seeslaai by? Krappie spring weer op haar seeperdjie en jaag na die haaie se winkel toe. Daar kry sy seeblare, en ronde sponsies waarmee sy burgers gaan maak. Sy het mos nog bietjie seekossies om binne-in te sit.

Krappie gooi die eerste bondel wasgoed in die maalgat en toe maak sy seeburgers. Maar ai, sy mors! Haar blou voëltjie het ook  intussen ‘n paar potjies seesout omgestamp. Hy was mos heeldag alleen in haar kombuisie en het lekker gespeel met al die allekruk en mosselskulpe.

Na ete raak Krappie baie lui, maar tyd vir stilsit is daar nie vandag nie. Die eerste bondel wasgoed moet oor die klippe gegooi word dat dit kan droog, die blou voëltjie moet sy aandkossie kry en in sy hokkie gesit word, die 2 troetel seekatte soek ook alweer kos en Spottie, die grunter, ag ek bedoel, knorhaan, wil ook graag iets lekkers eet. Die tweede bondel wasgoed kom in die maalgat en nou gaan knip Krappie gou 60 hartjies uit rooi seegras. Dis mos vandag Valentynsdag en by mnr Krap se werk is daar ‘n spesiale Valentynsaamswem. Een van haar kinderkrappies wil graag uitvind hoe ‘n mens Valentynkossies maak, en Krappie druk haar seeskulp so met een knyper vas terwyl hulle praat.

Krappie gaan help mnr Krap by die Valentynsaamswem , maar toe dit stil word, neem hy haar huis toe sodat sy verder kan klaarkry met alles wat sy nog moet doen. Die tweede bondel word oor die klip gegooi, die derde bondel word in die maalgat gegooi, die kombuisie, wat ‘n groot gemors is, word skoongemaak; skottelgoed, die eetskulpe, die koraalkassies, die perlemoenvloer, alles word skoongemaak sodat daar darem bietjie orde kan wees.

Die derde bondel is intussen klaar gewas, maar Krappie is nou lui. Sy haal hom uit sodat die vierde bondel in die maalgat kan kom, maar sy gaan nie nou in die donker die wasgoed oor die klip gooi nie. Dit kan maar kan maar lê tot moreoggend, want daar is iets wat Krappie nou baie graag wil doen voordat sy in haar warmwaterpoeletjie gaan ontspan en onder haar seegraskombersie gaan slaap-  en dis eintlik al die volgende dag!

Sy gaan na haar spesiale boksie kommunikasieskulpe. Met haar voorste knypertjies  tik sy vinnig op die swart perriwinkle skulpies.

Daar tik sy:” ‘n Dag in die lewe van ‘n seegogga”.

Posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels, Seestories | 9 Kommentaar

sometimes

Sometimes on a warm summer’s night when the moon is full and the stars are bright, 

I remember… and  I wonder:

 on this cold winter’s night when the clouds are dense and snow falls white –

do you remember too? 

A time of sunshine, a time of rain,

a time of youth, a time of pain

a time of laughter, sadness, fondness, madness-

 Do you remember?  

 time of care, extraordinary and rare- 

it was just always there –

like two peas in a pod, opposites, de lot!  

Sometimes, on a warm summer’s night  when the moon is full and the stars are bright,

I remember.    

Posted in English blogs, gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels, Vertelling: Die Juffrou en John | 2 Kommentaar

Aandag alle gomvervaardigers, alle produkeienaars en vervaardigers en alle winkeliers wat nog pryse op produkte plak (die taal van frustrasie?)

Weet julle nou nog nie dat daardie konfyt, grondboontjiebotter, mayonaise en whatever se botteltjie weer gebruik gaan word nie? Het julle nog nooit gehoor van ‘recycling’ nie? Het julle nog nooit in ‘n tuisbedryf iets in so ‘n herwinne botteltjie gekoop nie? Of nog beter – het julle nog nooit in julle ma se kombuis  gaan kyk wat sy met haar slaphakskeentjies, ingelegde olywe en kerrieboontjies doen nie?

Die botteltjies word weer gebruik! Vir groenvyekonfyt, vir knope, ( of spelde), vir kinders se flitskaartjies, albasters, tuisgemaakte badsout, penne en potlode, blomme, vishoeke, skroefies en spykers of whatever, ja, selfs vir lourierblare, maar julle kan verseker wees: iemand gaan dit gebruik. En as iemand dit wil gebruik, wil hulle die ETIKET AF hê!!!

Wie wil nou sy pronk appelkooskonfyt in ‘n botteltjie sit waarop Mayonaise geskryf staan? En wie wil sy tuisgemaakte chutney in ‘n botteltjie sit met grondboontjiebotter op geskryf?  Of sy kersies in ‘n fishpaste botteltjie?

Kom by, word wakker, wees gebruikersvriendelik en have a heart! Gebruik ( en vervaardig) gom etikette wat weer maklik kan aftrek! Daar bestaan sulke etikette op die mark. Gaan kyk maar hoe lekker trek  die mooi Poncho bottel se etikette af. Geen lê in warm water nie, geen spiritus, terpentyn of harde geskrop en gekrap nie. Hy trek sommer maklik en skoon af, net so droog. Die vervaardigers het geweet almal gaan hulle mooi bottels weer wil gebruik.

So julle ander – gaan drink ‘n Poncho en word wys!!! (no pun intended)

Namens alle gefrustreerde huisvroue en recyclers wat probeer om julle mooi houers (waarvoor ons duur betaal het, né) weer vir iets nuttigs te gebruik, en ook namens myself wat ‘n ganse aand hier staan en skrop en nog bittermin uitgerig het.

Posted in Aandag! Verbeter die lewe en word 'n mijoener!, die tale wat ons praat, Los opdrifsels | 11 Kommentaar

soveel dae, soveel dinge: the spices of life

Ek weet ek moenie hier sit en rondlees nie, ek moet werk! Blogtyd is eintlik verby vir my, ek wat soveel dinge het om te doen. Maar ai, dis half twaalf. (give me a break!)

Ons restourant is verkoop( jippieee!), en bokse en bokse oortollige souse, speserye en whatnot, staan skielik my huis vol ( Ai tog , gee my krag!). Dis nou behalwe die hele boks goed wat net mooi by die voordeur besluit het om te breek en te val( donner!)

Skielik lê daar op die voortrappies ‘n hoop heel peperkorrels, ‘n halfsakkie meel,  hele houers( lees 1 liter houers!) se pietersielie, sout, vlapoeier,  oreganum, meat tenderiser, borrie, kerrie, braaivleisspeserye, bruinsuiker en watnog. Ek dog eers ek kan iets red, maar besef toe dat dit nie sal werk nie.  Ek tuinslang die goed af, maar dit is soveel dat dit ‘n hele “modderdam” by die voorhekkie maak, voor dit uiteindelik af straat toe. Maar nou nog, drie dae later, kry jy die lieflikste geur as jy die tuinpaadjie opstap en as jy mooi kyk, sien jy peperkorreltjies aan die kant van die paadjie lê.

Alles is egter nie verlore nie! Behalwe die souse wat ek nog nie gebêre het nie ( waar moet ek plek vind?), is hier in my kas: 2kg gemaalde swart peper, 2 kg broodkrummels, 5 liter rys,  en 12 ( TWAALF sê ek jou!) literhouers vol….lourierblare! Dan is hier verskillende soorte braaispeserye in literhouers te kus en te keur, souse wat skrik vir niks , 5 liter olyfolie , ten minte 5 liter slaaisous, tartaresous, mayonaise, asyn ens ens ens. Ek het nou alles wat ek nodig het om kos mee te maak  –  behalwe die kos self.

Ek moet lag, ek wat so min  speserye gebruik, in ‘n gesin wat nie groot ryseters is nie, en  wat feitlik nooit slaaisous gebruik nie. Maar ek het ‘n plan! (If life throws you lemons, make lemonade!)

Soos die verskeidenheid geure en kleure van al hierdie kruie en speserye,  so is die lewe ook – vol geure en kleure! Soms val iets, en raak weg, soms het mens oorvloed, al is dit dalk nie dit waarvan jy wou gehad het nie. Hoofsaak is: Die lewe is ‘n avontuur. Beskou hom so en jy sal nooit verveeld wees nie!

Posted in idioomstories | 4 Kommentaar

Vrydagaand by Pelicans en Parrie

Ek sit nou hier op die hawe met my glas wyn en wag vir my perlemoen.

Die lig blink op die water en die bootjies is kleurvol. Die vuur brand gesellig en die geur van gebraaide vis en see is soet in die neusvleuels. Die see se sagte geruis en die gesellige geroesemoes van stemme van ander wat ook die aandlug  hier by die see geniet, maak die aand net nog meer spesiaal.

Dis net jy wat ontbreek!

Groetnis aan jou wat hier lees,

hier vanuit die Pelikaan, hier vanaf my gunsteling sitplek.

My perlemoen is op pad…..

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | 8 Kommentaar

Tameletjie is lekker

Vir Tamaletjie resepte: Onderaan hierdie blog verskyn daar 3 resepte, twee baie eenvoudig,  die ander een van Leipoldt. Klik ook op die hier op Reseppie vir die lus vir lekker maklike ander lekkers.

Maar nou eers die bloggie! Aartappelpastei( ek is mos mal oor aartappels), appeltert( soos my ma dit gemaak het), smulboboti en bredie, en mmmmm brownies! Of wat van die maklike mieliegereg( lyk lekker met min moeite) en oom John se vis met die pak chips( dit lyk na ‘n interessante nuutjie), vinnige pizza en potpoeding……lekkerrrrrrr! Sjoe, hoe water my mond nou vir iets lekkers! As jy wil weet( en ek WEET jy wil), al hierdie resepte( en nog baie meer!) kom uit Toortsie se eie persoonlike resepteboekie, “Tameletjie Toortsie.”

En ek is die gelukkige wenner van so ‘n boekie!!!( Jammer vir julle ander ouens wat te laat julle name op die pay it forward speletjie gesit het, né!) Dis ook al die derde keer dat ek iets wen! Ek het my heerlike Toortsiebeskuit lankal opgeëet en beplan nou my jaar met Xena se oulike foto-kalender.

En hier is nou die tameletjie: ek moet nou ook iets wat ek self gemaak het weggee aan die eerste 5 van julle wat hier antwoord. Wat kan ek tog maak wat darem oulik en bruikbaar is? Ek kan nou aan net mooi niks dink nie! Ek het mos reeds ‘n boekie gegee, en ‘n raampie. Wat maak ek nog? Roomyskoeke? Dit sal smelt.  Het ek te gou deelgeneem? Eintlik kan ek alles doen behalwe koekies en beskuit bak en naaldwerk doen. ( dit beteken eintlik ek kan niks anders doen nie, behalwe om te verf en te teken) Sal moet dink, diep dink( sug…). Maar skryf tog maar julle name hier vir ‘n verrassingsgeskenkie, hoor! en vir die van julle wat ‘n tamaletjie resep soek hier is hy, of ter wel ‘n paar variasies van hom, waarvan Leipoldt s’n waarskynlik die egte een is, maar die Abram Kriel een seker die maklikste. Klik ook hierbo op resepie vir die lus, vir maklike ander soetgoed.

Tamaletjieresep

1. Oud-kinderhuiskind se tamaletjieresep:Volgens ‘n Oud- Abraham Kriel inwoner,  neem jy ‘n lee blikkie, gooi suiker in, verhit oor ‘n vlammetjie tot suiker begin. smelt. Dan skep jy dit met lepeltjie ( of stokkie) uit en rol in bolletjies . Pasop dis warm! Maar dit moet warm gerol word. Ou matie, en dan eet jy hom! 

2. Goggabyt se resepVolgens Goggabyt is tamaletjie eenvoudig botter en suiker en ‘n warm pot. Laat alles smelt en roer en gooi uit op botterpapier. Lekker eet en dan sukkel jy agterna om die pot skoon te kry.

3. Tamaletjie resep volgens Leipoldt

 Hoe heerlik is dit om gesmelte suiker te klits totdat dit ‘n wit kapok word, ‘n kapok wat jy kan knie en draai tot suikermannetjies, osse, wawiele en wat ook meer die kinderlike verbeelding jou ingee. Die kunstenaarkoks noem dit ‘fondant’; ons het dit altyd ‘witkleisuiker’ genoem. Koffiemonsters het ook op hierdie manier aangekom. Dit is miskien nuus vir my lesers om te hoor dat Suid-Afrika vanmelewe koffie uitgevoer het – tonne daarvan elke jaar. Kyk nou nie asof ek iets uit my verbeelding gryp en dit op ‘n skinkbord met populierblare versier presenteer nie. Ek spreek die skriftelike waarheid, maar om ‘n verklaring daarvan te gee, is buite my vermoë. Dit het iets te doen met ‘n buitelandse wet en met ‘n handelstraktaat en
[p. 151]
Ou Stomparmpie het ons geleer hoe om tameletjies op die ouderwetse manier te maak. Dit is ‘n soort lekkergoed wat ons vandag nie meer kry nie. Maar koddig genoeg het ek die ou resep in een van my middeleeuse kookboeke teengekom. Die koks van die middeleeue – so ongeveer 1400 tot 1550 – het baie met soetigheid gespook. Suiker was vir hulle ook ‘n skaars ding. Hulle kon nie spandabel daarmee omgaan nie. Heuning en vrugtesappe moes bygehaal word om die suikervoorraad aan te vul. Eierwit moes gebruik word om die suiker te laat lyk of dit meer is as wat dit werklik was. Ook neute is bygesit; daardeur het ons marsepein, wat een van die grootste hulpmiddels in die middeleeuse kombuis was. Die tameletjie is dus een van die oudste lekkersoorte wat aan ons bekend is en is seer seker afkomstig uit China, waar suiker van die vroegste tye af goed bekend is. En die ouderwetse manier van toebereiding is presies soos ou Stomparmpie ons geleer het. Sorg eers dat jy ‘n vorm het. Ons het gewoonlik die deksel van ‘n skoendoos gebruik. Dit is gerieflik en kan oor en oor in diens geneem word. ‘n Bietjie botter of vet is aan die binnekant gesmeer om die tameletjie nie te laat vasklewe aan die papier nie. Die suiker is gesmelt in ‘n pannetjie, gewoonlik sonder permissie uit die ouerlike kombuis gebuit. Oor ‘n vuurtjie wat in die tuin onder die groot mispelboom met behoorlike voorsorg en ‘n sekere mate van indrukwekkende seremonie aangelê is, is die toebereiding gedoen. Langsaan was drie vlak klippe waarop die pannetjie veilig plaas kon neem, hoe geweldig die vlamme ook oor hom opslaan. Die juiste oomblik om die pannetjie van die vuur af te neem, het ou Stomparmpie bepaal deur ‘n spits stokkie in die gesmelte suiker te steek en ‘n druppel daarvan versigtig tussen sy vingers te vryf.
[p. 152]
Dit is egter beter om die druppel gesmelte suiker in ‘n koppie water te laat val; dan loop jy geen gevaar om ‘n brandblaar aan jou vingers te kry nie. Maar die eerste was sy manier van doen, en as ek nou tameletjies maak, dan volg ek dit onbewus, afskoon ek goed weet dat dit nie volgens die reëls is nie. Die doel is om te oordeel of die suiker tameletjie-punt bereik het; dit is ietwat hoër as ‘fondant’-punt en ietwat onder karamel- of brandpunt. Nogtans, vir ‘n goeie tameletjie moet daar ‘n ietsie karamel of gebrande suiker in die eindresultaat wees, en dit is dus ‘n kenner wat die saak moet beslis.Intussen het ons die dennepitjies gekraak, die pitte uitgehaal, hul omhulsels afgehaal en elke pit in die helfte gesplits. Soms ook ‘n paar amandels as dit te kry was. Maar die amandels moes eers ook onthul word, wat maklik genoeg is as jy hulle eers in warm water steek, maar nie so vinnig gaan as jy jou tande of jou vingers daarvoor moet gebruik nie. Ons leermeester het altyd ‘n grypie gestampte pypkaneel – ek vermoed nou dat dit eintlik kassia was en nie egte pypkaneel nie, want dit was destyds peperduur – byderhand gehad, en as ons van Ouma uit haar spens ‘n paar groenamandelneute (‘pistachio’) kon afsoebat (wat soms geluk het, ofskoon hierdie spesery so te sê van onskatbare waarde was) dan het ons dit bygedra.As die gesmelte suiker presies was wat hy moes wees, het Stomparmpie die pannetjie oor die skoendoosdeksel gehou en ‘n dun laag daarin laat drup. ‘Gou nou met die pitte,’ was sy waarskuwing, en daarop het ons ‘n strooisel van wat klaar gemaak is op die laag suiker gelê, waaroor dan die pypkaneel (ofte kassia) gestrooi is. Dan ‘n rukkie wag, met die pannetjie weer bo die vuur om die suiker in toom te hou. Daarna weer ‘n laag suiker, hierdie keer tot bo, en daarop die res van die pitte. Binne ‘n paar minute was die tameletjie kliphard. Dit kon nou uit die skoendoosdeksel geneem word – ‘n pragtig deurskynende, topaaskleurige lekker, met die pitte daarin soos wit vlekke in ‘n stuk Amandola-marmer. En dit het so goed gesmaak as wat ‘n tameletjie maar kan. 

4. Iets lekkers. As jy nou sommer lus is vir iets lekkers, kan jy ook hier klik en probeer.

Posted in Kossies vir 'n seegogga en ander resepte, Los opdrifsels | Tagged , , | 5 Kommentaar

iets opwindends 2: die bottel wyn

Soos julle seker al agtergekom het, is ek antiek. En in in die antieke tyd toe ek op universiteit was, was daar antieke reëls: Eerstejaars moes saans 8 nm in die koshuis wees, en naweekaande moes almal, seniors inkluis, 12 nm in wees. Alkohol, sigarette en langbroeke  was heeltemal UIT! As daar so iets by jou in jou kamer of aan jou lyf gevind sou word, word jy uit die koshuis geskors. Ons praat nou nie eers van mans nie.

Sekere mense was egter bo die reëls verhewe. Die HK’s het nou en dan ‘n manskoshuis se HK genooi vir aandete, en dan is daar vir hulle ‘n pragtige spesiale tafel in die eetsaal gedek, kompleet met bottels wyn op die tafel. Ons ander gewone pleps was maar lekker jaloers as ons die HK’s so ‘in style” sien sit by die pragtig gedekte tafel met die mooi manne as geselskap.

Een aand sit ek en my 5 goeie vriendinne toevallig naby die HK tafel en eet. Toe hulle al geselsend met die manne uitstap, let ons op dat daar ‘n onoopgemaakte bottel wyn op die tafel agtergebly het. Dadelik werk ons koppe in die hoogste versnelling. Ons is mos ook lus vir ‘n bietjie wyn!

Christine, die kalmste en besadigdste onder ons, moet die wyn vat. Rina het ‘n trui by haar, waar in die bottel weggesteek kan word. Alles word mooi beplan, en ewe ongemerk staan ons op, Christine vat so onopsigtelik moontlik die bottel en weg is hy in die trui. Ons stap met ons harte in ons keel, maar ons hou ons ‘pose’ tot in die kamer.

In die kamer was dit natuurlik ‘n ander storie! Ons wou ons byna doodlag en het dadelik ons koffiebekers gegryp en die wyn gedeel, saam met nog ‘n paar ander vriende op ons vloer. Ag, ons het maar elkeen seker ‘n kwart bekertjie wyn gekry , maar dit was die idee wat getel het!

Nie lank nie, toe word daar kwaai oor die interkom afgekondig:”Sal die dames wat die bottel wyn uit die eetsaal verwyder het, dit asb onmiddellik na ontvangs toe bring”. Ons het gekrul van die lag, maar was  ook maar bietjie bekommerd. Wat as hulle ons sou uitvang?

Hierdie afkondiging word ‘n paar keer deur die aand herhaal, met toenemende dreigemente by.   Teen díe tyd was die hele koshuis al in rep en roer oor die bottel wyn wat gesteel is.

Ons groepie vriende het almal op die eerste vloer van die ses -verdieping gebou gebly , want ons het spesiaal die kamers op hierdie vloer gekies omdat ons almal bymekaar wou wees. Ons besluit toe om te wag to net na 12 wanneer al die seniors al in is en daar niemand meer op voordeurdiens is nie.

Toe sluip ons af met die leë bottel en gaan sit  hom op die ontvangstoonbank by die voordeur neer, en kondig af: “Dames, die bottel wyn is by die voordeur,”  en laat spaander terug trappe op.

Toe kom ons weer af, kamtig  ewe verbaas, saam met die res van die koshuis se 600 nuuskierige meisies. Daar op die ontvangstoonbank staan die leë bottel wyn toe met ‘n strikkie om sy nek.

En tot vandag toe, weet ‘niemand’ wie die bottel wyn gevat het nie!

Posted in kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels | 10 Kommentaar

nuwe jaar, nuwe dinge, nuwe lewe

So vrolik soos ons die nuwe jaar ingewag het, so diep het ek reeds in hom ingeval.

Ons restourant is toe, die finansies beroerd en die werk skaars. Die huishulp het nie opgedaag nie( sy weet dit nog nie, maar sy het ook nie meer ‘n werk nie) en van alle dinge, het die besem verdwyn.

Maandag het ons ingeval met moeilike raamwerk wat more moet klaar, die huurders wat gister in my “grênd” huis sou intrek het volstrek geweier, omdat daar blykbaar erens muf is( asof daar erens hier ‘n strandhuis SONDER muf is),  en die berge en berge wasgoed kry nie einde nie.

John Kannemeyer, aangetroude familie en vriend, is oorlede en hierdie week my liewe nefie se seun, in die fleur van sy lewe.

Maar “onsh shal nie gaan lê nie!” soos my goeie vriend Philip eenkeer gese het.Dit was nou toe ek en hy moes gaan marknavorsing doen na ‘n heelnag kuier en geen slaap nie. Ja, dit was in die goeie ou dae daar in ou Johies toe die lewe nog ‘n lied was, elke dag ‘n avontuur, die liefde volop, so ook die geld.

En as ek beroerd beswaard klink, dan is dit nou eenkeer maar so. Maar ek belowe, EK BELOWE, dat die res van die jaar nie so treurmare sal wees nie! Hier is baie goed wat ek moet skryf. Die storie van die wyn, die bababoek, nog twee treinstories, ‘n paar seestories, ag en ook die juffroustorie, as ek vir hom moed kry.

Kom ek word dus bietjie positief, soos Toortsie ons leer:

Ek is dankbaar vir ‘n wonderlike warm vakansie weer soos jarelaas. Elke dag was mooier as die ander en om te swem in die lou water ‘n wonderlike voorreg, veral toe ek na die swoeg in die hitte gister, met hoogwater die reuse branders in die soldatepoel kon ervaar- te heerlik om so af te koel!

Ek is so dankbaar vir my pragtige en gesonde 3 dogters. Ek dank God elke dag vir die genade. Die tweelingetjie is ook so pragtig en ontwikkel so mooi. Wat ‘n voorreg is dit nie om Skype te hê en hier te kan sien hoe die tweetjies daar in Holland rondkruip nie!

Ek het nog ‘n dak oor my kop, kos om te eet en  voel self ook heel gesond. Ek weet nie vir hoe lank nie, maar is vol moed dat dit nog ‘n hele ruk sal aanhou!

Ek het mos ‘n nuwe laptop wat werk – ek moet dit net gebruik vir bemarking en werksoek, en ek het die ongelooflike internet wat jou alles vertel wat jy wil weet.

En ja, ek het selfs ‘n blog waar ek nou bietjie kon stoom afblaas!

Voorwaarts, 2012!

7 Kommentaar

welkom 2012!

9 Kommentaar

Iets opwindends nr 1: joolblad eskapades

Ek dag ek is klaar vir die jaar, maar Maankind en Xena het my aan die dink gesit.

As ek so na my pa se interessante stories gesit en luister het, het ek altyd gedink dat my lewe maar vervelig is en dat ek niks stories gaan hê om eendag vir my eie kinders te vertel nie. Tog, met die jare, en agv die vinnig ontwikkelende tegnologie, is daar tog ‘n paar stories. Gaan lees maar my krater stories ,veral die treinstorie.

Vandag vertel ek  van my prille jeug toe ek as student ook saam met die polisie gery het  nes Xena daar in Pretoria se strate. Ons was eerstejaars en is elkeen uitgedeel met 50 joolblaaie wat ons moes verkoop, of so-nie self aankoop.

Die seniors het lekker met ‘n bustoer na ‘n ander dorp gegaan, maar die inks moes Pretoria patroleer. Onthou tog dat daar in daardie dae streng inkomtye en uitgaantye in die koshuis was. Die seniors sou al 4vm vertrek, en die inks 8vm. Dit was te laat vir ons. Ons was baie bang ons kry nie ons joolblaaie verkoop nie!

Ek en my 5 maats besluit toe om ook 4 vm uit te glip. Dit het geïmpliseer dat ons die oggend met joolhempies aan en al toe maak of ons seniors is, en met volle vertroue  so vinnig moontlik by Klaradyn se deur uitstap en die  “HAAI, WAARHEEN DINK JULLE GAAN JULLE!’ ignoreer asof niemand met ons gepraat het nie.

Gou is ons weg in die skadu’s en op pad bushalte toe by die Hatfield Galleries.

Ag, nee! Dis piknagdonker! En daar is geen busse daardie tyd van die oggend nie! Dan maar stap. Ons stap in die verlate strate, geen motor in sig nie, en besef dat ons dalk so effe oorywerig was.

Na ‘n rukkie kom daar ‘n mini-stasiewaentjie van die stad se kant af aangery.  Dit is ‘n paar polisiemanne wat die strate patroleer. Ons spring in die straat rond en waai met die arms en dwing hulle as’t ware om te stop.

Met ons mooiste en oortuigendste charm ooreed ons toe die polisie om terug te draai stad toe, met ons agter in die klein stasiewa gedeelte ingebondel.  Hulle het ons afgelaai net daar waar ons wou wees, maar daar by die robot het ons toe gesit tot so 5vm voormiddag. Om ons was ‘n paar winkels en groot woonstelblokke, alles in donkerte gehul.

Ons was  al mooi sat gewag en yskoud en toe die eerste woonstelliggie aangaan, kry ons die idee om die mense in die woonstelblokke op te klop om ons joolblaaie te verkoop.

Stel jou voor iemand kom hamer om 5vm die oggend aan jou deur. Jy strompel vaak- vaak deur toe, maak oop, en daar word ‘n joolblad onder jou neus gedruk. “Wil u nie asseblief ‘n joolblad koop nie? Dit gaan vir ‘n baie goeie doel!”

Wel, ons het dit gedoen en hier en daar het dit selfs gewerk.

Die oggendskemer het begin en die stad het ook begin om stadig wakker te word en geleidelik het daar hier en daar ‘n motor by die robot gestop. Hulle kon nie wegry sonder ‘n joolblad nie, want ons het die motors behoorlik bespring.

Voor 8vm daardie oggend was ons laaste joolblad verkoop en kon ons lekker ontspan en lag vir die ander eerstejaars wat by die robotte staan en swoeg het met pakke en pakke joolblaaie.

Nou wil ek ook somme ‘n gedagte vir die dag gee: “THE EARLY BIRD CATCHES THE WORM!”

O Ja! En dan was daar die dag toe ons die bottel wyn gesteel het.….. maar dis iets opwindens nr 2. Hou die blog dop!

6 Kommentaar

Dit is Vakansietyd

Ek kyk vanoggend met ‘n skok na my bloggie. Vir die eerste keer vandat ek begin het, is hy nie eers op die lys topblogs nie. Hy het onder verdwyn, afgeval en weg. Ag nee!

Een rede is seker omdat ek meer as 2 weke laas iets geskryf het. Ou nuus maak dit nie hier in blogland nie. ‘n Ander rede is dat ek dalk bietjie voosgeskryf geraak het. My fut is bietjie uit, my idees ook en veral my passie. As mens wil blog, moet jy iets te sê hê. Iets wat ander sal wil lees. Iets wat hulle inspireer, laat nadink of laat lag. Of ‘n mooi storie. OOOOF, dalk iets wat hulle so die harnas injaag dat hulle die vingers van verontwaardiging laat trippel oor daardie keybord.

Maar dit voel my ek het nou niks. (Is dit wat met LEON gebeur het? Leon von Moltke? WAAR IS LEON??? ). Die jaar het sy tol geëis, en my so bietjie leeggetap. Miskien is daar van julle ander wat ook so voel? ( maar nie wys nie, want daar sit julle nog solid op wordpress se topblogs, Herriemerrie heel bo. Hoe kry jy dit reg  om so aktief te bly, Xena?)

Nou is dit eers vakansietyd. Die weer lyk hierdie jaar belowend, my plekkie by die see wag, dis net die werksomstandighede wat nog nie lekker wil saamspeel nie. En al is ek dalk lui met die skryf, weer dat ek amper elke liewe blog lees! Ek het mos nou ‘n blackberry , en dis te heerlik om sommer enige plek gou gou ‘n bloggie te lees. Dis al asof dit vinniger gaan as op die laptop, want ek lees nou die e-mails, nie die ware blog nie. Dit werk egter baie goed, dis net die kommentaar gee wat lol.  So, al lewer ek dalk nie kommentaar nie, ek LEES julle blogs en geniet dit. ( en soms lees ek blogs wat nie eers bestaan nie, soos bv kwessies oor grys hare…… )

Dis een van die dae Kersfees, daardie Wondertyd. Kersfees gee my altyd weer nuwe krag. Gevul met die mooiste musiek op aarde, bring die Kersfeestyd my altyd onder die besef van God se grootheid, goedheid en veral Liefde. Mag hierdie Kerfeestyd vir julle ook ‘n wondertyd van seën wees.

(Ek sou graag vir julle ‘n Jacque Lawson E-card wou stuur, maar dit kos geld. Dis egter pragtig. Gaan soek dit op Google en kyk na ‘n paar. Kunswerkies en te mooi. Nou moet julle maar tevrede wees met een van my vinnige prentjies.)

Posted in Kersfees, Los opdrifsels | 9 Kommentaar

sewe sondes

Son het ‘n vreeslike opdrag uitgedeel. Ek moet bieg oor 7 sondes en skandes.Ag, dankie tog ek hoef net 7 te noem. Ek dink nie ek kan al my groot sondes hier noem nie, dis te darem te veel gevra….

1. Die eerste groot sonde is dat ek ‘n baie lae frustrasiedrempel het. Ek haat dit om te sukkel. Na ‘n rukkie sukkel met iets, ‘bv ‘n deur wat nie wil oopsluit nie, of deksel wat nie wil af nie,  sal ek iets leliks sê of die ding ruk of stamp. En snaaks genoeg, dikwels , werk die ding dan ( as hy nie breek nie), wat my laat wonder of die duiwel dan bly is dat ek lelik gepraat het en my dan sommer help. En dan voel ek weer skuldig en neem my voor om nie weer so ongeduldig te wees nie. Om dieselfde rede verpes ek hierdie ligskakelaartjies in die gang. Watter een is die badkamer s’n?  watter een die toilet s’n en watter een die gang s’n? My baie praktiese oplossing is om altyd almal gelyk aan aan te sit, en dit werk uitstekend, maar dit irriteer weer my man grensloos. Hy kan nie verstaan dat ek nooit sal weet watter een watter een is nie.

2. Ek het absoluut geen ball sense nie. As iemand ‘n bal of iets na my gooi, is my reaksie om te koes. My kind  se mansvriende het op ‘n stadium baie grappies gehad oor haar ma se ‘balvaardigheid’ . Ek kan ook glad nie vinnig hardloop nie en kon nooit eers kwalifiseer om aan die kleuresport deel te neem nie, omdat ek in die uitdunne daarvoor ALTYD HEEL LAASTE gekom het. Ek stamp glase om,  val waar niemand anders val nie, loop in deure vas….en ek drink nie eintlik eers alkohol nie, want, soos die mense in ons restourant sê: “Sy het nie alkohol nodig nie”.( maar ek moet darem sê , ek kan lekker dans en mooi teken).

3. Tot vandag toe weet ek nie watter kant toe om ‘n kraan te draai om hom oop of toe te maak nie, of ‘n prop op ‘n bottel om hom los of vas te draai nie, of ‘n skroef, of enigiets wat gedraai moet word nie. Die rede is dalk omdat ek dubbelhandig is en meestal met my linkerhand eerste probeer, en dan weer met my regterhand, en dan is daar nog daardie lae frustrasiedrempel…. As ek dus nie kan sien of die water begin of ophou loop nie( bv by ‘n kraan met ‘n tuinslang aan en die punt is dalk in die tuin ver van my af), weet ek nie of hy oop of toe is nie. Ek moet daardie punt soek en gaan KYK….. My man het my al probeer leer, maar verniet.

4. Ek is ‘n groot soettand en sal soms skelmpies ‘n lepel suiker netso eet, of die droë milo, hot chocolate poeier of selfs destyds die kinders se Isomil -of natuurlik heuning, veral as dit sandsuiker is- ek is dol oor sandsuiker heuning!

5.Ek gee soms voor dat ek baie hard werk en dan is ek altyd besig om blogs te lees , blogs te skryf of te youtube en dit doen ek tot so 2 vm baie aande omdat ek  lekker alleen by die huis is en my man by  sy nightspot. In die 2 jaar wat ons die plek het, het ek ( tot my spyt) hom nog nooit saans gemis as ek so alleen hier sit nie. Ek is pateties met knope aanwerk en sulke tipes herstelwerk wat ek mos eintlik moet doen, en gooi liewer die ding agter in die kas en dra hom nooit meer nie, as om die knoop aan te werk.

6. Ek was nog nooit ontrou aan ‘n kerel of my man nie – maar aan wie behoort my hart se punt werklik? Ask no questions, hear no lies.

7. Soms twyfel ek- oor baie goeters, maar dan maak ek my gedagtes toe en gaan blindelings voort en glo soos ‘n kind dat alles sal regkom.  Eitlik dink ek ek is bang vir verandering en stel dit dus uit om groot en belangrike besluite te neem. Tog is ek nie bang vir waag nie, en kan glad nie omgee wat mense van my dink nie, solank ek weet ek is reg. Trouens ek raak geïrriteerd met mense wat alewig bang is om iets nuuts te probeer, bv om ‘n happie te probeer van ‘n vreemde kos of om saam te dans omdat hulle te skaam is of glo dat hulle nie alleen Kaapstad toe kan ry nie of snaaks kan aantrek vir ‘n tema-ete nie.

Sjoe,  nou weet julle heeltemal te veel van my. Dis tyd dat Leonmnr. MullerNetjaneKameel, Olga en Nadia van Reg of Weg bietjie bieg!

En onthou tog- laat hy wat sonder sonde is die eerste klippe gooi!

15 Kommentaar

snaakse searches

Nee, kyk, ‘n mens moet tog nooit die fout maak om te veel van jouself te dink nie!

Ek is eintlik heeltemal te besig om te blog, maar het darem nou gou-gou na my site stats gaan kyk- lees iemand darem nog?

Ja, al is daar niks nuuts geskrywe nie, is daar darem ‘n paar besoeke. Wie het gelees en wat het hulle gesoek?

Daar staan dit op die search enjin:”‘snaakse tips om babas groot te maak. ”

Wat?

Ek tik( soos ek soms doen) hierdie woorde op Google om te kyk waar ek uitkom. Sowaar:

Daar staan my bloggie heel bo!

 

7 Kommentaar

Kraterstorie? Daar’s ‘n slang in die gras!

Ek weet nie of hierdie ‘n kraterstorie is nie, maar dis wel ‘n idioomstorie – ek tag my sommer self.

Lank gelede het ek hier op my blog vertel van Rus ‘n Bietjie, ons eendeur vakansiehuisie op L’Agulhas. Nouja, Rus ‘n Bietjie moet werk vir sy voortbestaan, en dus verhuur ek hom aan vakansiegangers.

Die van julle wat in die bedryf is, sal weet dat ‘n mens baie verskillende tipes huurders kry. Rus ‘n Bietjie, ons  ou strandhuisie, is ook nou nie juis  die normale tipe huisie nie – Hy is ‘n  ‘either you hate it or love it-‘ tipe huisie. Ek vind dat veral die Transvalers nogal nie altyd die vissershuisie atmosfeer so verstaan nie, en liewer glas en chrooom verkies. Dan is daar weer die huurders wat mal is oor die plekkie. “Don’t ever change it!” het een ou eenkeer  in die boodskapboek geskryf.

Hierdie storie gaan egter nie oor sy soort “aardse” mense nie,  wel oor ‘n gesinnetjie stedelike Transvalers en in die dae toe ek nog nie ervare in die bedryf was nie.

Hierdie mense  is toe van  die soort wat liewer sal versmoor as om ‘n venster oop te maak , want sien, hier is geen diefwering voor die vensters nie! Dit is verkeerd en dat is verkeerd en hulle het ook ‘n allemintige vrees vir spinnekoppe en kon heelnag nie slaap nie, omdat daar ‘n klein langbeenspinnekoppie in die portaaltjie in die hoek gesit het.

Ek word summier ingeroep om hierdie spinnekoppie te kom verwyder. ‘Ag, hierdie?” vra ek verbaas en vee die spinnekoppie met my hand af. Hulle ril.

Nou kyk, hier by ons kry ons ‘n spinnekop – ‘n skadelose , maar  vreesaanjaende GROOT spinnekop, wat ek nooit in die Vrystaat of Transvaal teëgekom het nie- die reënspinnekop, soms so groot soos my hand. Ek raak bekommerd. Hier is BAIE reënspinnekoppe. Hierdie mense gaan ‘n OORVAL kry  as daar perongeluk een in die huis beland, soos dikwels hier gebeur.

Ek ag dit my plig om hulle te waarsku en ek vertel hulle dat hier soms so ‘n groot spinnekop kom, maar dat hulle dan nie moet skrik nie, omdat hy heeltemal skadeloos is. Ons  vang hom sommer deur ‘n bakkie oor hom te sit, ‘n papietjie agter in te skuif, en hom dan uit te neem en êrens in die bossies vry te laat.

Dit moes ek nie gedoen het nie. Hulle oë rek soos pierings. “O! Nee!” verklaar die vrou. “As ons so ‘n ding  kry, klim ons dadelik in die kar en ry reguit terug huis toe!”

Dis mos toe dat ek toegee aan die duiweltjie agter my oor en sê:

” En as julle buite loop, kyk tog net asseblief waar julle trap, want hier is baie pofadders.”

Posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, kraters en ander skandes (humor), Seestories | 14 Kommentaar