sewe sondes

Son het ‘n vreeslike opdrag uitgedeel. Ek moet bieg oor 7 sondes en skandes.Ag, dankie tog ek hoef net 7 te noem. Ek dink nie ek kan al my groot sondes hier noem nie, dis te darem te veel gevra….

1. Die eerste groot sonde is dat ek ‘n baie lae frustrasiedrempel het. Ek haat dit om te sukkel. Na ‘n rukkie sukkel met iets, ‘bv ‘n deur wat nie wil oopsluit nie, of deksel wat nie wil af nie,  sal ek iets leliks sê of die ding ruk of stamp. En snaaks genoeg, dikwels , werk die ding dan ( as hy nie breek nie), wat my laat wonder of die duiwel dan bly is dat ek lelik gepraat het en my dan sommer help. En dan voel ek weer skuldig en neem my voor om nie weer so ongeduldig te wees nie. Om dieselfde rede verpes ek hierdie ligskakelaartjies in die gang. Watter een is die badkamer s’n?  watter een die toilet s’n en watter een die gang s’n? My baie praktiese oplossing is om altyd almal gelyk aan aan te sit, en dit werk uitstekend, maar dit irriteer weer my man grensloos. Hy kan nie verstaan dat ek nooit sal weet watter een watter een is nie.

2. Ek het absoluut geen ball sense nie. As iemand ‘n bal of iets na my gooi, is my reaksie om te koes. My kind  se mansvriende het op ‘n stadium baie grappies gehad oor haar ma se ‘balvaardigheid’ . Ek kan ook glad nie vinnig hardloop nie en kon nooit eers kwalifiseer om aan die kleuresport deel te neem nie, omdat ek in die uitdunne daarvoor ALTYD HEEL LAASTE gekom het. Ek stamp glase om,  val waar niemand anders val nie, loop in deure vas….en ek drink nie eintlik eers alkohol nie, want, soos die mense in ons restourant sê: “Sy het nie alkohol nodig nie”.( maar ek moet darem sê , ek kan lekker dans en mooi teken).

3. Tot vandag toe weet ek nie watter kant toe om ‘n kraan te draai om hom oop of toe te maak nie, of ‘n prop op ‘n bottel om hom los of vas te draai nie, of ‘n skroef, of enigiets wat gedraai moet word nie. Die rede is dalk omdat ek dubbelhandig is en meestal met my linkerhand eerste probeer, en dan weer met my regterhand, en dan is daar nog daardie lae frustrasiedrempel…. As ek dus nie kan sien of die water begin of ophou loop nie( bv by ‘n kraan met ‘n tuinslang aan en die punt is dalk in die tuin ver van my af), weet ek nie of hy oop of toe is nie. Ek moet daardie punt soek en gaan KYK….. My man het my al probeer leer, maar verniet.

4. Ek is ‘n groot soettand en sal soms skelmpies ‘n lepel suiker netso eet, of die droë milo, hot chocolate poeier of selfs destyds die kinders se Isomil -of natuurlik heuning, veral as dit sandsuiker is- ek is dol oor sandsuiker heuning!

5.Ek gee soms voor dat ek baie hard werk en dan is ek altyd besig om blogs te lees , blogs te skryf of te youtube en dit doen ek tot so 2 vm baie aande omdat ek  lekker alleen by die huis is en my man by  sy nightspot. In die 2 jaar wat ons die plek het, het ek ( tot my spyt) hom nog nooit saans gemis as ek so alleen hier sit nie. Ek is pateties met knope aanwerk en sulke tipes herstelwerk wat ek mos eintlik moet doen, en gooi liewer die ding agter in die kas en dra hom nooit meer nie, as om die knoop aan te werk.

6. Ek was nog nooit ontrou aan ‘n kerel of my man nie – maar aan wie behoort my hart se punt werklik? Ask no questions, hear no lies.

7. Soms twyfel ek- oor baie goeters, maar dan maak ek my gedagtes toe en gaan blindelings voort en glo soos ‘n kind dat alles sal regkom.  Eitlik dink ek ek is bang vir verandering en stel dit dus uit om groot en belangrike besluite te neem. Tog is ek nie bang vir waag nie, en kan glad nie omgee wat mense van my dink nie, solank ek weet ek is reg. Trouens ek raak geïrriteerd met mense wat alewig bang is om iets nuuts te probeer, bv om ‘n happie te probeer van ‘n vreemde kos of om saam te dans omdat hulle te skaam is of glo dat hulle nie alleen Kaapstad toe kan ry nie of snaaks kan aantrek vir ‘n tema-ete nie.

Sjoe,  nou weet julle heeltemal te veel van my. Dis tyd dat Leonmnr. MullerNetjaneKameel, Olga en Nadia van Reg of Weg bietjie bieg!

En onthou tog- laat hy wat sonder sonde is die eerste klippe gooi!

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Ongekategoriseerd. Bookmark the permalink.

15 Responses to sewe sondes

  1. Lekker om jou so bietjie beter te leer ken!

  2. MaanKind sê:

    Snaaks hoeveel ek kan assosieer met sekere punte van elke blogger!

  3. Kameel sê:

    Nou voel ek skoon beter oor my rigtingbeduiwelheid…. ek weet darem watter kant toe draai die kraan 😉 Dankie seegogga, lekker om ‘n dieper kykie te kry… en bring maar vir my die klere wat knope soek, sal dit vir jou aanwerk.

  4. Ek persoonlik dink dat ball sense ‘n eienskap vir diegene laer op die evolusie leer is. 😉 Die van ons wat al langer ons aapdae agter gelaat het, het dit nie nodig nie.

  5. seegogga sê:

    Hallo Jagter, welkom hier. Daar is natuurlik absoluut geen verband tussen ball sense en bestuur nie, bv die meeste mans het goeie BALL sense, maar maak baie meer motorongelukke as vroue ( sorry-dit is ‘n feit volgens die laaste statistiek wat ek gelees het). darenteen bestuur ek weer goed ( al is dalk net volgens my)

    • Daar is meer mans bestuurders op die pad, so duidelik sal statistiek bewys meer mans is in ongelukke betrokke (Waar vrouens dit dalk veroorsaak het ? ***Koes alweer**)

      O en hallo Seegogga.

      • seegogga sê:

        Wys jou net, waar ‘n vrou in die nabyheid is, kan ‘n man sy aandag nie by die bestuur van ‘n motor bepaal nie – hulle kan mos net een ding op ‘n slag doen!

  6. Ek kan op 44 nog nie links en regs, Noord, Oos, Suid of wes nie. Frustrasiedrempel ook heluit laag en ek kan myself so vereenselwig met nr 5 wat ek nou natuurlik mee besig is – Terwyl ek ‘n BAIE MOEILIKE script op my site install LOL!

  7. Nadia sê:

    Hi Seegogga – dankie vir die huiswerk. Ek sien juffie voorbeeldig (Xena) het self die vinger na my gewys so ek sal my sokkies moet optrek en my sondes blootle ….. ek deel die ongeduld en die soetlus ….. sou nie omgegee het as my “sondes” so onskuldig is nie 😉

  8. Toortsie sê:

    Nr 2!! het jy vir MY geskryf!
    Al wat ek weet is dat jy, Seegogga, baie kreatief is en GLAD NIE BANG OM IETS NUUTS AAN TE PAK NIE!!

    • seegogga sê:

      Ek sien jy bieg ook oor jou ‘balvaardigheid’.Maar jy sal darem ver moet gaan om my te wen. Wat ek ook GEREELD doen, is om die glas of koppie ‘n bietjie te ver te kantel as ek iets wil drink – met katastrofiese gevolge.

  9. Terug pieng: Toe herders « OLGA SE OKSELTJIES

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s