nuwe jaar, nuwe dinge, nuwe lewe

So vrolik soos ons die nuwe jaar ingewag het, so diep het ek reeds in hom ingeval.

Ons restourant is toe, die finansies beroerd en die werk skaars. Die huishulp het nie opgedaag nie( sy weet dit nog nie, maar sy het ook nie meer ‘n werk nie) en van alle dinge, het die besem verdwyn.

Maandag het ons ingeval met moeilike raamwerk wat more moet klaar, die huurders wat gister in my “grênd” huis sou intrek het volstrek geweier, omdat daar blykbaar erens muf is( asof daar erens hier ‘n strandhuis SONDER muf is),  en die berge en berge wasgoed kry nie einde nie.

John Kannemeyer, aangetroude familie en vriend, is oorlede en hierdie week my liewe nefie se seun, in die fleur van sy lewe.

Maar “onsh shal nie gaan lê nie!” soos my goeie vriend Philip eenkeer gese het.Dit was nou toe ek en hy moes gaan marknavorsing doen na ‘n heelnag kuier en geen slaap nie. Ja, dit was in die goeie ou dae daar in ou Johies toe die lewe nog ‘n lied was, elke dag ‘n avontuur, die liefde volop, so ook die geld.

En as ek beroerd beswaard klink, dan is dit nou eenkeer maar so. Maar ek belowe, EK BELOWE, dat die res van die jaar nie so treurmare sal wees nie! Hier is baie goed wat ek moet skryf. Die storie van die wyn, die bababoek, nog twee treinstories, ‘n paar seestories, ag en ook die juffroustorie, as ek vir hom moed kry.

Kom ek word dus bietjie positief, soos Toortsie ons leer:

Ek is dankbaar vir ‘n wonderlike warm vakansie weer soos jarelaas. Elke dag was mooier as die ander en om te swem in die lou water ‘n wonderlike voorreg, veral toe ek na die swoeg in die hitte gister, met hoogwater die reuse branders in die soldatepoel kon ervaar- te heerlik om so af te koel!

Ek is so dankbaar vir my pragtige en gesonde 3 dogters. Ek dank God elke dag vir die genade. Die tweelingetjie is ook so pragtig en ontwikkel so mooi. Wat ‘n voorreg is dit nie om Skype te hê en hier te kan sien hoe die tweetjies daar in Holland rondkruip nie!

Ek het nog ‘n dak oor my kop, kos om te eet en  voel self ook heel gesond. Ek weet nie vir hoe lank nie, maar is vol moed dat dit nog ‘n hele ruk sal aanhou!

Ek het mos ‘n nuwe laptop wat werk – ek moet dit net gebruik vir bemarking en werksoek, en ek het die ongelooflike internet wat jou alles vertel wat jy wil weet.

En ja, ek het selfs ‘n blog waar ek nou bietjie kon stoom afblaas!

Voorwaarts, 2012!

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Ongekategoriseerd. Bookmark the permalink.

7 Responses to nuwe jaar, nuwe dinge, nuwe lewe

  1. attie sê:

    Voorwaarts 2012! Laat hy val waar hy wil!

  2. Kameel sê:

    Wanneer ek voor ander se stryd in die lewe staan vloei woorde nie maklik nie. Dit is eerder asof my hande slap op my skoot lê. Sou graag saam met jou die soldatepoel wou binne… of tot ‘n brander of twee aandurf.

  3. MaanKind sê:

    Mag die jaar net beter word. En konsentreer op wat jy HET, nie wat jy sou kon hê, of gehad het nie.

  4. murphy sê:

    Dit wad inderdaad vandag MY voorreg om die pos te lees.

  5. Toortsie sê:

    Liewe Liewe Seegogga. Ai man. Ek weet jy sal nie gaan lê nie, dit was nog altyd jou redding!
    http://toortsie.wordpress.com/2010/10/05/was-jy-al-ooit-moedeloos/
    Onthou, die wiel draai. Mens bly nie altyd onder nie!!

  6. Gogga sê:

    Alles moet ‘n onderkant he om op te kan bou. hou maar net aan glo en sterkte vir die dae wat voel dinge wil nie aan die gang kom nie. Ook daai dae moet oor gaan.

  7. seegogga sê:

    Baie dankie vir julle almal se bemoedigende woorde. Ek het hierdie bloggie delete, maar hom toe maar weer in ere herstel, omdat julle so mooi kommentaar gelewer het. Dit kan mos nety beter gaan!

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s