Liewe Kinders en alle mammas wat hier lees
Ek kry deesdae baie “searches” oor babaliedjies of oumaliedjies. Wel, soos julle eintlik al weet, HET ons so ‘n liedjie, ‘n baie spesiale liedjie, want dit ons familie se eie liedjie!
Dit het so gekom: Soos julle weet, is ons familie mos super vrugbaar. So het my ouma en oupa niks minder as 12 kinders gehad nie! Die 11 wat grootgeword het, het ook almal hulle eie kinders gekry en nou is die 11 se kinders se kinders besig om weer kindertjies te kry. My eerste kleinkinders is sommer ‘n tweeling!
Maar nouja, met 12 kinders in die huis, was daar seker vir ‘n baie lang ruk altyd babatjies in die huis. Met julle ouma tweede oudste en Oom Henry net ‘n entjie jonger as sy, veronderstel ek dat hulle baie keer babatjies aan die slaap moes sing. En toe maak oom Henry hierdie liedjie.
Dis ‘n eenvoudige liedjie, gemaak deur ‘n laerskoolseuntjie,( of wie weet hou oud hy was- was hy al ooit in die skool?) – maar so treffend en lekker om te sing -wat is nou mooier en meer eie aan ons omgewing as ‘n klein babaskilpadjie?- maar bowenal: babatjies hou daarvan! Hulle raak sommer tjoef-tjaf salig aan die slaap met hierdie liedjie. Nou, ek weet nie of babatjies weet wat klein skilpadjies is nie, maar ek verseker julle die liedjie werk!
Dis dan seker ook hoekom die liedjie in die geheue van die familie bly voortleef het, en al die Falck kinders ( die 11 wat grootgeword het), dit weer vir hulle kinders gesing het. En hulle kinders het dit weer vir HULLE kinders gesing, en nou sing julle dit weer vir julle kinders ( en hierdie ouma vir haar tweeling kleinkinders!)
Ek self het eers die liedjie vir die eerste keer gehoor toe julle ouma vir jou aan die slaap gesus het, Leanie.Nee, dis nie waar nie, ek is mos self met hom aan die slaap gesus, maar ek kan dit mos nou nie onthou nie. “Waar kom Ma nou aan daardie liedjie?” het ek verbaas gevra, want ek het gedog ek ken omtrent al die wiegeliedjies in Afrikaans. Toe vertel sy my die storie.
Die liedjie het dadelik my herinner aan ‘n dag, jare gelede, toe ek ‘n klein dogtertjie was. Ons het daar naby Robertson in die berg gaan uintjies ( ek is nie seker van die woord nie- dis sulke lang wit wortels wat onder die grond groei en baie lekker), soek, toe ons ‘n klein skilpadjie onder ‘n bossie sien sit. Dit was die mooiste dingetjie en ek wou hom so graag hê. My nefie, Harry, het die skilpadjie vir my bo in sy hempsakkie ingesit. Soos die oggend aangegaan het, het hulle my vertel van die arme skilpadjie wat nou ongelukkig gaan wees, ens, en op die ou einde het ons hom weer gaan terugsit – onder ‘n bossie.
Sedertdien het ek gehoor hoe tannie Lydia dit sing en by navraag ken al die Falcke toe die liedjie.
Nou het ek die liedjie neergeskryf. Sover ek weet is die die heel eerte keer wat die liedjie op papier geskryf word – en dit het my die ganse nag geneem, omdat ek aanmekaar die een fout na die ander gemaak het, en omdat hierdie rekenaar vannaand sy eie willetjie het, nes ‘n stout kind. Maar hier is hy nou, min of meer net so, en as iemand wat hier lees dit vir sy babatjie wil sing, is hy welkom- saggies oor en oor, en vervang soms die woord mooie met kleine.
Nouja, dis middernag en ook slaaptyd hier!
Lekker slapies.
Mamma
om verder te lees, klik hier.
KOPIEREG WAARSKUWING: Niemand mag hierdie musiek publiseer in ‘n boek, fotokopieer en versprei of kommersieel sing of opnames van maak sonder die skriftelike toestemming van Mnr Henry Falck of sy nageslag nie. Indien u dit ooit wil doen, kontak my deur middel van hierdie blog of by seegogga@gmail.com Op las.
WOW!!! Dit is regtig spesiaal!
Hallo Kokkewiet! Welkom hier ! ek is bly jy hou van die liedjie.
Ag dankie vir hierdie liedjie! Dit is te oulikies en sing sommer lekker!
Ek het vir klein Danie ‘n gediggie geskryf wat ek graag in ‘n wiegeliedjie sal wil omskep. Die probleem is nou egter dat ek die musikaliteit van ‘n vloerplank het. Dus soek ek ‘n bestaande wiegeliedjie se deuntjie wat sal pas by my gediggie. Miskien het jy dalk ‘n paar idees? Gaan kyk gerus by http://www.woes.co.za/bydrae/gedig/lullaby waar ek die gediggie ge”post” het en laat weet asb wat jy dink en of jy sal kan help.
Hallo Julene, ek het gaan loer! Dis is baie oulik! Lyk my die skryfgogga het jou ook beet. Waarom begin jy nie ‘n blog nie? Jy het ‘n storie om te vertel! Of gediggies om te skrywe! Toortsie is nog ‘n blogger van Bredasdorp en sy is ook oa. ‘n musiekonderwyseres. Haar dogter is nou eerte jaar BMus op Stellenbosch en sy kan dalk dit vir jou toonset! Wie weet? Vra haar. http://toortsie.wordpress.com/
Dankie seegogga, ek sal bietjie gaan kyk. Lol, weet nie van my eie blog nie, ek is maar lui vir skryf. Ek skryf sommer so vir myself as ek die dag geinspireer is. Dis baie lekkerder om julle blogs te lees, wie weet, dalk word ek so geinspireer!
Jul moet ‘n lekker naweek hê, dis sulke lekker weer, hoop julle gaan see toe!
julene, ek h klaar met toortsie ( madele burger) gepraat en sy het gese haar dogter sal toonset.
Ag wonderlik! Dit gaan so spesiaal wees! Dankie Segogga, Toortsie en dogter! Ek is nou heel opgemaak en opgewonde. 🙂
Julene, wil jy nie dalk net by my kom reageer nie, sodat ek jou epos-adres kan kry nie?
Seegogga, dis ‘n pragtige liedjie. Maar weet jy, ek verkyk my altyd vir jou kunswerkies.
Danki Toortsie, dis vir my heerlik om sommer sulke vinnige sketsies te maak
Wil myself net kom voorstel. Ek het op aanbeveling en hulp van ‘n vriendin besluit om ons webwerf voortaan self te bestuur. Wat die bloggedeelte betref: Ek is nie ‘n skrywer van format, maar ek wil graag my ondervindinge van die wildplaas met almal deel. Dit is ‘n nuwe uitdaging vir my. Help gerus as jy sien ek trap klei. Ek sal soos die tyd dit toelaat by almal probeer uitkom.
Hallo Malonmetjie, baie welkom hier Se maar as ons kan help. Toortsie het ‘n hele handleiding vir beginner bloggers geskryf. Jy kan gerus gaan loer na Toortsie se blog
Terug pieng: Ouma se bababoek. Brief 13 Jou baba en die ongelooflike waarde van musiek | Seegogga se Bloggie
Terug pieng: ouma se bababoek. Brief 14: Positiewe dissipline | Seegogga se Bloggie
Seegogga, ek soek daardie bloginskrywing van jou van jou dogter se troue, die een met die instrumente! Hoe maak ek?
Tik: Die Bruid en die Beatles. Seegogga se bloggie. Jy behoort dit te kry