Nadat my (gewese) huishulp besluit het dis lekkerder om te kuier as om vir my te werk, en met 3 strandplekke en ons eie huis, is ek hierdie jaar skielik toegegooi: onder die werk, die wasgoed en die STOF!
Vir die wasgoed is daar ‘n wasmasjien- jy gooi net is en haal later weer uit, silwerskoon. Om droog te maak, is daar ‘n tuimeldroer- jy gooi net in en haal later uit, mooi droog( welliswaar effens gekreukel, maar darem- en daarvoor is mos daardie presse deesdae).
Skottelgoed pak jy vinnig in die skottelgoedwasser en haal later net uit, silwerskoon.
Selfs tuinwerk is deesdae maklik. Jy draai nie eers meer die kraan oop nie! Gerekenariseerde sproeiertjies spuit hom mooi nat in die regte hoeveelhede sonder dat jy ‘n vinger hoef te verroer.
Maar wat van STOF???????
Jaaaa, ek weet mens kry ‘n stofsuier, maar jy moet mos die ellendige ding rondtrek en stoot, hy haak aan die tafelpote vas, sy draad koek, of trek styf om die bank, en jy moet alewig ‘n extension aanklik omdat sy draad nooit lank genoeg is nie. Kort-kort moet jy die ding leegmaak, anders wil hy nie meer suig nie, maar die ergste van alles is daardie taai wolletjies wat aan die mat vassit, en wat hy verseg om op te tel, tot jy later maar hand bysit(letterlik). Ek weet ek moet dankbaar wees en ek mag nie haat nie, maar gee my maar liewer ‘n gewone ou besem. Ek haat ‘n stofsuier!
En terwyl ek nou so vee en was en skrop, wonder ek by myselwers hoekom iemand nog nie ‘n beter patent kon uitvind as ‘n stofsuier nie. Met die dat alles op die aarde omtrent uit stof bestaan en tot stof sal terugkeer, en met die dat materie nooit ooit in der ewigheid vergaan nie, is dit g’n wonder dat daar so baie stof is nie. In die Groot Gedagte van Gideon Joubert, vertel hy dat die kleinste deeltjies op die aarde(wie weet, dalk ‘n stukkie van ou Adam of Eva?) so klein is dat hulle sommer so deur jou beweeg, sonder om eers aan jou molekules of selle te raak, soos wat ‘n spoetnik so tussen die planete deur beweeg sonder om aan hulle te raak . So klein is stof soms, en dink net hoe baie !
Aan stof is hier op aarde dus nie ‘n tekort nie. Die moeilikheid is: dit mag nie in die huis wees nie! En wetenskaplik gekyk na die saak, is dit ‘n saak van onmoontlikheid. Kom ons sê liewer ‘n mens mag dit net nie sien nie( wat die oog nie sien nie, treur die hart mos nie oor nie). Nee alles moet blink en glad vertoon. So is die mode nog al die jare.
Maar ek het ‘n idee, as ‘n uitvinder dit nou net wil verwerk en prakties moontlik maak. Die plek waar die meeste stof en vuilgoed kom, is mos die vloere( agv die swaartekrag, nie dat stof nou juis swaar is nie.):
“Self cleaning floors!”
Waarom maak een of ander uitvinder nie vloere wat self skoonmaak nie? Ek sien vloere met klomp miniatuur klein spreiertjies in wat net bokant vloervlak ‘n klein missie sprei, met die kliek van ‘n knoppie. In die vloeistof kan jy ‘n blinkmaak ding ingooi om jou vloer mooi te maak. Dan is daar honderde klein suiertjies, wat al die vloeistof weer opsuig en blasertjies om die effense nattigheid vinnig droog te blaas en die verstopte suiggaatjies weer oop te blaas. Al die vloeistof word onder die vloer weggevoer met pype en buite in sakke vrygelaat. Soms is daar net ‘n droe suigaksie ook- taamlik sterk suig om van stod ontslae te raak en wat van fyn ronddraaiende borseltjies wat oppop en die floer liggies vee om die stof los van die vloer te maak?Die vloere het honderde baie klein gaatjies in, maar jy sal dit nie eers opmerk nie, veral nie al jy dit laat lyk soos die nuwe plankvloere wat nou so in die mode is nie.
Elke aand slaaptyd , druk huisvrou die knoppie, en die vloerwas aksie begin, en hou vanself na ‘n seker tyd op, of jy kan dit ook rekenariseer sodat dit gereeld plaasvind op tye wat jou pas. Werkendes sal dit dalk in die oggend wil laat gebeur as hulle op kantoor is, mammas snags as die kinders slaap.
Aandag alle uitvinders: So ‘n uitvindsel kan dalk net ‘n Nobelprys losslaan – dink net hoeveel werk, frustrasie en ellende gaan hy die mensdom( en vir my) spaar!
Ek lief daardie prentjie!! Jy het jou roeping gemis, dink net waarmee sou die mensdom al gesit het as jy aan bestuur van sake was 😯 Ek is vandag dankbaar om te sê my stofsuier het twaalf jaar gelede die stof gebyt toe ons in ‘n plek met ‘n teëlvloer, ingetrek het 😆
Ha-ha, ek sal die beta toetsing doen!
Dit ‘n uitstekende uitvindsel. Patenteer dit dadelik! Ek wil net vra dat jy asseblief moet dink aan ‘n manier waarop ons wat reeds vloere het die pype en goed onder die vloere sal kan inkry, met die minimum gemors en moeite. 🙂
Hoe, meer ek daaroor dink, hoe moontliker lyk dit vir my. Die outomatiese wasmasjien het ‘n suigaksie( om water uit te pomp, ‘n draai aksie, ‘n intap akise( vervang dit met ‘n blaasaksie) , so eintlik behoort ‘n wasmasjien enjintjie in jou dak daar langs die geyser, die ding te doen. Kombineer dit nou met die tegnologie wat die sproeiertjies op die gras laat opkom . spuit en weer afsak, en ons vloer is gedoen!
en het nou aan ‘n ander plan gedink. Veronderstel die vloer bestaan uit honderde klein rolletjies. die rolletjies draai stadig maar seker in die rondte, ek op’n ander tyd.As ‘n swaar meubel stuk op hom staan, kom hy niks oor nie, want dir rolltjie wat draai is klein en sy gewig rus dan net op die ander. die rolletjie wat draai, kan effentjies afsak om draai aksie te vergemaklik. die onderste deel van die rolletjie word onder gewas sodat die deel wat na bo gedraai is, altyd skoon|( en stofvry) is. hoe’s daai? dalk aanvanklik biejie duur, maar neem al jou vrye tyd en menslike energiebesparing in ag!
Stof tot nadenke. Seegogga jou naam bied vir my die oplossing. Jou heil le in ‘n seegogga. Daardie seegogga met 8 pote. Jy leer hom net vee en afstof en siedaar 8 pote draf die stof kaf.
Ha ha ja Abrie! Ek lees juis dat hulle hoogs intelligent is en hulle kan ook werk terwyl jy gaste het, want hulle kamoefleer mos goed!
Sjoe gekamoefleerde werkers en ongekamoefleerde stof – want daar is nie. Hier kom biljoene rande!
ai bring it on!
I wish!!!