Kraterstorie? Daar’s ‘n slang in die gras!

Ek weet nie of hierdie ‘n kraterstorie is nie, maar dis wel ‘n idioomstorie – ek tag my sommer self.

Lank gelede het ek hier op my blog vertel van Rus ‘n Bietjie, ons eendeur vakansiehuisie op L’Agulhas. Nouja, Rus ‘n Bietjie moet werk vir sy voortbestaan, en dus verhuur ek hom aan vakansiegangers.

Die van julle wat in die bedryf is, sal weet dat ‘n mens baie verskillende tipes huurders kry. Rus ‘n Bietjie, ons  ou strandhuisie, is ook nou nie juis  die normale tipe huisie nie – Hy is ‘n  ‘either you hate it or love it-‘ tipe huisie. Ek vind dat veral die Transvalers nogal nie altyd die vissershuisie atmosfeer so verstaan nie, en liewer glas en chrooom verkies. Dan is daar weer die huurders wat mal is oor die plekkie. “Don’t ever change it!” het een ou eenkeer  in die boodskapboek geskryf.

Hierdie storie gaan egter nie oor sy soort “aardse” mense nie,  wel oor ‘n gesinnetjie stedelike Transvalers en in die dae toe ek nog nie ervare in die bedryf was nie.

Hierdie mense  is toe van  die soort wat liewer sal versmoor as om ‘n venster oop te maak , want sien, hier is geen diefwering voor die vensters nie! Dit is verkeerd en dat is verkeerd en hulle het ook ‘n allemintige vrees vir spinnekoppe en kon heelnag nie slaap nie, omdat daar ‘n klein langbeenspinnekoppie in die portaaltjie in die hoek gesit het.

Ek word summier ingeroep om hierdie spinnekoppie te kom verwyder. ‘Ag, hierdie?” vra ek verbaas en vee die spinnekoppie met my hand af. Hulle ril.

Nou kyk, hier by ons kry ons ‘n spinnekop – ‘n skadelose , maar  vreesaanjaende GROOT spinnekop, wat ek nooit in die Vrystaat of Transvaal teëgekom het nie- die reënspinnekop, soms so groot soos my hand. Ek raak bekommerd. Hier is BAIE reënspinnekoppe. Hierdie mense gaan ‘n OORVAL kry  as daar perongeluk een in die huis beland, soos dikwels hier gebeur.

Ek ag dit my plig om hulle te waarsku en ek vertel hulle dat hier soms so ‘n groot spinnekop kom, maar dat hulle dan nie moet skrik nie, omdat hy heeltemal skadeloos is. Ons  vang hom sommer deur ‘n bakkie oor hom te sit, ‘n papietjie agter in te skuif, en hom dan uit te neem en êrens in die bossies vry te laat.

Dit moes ek nie gedoen het nie. Hulle oë rek soos pierings. “O! Nee!” verklaar die vrou. “As ons so ‘n ding  kry, klim ons dadelik in die kar en ry reguit terug huis toe!”

Dis mos toe dat ek toegee aan die duiweltjie agter my oor en sê:

” En as julle buite loop, kyk tog net asseblief waar julle trap, want hier is baie pofadders.”

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, kraters en ander skandes (humor), Seestories. Bookmark the permalink.

14 Responses to Kraterstorie? Daar’s ‘n slang in die gras!

  1. Krappie

    Het hulle nie net daar in hulle kar geklim en gery nie? 😆

    Ek vind dit baie snaaks dat soveel mense bang is vir spinnekoppe.

    Nie alle Transvalers is pissies nie.

    • seegogga sê:

      Jy beter nie wees nie! Hier is rerig baie pofadders! Ek kon net die versoeking om dit op daardie oomblik te se, nie weerstaan nie. Die skok op hulle gesigte was beloning genoeg.

  2. MaanKind sê:

    Ek wou al Oktober daar gaan uitspan het, maar nee, toe is ek mos siek. Vroeg-vroeg volgende jaar! net 2 nagte, midweek.

  3. Gogga sê:

    Ek het nie ‘n saak met daai outjies nie hulle kan maar kom sit en loer. ons het ‘n paar spnnekoppe wat in die huis bly en hulle het almal name

  4. seegogga sê:

    Sjoe, ek sal nou nie se dat ons so mal oor spinnekoppe is nie….

  5. Kameel sê:

    Seegogga, ek het jou storie baie geniet….. maar moet erken, ek tel onder die lafhartiges. Het nie van reenspinnekoppe geweet totdat ons hierheen getrek het nie, hulle is GROOT 😯 Daardie huisie klink vir my na besigheid, jy moes my net nie van die pofadders vertel het nie.

  6. Nadia sê:

    Kosteloos! Ai, die valies kan mens lekker laat lag – alhoewel dieselfde seker gese kan word van die Capies 😉 Ons het ook nou ‘n huisie by die see (Lambertsbaai se wereld) en ons dink ook daaraan om bietjie op te knap en uit te verhuur – dink ek sal maar eers bietjie moet kom kers opsit om te hoor hoe die werklik is om die geite en grille van die besoekers te verwerk!

  7. seegogga sê:

    Ai julle sal die huisie by die see sooo geniet!

  8. Olga sê:

    Klink na my Noolste Nolie se soort plek. Hy is dol oor slange en goggos. Vertel my gereeld ‘n spinnekop sal aanstoot neem omdat ek hulle goggas noem.

  9. seegogga sê:

    Miskien moet julle dan maar hierheen kom in die somer! Hier is juis vannaand ‘n reenspinnerkop wat hier teen my plafon rondhang.

  10. Toortsie sê:

    Stouterd!! Maar mag ek bieg???? Ek is vir NIKS in die lewe so bang as vir daardie groot spinnekoppe nie! Daar sit reeds nou een in my sitkamer…. wag net vir pappa om dit te kom verwyder. WEET HULLE NIE DIS LEWENSGEVAARLIK OM IN MY HUIS TE KOM NIE???

  11. seegogga sê:

    Ek moet se, hulle is VREESAANJAEND! My kinders kom ook iets oor as hulle een sien. Die fliek ARACHNIDA, het ook nou nie juis gehelp nie.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s