Tameletjie is lekker

Vir Tamaletjie resepte: Onderaan hierdie blog verskyn daar 3 resepte, twee baie eenvoudig,  die ander een van Leipoldt. Klik ook op die hier op Reseppie vir die lus vir lekker maklike ander lekkers.

Maar nou eers die bloggie! Aartappelpastei( ek is mos mal oor aartappels), appeltert( soos my ma dit gemaak het), smulboboti en bredie, en mmmmm brownies! Of wat van die maklike mieliegereg( lyk lekker met min moeite) en oom John se vis met die pak chips( dit lyk na ‘n interessante nuutjie), vinnige pizza en potpoeding……lekkerrrrrrr! Sjoe, hoe water my mond nou vir iets lekkers! As jy wil weet( en ek WEET jy wil), al hierdie resepte( en nog baie meer!) kom uit Toortsie se eie persoonlike resepteboekie, “Tameletjie Toortsie.”

En ek is die gelukkige wenner van so ‘n boekie!!!( Jammer vir julle ander ouens wat te laat julle name op die pay it forward speletjie gesit het, né!) Dis ook al die derde keer dat ek iets wen! Ek het my heerlike Toortsiebeskuit lankal opgeëet en beplan nou my jaar met Xena se oulike foto-kalender.

En hier is nou die tameletjie: ek moet nou ook iets wat ek self gemaak het weggee aan die eerste 5 van julle wat hier antwoord. Wat kan ek tog maak wat darem oulik en bruikbaar is? Ek kan nou aan net mooi niks dink nie! Ek het mos reeds ‘n boekie gegee, en ‘n raampie. Wat maak ek nog? Roomyskoeke? Dit sal smelt.  Het ek te gou deelgeneem? Eintlik kan ek alles doen behalwe koekies en beskuit bak en naaldwerk doen. ( dit beteken eintlik ek kan niks anders doen nie, behalwe om te verf en te teken) Sal moet dink, diep dink( sug…). Maar skryf tog maar julle name hier vir ‘n verrassingsgeskenkie, hoor! en vir die van julle wat ‘n tamaletjie resep soek hier is hy, of ter wel ‘n paar variasies van hom, waarvan Leipoldt s’n waarskynlik die egte een is, maar die Abram Kriel een seker die maklikste. Klik ook hierbo op resepie vir die lus, vir maklike ander soetgoed.

Tamaletjieresep

1. Oud-kinderhuiskind se tamaletjieresep:Volgens ‘n Oud- Abraham Kriel inwoner,  neem jy ‘n lee blikkie, gooi suiker in, verhit oor ‘n vlammetjie tot suiker begin. smelt. Dan skep jy dit met lepeltjie ( of stokkie) uit en rol in bolletjies . Pasop dis warm! Maar dit moet warm gerol word. Ou matie, en dan eet jy hom! 

2. Goggabyt se resepVolgens Goggabyt is tamaletjie eenvoudig botter en suiker en ‘n warm pot. Laat alles smelt en roer en gooi uit op botterpapier. Lekker eet en dan sukkel jy agterna om die pot skoon te kry.

3. Tamaletjie resep volgens Leipoldt

 Hoe heerlik is dit om gesmelte suiker te klits totdat dit ‘n wit kapok word, ‘n kapok wat jy kan knie en draai tot suikermannetjies, osse, wawiele en wat ook meer die kinderlike verbeelding jou ingee. Die kunstenaarkoks noem dit ‘fondant’; ons het dit altyd ‘witkleisuiker’ genoem. Koffiemonsters het ook op hierdie manier aangekom. Dit is miskien nuus vir my lesers om te hoor dat Suid-Afrika vanmelewe koffie uitgevoer het – tonne daarvan elke jaar. Kyk nou nie asof ek iets uit my verbeelding gryp en dit op ‘n skinkbord met populierblare versier presenteer nie. Ek spreek die skriftelike waarheid, maar om ‘n verklaring daarvan te gee, is buite my vermoë. Dit het iets te doen met ‘n buitelandse wet en met ‘n handelstraktaat en
[p. 151]
Ou Stomparmpie het ons geleer hoe om tameletjies op die ouderwetse manier te maak. Dit is ‘n soort lekkergoed wat ons vandag nie meer kry nie. Maar koddig genoeg het ek die ou resep in een van my middeleeuse kookboeke teengekom. Die koks van die middeleeue – so ongeveer 1400 tot 1550 – het baie met soetigheid gespook. Suiker was vir hulle ook ‘n skaars ding. Hulle kon nie spandabel daarmee omgaan nie. Heuning en vrugtesappe moes bygehaal word om die suikervoorraad aan te vul. Eierwit moes gebruik word om die suiker te laat lyk of dit meer is as wat dit werklik was. Ook neute is bygesit; daardeur het ons marsepein, wat een van die grootste hulpmiddels in die middeleeuse kombuis was. Die tameletjie is dus een van die oudste lekkersoorte wat aan ons bekend is en is seer seker afkomstig uit China, waar suiker van die vroegste tye af goed bekend is. En die ouderwetse manier van toebereiding is presies soos ou Stomparmpie ons geleer het. Sorg eers dat jy ‘n vorm het. Ons het gewoonlik die deksel van ‘n skoendoos gebruik. Dit is gerieflik en kan oor en oor in diens geneem word. ‘n Bietjie botter of vet is aan die binnekant gesmeer om die tameletjie nie te laat vasklewe aan die papier nie. Die suiker is gesmelt in ‘n pannetjie, gewoonlik sonder permissie uit die ouerlike kombuis gebuit. Oor ‘n vuurtjie wat in die tuin onder die groot mispelboom met behoorlike voorsorg en ‘n sekere mate van indrukwekkende seremonie aangelê is, is die toebereiding gedoen. Langsaan was drie vlak klippe waarop die pannetjie veilig plaas kon neem, hoe geweldig die vlamme ook oor hom opslaan. Die juiste oomblik om die pannetjie van die vuur af te neem, het ou Stomparmpie bepaal deur ‘n spits stokkie in die gesmelte suiker te steek en ‘n druppel daarvan versigtig tussen sy vingers te vryf.
[p. 152]
Dit is egter beter om die druppel gesmelte suiker in ‘n koppie water te laat val; dan loop jy geen gevaar om ‘n brandblaar aan jou vingers te kry nie. Maar die eerste was sy manier van doen, en as ek nou tameletjies maak, dan volg ek dit onbewus, afskoon ek goed weet dat dit nie volgens die reëls is nie. Die doel is om te oordeel of die suiker tameletjie-punt bereik het; dit is ietwat hoër as ‘fondant’-punt en ietwat onder karamel- of brandpunt. Nogtans, vir ‘n goeie tameletjie moet daar ‘n ietsie karamel of gebrande suiker in die eindresultaat wees, en dit is dus ‘n kenner wat die saak moet beslis.Intussen het ons die dennepitjies gekraak, die pitte uitgehaal, hul omhulsels afgehaal en elke pit in die helfte gesplits. Soms ook ‘n paar amandels as dit te kry was. Maar die amandels moes eers ook onthul word, wat maklik genoeg is as jy hulle eers in warm water steek, maar nie so vinnig gaan as jy jou tande of jou vingers daarvoor moet gebruik nie. Ons leermeester het altyd ‘n grypie gestampte pypkaneel – ek vermoed nou dat dit eintlik kassia was en nie egte pypkaneel nie, want dit was destyds peperduur – byderhand gehad, en as ons van Ouma uit haar spens ‘n paar groenamandelneute (‘pistachio’) kon afsoebat (wat soms geluk het, ofskoon hierdie spesery so te sê van onskatbare waarde was) dan het ons dit bygedra.As die gesmelte suiker presies was wat hy moes wees, het Stomparmpie die pannetjie oor die skoendoosdeksel gehou en ‘n dun laag daarin laat drup. ‘Gou nou met die pitte,’ was sy waarskuwing, en daarop het ons ‘n strooisel van wat klaar gemaak is op die laag suiker gelê, waaroor dan die pypkaneel (ofte kassia) gestrooi is. Dan ‘n rukkie wag, met die pannetjie weer bo die vuur om die suiker in toom te hou. Daarna weer ‘n laag suiker, hierdie keer tot bo, en daarop die res van die pitte. Binne ‘n paar minute was die tameletjie kliphard. Dit kon nou uit die skoendoosdeksel geneem word – ‘n pragtig deurskynende, topaaskleurige lekker, met die pitte daarin soos wit vlekke in ‘n stuk Amandola-marmer. En dit het so goed gesmaak as wat ‘n tameletjie maar kan. 

4. Iets lekkers. As jy nou sommer lus is vir iets lekkers, kan jy ook hier klik en probeer.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Kossies vir 'n seegogga en ander resepte, Los opdrifsels and tagged , , . Bookmark the permalink.

5 Responses to Tameletjie is lekker

  1. Toortsie sê:

    ….mmmmmmmmm………. 😆

  2. seegogga sê:

    eerts, Toortsie! MMM vir jou kan ek dalk ‘n roomyskoek maak, of waatlemoen, of iets intressants. Lyk my daar is nieam anders wat ‘n verrassinkie soek nie!

  3. seegogga sê:

    ai tog, noudat weet min of meer weet, wat dit gaan wees…..

  4. Terug pieng: Tweede briefie aan ‘n bloggie | Seegogga se Bloggie

Kommentaar is gesluit.