om onsigbaar te wees

Mmmm Onsigbaar! Seker elke kind se droom!  Beslis was dit myne as kind.

Verbeel jou om in die straat af te stap en NIEMAND kan jou sien nie. Jy kan kattekwaad aanvang, in jou maats se huise rondhang, skelms vang en wonderlike goed doen , as jy net onsigbaar is! En verkieslik moet jy sommer deur mure ook kan beweeg,  né!

As jonge dame, sou ek darem graag wou hoor wat my kêrel van my dink – as hy nou nie weet ek is daar nie, want ek is mos onsigbaar! Ek sou graag die man van my drome van daardie oomblik, wou soen! Hy sal darem lekker wonder wat hom nou getref het!

Ek sou graag op ‘n lekker skindersessie wou inluister. Meisies kan mekaar tog sooo bespreek en al die liefdeskatestrofes en ander mense se lewens uitpluis!

Maar nou is ek groot ( lees: oud.) en nadat ek hierdie opdrag van ons liggie Toortsie gekry het, dink ek nou al ‘n paar dae lank waarom ek graag onsigbaar sou wou wees…….En ek kan aan net mooi geen rede dink nie!

Ek kan my nie meer bekommer oor wat mense sê as ek nie by is nie, ek is nie gepla of hulle van my praat of nie, ek gee nie om wat hulle dink oor politiek, modes of kos nie. Daar is geen besondere  misdaadavonture wat ek wil oplos terwyl ek onsigbaar is nie, en skinderstories is regtig vervelig. Buitendien glo ek geen skinderstories nie, veral nie op ‘n dorpie soos ons s’n nie. En al wonder ek soms wat in my geliefdes se lewe aangaan, wonder ek nie soveel dat ek selfs onsigbaar sal wil word om uit te vind nie. Selfs al maak ek droog of stamp iets om of maak ‘n gek van myself, is ek nie meer so skaam dat ek sal wil verdwyn nie. Ruimtetuie? As ek in een kan kom, kan die hele wereld my maar sien! Operas en ballette? Wel, miskien as ek verniet kan ingaan…… maar ag wat dis nogal moeite om elke keer Kaap toe te gaan om dit te doen.  Neewat, my behoefte om soms onsigbaar te wees, het soos mis voor die son verdwyn.

Is dit ‘n gebrek aan verbeelding? Ek dink eerder dis ‘n gebrek aan lus. Of miskien is dit sommer net kanniewarrienie oudgeit.

Ai, en ek het rerig nooit gedink ek sal oud word nie.

Maar jy wat hier lees, jy wil sekerlik nog soms vir klein rukkies onsigbaar wees? Wat sal jy die graagste wil doen as jy onsigbaar is??? Dirkie, wil jy nie asseblief vir ons vertel nie?

12 Kommentaar

Die juffrou en John: Deel 2

Oorentoesiasties en onderervare en onvolwasse. So het die juffrou begin skoolhou en haar met volle oorgawe in haar nuwe beroep gewerp.

Die kinders het na haar toe gekom in hulle ‘af”-periodes – sang, godsdiens, voorligting en liggaamsopvoeding asook in al hulle Afrikaanse periodes. Dit het beteken dat haar klasse die heeltyd gewissel het: nou die st 6e en 8’s saam, nou weer die 8’s en 7’s ens. Soms het sy een leerling tot selfs 5 x per dag gesien, soms glad nie; Multi-graadonderrig op sy ergste, maar die klasse was klein en elkeen se taalvermoë was min of meer op dieselfde vlak – heel onder, 0.

Haar klassie was in die prefekte se kamertjie en soggens het sy en haar leerlinge saam om ‘n tafel gesit, en na skool het hulle ‘n gesamentlike sessie in die skool se taallaboratorium gehad waar elke kind op sy eie deur ‘n program moes werk en by die juffrou kon inskakel om hulp. Sy kon weer individueel op elke kind inskakel sonder om die ander te steur. Dit was jare voordat daar so-iets soos persoonlike computors was, maar haar skool het ‘n wonderlike progressiewe skoolhoof gehad. Was dit dalk die eerste skool met ‘n taallaboratorium in die land?

Sy het al haar leerlinge en hulle ouers persoonlik leer ken: Daar was die Skotte wat geweier het om skooldrag te dra of hulle hare te knip, en wie se uitspraak niemand in die skool kon verstaan nie, behalwe miskien sy:( ” Hi. Lizz, how is Graeme doing in your English class?” ” I don’t know. I never ask him a question, because I don’t understand a word he’s saying!”)

Daar was die 2 Amerikaners; ‘n dierbare skaam seun wat uitruilstudent was, en ‘n wyse meisietjie wat al in byna elke land in die wêreld skoolgegaan het. Haar pa het vir ‘n oliemaatskappy gewerk. Die 2 Belgiese en Hollandse meisietjies was natuurlik voor almal, met veral die Vlaams wat regtig baie soos Afrikaans is.

Daar was die pragtige Britse boetie en sussie, fyn opgevoed en uit ‘n lieflike gesin ,en die mooi blonde Britse Heather, wat nooit ooit die letter H oor haar lippe laat kom het nie: (“Miss, ‘e pulled me ‘air!”)

En dan was daar die twee boeties wat soos dag en nag verskil het: die rowwe opstandige st 7 rebelletjie en sy ouer boetie, die ‘answer to a teacher’s dream’, John.

Sy het die kinders leer Afrikaans praat, en hulle vir haar Engels.( “Miss, your tongue ties. When you want to say something like ‘don’t do that , do this,’ you say: ‘don’t do dat do dis”….but it’s ok, miss, we understand what you mean!” John.)

Sy het hulle geleer van ons land se gebruike, boeremusiek en fauna en flora. Hulle het haar geleer van Underground Music – Huriah Heep, Black Sabbath en Deep Purple.

Sy het hulle geleer van vleisbraai, biltong en droë wors. Hulle het haar geleer van koffie met suiker, melk en lepel sommer klaar in, onion and cheese pies en veral baked beans on toast.

Saam het hulle die skoolgronde deurgeloop, aan alles gevat en die Afrikaanse woorde gesê. Hulle het uitgery veld toe en die natuur in Afrikaans verken. Sy het hulle na die Randse Paasskou en goudsmeltery geneem om hulle ‘n breër beeld te gee, en hulle is saam skrootwerf toe om materiaal te gaan soek vir die vlot wat hulle vir die skoolkarnaval moes bou.

Sy het hulle dikwels smiddae sommer huis toe geneem omdat hulle so ver van die skool af gebly het en binne ‘n halfuur weer by die swembad moes wees. (Hulle was feitlik almal swemmers wie se ouers na haar dorp toe gelok is deur die fabriek en die wereldberoemde swemafrigter wat hulle op die dorp aangestel het.)

Sy het haar leerlinge baie, baie goed leer ken, en hulle ook vir haar.

Wie het vir wie geleer? Soms dink sy dat sy die een was wat die meeste geleer het – van ‘n ander taal, ‘n ander kultuur, ‘n ander leefwyse.

En tussendeur was daar een leerling wat gesorg het dat hy nie ongemerk en in die bondel bly nie, wat haar aandag doelbewus opgeëis het met sy buitengewone hardwerkendheid, sy verantwoordelikheid, sy insig, sy vrae, sy tussenwerpsels, sy kwinkslae en soms sy moedswilligheid: John.

Klik hier vir vervolg

Posted in Vertelling: Die Juffrou en John | 7 Kommentaar

Overberg verrassing: Baardskeerdersbos

Vanoggend preek ds Corne so mooi. Hy vertel hoe ons ons naaste moet help en hoe ‘n mens dan beloning sal ontvang. Maar natuurlik doen mens nie goed aan ander vir beloning nie, jy doen dit omdat jy aan ander doen soos jy aan Jesus sou doen.

Ons is skaars by die huis, of die telefoon lui. Dis my man se bouhandlanger wat wil weet of ons hom en sy gesin asseblief so halfpad Elim toe sal neem. Nouja, die ou vat ‘n kans. Verlede Sondag wou hy dit ook gehad het, en omdat dit my man se verjaardag was en ons vriende gehad het, het ons geweier. Ons was ook glad nie beïndruk toe hy die Maandag nie kom werk nie, maar sy vrou wel toe kom geld leen het nie: dik geslaan en duidelik nog halfpad onder die invloed.

Ons eerste reaksie was natuurlik om te weier, want dit was nie ‘n noodgeval nie, en nadat ons hom verlede week gepreek het, het hy sowaar die vermetelheid om weer te vra. Maar dit is ook so dat ek verlede week baie skuldig gevoel het omdat ons hulle nie kon neem nie. Hulle het nie vervoer nie en die vervoerstelsel hier in die platteland bestaan nie eintlik nie.

So, gedagtig aan my skuldgevoel verlede week, en die ds se preek vanoggend, besluit ons toe om dan die 4 mense maar hierdie eenkeer  wel  te gaan aflaai, en dit dan sommer as ‘n uitstappie te beskou. Ons ry die lieflike pad Elim toe, laai hulle af en besluit om ‘n bietjie verder te ry.

Eers sien ons ‘n troppie bontebokke- te pragtig; toe ‘n swerm flaminke, ‘n nuutjie hier in ons area. Nie lank nie, sien ons reuse voëls – korhane, sê my man.Daar is natuurlik ook die verskillende soorte beeste, perde, skape, volstruise en ‘n paar bloukraanvoëls. Die landerye is die mooiste groene, hier en daar is ‘n canolaland in volle  flurescentgeel blom, en die berge is sommer blouer.

Ons kom by ‘n kruis in die pad. Die een pad gaan Struisbaai toe, die ander na Elim. ‘n Munstuk word opgeskiet. Elim sal dit wees. Lekker, want ons kom min daar, en aangesien ons nog nie ontbyt of oggendtee gehad het nie, sal iets lekker op Elim met sy antieke rietdakhuisies, ‘n  avontuurtjie wees. Maar ál Elim se winkeltjies is toe – dis mos byna etenstyd. Dus verder- Baardskeerdersbos toe!

En daar land ons toe op die enigste oop plekkie op die spesiale dorpie: Marietjie’s Pub en Grill. Daar is ‘n lieflike vuur in die groot kaggel. Die plekkie het karakter soos net ‘n Baardskeerdersbos plek kan hê  (kyk asseblief na hulle plan -nie vir mooigeit nie, maar uit nood gebore-vir ‘n deurknip in die dames badkamer), en ja, hulle het sommige Sondae Sondagkos: Slegs R35 ‘n bord, en vandag het hulle glanshoender.

Ons is dadelik in. Nie lank nie, toe kom daar ‘n yslike bord kos, eintlik te veel om te eet: die heerlikste hoender “gunsakke” met ryk sous oor, 3 yslike gebakte aartappels, soetpampoen en lekker tuisgekookte (en tuisgekweekte) beet.  Njammies!

Die dame wat ons van die Sondagkos vertel het, stuur sommer ook vir ons elkeen ‘n glas wyn oor- op haar eie rekening. Mmmm!

‘n Gewone (vervelige?) dag het deur hierdie een klein daad om mense ‘n entjie uit die dorp te gaan aflaai, in ‘n lieflike dag vol verrassings en ‘n feesmaal geeïndig!

En ons het klaar besluit: Volgende Sondag, DV neem ons ons kinders wat gaan kom kuier, uit vir ete: Baardskeerdersbos toe!

Gaan jy saam?

Posted in Die Overberg: my wereld., Overberg | 12 Kommentaar

Hoe, hoe, hoe???????

Dis nou al geruime tyd dat ek voel dat my bloggie bietjie uitrafel.

Die doel het bietjie vervaag, die moed en die lus en veral ook die tyd. Ek sit nie meer aand na aand alleen tot 2 vm in die huis nie, ek kry nie meer kos van die restourant af nie, en ek het nie meer ‘n Magdalene wat aan die kant maak en skottelgoed was nie.

Tog het ek darem nog idees. En die idee wat ek nou het, is om ‘n bloggie te hê wat my vakansieakkommodasieplekkeen my boekies adverteer, maar wat ook die besienswaardighede  hier bespreek. Miskien een waar ander ook hulle stuiwer in die armbeurs kan gooi en ook goed skryf wat hulle hier interessant vind. Of selfs waar ander hulle akkommodasieplekke en restourante kan laat noem.

Maar ai, die tegnologie, darem! Hoe doen ek dit? Toe ek ‘n nuwe blog wou begin, soos WordPress my elke nou en dan uitnooi om te doen, vra hulle sulke goed soos username, name of blog en allerhande goeters. En as ek nou dink ek tik die regte ding, dan sê hulle ek is verkeerd! En as ek my e-mail intik, sê hulle hy word reeds gebruik. Natuurlik word hy reeds gebruik! Ek gebruik hom mos en ek is mos nog steeds ek( hoop ek).

Toe dag ek , ek kan soos Maankind haar boeke se prentjies so mooi langsaan sit, my boekies en my vakansiehuisies ook so langsaan sit. Moenie glo nie. Ek weet nie eers waar om te begin nie.

Sooo, TOOOORTSIE! XEEEEEEEENA! MAAAAAANKIIIIND! BLOOOOOGGERS! HEEEELP!

12 Kommentaar

Die juffrou: Deel een

Elke ding wat gebeur, stuur jou  lewe in ‘n koers, ‘n rigting wat die res van jou lewe beïnvloed en verander, soms so gering dat jy dit nie agterkom nie, soms soveel dat dit jou jou lewe lank bybly.

Hierdie jaar, 40 jaar gelede, was die jaar waarin sy vir die eerste keer  begin werk het, haar kindwees sou begin afskud en die volwasse lewe as werkende jongmens sou betree.

As pas gegradueerde het sy ingeskryf vir haar HOD diploma, en moes dus 2 weke lank gaan ‘proef’ voor die universiteit begin. Díe het sy sommer op haar tuisdorp by haar ou skool gedoen, en omdat ou Aardmannetjie, die Aardrykskunde- en Voorligtingonnie siek geword het, moes sy waarneem.

Toe die skoolhoof haar vra hoe dit gaan, sê sy impulsief: “Meneer, dis heerlik hier! Is daar nie vir my ‘n werk nie?” Sommerso, sonder om te dink en sonder om enige positiewe antwoord terug te verwag.

Sy antwoord klap haar heeltemal om. “Ja, ons benodig ‘n onderwyser om vir die immigrante te leer Afrikaans praat. Sien jy kans?”

Net daar verander haar lewe, onherroeplik en dramaties. Sy het daardie middag huis toe gegaan en vir haar ouers vertel dat sy nie teruggaan universiteit toe nie. Haar onderwysdiploma sou sy na-uurs op Potch gaan doen. Daar is 2 onderwysers wat dit ook doen, en  hulle kon saamry.

Die volgende oggend het sy begin werk as onderwyser en haar leerlinge stelselmatig ontmoet.  Daar was oa. 5 kinders van Skotland af, 7 van Engeland, 2 van Amerika en 1 dogtertjie van België. Een van hulle is vooraf deur mev Brits, haar wonderlike mentor, beskryf as ” the answer to a teacher’s dream”.

So het sy die korterige half-Britse, half-Turkse st 8 seuntjie met sy borselkop en skokkende turkoois oë ontmoet, sonder om te weet dat haar lewe vir ‘n tweede keer in twee dae se tyd onherroeplik en dramaties verander het – ‘n verandering wat haar haar lewe sou bybly: John .

Klik hier vir vervolg.

Posted in feeverhale en ander stories, skoolstories, Vertelling: Die Juffrou en John | Tagged , | 8 Kommentaar

‘n Jas vir ‘n leeftyd

Vandag verjaar my oudste dogter.  Hoe het die tyd gevlieg? Sy het deur die jare van ‘n pragtige pap ou babatjie ontwikkel tot die pragtige volwasse vrou wat sy vandag is, mooi, kunstig, talentvol, netjies en georganiseerd, ‘n wonderlike moeder vir haar kindertjies, net soos my ma, haar ouma, op haar dag was.

Maar dis nie waaroor hierdie skrywe gaan nie. Saam met my dogter, het ook my jas in my lewe gekom. My ma was ‘n voortreflike naaldwerkster, eintlik ‘n modeontwerper, al het sy nie die “papiere” gehad nie. As dogtertjie het ek altyd die mooiste rokkies op die dorp gehad. En toe ek groot is en my oudste verwag, en dis winter en niks pas my nie, het my ma vir my ‘n jas gemaak.  Met liefde het sy die jas ontwerp en gemaak sodat dit oor my boepmagie pas. Die knoopsgate is, soos die perfeksionis wat sy was, nie net met ‘n masjien gestik en oopgesny nie, maar met ‘n lappie omgewerk soos gekoopte jasse. Ekstra knope is aan die binnekant ingewerk vir ingeval een dalk afbreek en verloor. Die moue is nie sommer gewone moue nie, maar het ‘n mooi cuffie, soos sy nou lus was om te doen.

Die wonderlike ding van hierdie jas is dat hy gemaak was vir my 6-9maande swanger lyf, en dus pas hy my nou nog na al die jare.

Elke winter word my jas uit die kas gehaal en gedra waar nodig: kerk toe, as dit reën, en  sommer as dit koud is en ek te lui is om netjiese klere aan te trek. Ek trek net eenvoudig die jas aan, en dan is ek reg – vir alle geleenthede.

En toe ek nou vanoggend weer die jas haastig aantrek vir kerk, toe tref dit my: die jas is meer as 30 jaar oud, hy is selfs ouer as my oudste kind, en hy lyk nog vir my net so mooi soos altyd! Ek wens so ek kon vandag vir my ma ‘n drukkie gee.

Posted in Los opdrifsels | 10 Kommentaar

Die taal van herinneringe: 40 years ago – a memory.

40 Years ago – a memory

So long ago

so far away

are the days.

Too long to remember

too far to reach.

Did they ever exist?

But here and there, unexpectedly,

there is a coat

a 21st year mug

a Union Jack with inscription

even a photograph

and of cource: a diary –

small proofs of yesteryear

when life was great

worries few

adventures plenty

and love bountyful.

Yes, all the sadness of the past

deminishes every day as time moves on

but the memory of you prevail

as part of a special time

so long ago

so far away.

 

Posted in die tale wat ons praat, English blogs, gedigte en rympies (seestrome van verlange), Vertelling: Die Juffrou en John | 3 Kommentaar

to write or not to write that is the question

Ek het vadag oor die radio gepraat oor my blog – niks om oor huis toe te skryf nie, dis sommer ons plaaslike stasie weer ek 3x per week ook soggens die nuus moet lees, alles vrywillig, maar dit het my weer gebring by die kwessie oor blog.

Holly Lisle, daardie vrygewige skrywer wat gereeld die oulikste gratis wenke stuur vir die van ons wat wil weet,  sê dat ons mooi moet dink waarom ons skryf. Dat ons moet eg wees, maar dat ons ook moet weet: deur jou skrywe leer ander jou ken, of jy dit nou wil hê of nie. Erger nog, mense vind goed van jou uit waarvan jy nie eers bewus is nie.

Of ‘n mens dus wil of nie, jy stel jou innerlike bloot aan diegene wat jou skrywe lees, selfs al skryf jy oor goed wat jou nie eers regtig raak nie. Hoe dan nou gemaak met die goed wat jou regtig raak? Die goed waaroor jy eintlik graag wil skryf? Die goed wat jou rerig na aaan die hart lê?

Want as ‘n mens lief is vir skryf, is jy ook lief om oor goed te skryf waaroor jy voel, goed waaroor jy graag iets wil sê – waarskynlik omdat dit  iets is wat jou raak. ‘n Mens sien dit ook duidelik in blogs. Mense skryf oor goed wat vir hulle belangrik is, oor hulle daaglikse doen en late en dinge waaroor hulle sterk voel.

Is bloggers dan dalk uiterste ekstroverte? Of is hulle juis introvert en is skryf die enigste medium waardeur hulle van gevoelens kan ontslae raak? Of is hulle bloot in hulle hart skrywers, en geniet dit om  woorde in te span? ( maar in die proses hulleself bloot te stel?) Indien hulle slegs wou skryf om te skryf, sou hulle dagboek gehou het. Blog impliseer dat hulle graag wil he ander moet dit lees.

Ek dink dis dalk ‘n kombinasie van baie faktore. Die skrywers in ons, wat graag  wil motiverend, humoristies, of insiggewend wil skryf, die wat wil dig, die wat hulle emosies wil uitskryf, en die  wat hou van stories vertel.

Die meeste van ons het skuilname, maar ons vriende en sommige medebloggers weet wel wie ons is.

Hoe voel jy as blogger daaroor dat die hele wereld weet wat jy dink en voel en wat in jou lewe gebeur? Wil julle nie asseblief vertel nie?

Posted in Los opdrifsels | 24 Kommentaar

Reseppie vir die lus

As dit koud is, is mens mos lus!

Lus vir soetgoed, warmmaakgoed, sommer net lus – in general!

En in die afgelope tyd, toe ek so diep begin dink het oor die huwelik, die smarte van die lewe en al die baie goeters wat oor ‘n mens se pad kom, en ja ook die toestand van die land aldus al julle bloginskrywings en die koerante, toe raak ek sommer nog meer lus. As julle ook soettande is, sal weet waarvan ek praat. As die lewe jou druk, druk terug – met ietsie lekker soets om jou krag te gee.

Die moeilikheid is dat die lus mens dikwels saans pak, so ‘n entjie na aandete, en dan is daar niks lekkers in die huis nie. Dis wat ek dan soms  doen:

Gooi ‘n blokkie botter in ‘n pot( afhangende hoeveel jy wil maak, ek wil gewoonlik net ‘n bietjie maak, so so 1 eetlepel is seker genoeg. Maar hoe meer botter, hoe lekkerder.

Gooi nou so nagedagte suiker in, ongeveer net soveel as die botter, of dalk meer. As jy kondensmelk het, lekker, maar as jy nie het nie, vat so ‘n bietjie melk- nie te veel nie, taamlik  minder as die suiker en botter.

Nou sit jy jou pot waarin jy alles gegooi het, op die warmste plaat wat jy het, en ROER! Dis belangrik dat die suiker smelt voor die goed kook, en jy roer die heeltyd, net soos met fudge. As jy presies wil wees, sit ‘n beker koue water langsaan neer, en toets nou en dan deur ‘n druppel daarin te gooi en te kyk vir die ‘sagte bal stadium’. As jy nie is nie, roer net eenvoudig vir so 10 minute of langer, tot die goed lyk soos klaargekookte fudge of so. As jy vanilla het, gooi jy nou so ‘n bietjie, seker minder as ‘n telepel afhangende van jou hoeveelhied, by. Haal af, gooi in gesmeerde piering of bakkie, en laat afkoel.

Nou die ding is, dis nie regtig ‘n resep nie, dus weet jy nie regtig hoe dit gaan kom nie.  Afhangende van jou bestandele en hoe lank jy gekook het, het jy soet taai sous, of dalk sagte taai creamy toffee, of dalk fudge. As die goed heeltemal te pap is, kan jy dit weer in die pot gooi en verder kook, of jy kan bietjie suiker smelt en bygooi of watookal. Maar met soetgoed vir so ‘n aand bodder jy nie te veel nie. Of jy dit met lepels eet, of jy taai balletjies in jou hand rol en of jy dit in blokkies sny, dis lekker en dis soet! O, en jou kinders sal mal wees daaroor!

En nog ‘n ding: omdat dit nie eintlik ‘n resep is nie, kan jy mos maak wat jy wil: as jy grondboontjiebotter het, skep ‘n groot lepel vol by, hier naby die einde, in plaas van vanilla . Of as jy rosyntjies het, kan jy dit hier naby die einde bygooi – of neute, of  dalk ‘n lepel koffie soos die lus jou nou pak.

Ou matie, en dan eet jy dit!

Wat maak julle as die lus julle beetkry?

Posted in Kossies vir 'n seegogga en ander resepte, Los opdrifsels | 9 Kommentaar

dis winter!

Die twye swenk

die takke swaai,

dit is die winterwind

wat waai….

Hierbinne sit ek

dankbaar warm

en met donskombers

omarm.

Laptop op die skoot

woorde op die hart

verlange sommer groot

en wynglasie kwart.

Posted in gedigte en rympies (seestrome van verlange) | 3 Kommentaar

Ouma se bababoek: Brief 17, ‘n brief aan pappas

My liewe seuns en ander mans wat hier lees

Vandag is Vadersdag en hoewel nog net een van julle 3  al ‘n pappa  is , gaan julle ander dalk ook nog eendag die voorreg hê om die vader van ‘n kindjie te word – en watter ongelooflike voorreg is dit nie om ‘n kindjie groot te maak nie!

Kinders grootmaak is, anders as wat julle dalk sal wil glo, nie die werk van slegs die moeder nie. Nee, die pappa het ‘n ongelooflike belangrike rol, want volgens dit wat sy by haar pappa leer, gaan jou dogter eendag haar toekomstige man kies, en volgens dit wat jou seun by jou sien, gaan hy eendag sy gedrag en lewensuitkyk rig.

Pappas, julle is die rolmodelle van julle kinders, of julle dit nou wil of nie, en dis ‘n ongelooflike verantwoordelike posisie wat julle beklee!

My seuns,  ek weet dat julle my dogters baie mooi bygestaan het, en nog sal bystaan tydens die swangeskap en geboorte. Ek weet ook dat julle betrokke pappas is wat graag die beste vir julle kinders sal wil doen. Die ding is egter dat julle moet kennis hê van wát daardie regte goed  is.

Eerstens is die koms van “n babatjie in die gesin ‘n groot aanpassing en soms voel pappas ‘n bietjie afgeskeep omdat sy vrou nou alle aandag aan die baba gee. Babatjies het nou maar eenmaal baie aandag nodig en as hy huil, dadelik!  Glo my, hoe gouer jy betrokke raak en help, hoe minder gaan jy afgeskeep word!

Verder dink nuwe pappas mos dat die babatjie soet in sy eie kamer moet slaap. Die man van die huis moet mos nie snags gesteur word nie, want hy moet mos belangrike werk doen, dus moet hy rus kry. Dit werk ongelukkig nie so nie. Glo my, jy gaan baie meer rus kry as die babatjie sommer by julle in die kamer slaap en soms sommer in julle bed. Dan sorg sy mamma vir hom  nog voor hy huil, niemand gaan heeltyd uit jou bed opstaan en dan weer met ‘n koue lyf langs jou inskuif nie, en almal gaan meer slaap kry. Ja, dit vat ‘n rukkie om gewoond te raak, net soos jy maar in die begin gewoond moes raak om heeltyd langs jou vrou in die bed te slaap. Maar gou- gou raak jy gewoond en slaap salig – en sy ook, en is julle almal meer uitgerus. Glo my maar. Dit spaar sommer jou ook jou pajamadril snags -iets wat die moderne pa veronderstel is om van tyd tot tyd te doen.

Dan wil ek tog net byvoeg dat jou vrou net so ‘n belangrike werk doen en net soveel rus nodig het, al bly sy tuis. Toets dit gerus deur haar een naweek af te gee- sommer van Vrydagaand af. Laat haar vir die naweek by haar ma gaan kuier en dan pas jy babatjie op en maak huis skoon en maak kos. ( dis nou as sy dit oor haar hart kan kry om die bloedjie by jou te los.)

Pappas voel dikwels onhandig of hulpeloos. Hoe gouer jy daardie ou pap babatjie vat en hom bad, hoe beter! Laat jou vrou jou mooi wys hoe. En as hy wakker is, speel met hom! Pas tog net asb op, klein babatjies mag glad nie in die lug gegooi word soos pappas graag met ouer kindertjies doen nie. Enige skielike bewegings of rukbewegings is gevaarlik vir ‘n babatjie. Babatjies kan sterf as hulle rondgeskud word.   Alle bewegings moet glad wees, en die koppie moet te alle tye ondersteun word.   Babatjies is lief vir snaakse geluidjies, vriendelike geselsies, drukkies en soentjies. Of dit nou ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie is, hulle moet sommer baie “gecuddle” word, opgetel word en rondgedra word, verkieslik met vel tot vel kontak.

Dan is daar die verhouding tussen pappa en mamma. Dit is so dat die mamma die meer liefdevolle versorger is en die pappa meer die gesagdraer, al is die rolle deesdae baie minder verskillend as voorheen. Dit is vir jou kinders ( en vir jou en jou vrou as eenheid) baie belangrik dat jy mooi met hulle mamma praat en haar met respek behandel.  Soos jy met jou vrou praat, so gaan jou kinders ook met haar praat. As jy haar nie met respek behandel nie, gaan jou kinders haar ook nie met repek behandel nie, want jy is die gesagsdraer in die gesin en jou kinders kyk op na jou. Aangesien jy meestal bedags werk en jou vrou dan in jou plek gesag moet handhaaf, is dit baie belangrik dat jy haar gesag nie ondermyn nie.

In Efesiers 5: 28 staan daar dat die man sy vrou moet liefhê soos sy eie liggaam en ” wie sy vrou liefhet, het homself lief”. Ja, dis so logies, as jy lief is vir jouself, sal jy ook lief wees vir jou vrou wat jy gekies het en wat deel van jou is.  Manne, glo my, dit gaan ook sommer baie beter in jou huwelik gaan ( en ja , ook in jou bed!) as jy jou vrou mooi, hoflik , en met konsiderasie behandel!

Dit gaan  ook later nodig word dat jy dissipline moet uitoefen. Lees asb my hoofstuk oor positiewe dissipline. Pappa, wees versigtig om jou klein seuntjie as stout te bestempel. Ek weet nie hoekom party pappas dit met trots sê nie, hulle gaan later ongelukkig wees oor daardie einte stoutigheid waaroor hulle nou so trots is. Kinders het hulle eie willetjie en het baie energie, en dit is goed so, maar daardie willetjie en energie moet nie verwar word met stoutigheid nie. Dit moet ook positief gekanaliseer word op ‘n liefdevolle manier.

Pappas is mos baie trots is op hulle kinders, en met reg. Maar ongelukkig word daardie kind soms deel van jou eie ego, en as die kind dan nie heeltemal is soos jy wil hê nie, word jou ego aangetas. Waak tog asseblief daarteen.

In die skool vir serebraalgestremdes het ons dikwels gevind dat die kindjie gestremd is, maar dat die pappa volhou dat die kind “niks makeer” nie. Dit is omdat sy ego aangetas word as sy kind dalk nie ‘normaal’ is nie. My seuns, ek bid en glo van harte dat julle almal gewone normale kindertjies sal hê, maar as ‘n gestremde kind dalk oor jou pad kom, wees asseblief mansgenoeg om dit te aanvaar, luister na jou vrou se natuurlike instink, en wees net so lief vir jou kind soos altyd.

Ons koester mos almal verwagtings van ons kinders.  Mans is veral geneig om dogtertjies te laat begaan, maar baie hoë eise aan hulle seuntjies te stel. In die pappa se kop sien hy dalk ‘n tawwe outjie sonder ‘n bang haar op sy kop, ‘n avonturier en ‘n rugbyspelertjie wat vir niks stuit nie.

Maar klein seuntjies kry sommer maklik seer en huil dan bitterlik hartseer. Hulle is bang vir allerhande goeters en is dalk glad nie goed met ‘n bal nie, en erger as erg, hulle speel selfs soms met ‘n pop! Pappa! Daar is niks fout met jou kind nie! Hy is net klein! Gee hom kans om ‘n klein kindjie te wees, wees geduldig as hy bang is, troos hom liefdevol as hy huil, verstaan dat hy nog klein is en nog koördinasie moet leer. En ja, net soos dogtertjies lekker met ‘n karretjie speel, kan jou seutjie maar soms lekker met ‘n pop speel. Ons speel almal op ‘n stadium huis-huis, jy het dit ook gedoen, al kan jy nie meer onthou nie.

Waak daarteen om “teleurgesteld” in jou kind te wees omdat hy nie aan jou verwagtinge voldoen nie en hom dan minderwaardig te laat voel.

Pappas, die goeie verhouding tussen jou en jou seun hang af van jou liefdevolle aanvaarding van hom op die ouderdomsvlak wat hy is , en sy eie uniekheid, wat dalk nie dieselfde is as wat jy in jou drome geïdealiseer het nie.

Laastens is daar die kwessie of jou vrou moet buitenshuis werk of nie. Ai, lewenskoste is vandag so duur en een salaris is nie eintlik genoeg nie, né. Maar daar die nuwe motor, daardie huis of daardie luukse vakansie kan nooit opweeg teen die belangrikste en beste belegging wat jy ooit kan maak nie- die belegging in jou kind.

Die eerste paar jaar in ‘n kind se lewe is die belangrikste. Dit is die tyd wat hy vinniger ontwikkel en baie meer leer as enige ander tyd in sy lewe. Dis die tyd wat hy alle aandag moet kry vir optimale ontwikkeling, want dis die tyd wat die senu-bane in sy breintjie gevorm word wat later help met taal-, akademiese sowel as fisiese vordering op alle gebiede. Die beste mense om dit te doen, is die kind se eie  ouers en die oumas en oupas by wie hy individuele aandag en stimulasie kry en  níe die persoon by die creche wat na 20 ander kinders ook moet kyk, of die huishulp wat skaars jou moedertaal kan praat, of die babawagter wat waarskynlik jonk en onervare is nie. Daar is regtig niemand beter as die babatjie se eie ouers wat lief vir hom is en individuele aandag gee nie. Ouma en oupa is goeie plaasvervangers omdat hulle ook lief vir die outjie is,  maar hulle is hulle is tweede beste.

As jou kindjie skool toe gaan, kan jou vrou weer werk, verkieslik halfdag, maar vir ten minste die eerste 3-4 jaar van sy lewe, het hy individuele aandag van sy mamma nodig.

Iemand het eenkeer na die creche verwys as die weeshuis, en toe ek mooi daaroor dink, besef ek dat dit presies is wat dit is – ‘n plek waar mense na kindertjies kyk as hulle eie ouers nie na hulle kan kyk nie. Ek glo vas ons eerste kleinkinders, die tweelingetjie in Holland, ontwikkel so pragtig vinnig omdat hulle al daardie individuele aandag van hulle mamma kry. Dis nie maklik nie, nie vir julle of vir die mamma nie, maar julle sal nooit ooit spyt wees nie, want julle het vir julle kinders dan die beste gegee wat julle kan. en dis mos juis wat ‘n ouer graag wil doen, dan nie?

Nouja, ek het nou baie gesels en dis regtig slaaptyd.

Lekker slaap en baie liefde.

Ma

Vir opvolg klik hier:

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 5 Kommentaar

The times they are a-changing

Nee, nognie. ek het nog nie verdwyn nie, nie heeltemal nie. My gedagtes is hier, hier by julle en my bloggie. Dis net: the times they are a-changin vir my. Terug van Holland, terug van my laaste kind se troue af en veral terug van die weird nagtelike lewe van nagklubeienaar af, is dinge nou anders.

Ses jaar gelede het my man besluit om ‘n restourant te koop en 2 jaar later ‘n sportspub- ‘n nagtelike kuier- en dansplek. Ek het vir die afgelope 6 jaar nooit meer kos gekoop of gekook nie en elke aand stoksielalleen hier by die huis gesit en my eie ding gedoen tot so 2 vm, en soms tot so 4 vm. Ek is van jongs af ‘n nagwolf.

Tot my spyt moet ek erken dat ek dit baie geniet het so alleen – hierdie my-eie-tyd! Bedags was ek baie besig met hier help en daar help in die restourant, maar saans meesal vry. Soms het ek so 1 -2vm se kant gou in die kar gespring en gaan kyk hoe dit daar by die dansplek gaan voordat ek gaan slaap het. Boeke , skilder, skryf, TV, maar veral die rekenaar,  het my saans besig gehou en toe ek eers my eie laptoppie kry,  was ek in my element! Met Toortsie se hulp begin ek selfs blog.

Maar hierdie jaar is die restourant verkoop en nou net voor die troue, net mooi ‘n maand gelede, is die kuierplek ook verkoop.

Skielik is ek nie meer alleen nie. Ek moet weer begin aandetes maak! Ek moet koffie en tee aandra. Ons kyk selfs ‘n video of twee. Om vroeg te gaan slaap is steeds moeilik, maar vannaand toe dit so koud is, klim ek en hy vroeg in die bed, elkeen met sy eie laptop! Hy speel speletjies en ek doen e-mails en blog!

‘n Nuwe fase lê voor en laat ons positief wees. Ek het selfs vandag moerbysop gekook!http://www.youtube.com/watch?v=BPE7LFKsqt4&feature=fvwrel

Posted in Los opdrifsels | 9 Kommentaar

Die Bruid en die Beatles

Troue hou is tog so lekker! Veral as jy redelik gerus voel oor die nuwe skoonseun, nè!Omdat die troue nie hier op ons tuisdorp is nie, maar by Nuy vallei, voel my hand so ‘n bietjie afgekap. Daar is net mooi niks spesiaals wat ek kan doen nie. Die caterers , die decormense, die rok, die koek, alles is gereël en georganize.

Maar toe bel Ousus uit Holland uit. Sy onthou hoe sy en haar sussie eendag na “Love Actually” gekyk het en hoe haar sussie die “wedding scene” geniet het. Daar sing ‘n koortjie, kompleet met musiekinstrumente, “All you need is love” van die Beatles, en die toekomstige bruid is ‘n groot Beatles fan. My kind in Holland voel dat sy graag so ‘n verrassing vir haar sussie wil reël en ek moet soek na ‘n orkessie wat dit kan doen.

Die soektog begin. Eers vra ek Canticum Novum, haar ou universiteitskoor, maar vind uit dat die studente dan vakansie het(blogtyd of so-iets). Toe kleiner individuele kore en orkeste- al Stellenbosch se studente is buite aksie, die ander het almal reeds ander afsprake, sommige groepe op die internet antwoord nie eers my boodskappe nie en oral kom ek voor toe deure.

Dit raak tyd om 3 weke lank Holland toe te gaan, en nog niks is gereël nie! In Holland is dit babas en babadoeke, maar tussendeur soek ons steeds sangers en orkeste, sonder enige sukses.

Dis net mooi 2 weke voor die troue en ons is op die punt om op te gee, toe ek die wilde idee kry: Ons moet karton instrumente maak, die DJ vra om die regte Beatle liedjie te speel, en dan moet haar maats op die regte plekke opstaan en SPEEL!

Ons kou aan die idee, vra ‘n paar Suid Afrikaners in Holland wat hulle dink, gesels met die derde sussie, en almal is positief. Die bruid self mag net heeltemal van niks weet nie.

Terug in SA saam met ousus, word daar geknip en geverf vir ‘n vale. Moet dit swart wees, silwer of dalk pienk? Ousus stel die orkes bymekaar, die woorde en musiek word gestuur en almal moet weet waar hulle moet opstaan en speel. Die talentvolle Stephen van Eeden, ons pragtige trourok modeontwerper en vriend, stem in om John Lennon te wees – met my niggie se pruik en brilletjies.  Hy moet sommer sing met die speelgoedmikrofoon wat die bruid as 5jarige gekry het en jare lank mee “perform” het. Die DJ moet ingelig word, en so ook die dominee, op die laaste oomblik.Vlaggies word gemaak vir elke persoon op die troue sodat hulle deel kan wees en saamswaai op die einde, want sy het ‘n vlaggie tema. Aan elke vlaggie word ‘n briefie gesit dat dit tog nie voor die tyd opgelig mag word nie, die bruid en bruidegom mag nie voor die tyd weet nie!

Die bruid vra haar sussies om asseblief vlaggies te maak vir haar troukoek – “want julle doen mos niks vir my troue nie”. Ons giggel agteraf soos tieners wat ‘n midnightparty beplan.

Wat kan ek sê? Net na die troue vra die ds dat die paartjie moet omdraai sodat die gaste hulle mooi kan sien. Die musiek begin speel. My kind is geskok want sy het beplan om op die einste liedjie die saal in te stap na die fotosessie. Toe sien sy John Lennon ingestap kom: Die viole staan op, die saxofone, die trompette…..  en die gaste het almal saam gelag en vlaggies geswaai. Dit was ‘n wonderlike verrassing vir almal. Dit was ‘n heerlike en gelukkige troue. My kind het pragtig en gelukkig gelyk. Die kos was lekker. Die dominee het so ‘n mooi boodskap vir hulle gegee, alles het reg gewerk, selfs ons orkes ook.

Dankie Heer vir hierdie mooi dag. Mag u seën op hulle rus.

Dankie aan almal wat so lekker saamgewerk het.

Dankie Yvonne vir my trouklere en hulp en dankie vir my twee dogters, die strooimeisies, vir al julle harde werk.

Dankie Stephen vir die pragtige trourok. Die van julle wat ‘n spesiale geleentheid beplan, kan gerus vir die talentvolle jong modeontwerper kontak. Sy eposadres is: stephen_van_eeden@live.co.za

Dankie Wil Punt vir die mooi foto’s wat jy geneem het. Kyk maar hier as julle ook wil sien:

http://peartree.co.za/blog/2012/05/klein-karoo-wedding-celebration/

En hiermee, weereens :back to reality….

 
Posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels, troustories | 10 Kommentaar

Ouma se bababoek brief 16: Update oor verkoue by babatjies

Liewe Kinders en ook ander mammas van babatjies

Ai,  ek het nou darem so lekker by die tweelingetjie gekuier. Leanie, jy het sommer vir my ook iets  belangriks oor babas en verkoue geleer, wat ek nou hier in my bababoek wil skryf vir ander mammas.

‘n Klein babatjie kry sy immuniteit van sy mamma af, maar op ‘n stadium is dit uitgewerk en dan is hy vatbaar vir allerhande siektes, waarvan verkoue seker die mees algemene siekte is.

Ek het reeds gesê dat ‘n mens vir ‘n babatjie nooit slymopdroogmiddel moet gee nie. Dit veroorsaak oa oorprobleme en jy sit op die ou einde met groter probleme as wat jy gehad het. Spoel gereeld sy neusie met soutoplossing deur dit met ‘n druppertjie in te drup. Jy kan klaargemaakte oplossing by die apteek koop., of jou eie maak deur 1 liter afgekoelde water te neem en daarin 1 telepel sout en 1 telepel koeksoda te gooi. Let tog op dat dit ‘n baie flou oplossing is wat jy skaars kan proe. Die idee is nie om die neus slymvlies te brand nie, maar net baie liggies te ontsmet om sekondere infeksies te voorkom en die slym sag te maak sodat dit makliker uitkom.

‘n Mens gee ALTYD slymlosmaakmiddels, NIE opdroogmiddels nie.

Die probleem is dat die ou slympies loop en soms maak dat die babatjie onrustig drink of slaap omdat sy neusie toe is. Solank die slym helderkleurig is en die kindjie maklik asemhaal, hoef jy nie bekommerd te wees nie, dis bloot ongemaklik. Toortsie noem ook hieronder dat dit help om die outjie op sy sy te laat le, ipv rug, omdat hy dan makliker asemhaal en minder hoes agv slym. Verder help dit om die koppenent van die bed effens te lig deur bv iets onder die pote van die cot in te sit, of ‘n kussing ONDER die boonste deel van die matras, sodat die kop hoër as die res van die lyfie is.( let asb op, babas mag NIE op kussings slaap nie, die gevaar van versmoring is te hoog). As die kop hoër as die res van die liggaam is deur die matras so te lig, haal die babatjie ook makliker asem.

Maar hoe gemaak met al die oortollige slym? Babatjies weet mos niks van blaas af nie?

Nou die dag het Goggabyt, nog ‘n blogger, juis geskryf oor haar klein seuntjie se verkoue. Sy het sy neusie skoongemaak deur ‘n dingetjie wat die slym uitsuig, ‘n nose frida, te gebruik. Dis ‘n handige apparaatjie. Maar in Holland het julle mos nog ‘n beter plan!

Daardie suigdingetjie is mos hard en die babatjie lê mos nou ook nie stil nie, ‘n Mens is mos bang jy maak hom dalk seer. Maar toe leer jy my iets wat ons nie in ons dae gedoen het nie, Leanie, en ek vra myself af:  hoekom nie? Was ons nog meer vasgevang in die ou reels van die stiff upper lip en die oordadige “beskaafdheid” van daardie tyd? Vandag doen al die Hollandse mammas dit.

Mammas, en ander wat hier lees, die oplossing is heel eenvoudig:  Sit jou mond oor jou babatjie se neusie en suig die snotjies uit!

Babatjie lê mooi stil in sy mamma se arms, haar mond is sag en kan hom nie seermaak nie, en siedaar, die neus is skoon! Die slym spoeg jy eenvoudig in die wasbak uit, en Leanie, jy verseker my dat dit nie grillerig is nie. Ek glo dit. As mens doek kan ruil, is hierdie sommer niks, en jy help jou babatjie op die natuurlikste manier denkbaar.

Is ek agter die tyd? Is daar Suid Afrikaanse mammas wat hulle babas se neusies so oopmaak? Of wat dit destyds gedoen het? Ek sal graag wil hoor!

Ten slotte wil ek net se dat groen slym dui op moontlike sekondere infeksie. As jou babatjie kriewelrig is en die slympies nie gesond en helder lyk nie, of as hy swaar asemhaal, neem hom dadelik dokter toe.  Stoom werk baie goed in hierdie gevalle en as jy enigsinds kroeperighied vermoed, stoom!

Nouja, verkoue gaan hulle kry en dis ook nie heeltemal sleg nie. Verkoue is die relatief skadelose siekte wat babatjies se lyfies leer om weerstand op te bou . Hulle het hierdie weerstand nodig om ernstiger siektes te beveg. ons as ouers moet maar net sorg dat die verkoue skadeloos bly!

En op hierdie effe glibberige noot, sê ek nag en lekker slaap.

Baie liefde

Mamma

Om die volgende brief te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | Tagged , , , , , , , , | 15 Kommentaar

Back to reality

Drie en ‘n halwe weke in Holland tussen die tulpe en die babatjies, ‘n week van voorbereidings en ‘n naweek van troue hou. Seegogga het alles baie geniet, maar ly nog so ‘n bietjie aan naskok.

Seegogga tik-tik op die swart perriwinkleskulpies, maar maak die een fout op die ander.

“Miskien moet ek sommer eers net gaan slaap”, dink sy terwyl sy lang gape gee. “More, net more, gaan ek verder tik” . Dis nie altyd so maklik om weer aan te gaan met die gewone lewe as jou kop nog  vol drome is nie.

Toe maak sy haar swart skulpies toe en gaan le heerlik in haar warmwaterpoeletjie voor sy onder haar seegraskombersie gaan inkruip.

 

4 Kommentaar

KONINGINNEDAG 2012

Maandag, 30 April, was Koninginnedag- ‘n dag van oranje, feesvier , pret en vryemark in Holland.

Koninginnedag het geleidelik deur die jare ontstaan toe daar elke jaar op koningin Wilhelmina se verjaarsdag blomme aan haar oorhandig is en sy dan aan die publiek verskyn het. Koningin Juliana het dit verder gevoer deur ook daardie dag ‘n vrye markdag in te stel. Dit het beteken dat enigeen op straat ‘n stalletjie kan hê sonder om toestemming te vra, sonder om ‘n fooi te betaal en dan goed daar kon verkoop. Koningin Juliana het op 30 April verjaar.

Toe Koningin Beatrix oorneem, het sy die datum van 30April behou, om haar ma te herdenk, en dit ook tot ‘n nasionale vakansiedag verklaar.

Deesdae is Koninginne dag ‘n dag van feesvier, pret en stalletjies.

Hierdie jaar was dit ‘n heerlike warm lentedag. Ons het ons oranje klere aangetrek soos dit hoort, en afgesit na die stalletjies toe wat my kinders se bure en ander op strategiese plekke opgesit het. Dis te wonderlik. Daar koop jy die wonderlikste goed vir ‘n appel en ‘n ei: boeke, kinderspeelgoed, tweedehandse klere van goeie gehalte, ornamente , oudhede, stoele, enigiets wat die mense nie meer in hulle eie huise benodig nie, maar wat ander dalk kan gebruik. Oral is jong kinders besig om musiek te maak- die een speel viool, daardie een dwarsfuit, almal met die hoop om ‘n klein geldjie te verdien. Daar is ook stalletjies met vars lemoensap , cupcakes ens. Kermis op sy beste. Die meeste goed is te koop teen ongeveer 2 euro 50  of daar rond.

Ons het die wonderlikste kinderspeelgoed  vir die tweelingetjie gekoop- goed wat ek nooit vir my eie kinders kon bekostig nie, bv daardie 100 gekleurde houtblokkies met halfmaantjies en driehoekies ens vir 1 euro 50, dws R15,  Lego ens vir next to nothing.  Een tannie het selfs’n dierbare lap-eend sommer gratis vir die tweelingetjie in die stoorwaentjie geprop. Boeke was meestal 2 euro( R20) en ek het oa die Hollandse vertaling van Triomf  daar raakgesien.

Ekself het ‘n paar egte leer en pragtige “Why Not” hofskoene  gekoop vir ‘n  byna niks en glo dit as jy wil, ‘n stortkop. Ek wil mos ‘n badkamer insit en sal maar in Suid- Afrika kyk of die ding werk. Hy was in elk geval goedkoop genoeg om die kans te waag. Met ‘n paar mooi boeke, ‘n  paar mooi armbande, ‘n egte kristal hangetjie, ‘n paar pragtige hofskoene, ‘n outydse karretjie vir my buurman wat sulke karretjies versamel,  en ja, selfs ‘n yslike lekker groot stortkop( so zumastyle),  het ek daar weggestap en nie eers  15 euro( R150) uitgegee nie.

Hoe lekker sou dit nie wees as ons in SA ook so ‘n dag kon het nie: ‘n dag waar dit nie  oor geldmaak gaan nie, maar sommer oor die pret van die saak. Jy hoef niemand iets te betaal nie, almal kan verkoop wat hulle wil en almal maak die goed so goedkoop moontlik, net om hulle huise leër te kry en weer aan ander te kan gee wat hulle nodig het!

Hier onder vier ons konininnedag. Kyk ook na Andre se blog oor die heerlike dag.

Posted in Euro-trip, Los opdrifsels | 15 Kommentaar

Keukenhof: Tiptoe through the Tulips

   

Keukenhof

So lovely the colours

so crispy the air

I cannot help thinking

you should have been there.

Posted in English blogs, Euro-trip, gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels | 7 Kommentaar

‘N BOER MAAK ‘N PLAN

Groetnis vanuit ‘n koel, triestige Holland! Vandat ek van Kameel se akkedis, Octavius, gelees het, is ek lus om te vertel van my ma se blom.

Om op Struisbaai tuin te maak, is nie ‘n grap nie. My pa het altyd gesê:” ons veg hier teen die elemente” as iemand hom geprys het oor sy vars groente. Na sy dood het my ma besluit om alles in blomtuin te verander.

Daar was egter twee vlieë in die salf. Die een was die bure se tienderjarige kleinkinders asook ander vakansiegangers, wat elke vakansie kortpad deur haar tuin en akkertjies getrap het na hulle ouma en oupas se huis toe. Sy het mos ‘n onomheinde hoekerf gehad. Praat het op dowe ore geval, hulle het net gelag en weggehardloop.

Die ander was dat die blomme wat sy so liefderyk geplant het  óf vergaan het in die wind, of sommer net gevrek het omdat hulle lus was, óf sommer net verseg het om te blom om geen aardse rede nie. So het sy,  vol moed,  agapathus al om haar akkertjie geplant. Dit was tog immers ‘n inheemse blom. Maar die agapathus het verseg om te blom.

Een jaar is daar toe wel een enkele blom, reg in die paadjie wat die bure se kleinkinders besig is om uit te trap.

Toe ons eendag weer by my ma kom kuier,  vertel sy selftevrede dat sy die probleem met die deurlopers opgelos het. Niemand stap meer deur haar tuin nie. Ons moet saamstap tuin toe dat sy ons kan wys.

Daar in die tuin staan toe  ‘n netjiese houtbordjie geplant waarop sy geverf het: “Beware of the agapanthus!”

Posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, kraters en ander skandes (humor), Seestories | 12 Kommentaar

” Ze geitje, ze geitje!”

Ek lees nou so van Malomi safari lodge se probleme met geitjies in die huise. Ek het ook daardie probleem hier by die see.

My dogter vertel my toe van haar vriendin se ma, wat vakansie-akkommodasie in Natal het en die dame het ook las van geitjies.

Op ‘n dag kry sy Duitse toeriste.  Toe sy vir die gaste hulle huis gee, vertel sy vir hulle dat hier soms sulke klein “geitjies” in die huis kom, maar dat hulle nie moet skrik nie, hulle is skadeloos, en dat ‘n mens hulle maar net moet los. Hulle sal self weer uitgaan.

‘n Bietjie later daardie middag kry sy ‘n oproep. ” Ze geitje, ze geitje, he’s in ze house!” sê  ‘n benoude stem.

” Don’t worry, he is harmless, just leave him alone, he will go away soon,” kalmeer sy die Duitser.

Net ‘n rukkie later kry sy weer ‘n oproep, hierdie keer nog meer benoud: ”  Ze geitje, ze geitje, he’s climbing up ze curtain!”

“You really don’t have to worry” sê die tannie so gerusstellend as moontlik. ” If he really bothers you, you can take a broom, and gently brush him down and out of the door, without hurting him”.

Oomblikke later kry sy weer ‘n baie benoude oproep: ” Ze geitje, ze geitje, he took ze broom!”

Die dame besluit dat sy maar moet gaan kyk wat aangaan en die Duitsers gerusstel.

Toe sy daar kom sou sy sien, dit is al die tyd ‘n yslike likkewaan!

Posted in kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels | 17 Kommentaar

paasnaweek en stilte

Dis Sondagaand. Dit reën, Die kinders is al weg, die vriende is ook, my man slaap en ek sit hier in die stil skemer voor die rekenaar en luister na die ongelooflike klank van die reën wat soms sag, soms harder die aarde deurdrenk. Soos strome van seën. Net op die regte tyd, want is dit nie saaityd na die paasnaweek nie?

Daar is iets aan hierdie reën. Dis asof dit die wêreld skoonwas, die somer finaal wegwas, en ook my gedagtes skoonwas, soos Jesus se bloed ons skoongewas het. Juis vandag het ons ds Stan so mooi gepreek oor die wonderlike dag waarop ons vrygekoop is.

En terwyl ek nog so sit en luister na die skoon water wat so afstroom, hoor ek meteens Santa Hofmeyer op viool op die radio in die kombuis. Ave Maria. Die musiek is asof dit deel is van die reën. Dit stroom die vertrek binne en vloei om my heen, hier waar ek sit, en ek wens julle kon dit ook so hoor. Hier is dit dan, nie deur Santa Hofmeyer nie,want ek kon haar nie kry nie,  maar deur Joshua Bell.

Ek hoop dit sal vir julle ook rustig en hemels klink soos vir my. Geniet die res van die Paassondag, en die Paasnaweek, en as julle erens heen moet ry, mag God met julle wees.

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels | 2 Kommentaar