Vandag verjaar my oudste dogter. Hoe het die tyd gevlieg? Sy het deur die jare van ‘n pragtige pap ou babatjie ontwikkel tot die pragtige volwasse vrou wat sy vandag is, mooi, kunstig, talentvol, netjies en georganiseerd, ‘n wonderlike moeder vir haar kindertjies, net soos my ma, haar ouma, op haar dag was.
Maar dis nie waaroor hierdie skrywe gaan nie. Saam met my dogter, het ook my jas in my lewe gekom. My ma was ‘n voortreflike naaldwerkster, eintlik ‘n modeontwerper, al het sy nie die “papiere” gehad nie. As dogtertjie het ek altyd die mooiste rokkies op die dorp gehad. En toe ek groot is en my oudste verwag, en dis winter en niks pas my nie, het my ma vir my ‘n jas gemaak. Met liefde het sy die jas ontwerp en gemaak sodat dit oor my boepmagie pas. Die knoopsgate is, soos die perfeksionis wat sy was, nie net met ‘n masjien gestik en oopgesny nie, maar met ‘n lappie omgewerk soos gekoopte jasse. Ekstra knope is aan die binnekant ingewerk vir ingeval een dalk afbreek en verloor. Die moue is nie sommer gewone moue nie, maar het ‘n mooi cuffie, soos sy nou lus was om te doen.
Die wonderlike ding van hierdie jas is dat hy gemaak was vir my 6-9maande swanger lyf, en dus pas hy my nou nog na al die jare.
Elke winter word my jas uit die kas gehaal en gedra waar nodig: kerk toe, as dit reën, en sommer as dit koud is en ek te lui is om netjiese klere aan te trek. Ek trek net eenvoudig die jas aan, en dan is ek reg – vir alle geleenthede.
En toe ek nou vanoggend weer die jas haastig aantrek vir kerk, toe tref dit my: die jas is meer as 30 jaar oud, hy is selfs ouer as my oudste kind, en hy lyk nog vir my net so mooi soos altyd! Ek wens so ek kon vandag vir my ma ‘n drukkie gee.
Jy gaan in jou lewe nooit weer so ‘n kosbare jas kan koop nie!!
Jy is heeltemal reg, Kameel. Ek het egter nog ‘n baadjie ook, waaroor ek nou sal moet skryf.
Jy kan hom aan my bemaak
Mmm, ek sal daaroor dink….
Kwaliteit, en met liefde gemaak…
absoluut. En as jy myu Sondae in die kerk siden, sal jy sommer ook my jas sien.
Sal uitkyk vir jou jas! oeeee ek hoop ek onthou! Want ek is sommer net bly om JOU te sien!
ooo, ek “LIKE” hom, daai ‘comment!”
alaml dra n jas
‘n jas wat netjies pas
almal dra ‘n jas…
ek’t ook ene van my ma geerwe, nog nie gedra, was heel hartseer toe ek dit uit kas haal verlede week en dit steeds na haar ruik…
Jou ma is jou ma…
my jas, ek bedoel my ma se jas, is winkeljas, maar net so kosbaar. so het ek ook die klere wat ek vir haar vir my troue gemaak het, ook nou in my kas…
wat als is nie in onse kaste nie…
met BAIE verhale…
Snaaks hoe mense reuke het wat jou bybly. Ek het ook ‘ n ou baadjie wat na iemand ruik. To my groot spyt het ek dit gewas, en nou is die geur so te se weg….. maar ek onthou dit nou nog, na al die jare.