Vanoggend preek ds Corne so mooi. Hy vertel hoe ons ons naaste moet help en hoe ‘n mens dan beloning sal ontvang. Maar natuurlik doen mens nie goed aan ander vir beloning nie, jy doen dit omdat jy aan ander doen soos jy aan Jesus sou doen.
Ons is skaars by die huis, of die telefoon lui. Dis my man se bouhandlanger wat wil weet of ons hom en sy gesin asseblief so halfpad Elim toe sal neem. Nouja, die ou vat ‘n kans. Verlede Sondag wou hy dit ook gehad het, en omdat dit my man se verjaardag was en ons vriende gehad het, het ons geweier. Ons was ook glad nie beïndruk toe hy die Maandag nie kom werk nie, maar sy vrou wel toe kom geld leen het nie: dik geslaan en duidelik nog halfpad onder die invloed.
Ons eerste reaksie was natuurlik om te weier, want dit was nie ‘n noodgeval nie, en nadat ons hom verlede week gepreek het, het hy sowaar die vermetelheid om weer te vra. Maar dit is ook so dat ek verlede week baie skuldig gevoel het omdat ons hulle nie kon neem nie. Hulle het nie vervoer nie en die vervoerstelsel hier in die platteland bestaan nie eintlik nie.
So, gedagtig aan my skuldgevoel verlede week, en die ds se preek vanoggend, besluit ons toe om dan die 4 mense maar hierdie eenkeer wel te gaan aflaai, en dit dan sommer as ‘n uitstappie te beskou. Ons ry die lieflike pad Elim toe, laai hulle af en besluit om ‘n bietjie verder te ry.
Eers sien ons ‘n troppie bontebokke- te pragtig; toe ‘n swerm flaminke, ‘n nuutjie hier in ons area. Nie lank nie, sien ons reuse voëls – korhane, sê my man.Daar is natuurlik ook die verskillende soorte beeste, perde, skape, volstruise en ‘n paar bloukraanvoëls. Die landerye is die mooiste groene, hier en daar is ‘n canolaland in volle flurescentgeel blom, en die berge is sommer blouer.
Ons kom by ‘n kruis in die pad. Die een pad gaan Struisbaai toe, die ander na Elim. ‘n Munstuk word opgeskiet. Elim sal dit wees. Lekker, want ons kom min daar, en aangesien ons nog nie ontbyt of oggendtee gehad het nie, sal iets lekker op Elim met sy antieke rietdakhuisies, ‘n avontuurtjie wees. Maar ál Elim se winkeltjies is toe – dis mos byna etenstyd. Dus verder- Baardskeerdersbos toe!
En daar land ons toe op die enigste oop plekkie op die spesiale dorpie: Marietjie’s Pub en Grill. Daar is ‘n lieflike vuur in die groot kaggel. Die plekkie het karakter soos net ‘n Baardskeerdersbos plek kan hê (kyk asseblief na hulle plan -nie vir mooigeit nie, maar uit nood gebore-vir ‘n deurknip in die dames badkamer), en ja, hulle het sommige Sondae Sondagkos: Slegs R35 ‘n bord, en vandag het hulle glanshoender.
Ons is dadelik in. Nie lank nie, toe kom daar ‘n yslike bord kos, eintlik te veel om te eet: die heerlikste hoender “gunsakke” met ryk sous oor, 3 yslike gebakte aartappels, soetpampoen en lekker tuisgekookte (en tuisgekweekte) beet. Njammies!
Die dame wat ons van die Sondagkos vertel het, stuur sommer ook vir ons elkeen ‘n glas wyn oor- op haar eie rekening. Mmmm!
‘n Gewone (vervelige?) dag het deur hierdie een klein daad om mense ‘n entjie uit die dorp te gaan aflaai, in ‘n lieflike dag vol verrassings en ‘n feesmaal geeïndig!
En ons het klaar besluit: Volgende Sondag, DV neem ons ons kinders wat gaan kom kuier, uit vir ete: Baardskeerdersbos toe!
Gaan jy saam?
Dankie vir die mooi beskrywing- in matriek het ek een naweek by my meisie se ouers op ‘n kleinhoewe by Baardskeerdersbos gaan kuier, en jy laat mens nou sommer weer terugverlang na die mooie Overberg en sy mense….
Hallo Chris! O maar dan weet jy mos presies! Maar Baardskeerdersbos is besig om nou baie gesog te word. Die Overberg is nou op sy mooiste!
Dankie! Toe ons daar verby is, was als toe!
Ek dink ons het dit gelukkig getref. Die Sondagkos word blykbar net gemaak as hulle weet daar kom mense, en daar was ander mense wat ‘n hele tafel volgesit het( en toe mos vir ons die wyntjie geskenk het)
Tel my in!!!! Ai, tussen jou en MaanKind laat julle my na die mooie Kaap verlang 😦 En boonop het jy my nou so lus vir daardie kos…. en hier sit ek manloos, dus kook daar niks op die stoof nie.
Ai, as ek alleen is, is ek ook mos op dieet- brood! Jy is welkom!
Vriendin, ek sien al hoe ry julle en die pret waarmee julle die tog geniet. Dis te beautiful daar. Ja as ons nie liefde het nie dan het ons niks en is klinkende simbale, dankbaar ek ken vir jou en Gert en wens julle net blessings hier uit die Weskus, ek glo eendag gaan julle hier uitkom by my.
Hallo Cilla, welkom by my bloggie! Weet jy wat, ons is lus om moontlik te kom, somme so oor ‘n week en ‘n half! Is jy daar?
Kyk nou net hoe word jy onmiddellik beloon!! Watter lekker dag het julle gehad. 🙂
ja, regtig lekker!
Terug pieng: onsigbare ek… | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie
Reblogged this on Accommodation: Struisbaai and Agulhas.