Groetnis vanuit ‘n koel, triestige Holland! Vandat ek van Kameel se akkedis, Octavius, gelees het, is ek lus om te vertel van my ma se blom.
Om op Struisbaai tuin te maak, is nie ‘n grap nie. My pa het altyd gesê:” ons veg hier teen die elemente” as iemand hom geprys het oor sy vars groente. Na sy dood het my ma besluit om alles in blomtuin te verander.
Daar was egter twee vlieë in die salf. Die een was die bure se tienderjarige kleinkinders asook ander vakansiegangers, wat elke vakansie kortpad deur haar tuin en akkertjies getrap het na hulle ouma en oupas se huis toe. Sy het mos ‘n onomheinde hoekerf gehad. Praat het op dowe ore geval, hulle het net gelag en weggehardloop.
Die ander was dat die blomme wat sy so liefderyk geplant het óf vergaan het in die wind, of sommer net gevrek het omdat hulle lus was, óf sommer net verseg het om te blom om geen aardse rede nie. So het sy, vol moed, agapathus al om haar akkertjie geplant. Dit was tog immers ‘n inheemse blom. Maar die agapathus het verseg om te blom.
Een jaar is daar toe wel een enkele blom, reg in die paadjie wat die bure se kleinkinders besig is om uit te trap.
Toe ons eendag weer by my ma kom kuier, vertel sy selftevrede dat sy die probleem met die deurlopers opgelos het. Niemand stap meer deur haar tuin nie. Ons moet saamstap tuin toe dat sy ons kan wys.
Daar in die tuin staan toe ‘n netjiese houtbordjie geplant waarop sy geverf het: “Beware of the agapanthus!”
Haha. Ons enigste tuin is die sypaadjie met blommetjies wat die vakansiemense vertrap. Geniet jou reis!
Miskien moet jy agapanthus plant. Dit klink so lekker gevaarlik! Dankie, ek kruip hier op die vloer rond soos ‘n tiener, saam met 2 eenjarige seuntjies. Hoop jy is al heeltemal gesond
Terug pieng: Blog-ontploffing « Kouevuur
DIT sal hulle leer!
jy kan nie glo hoe goed daardie bordjie gewerk het nie. Ons het natuurlik lekker gelag vir my ma se slim plan.
Hallo Butternut! welkom hier!
Hahaha. Hulle skrik darem maklik. Seker vir die groot woord wat hulle nie kon lees of uitspreek nie!
Wel, as jy nie weet wat die woord beteken nie, kan jy maklik dink aan n ongedierte soos ‘n slang (waarvan daar BAIE op Struisbaai is, of dalk selfs ‘n gevaarlike spinnekop, of, ja selfs ‘n luiperd (hoewel ek darem nie dink hulle sal sover gaan nie, al is hier nou en dan sulke goed ook op die suid-kaap strande
hehe, oulike storie. ek sou ook bang wees as ek nie weet wat dit is nie – klink soos ‘n oerdier. het vygies nie dalk gewerk nie?
DIs ‘n baie groot tuin, Karen, met ‘n groot afdeling slegs natuurlike fynbos. Om die rante is proteas en veral speldekussings( wat oningeligte vakansiegangers dikwels kom verwyder omdat hulle dink dit gaan so op hulle erwe groei). daar is vygies, wilde cinnerarias in die lente en kaapse ‘daisies”, maar sy wou graag bietjie fyner blomme ook he. veral onder die melkhoutbome, wat die wind bietjie afkeer. Agapathus is ook inheems nader na Knysna toe, maar net nie in ons area nie, en ‘n pragtige pienk protea, wat net 500 tree verder in die bos groei, weier om 500 tree nader aan die see en bietjie laer te groei.
Dit was nou oorspronklik van haar…. dit klink soos iets uit die oertyd 😆
ek self was beindruk met my ma se humor en die verskillende idees wat in mens se kop kom as jy die bordjie lees!