My liewe seuns en ander mans wat hier lees
Vandag is Vadersdag en hoewel nog net een van julle 3 al ‘n pappa is , gaan julle ander dalk ook nog eendag die voorreg hê om die vader van ‘n kindjie te word – en watter ongelooflike voorreg is dit nie om ‘n kindjie groot te maak nie!
Kinders grootmaak is, anders as wat julle dalk sal wil glo, nie die werk van slegs die moeder nie. Nee, die pappa het ‘n ongelooflike belangrike rol, want volgens dit wat sy by haar pappa leer, gaan jou dogter eendag haar toekomstige man kies, en volgens dit wat jou seun by jou sien, gaan hy eendag sy gedrag en lewensuitkyk rig.
Pappas, julle is die rolmodelle van julle kinders, of julle dit nou wil of nie, en dis ‘n ongelooflike verantwoordelike posisie wat julle beklee!
My seuns, ek weet dat julle my dogters baie mooi bygestaan het, en nog sal bystaan tydens die swangeskap en geboorte. Ek weet ook dat julle betrokke pappas is wat graag die beste vir julle kinders sal wil doen. Die ding is egter dat julle moet kennis hê van wát daardie regte goed is.
Eerstens is die koms van “n babatjie in die gesin ‘n groot aanpassing en soms voel pappas ‘n bietjie afgeskeep omdat sy vrou nou alle aandag aan die baba gee. Babatjies het nou maar eenmaal baie aandag nodig en as hy huil, dadelik! Glo my, hoe gouer jy betrokke raak en help, hoe minder gaan jy afgeskeep word!
Verder dink nuwe pappas mos dat die babatjie soet in sy eie kamer moet slaap. Die man van die huis moet mos nie snags gesteur word nie, want hy moet mos belangrike werk doen, dus moet hy rus kry. Dit werk ongelukkig nie so nie. Glo my, jy gaan baie meer rus kry as die babatjie sommer by julle in die kamer slaap en soms sommer in julle bed. Dan sorg sy mamma vir hom nog voor hy huil, niemand gaan heeltyd uit jou bed opstaan en dan weer met ‘n koue lyf langs jou inskuif nie, en almal gaan meer slaap kry. Ja, dit vat ‘n rukkie om gewoond te raak, net soos jy maar in die begin gewoond moes raak om heeltyd langs jou vrou in die bed te slaap. Maar gou- gou raak jy gewoond en slaap salig – en sy ook, en is julle almal meer uitgerus. Glo my maar. Dit spaar sommer jou ook jou pajamadril snags -iets wat die moderne pa veronderstel is om van tyd tot tyd te doen.
Dan wil ek tog net byvoeg dat jou vrou net so ‘n belangrike werk doen en net soveel rus nodig het, al bly sy tuis. Toets dit gerus deur haar een naweek af te gee- sommer van Vrydagaand af. Laat haar vir die naweek by haar ma gaan kuier en dan pas jy babatjie op en maak huis skoon en maak kos. ( dis nou as sy dit oor haar hart kan kry om die bloedjie by jou te los.)
Pappas voel dikwels onhandig of hulpeloos. Hoe gouer jy daardie ou pap babatjie vat en hom bad, hoe beter! Laat jou vrou jou mooi wys hoe. En as hy wakker is, speel met hom! Pas tog net asb op, klein babatjies mag glad nie in die lug gegooi word soos pappas graag met ouer kindertjies doen nie. Enige skielike bewegings of rukbewegings is gevaarlik vir ‘n babatjie. Babatjies kan sterf as hulle rondgeskud word. Alle bewegings moet glad wees, en die koppie moet te alle tye ondersteun word. Babatjies is lief vir snaakse geluidjies, vriendelike geselsies, drukkies en soentjies. Of dit nou ‘n seuntjie of ‘n dogtertjie is, hulle moet sommer baie “gecuddle” word, opgetel word en rondgedra word, verkieslik met vel tot vel kontak.
Dan is daar die verhouding tussen pappa en mamma. Dit is so dat die mamma die meer liefdevolle versorger is en die pappa meer die gesagdraer, al is die rolle deesdae baie minder verskillend as voorheen. Dit is vir jou kinders ( en vir jou en jou vrou as eenheid) baie belangrik dat jy mooi met hulle mamma praat en haar met respek behandel. Soos jy met jou vrou praat, so gaan jou kinders ook met haar praat. As jy haar nie met respek behandel nie, gaan jou kinders haar ook nie met repek behandel nie, want jy is die gesagsdraer in die gesin en jou kinders kyk op na jou. Aangesien jy meestal bedags werk en jou vrou dan in jou plek gesag moet handhaaf, is dit baie belangrik dat jy haar gesag nie ondermyn nie.
In Efesiers 5: 28 staan daar dat die man sy vrou moet liefhê soos sy eie liggaam en ” wie sy vrou liefhet, het homself lief”. Ja, dis so logies, as jy lief is vir jouself, sal jy ook lief wees vir jou vrou wat jy gekies het en wat deel van jou is. Manne, glo my, dit gaan ook sommer baie beter in jou huwelik gaan ( en ja , ook in jou bed!) as jy jou vrou mooi, hoflik , en met konsiderasie behandel!
Dit gaan ook later nodig word dat jy dissipline moet uitoefen. Lees asb my hoofstuk oor positiewe dissipline. Pappa, wees versigtig om jou klein seuntjie as stout te bestempel. Ek weet nie hoekom party pappas dit met trots sê nie, hulle gaan later ongelukkig wees oor daardie einte stoutigheid waaroor hulle nou so trots is. Kinders het hulle eie willetjie en het baie energie, en dit is goed so, maar daardie willetjie en energie moet nie verwar word met stoutigheid nie. Dit moet ook positief gekanaliseer word op ‘n liefdevolle manier.
Pappas is mos baie trots is op hulle kinders, en met reg. Maar ongelukkig word daardie kind soms deel van jou eie ego, en as die kind dan nie heeltemal is soos jy wil hê nie, word jou ego aangetas. Waak tog asseblief daarteen.
In die skool vir serebraalgestremdes het ons dikwels gevind dat die kindjie gestremd is, maar dat die pappa volhou dat die kind “niks makeer” nie. Dit is omdat sy ego aangetas word as sy kind dalk nie ‘normaal’ is nie. My seuns, ek bid en glo van harte dat julle almal gewone normale kindertjies sal hê, maar as ‘n gestremde kind dalk oor jou pad kom, wees asseblief mansgenoeg om dit te aanvaar, luister na jou vrou se natuurlike instink, en wees net so lief vir jou kind soos altyd.
Ons koester mos almal verwagtings van ons kinders. Mans is veral geneig om dogtertjies te laat begaan, maar baie hoë eise aan hulle seuntjies te stel. In die pappa se kop sien hy dalk ‘n tawwe outjie sonder ‘n bang haar op sy kop, ‘n avonturier en ‘n rugbyspelertjie wat vir niks stuit nie.
Maar klein seuntjies kry sommer maklik seer en huil dan bitterlik hartseer. Hulle is bang vir allerhande goeters en is dalk glad nie goed met ‘n bal nie, en erger as erg, hulle speel selfs soms met ‘n pop! Pappa! Daar is niks fout met jou kind nie! Hy is net klein! Gee hom kans om ‘n klein kindjie te wees, wees geduldig as hy bang is, troos hom liefdevol as hy huil, verstaan dat hy nog klein is en nog koördinasie moet leer. En ja, net soos dogtertjies lekker met ‘n karretjie speel, kan jou seutjie maar soms lekker met ‘n pop speel. Ons speel almal op ‘n stadium huis-huis, jy het dit ook gedoen, al kan jy nie meer onthou nie.
Waak daarteen om “teleurgesteld” in jou kind te wees omdat hy nie aan jou verwagtinge voldoen nie en hom dan minderwaardig te laat voel.
Pappas, die goeie verhouding tussen jou en jou seun hang af van jou liefdevolle aanvaarding van hom op die ouderdomsvlak wat hy is , en sy eie uniekheid, wat dalk nie dieselfde is as wat jy in jou drome geïdealiseer het nie.
Laastens is daar die kwessie of jou vrou moet buitenshuis werk of nie. Ai, lewenskoste is vandag so duur en een salaris is nie eintlik genoeg nie, né. Maar daar die nuwe motor, daardie huis of daardie luukse vakansie kan nooit opweeg teen die belangrikste en beste belegging wat jy ooit kan maak nie- die belegging in jou kind.
Die eerste paar jaar in ‘n kind se lewe is die belangrikste. Dit is die tyd wat hy vinniger ontwikkel en baie meer leer as enige ander tyd in sy lewe. Dis die tyd wat hy alle aandag moet kry vir optimale ontwikkeling, want dis die tyd wat die senu-bane in sy breintjie gevorm word wat later help met taal-, akademiese sowel as fisiese vordering op alle gebiede. Die beste mense om dit te doen, is die kind se eie ouers en die oumas en oupas by wie hy individuele aandag en stimulasie kry en níe die persoon by die creche wat na 20 ander kinders ook moet kyk, of die huishulp wat skaars jou moedertaal kan praat, of die babawagter wat waarskynlik jonk en onervare is nie. Daar is regtig niemand beter as die babatjie se eie ouers wat lief vir hom is en individuele aandag gee nie. Ouma en oupa is goeie plaasvervangers omdat hulle ook lief vir die outjie is, maar hulle is hulle is tweede beste.
As jou kindjie skool toe gaan, kan jou vrou weer werk, verkieslik halfdag, maar vir ten minste die eerste 3-4 jaar van sy lewe, het hy individuele aandag van sy mamma nodig.
Iemand het eenkeer na die creche verwys as die weeshuis, en toe ek mooi daaroor dink, besef ek dat dit presies is wat dit is – ‘n plek waar mense na kindertjies kyk as hulle eie ouers nie na hulle kan kyk nie. Ek glo vas ons eerste kleinkinders, die tweelingetjie in Holland, ontwikkel so pragtig vinnig omdat hulle al daardie individuele aandag van hulle mamma kry. Dis nie maklik nie, nie vir julle of vir die mamma nie, maar julle sal nooit ooit spyt wees nie, want julle het vir julle kinders dan die beste gegee wat julle kan. en dis mos juis wat ‘n ouer graag wil doen, dan nie?
Nouja, ek het nou baie gesels en dis regtig slaaptyd.
Lekker slaap en baie liefde.
Ma
Vir opvolg klik hier:
jy mag maar…
Baie dankie, Rosie, ek wens net pappas wil hier lees!
Ek kan nie glo iemand gee dit ‘n 1 ster rating nie! Dit is ‘n FANTASTIESE stuk en ek het die 5 sterre gemerk. Ek stuur dit ook dadelik vir die nuwe pappa in ons gesin. Baie dankie Seegogga, jy doen fantastiese werk.
Dankie Toortsie!
Terug pieng: Ouma se bababoek brief 16: Update oor verkoue by babatjies | Seegogga se Bloggie