Nagliedjie

O silwerig glip-gly hy oor die donker waters

 wat saggies al harder donder op die klam sand.    

‘n Enkel ry voetspore maak holtes op die uitgestrekte strand-

daar waar sy uitbundig gehuppel-spring

en haar nagliedjie vir die maan gesing het.    

Strandnimf, fee, verbeel sy haar as die wind pluk – plukkies aan haar lang wit wye rok

en as die randskuimpies aan haar voete lok,

bot die uitbundigheid soos ‘n hewige emosie op

tot dit wil uitbars van vrolikheid en ekstase oor die wonderuur –

‘n geesteskuur.

Maar traag weet sy sy moet terug –

na die mense en die kampvuur se lig

waar hulle rokerig en benoud treurige liedjies sing,

onwillig om die hittekring te verlaat

en die maanliguur op die strand te gewaar.

Wat weet hulle tog ook daarvan af –

hulle wat prakties en gesellig is –

van die wydheid, ongebonde vryheid wat wag –

op die klam sand, die maanligaand? 

Posted in branders van emosies: musiek vir die siel, Die Overberg: my wereld., gedigte en rympies (seestrome van verlange), Seestories | 4 Kommentaar

Vra is vry

O gaats, Ek is nog woes besig met my pay it forward speletjie ( Toortsie het so ‘n hoe standaard gestel dat ek nou skoon benoud is) , maar dit  lyk my ek is getag in ‘n nuwe speletjie en het dit nie eers agtergekom nie. Ek is darem bly iemand dink daaraan om my te tag. Ek begin al voel soos lid van die blogfamilie. Ek en moet se, ek waardeer julle almal se vriendelikheid en positiewe ingesteldheid.

Nouja, dis die”Vra is vry” speletjie.Vra my net wat jy wil-dis vry! En ek sal antwoord sover ek kan. Ek sal regtig hard probeer om nie onder ‘n klip weg te kruip nie en oop en bloot te antwoord.

Reg julle kan maar vra, maar voor julle doen, wil ek graag een ou vragie self vra: HOE TAG MENS IEMAND? Ek het al probeer, maar kry die nie reg nie.  Bietjie rekenaarrgestremd. Ek voel baie trots dat ek al kan blog en skype en facebook, maar ai, die tags en die downloads…..

Ek wil graag vir Netjane, Alleman, Schalkskryf en BB tag, as ek nou weet hoe…..

Posted in Los opdrifsels | 13 Kommentaar

die taal van verlange-‘n ‘MISS YOU’ dag

 
‘n “Miss you”- dag
 
 
  My mindset is English,

and my thoughts are of you,

even though we’ll never meet

and there’s nothing we can do.

 

Two ships in the ocean

thousands of miles apart

yet so near to each other

so very close in my heart.

Posted in brilsielkunde, die tale wat ons praat, English blogs, gedigte en rympies (seestrome van verlange), Seestories, Vertelling: Die Juffrou en John | 4 Kommentaar

ek kry ‘n present!

Vanoggend is daar mos toe ‘n klop aan die deur. Dis Toortsie, maar ook nie Toortsie nie, Nee, sy is vanoggend die posbode. En raai net wat! Ek kry ‘n pakkie- ‘n pay it forward pakkie! Vars rose, ‘n teksversie, ‘n vetplantjie in ‘n mooi blikkie, EN ‘n houer heerlike beskuit. WOW! Dit alles as deel van die” pay it forward”  speletjie!

Sjoe, dankie Toortsie! Wat ‘n lekker verrassing ( die woord laat my nou aan iets dink- vertel netnou). In elk geval, ek neem deel aan die Pay it forward speletjie, en beloof ‘n handgemaake presentjie aan die eerste 5 wat reageer- en ek sien daar is nog net een, dus moet julle bietjie opskud! My presentjie gaan nie so fabelagtig wees soos Toortsie s’n nie, maar ek dink darem dit gaan iets wees wat julle nie verwag het nie. Soek jy dus ‘n verrassing? Regeer op die skrywe! Waar is jy, Olga, Alleman, Herriemerrie, Netjane BB , Dion, Schalkskryf en al julle ander? Net die eerste 5 kry dus is daar nog 4 plekke oor….

Verrassingsgrappie: Ons het ‘n restourant en het die plaaslike drukpers gevra om vir ons ‘n advertensie in die koerant te sit vir moedersdagete. Dit kom toe so in die koerant:

“Heerlike moedersdagete met hope verassings!”

Posted in Los opdrifsels | 8 Kommentaar

PAY IT FORWARD

Nou ja, blykbaar het Son dit begin, en Toortsie dit voortgesit: die Pay it forward speletjie. Dit werk so: Son belowe om iets wat sy self gemaak het, te stuur aan die eerste 5 persone wat reageer. Toortsie is die volgende, en nou ek.

Dis soortvan die  omgekeerde van ‘n kettingbrief, want ek belowe jou, as jy onder die eerste vyf is wat op hierdie skrywe reageer, stuur ek vir jou ‘n klein presentjie wat ek self gemaak het. Sowaar! En weet jy wat, die presentjie is klaar gemaak, en wag net vir jou om te reageer- en natuurlik te laat weet wat jou posadres is! Maar dit kan jy dalk per e-mail na my stuur. So be bold, brave it en wag vir ‘n verrassinkie.Wie weet, dalk hou jy daarvan. En dit natuurlik verniet ook, ne!

Posted in idioomstories, Los opdrifsels | 8 Kommentaar

Krater 1: Daar’s ‘n skroef los!

Toortsie se dit was naamrukweek, oftewel, die dag toe en my naam krater gemaak het. Ok, hier gaat ons!

As jong juffrou  in die tyd van die mini’s jare gelede, moes jy jou staan en veral jou sit, baie goed ken.

Om te sit met die mini’s ( en die kuise sedes) van toentertyd, was geen grap nie.Om heeldag entoesiasties voor ‘n klomp hoerskoolkinders te staan ( op jou platformskoene) en vir hulle Langenhoven te leer, ook nie.

Die kinders het in my klas by sulke los tafeltjies met ysterraamwerk en houtblad gesit. Voor in die klas was een of twee lee tafeltjies- almal sit mos altyd so agter as moontlik. In my onskuld leun ek later gemaklik teen een van die tafeltjies tewyl ons ou Neelsie se skrywes bespreek.

Die volgende oomblik skuif die blad( wat al die tyd los was) weg en hierdie waardige juffrou val agterstewe eerste in die gat van die ysterraamwerk, daar waar die blad moes wees! Daar hang ek toe! Met my kniee omtrent by my ore, probeer ek al hangende die ysterraam vasgryp, en uiteindelik kry ek myself weer uitgehys, my ego aan flarde en die klas bulderend aan die lag.

Wat kon ek doen? Ek moes maar saamlag, maar ek wonder vandag nog watter interessante anatomielesse hulle dalk in hulle Afrikaanse klas gekry het….

Posted in idioomstories, kraters en ander skandes (humor), skoolstories | 10 Kommentaar

So wyd soos die Heer se genade

Die Overberg is ‘n klein deeltjie van ons land met ongelooflike kontraste. Somers is ons “dooie”  tyd- bruin, vaal, effens groen, blou-blou berge maar nooit vervelig nie. In die winter is ons groenste groen en lemmetjiegeel. En alomteenwoordig is die see- vaalwit en stormagtig, potblou en kalm, en met onverwagste skatte! En dan het ons mos ook die Suidpunt van die ganse Afrika, hier op L’Agulhas.En ja, julle kan maar bietjie jaloers word- ons woon op ‘n wonderlike plek!

Posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels | 10 Kommentaar

MA SE SEKSBOEK .BRIEF 26: Saamwoon

Liewe Kinders

Ek het nou al die briefies gerankskik en in ‘n boek gesit. Ek hoop julle sal dit sonder vooroordeel lees, en daar iets kan uithaal wat vir julle van waarde is. Selfs Annika het toe op die ou einde gese dat daar darem iets was wat sy nie geweet het nie.

Maar ai, ‘n mens kan mos nie aan alles dink nie, en nou net gister, nadat die boekie klaar, reg en onveranderbaar is, dink ek toe mos aan iets belangriks wat ek graag met julle sou wou deel.

SAAMWOON.

Ek kan amper nie dink dat ek niks hieroor gesê het nie. Daar is reeds van jou vriende wat dit doen, Leanie. Die saamwoonding word deesdae al meer algemeen. Die teorie is gewoonlik as volg. “Ons het nie geld om te trou nie, en hoekom sal ons nou twee plekke huur, as ons net een kan huur? Dis baie goedkoper.”

Ai, so baie mense trap in hierdie strik. Saamwoon beteken eintlik: ek dink ek is lief vir jou, maar ek is nie bereid om my ten volle te commit nie. Dit beteken dus al die voordele van die huwelik, maar sonder die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, bv volle oorgawe en ewige trou aan mekaar. Dit beteken eintlik: ek vertrou nie my maat genoeg nie en is nie lief genoeg vir hom/haar om my te verbind nie.

Watter stremming op ‘n verhouding, al is dit hoe onbewustelik! Dit is ook ‘n harde feit dat paartjies wat voor die troue saamwoon, se kanse om te skei groter is as die wat dit nie gedoen het nie. Het dit dalk iets te doen met hierdie aanvanklike gebrek aan vertroue en volle oorgawe? En nou voel hulle gebind in die huwelik? Ek weet nie, al wat ek wat ek weet is dat paartjies wat voor die huwelik saamgewoon het, baie meer skei as ander.

Wanneer ‘n paartjie saamwoon, is dit asof die ridder die prinses op ‘n skinkbord kry. Daar is regtig niks wat hy hoef te verower het nie, geen drake wat hy hoef te beveg het nie en ‘n respektabele ridder soek ‘n prinses.

Dis vir my deesdae so asof die prinses nie weet dat sy ‘n prinses is nie. Waarom dink sy so min van haarself dat sy bereid is om sommer saam met haar liefde te bly? As hy dan so lief vir haar is soos hy voorgee, waarom trou hy nie met haar nie?

En is die ou ooit ‘n regte ridder? Vir ‘n man is ‘n saamwoonverhouding baie meer voordelig as vir ‘n vrou. Dis vir hom baie gerieflik, want hy het nou iemand om vir hom huis te hou, sy klere te was, kos te maak en hom gelukkig te hou in die bed- alles gratis. Wanneer dinge skeefloop in so ‘n saamblyverhouding (en dinge loop maklik skeef in enige verhouding), dan is dit die maklikste ding op die aarde vir die ou om sy goed te vat en te loop. Hy het geen verantwoordelikhede nie, en meestal is dit die meisie wat al die pad verloor. Ons vroumense is gewoonlik die party wat die meeste van onsself gee- op fisiese sowel as emosionele gebied. Meisies gee alles met liefde, maar is ook die party wat die meeste verloor wanneer die verhouding beindig word. Dis ons wat die seerste kry en wat ook die hardste geoordeel word.

Eerlikwaar: Die storie van “Ons het nie geld nie,” is ‘n flou verskoning. Onthou asseblief dat die duur troues met fantastiese onthale en rokke, wel lekker is, maar nie noodsaaklik nie. Die regte “trou” is wanneer jy jou troubeloftes voor God aan mekaar aflê en die huwelikskontrak teken, wat ‘n wetlike ding is. As jy regtig voel jy wil nie langer apart woon nie en jy het nie geld nie, hou dan ‘n klein trouetjie met net julle ouers , broers en susters. Al die ander goed is bysaak en onnodig.

My kinders, om julleself aan mekaar te gee, in volle oorgawe en volle vertroue, en die belofte dat julle mekaar nooit in die steek sal laat nie en vir mekaar sal liefhê en sorg, is tog ‘n hoogtepunt, die kroon op julle liefde vir mekaar- iets om na te verlang en na uit te sien- ‘n lewe saam met jou geliefde. Dit is so ‘n belangrike besluit, dat ‘n mens nie sommer dit kan verwater deur sommer net by mekaar in te trek nie.

Moenie hierdie belangrike stap minag nie. Julle sal nooit spyt wees dat julle ‘n bietjie gewag en uitgehou het nie. Jy sal met trots kan terugkyk en ook mekaar meer waardeer- want julle het julleself uitgespaar- vir mekaar.

Ag, ek hoop ek het dit goed genoeg verduidelik, want dis regtig ‘n belangrike beginselsaak wat hier ter sprake is, en wat die hele sin van die huwelik raak.

Nou moet ek regtig nagsê. Lekker slaap prinsessies!

Ma

Posted in Ma se seksboek | 7 Kommentaar

Seevakansie 2010

Ek tik die titel hierbo, en skielik lyk die datum so indrukwekkend. 2010 klink so belangrik, glad nie so ‘n tussenin datum soos bv 2009 of 2011 nie. Nee, deadcentre 2010. Dit moet mos belangrik wees.

Wel ek kan julle verseker Desembervakansie 2010 op Struisbaai en Agulhas was loshande die vakansie met die meeste: slegte weer, reen( elke liewe oggend!) koue en wind, slegte humeure en ontevrede vakansiegangers.

Ek het 3 akkommodasieplekke wat ek verhuur, en vestom my elke keer aan die verskillende tipes vakansiegangers. In die begin van die vakansie was dit nie so renerig nie, maar so effe winderig- ook nou nie volle sterkte soos ons die hier kry nie, maar heeltemal te sterk vir die Transvalers wat glad nie weet wat wind nou eintlik is nie.

Die een vrou het ‘n gepynigde en gestresde uitdrukking op haar gesig. Hulle wil so graag gaan swem en stap, maar kan nie, want die wind waai. Ek vertel haar hoe lekker dit is as jy stap en die wind stoot jou so van agter af, of jy le so op hom as hy jou van voor af kussing. Trek net ‘n trui aan as jy koud kry. Sy kyk my vies aan oor ek so nonsens praat. Ek vertel ook dat die water dikwels warmer is wanneer die wind buite waai – gaan swem! En natuurlik kan ‘n mens mos maar swem as dit effens reen- jy word mos ‘n elk geval nat! Sy kyk my wantrouig aan. Ek sien sy glo my glad nie.

Ek vertel van alles wat ‘n mens kan doen-winkeltjies, klim die vuurtoring, gaan grot toe, gaan kersfabriek toe ens ens…… Die mense is vroeer weg- hulle kon nie “cope” nie.

Vanoggend, na ‘n hoeveelste dag van reen, het 2 ander groepe ook vroeer opgepak- agv die weer.

Tussen hulle, so ‘n die middel van die vakansie, het ek twee ander gesinne gehad. Die wind het gewaai, dit het katte en honde gereen, die krag was op Nuwejaarsdag af en Struisbaai en L’Agulhas het die donkerste nag in jare gehad- donkermaan , geen sterre( bewolk) en geen elektrisiteit nie. Maar hulle het HEERLIK vakansie gehou!

Hulle het lekker bordspeletjies gespeel, na mooi plekkies gery, en braaivleis gehou met klomp kersies op die donker nag, en die ervaring en die rustyd saam met hulle kinders gate uit geniet! Hoe anders as die suurknolle wat dink ‘n mens kan niks anders doen as om die see te le en tan nie?

Die lewe is nie altyd soos jy dit bgeplan het nie. Daar gebeur oral goed wat jy nie voorsien nie en glad nie wil he nie. Jy kan toelaat dat dit jou lewe versuur, of jy kan kreatief wees en die “onaangename” ding in iets positiefs verander- en jare later nog met aangename herinneringe sit.

So sal die een gesinnetjie jare later nog lekker gesels oor ” die aand toe ons met kerslig gebraai het”. Ek self dink aan my besondere Europese vakansie toe ek 6 weke lank met net een stel klere rondgetoer het, omdat die lugredery my tas weggeggooi het; ek lag nou nog oor die pap wiel wat ons eenkeer in die middel van niks gekry het; en dink met ‘n glimlag terug aan die naweek toe ons Cathedral Peak gaan klim het en dit die volgende dag katte en honde gereen het. Ons het heeldag onder ‘n krans in die slaapsakke gele en stout grappies vertel.

Daar is ook ernstige terugslae wat jou werklik beproef – die dood van ‘n geliefde, egskeiding, ens. As mens nie die beste kan maak van hierdie klein katastrofes nie, hoe gaan jy die werklike groot krisisse hanteer?

Kom ‘n bietjie by en waardeer die lewe!

En met hierdie noot wil ek se: Welkom 2011!

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | 14 Kommentaar

dis ‘n nuwe jaar en ons is deurmekaar……

Goeie dag, liewe Bloggers! Die jaar het vandag begin- BERGE en BERGE wasgoed, ‘n nuwe ekstra werk vir manlief, ernstige geldmaak planne vir my om genoeg geld te maak om oorsee te gaan, hoe ideale om my boekies te bemark, duisende troureelings vir my dogter se troue, die vooruitsig van oumaskap – van niks minder nie as ‘n TWEELING! Sjoe onmiddellik baie besig!

Een van my nuwejaarsvoornemens is om vanjaar ten minste een maal per week te blog. Ek wil graag elke dag, maar ek besef dat die rekenaargogga se byt getem moet word. Dis erg verslawend en ek moet tyd maak om geld te maak, babakombersies te brei, en net in die algemeen meer georganiseerd te wees. O ja, en oefening te doen….

Ek hoop dis vir julle almal ‘n wonderlike jaar vol nuwe uitdagings. En as die lewe druk, druk hom terug! ( ek gaan sommer nou-nou nog ‘n bloggie opsit oor hierdie einste onderwerp, wat my na aan die hart le). “Rage, rage against the dying of the light!”

Viva 2011!

Posted in Los opdrifsels | 4 Kommentaar

blogflop

Liewe blogvriende, dis nie dat ek lui is nie, regtig! Ek het gisteraand  laaaank getik. Sien ek het besluit dat ek ‘n brief kort in my Ma se seksboek. ‘n briefie oor saambly voor die huwelik. By die volgende uitgawe( as daar ooit so-iets is), wil ek dit byvoeg.

In elk geval, so swoeg en sweet ek en tik en tik en tik oor (elke tweede letter tik ek mos verkeerd- verkeerde letter, hoofletters ipv kleinletters en vice versa ens) en uiteindelik, lank na middernag, is hy klaar. Ek publiseer. Ek gaan kyk oudergewoonte op my blog of die foto en geskrif darem ok lyk…

WAAR IS MY NUWE BLOG??????? HY IS WEG!!!!!!!  Ek soek en kyk. Ag nee!!! Deesdade is ek mos by ‘IETS OM TE LEES” ook! My seksboek , brief 25 staan kordaat hier by iets om te lees! Gelukkig is dit in die vroee oggendure- die tyd wat normale mense slaap, dus sal niemand my flop raaksien en dink ek is verwaand nie. Maar hoe om die ding oorgeskuif te kry na Seegogga se Bloggie? Copy en Paste wil nie werk nie. Ek sien ook nerens ‘n funksie wat so ‘n opsie bied om ter skuif na ‘n ander blog nie. Ek sien actually ook nie die draft opsie nie, wat ek op ou einde gedink het sal werk nie. Daar is net een opsie : Move to Trash.

Ek oorweeg en dink. Dis nou nadat ek al seker ‘n driekwartuur gesukkel het. Sal ek dit eers uitprint? Maar my ink is so te se op, en dis baie laat. Selfs ek begin  nou vaak raak. Ai is daar nie erens ‘n SAVE of MOVE TO DRAFTS nie? Ek druk huiwerig die knoppie en weg is al my harde werk! Waar is die undo? Waar is die recycle bin? Moet ek nou alles oordoen en uitdink?

Miskien is dit nou eers slaaptyd. Dis al weer die volgende nag . En die dae is dol. Dis tyd om te gaan vakansie hou soos almal hier rond. Die see roep, al was hy vandag stormagtig en koud. (Die Transvalers verstaan mos nie dat die see eintlik op sy mooiste is as hy so rof en omge-ellie is nie. Dis dan wanneer jy in vervoering staan oor die ongelooflike bruisende krag van die groot blou dam.) 

Dis tyd om vireers die rekenaar toe te maak en die seewind deur my hare te laat waai en die klam soutlug op my lippe te voel. Toorsie is klaar daar. Girl kom een van die dae. Liewe vriende, as ek nie nou tyd kry nie, volgende jaar dan!

Hou julle almal lekker vakansie en ‘n baie Geseende Kersfees aan almal!

Posted in Kersfees, Los opdrifsels | 5 Kommentaar

Wow, hy’s klaar!

Die vriendelike Anita gee vir my die proefkopie: MY BOEKIE!

Wow, dis wonderlik om dit vas te hou- dit lyk actually soos ‘n regte boek! Klein, maar darem. Ek blaai hom deur: al die bladsy is mooi opgeline, niks skeef of verkeerd afgesny nie, in die regte volgorde. En mooooi! ( vir my altans).

Dit was nie ‘n maklike pad nie. My arme Tommie-nefie wat die bladuitleg gedoen het, was naderhand redelik gatvol, dink ek, maar hy het nooit ongeduldig geklink nie, en elke keer verander tot ek gedink het dis reg. Eers is my selfgetekende hartjies nie mooi genoeg nie, dan is dit te donker, dan te naby mekaar. Maak asb reg. Die skrif is eers te lig, dan te donker, dan net reg. Hier moet ‘n paragraaf break kom- daar nie. Hierdie woorde moet nou weer ‘bold’,  daardie brief wil nie lekker op sy bladsy nie, hierdie musieknoot moet weg, hierdie 3 moet verander in ‘drie’ ens ens…….Tien uit tien vir geduld, Tommie!

Toe drukkers toe, gewapen met my CD, hulle quote asook ‘n vorige quote van iemand anders. Hoekom die groot prysverskil? O aarde, foutjie! Dit word reggestel (dis mos Kersfees) en my prys sak lekker. Die vriendelike meisietjie laat mens sommer lekker voel.

Ek sou eers koerier, maar besluit toe om sommer die mooi pad Kaap toe te vat- so kry ek gouer die proef, en kan ek gouer die groen lig gee.  En hier sit ek nou met die boekie in die hande.  Uiteindelik. Die ander boekies kry ek Maandag. Sjoe, hulle is vinnig!

Ek weet nie of ek dit mag doen hier in die Kuberruim nie, maar ek moet Mega Digital in Kaapstad ‘n pluimpie gee. Hulle is VRIENDELIK, hulle is GOEDKOOP, hulle is VINNIG, hulle is PROFESSIONEEL. As jy eendag ook self ‘n boek wil maak, of iets op grootmaat wil druk, kan ek hulle sterk aanbeveel. Dankie Mega Digital!

Ek het ook nou al my kostes bereken. As iemand dit by my aankoop, is dit R38 per boek. In die winkels sal dit R45 of meer wees.

Nou begin die groot bemarking, maar ek is heel vol moed. Het darem al ‘n paar bestellings. Hopelik dink ander ook dis ‘n goeie kersgeskenk, ne! My e-mail is seegogga@gmail.com as julle dalk wil bestel. Ek pos sommer gou-gou.

 Die groot DANKIE: Ek dankbaar vir al julle bloggers wat so mooi kommentaar en kritiek gelewer het, en my aangespoor het om die groot stap te neem. Julle was almal positief en ondersteunend-julle is beslis ‘n besondere groepie mense!  Dankie aan julle almal.

Posted in Ma se seksboek | 7 Kommentaar

mmmm…..sushi!

Soos ons aarbol kleiner word, eet ons mos al meer en meer internasionaal. Het julle al agtergekom hoe ‘n mens elke nou en dan ‘n nuwe dis bykry? Iets heeltemal wayout? Soos yogurt, pizza of calamari?

Moenie lag nie! Vroeer jare was hierdie goed onbekend in Suid Afrika! Ek onthou as as hoerskoolkind hoe hierdie nuwe ding- YOGURT- die land getref het- en hoe grillerig ons was om dit te probeer eet, totdat ons agtergekom het dat dit heel lekker was.

My eerste PIZZA het ek in Rome geeet- in 1972. Ek was baie skrikkerig- watter een moet jy kies? ‘n Margaritha het na die veiligste opsie geklink- sjoe dit was heerlik! Eers in 1979 het pizza in SA behoorlik vlamgevat en het die eerste pizzerias oral opgeskiet, ook op Stellenbosch, waar hulle ons toegelaat het om ons eie bestanndele op te sit, en dan bak hulle dit vir ons. In 1980 het ek en my toekomstige man in een van Johannesburg se nuwe pizzerias gesit en diep ernstige liefdessake bespreek. ‘n Pizza, kompleet met ‘n glas wyn, het saam R4 gekos.  En behalwe vir die belaglike goedkoop prys, selfs destyds, was pizza die nuwe ding wat jy gaan eet het as jy wou uiteet. SA was pizza bedinges.

Op die einste oorsese trippie, was ek en my vriendin een aand so 6 nm baie honger- in Spanje. In die restourantjie is met moeite verduidelik dat dit te vroeg is vir aandete (Spanjaarde siesta mos smiddae en eet laat saans) en dat hulle net hierdie een gereggie het wat hulle vir ons kan gee. Ons het die snaakse gekrummelde ringetjies so gekyk en probeer. Heel lekker, maar wat is dit??? Die wit ding binne-in was beslis nie ‘n ui nie. Verder het hy geen lassie gehad nie- dit was iets anders wat ook rond was, soos ‘n uiering, maar wat? Die Spaanse se beste Engelse woord om te verduidelik, was”fish”. maar ons het nie sulke visse geken nie, en dit het gladnie soos vis geproe nie. Hulle het eenvoudig nie die taal gehad om ons te vertel wat ons nou eintlik eet nie, en ons het nie die vaagste benul gehad nie.

Dis eers jare later, en ek kan ongelukkig nie die datum onthou nie, maar dit was heelwat na PIZZA, dat die nuwe ding hier in SA opgeduik het: CALAMARI. En ons almal begin smul- eers slegs ringetjies, toe strips en steaks. Toe ek dit die eerste keer eet, besef ek- dis dieselfde ding wat ek jare terug in Spanje geeet het .

Nou, so die afgelope paar jaar, is daar ‘n nuwe smaaksensasie: SUSHI!   Skielik eet ons alma rou vis en is MAL daaroor! Ons plattelanders kry eers vanjaar die kans. Na di eerste agterdogtige hap is alle vooroordele vergete. Mmmmmmm!

My oudste kinders in Nederland maak hulle eie sushi en ek besluit sommer: hierdie jaar gee ek ‘n sushimatjie present- vir iemand van ons wat lief is vir kosmaak. Die winkels het ‘n ieder en elk sushi-stelletjies, kompleet met ‘n dvd hoe om dit te maak, maar dis nie wat ek wil he nie- bakkies en tangetjies het ons, op die internet sal ons lesse kry, maar ons soek die matjies! Nerens nie!

In ‘n afslag egte Chinese sushirestourantjie op Stellenbosch, loop ek dit raak. Hulle maak sommer hulle eie matjies, en verkoop dit @ R 30 elk. Ek koop sommer vier.  Hierdie jaar kry sommer amper almal sushi matjies! En raai wat gaan op die spyskaart wees as iemand weer verjaar?

Geseende Kersfees solank. Ek dink darem hierdie Kersfees sal ons nog tradisioneel smul.

Posted in Los opdrifsels | 7 Kommentaar

Nuwe Kersfeesliedjie en ou gedagtes

Ek kry vanoggend hiedie mooi liedjie in die pos. (Ai, tog, computortaal: ek kry die e-mail). ‘n Moderne kersliedjie. En terwyl ons almal nou begin dink aan presente en Kersetes, versierings en liggies, ruk die liedjie mens nogal terug. Wat gaan jy hierdie Kersfees vir jou mense present gee? Wat gaan jy vir Jesus gee?

Ek het gisteraand so ‘n oulike present van iemand by ons omgeegroep gekry (ons moes presentjies van R10 of minder vir mekaar gee). Toe kry ek ‘n dun hardebladboekie, mooi oorgetrek met materiaal waarop geverf en geskryf is: ‘n kruis, ‘n klomp name wat God se liefde beskryf, bv Redder, Genade, Vredevors ens, my eie naam en ‘n Bybelteks uitgesoek spesiaal vir my.

Voorin is geskryf dat ek hierdie boekie moet gebruik om met die Here te praat deur dinge neer te skryf , bv gebedswense, drome, goed waarvoor ek God kan dank, iets wat ek gelees het en my geraak het, enigiets waaroor ek met Hom wil praat, ens.

Wat ‘n wonderlike geskenk- en seker net vir so R5, miskien R6. Dit het my weereens laat besef dat klein persoonlike handgemaakte presentjies dikwels soveel meer werd is as duur gekoopte koue goed. Nie dat ek nou dink dis verkeerd om iets te koop wat iemand graag wil he nie, maar tog. Dis vir my so of die handgemaakte dingetjie meer liefde uitstraal. En Kersfees is mos so ‘n tyd van Liefde .

Ek het ‘n vriendin wat elke jaar vir die mense wat haar vullissakke in die vullislorrie gooi, iets kleins met Kersfeestyd gee- ‘n klein blyke van waardering vir die jaar se werk. Kyk ons genoeg om ons rond? Daar is so baie mense wat so ‘n klein presentjie sal waardeer.

Wat wil julle graag present he? Wat will julle graag gee? en vir wie?

 

               
Posted in Kersfees, Los opdrifsels | Lewer kommentaar

Om ‘n boek te skryf

Dit is stil hier op my bloggie, en eensaam. Ek sien sommer die kliek en besoekers is weg. Die kommentaar ook. Ek self is ook nie eers hier nie.

Rede? Ek probeer my boekie klaarkry! ‘n Mens ou dink ‘n boekie wat ek ‘n hele paar jaar gelede geskryf het, is mos klaar? Moenie glo nie! Eers word die tikfoute uitsorteer, en geproeflees. En weer. En weer. Die bronnelys is ‘n tameletjie. Ek het mos nie aanvanklik gedink ek gaan die uitgee nie. Van bladsy nommers is nie sprake nie, selfs om die uitgewers se name in die hande te kry, is ‘n nagmerrie.  Nou moet besluit word oor die font. Watter grootte font? Ek wil dit ook in kursief gedruk he. (Almal kyk my verslae aan. WAT IS DIT? Italics, man!)  Gaan ek hartjies binne gebruik? Of diertjies? Of niks( dis die minste werk)? Ek moet ook ‘n superman prentjie teken- van die kant af. Ek soek superman op die internet. Daar is slegs prentjies van voor of van skuins voor. Niks van die kant af nie, dus, teken suster!

Dan is daar die buiteblad. Ek het die prentjie, maar hy is te kort. En te blou. En die swart is nie oral ewe dik nie. ‘n Ekspert help my met sy fancy programme op die rekenaar. Is die skrif reg? Die kleur van die letters? Is die prentjie nou lank genoeg sonder te veel pienk strepe in die lug? Hoe gaan die agterblad lyk? Wat moet daarop geskryf word? Waar kom die barcode? (Langsaan sien julle eewn vd proewe, voordat hy reg gemodify is) Watter soort papier gaan gebruik word? Watter grootte boek gaan die wees? Ek het gedag A5. Nou hoor ek C6 is blykbaar die gewildste grootte. Mens kan dit in jou handsak sit. Ag, dan maar weer bladuitleg oordoen……Decisions, decisions.

Liewe blogvriende, wees asb geduldig en hoop dat die eindproduk nie ‘n flop sal wees nie, en dat dit voor die einde van die eeu gereed sal wees om te publiseer! En is daar ooit iemand wat ‘n kopie wil he? Sommige van julle het wel so gese. Julle kan my gerus laat weet, en ek sal julle almal kontak met prys ens sodra ek weet. Ek hoop soo dis voor Kersfees!

Posted in Ma se seksboek | 11 Kommentaar

Oor die liefde, die wyn en die inspirasie

As die wyn die inspirasie nie bring nie,

wie anders as die liefde sal dit gee?

Wie anders sal my woorde vleuel,

my gedagtes lewe gee?

As die wyn die inspirasie nie bring nie

sit my gedagtes in ‘n hok

want van liefde is nie sprake nie-

ek’t alles weggegee.

Posted in gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels | Lewer kommentaar

Ma se seksboek. Ekstra brief wat ingevoeg gaan word: Brief 25 ouerinmenging

Liewe Kinders

Lienkie se toe mos dat ek sommer ook moet skryf oor ouerinmenging.

Ja, dis nogal ‘n tameletjie, ne!

Erens in julle verhouding gaan julle beslis daarmee te doen kry in mindere of meerdere mate. Dis in ons geval gewoonlik die ma wat die probleem is! Maar dikwels, veral in geval van dogters, is dit die pa.

Onthou tog maar dat die meeste mense ouers het wat lief vir hulle is en al probeer ons as ouers baie hard om realisties te wees, dink elke ouer sy eie kind is wonderlik. As iemand iets aan sy kind doen, is daar moeilikheid!

Die beste is natuurlik dat ouers glad nie inmeng in die verhouding wat julle met julle vriende het nie. Ouers het ook die simpel neiging om altyd die verkeerde ding te se!  Onthou egter dat hulle glo hulle doen dit vir hulle kinders se beswil, en vat dit maar nie te ernstig op nie. Moet  ook nie allerhande “hang-ups” kry as jou ou se ma, of eendag jou skoonma, jou inlig hoe haar seuntjie nou eintlik behandel moet word nie.

Jy hoef jou nie aan jou ouers se idees te steur nie, maar as jy wys is, sal jy dit wat hulle se , ernstig oorweeg en oordink voordat jy dit sommer afmaak as simpel, net omdat dit die oumense is wat so se.

Onthou dat ouer mense baie meer ervaring van die lewe het as wat julle tans het.  Hulle sien dalk goed wat julle nie raaksien nie of belangrik  ag nie . Ouer mense het nogal die (irriterende?) manier om dikwels reg te wees.  So kan julle maar luister wat julle pa omtrent mans ( en ook meisies!) se.  Hy het nogal goeie mensekennis en is nogal dikwels reg met sy opsommings oor mense se geaardhede.  En hy is ook ‘n kenner van wat mooi is. Hy voorspel bv altyd die mej Suid Afrika reg!

My eie pa het niks van my vegetarier vriend gehou nie, konsuis omdat sy hare te lank was- en ek was mal verlief op hom! Dit het nogal tot konflik gelei, maar uiteindelik het ek en hy tog wel uitgemaak om heel ander redes.  Later raak hy toe verloof aan iemand anders, en die dag van die troue staan sy bruid en al die gaste vergeefs voor die kerk en wag. Hy het eenvoudig net nie opgedaag nie- sonder om haar te laat weet! Nouja, erens moes my pa iets van daardie gebrek aan konsiderasie en verantwoordelikheid bespeur het, ne.

Verder kan julle gerus onthou dat dit nogal ‘n skok vir die ouerlike gestel is om hulle onskuldige kind skielik in die arms van ‘n kerel ( of nooi) te sien! Hierdie skok kan aangenaam of onaangenaam wees, afhangende van die ouer se opinie omtrent die ou. Die fliek” Father of the Bride” wys op humoristiese wyse eintlik baie mooi hoe ‘n pa voel oor sy dogter.Kyk dit gerus, julle sal dit geniet.

“Beproef alle dinge en behou die goeie” is dus hier ter sprake. Moenie ouerlike kritiek sumier verwerp nie, ondersoek eers die saak  so objektief moontlik voor jy dit afskiet.

Tans is ons darem heel tevrede met julle outjies!

Nag, my engeltjies!

Ma

Posted in Ma se seksboek | 2 Kommentaar

VERPLAASTE SKULD

 Wie se skuld is dit? As daar iets verkeerd gebeur, is dit een van die eerste vrae wat by ‘n mens opkom. Iets of iemand moet die skuld dra!

Nou het Herriemerrie vanoggend so mooi daaroor geskryf. Vandat rekenaars die wereld ingekom het, het mense dit bestempel as satanisties  en heidens en sondig. Selfde met MXit en nou Facebook. En Herriemerrie het tereg gese dat dit die mense is, nie die programme  nie ,wat verantwoordelik is vir hulle dade.

Die feit is , mense wil hulleself ( en hulle vriende?) so graag verontskuldig. Hulle weier dus om verantwoordelikheid vir hulle dade te aanvaar.

Ons het hier op Bredasdorp ‘n restourant en ook ‘n kuierplek. Toegegee, die kuierplek het ‘n swak naam gehad toe my man dit gekoop het. Die “swak naam” bring my nou ook sommer weer by ‘n ding. Waarom het hy ‘n swak naam gehad? Was hy vuil? NEE. Was dit nare mense wat hom gehad het? NEE. Was die drank sleg? NEE. Wat was dan fout? Die klante? Kan jy kies wie na jou besigheid toe kom? NEE. Jy kan slegs optree wanneer iemand hom wangedra. 

Ons het die plek opgegradeer en probeer om ‘n sekere gedragskode te handhaaf. Ek glo dit werk. Mense kom daarheen om lekker te kom dans en hulle geniet dit baie.  Daar is egter ook van tyd tot tyd iemand wat hom wil wangedra . Hy word aangespreek of gevra om die perseel te verlaat.

 Maar ons kry nogal baie kritiek van mense wat voel so ‘n plek is”verkeerd”.

Ek self was nog altyd baie lief vir lekker dans, en dis vir my mooi om te sien hoe die jong klomp, en ook die wat nie so jonk is nie, lekker sakkie-sakkie en ook los dans. En daar is ‘n jong boer in die omgewing wat fantasties hip-hop of breakdance of wat jy dit ookal noem.

Toe hoor ek die ou storie dat dans kan lei tot sonde, veral egbreuk. ( Volgens ons kerk was dans mos  sonde – omdat dit tot sonde kan lei. Tot vandag toe mag ‘n mens nog nie in NG kerksaal dans nie, al is dans  deesdae ‘n skoolvak en ‘n sport by die Olimpiese spele.  Ballet en Ballroom, hip hop  as dit op die verhoog gedoen word en moderne danse is blykbaar nie sonde nie,  ook nie die sg Christelike danse nie, maar   behoede jou as jy sosiaal wil dans met jou man of vriend of selfs in ‘n kring met jou vriendinne. Die dat troues waar die paartjie wil dans, nie in die kerksaal gehou mag word nie. Daar is mos dans EN wyn – ooooo sonde, al het onse JESUS self wyn gemaak vir ‘n troue. wyn word ook by die nagmaal gebruik.

Die redenasie is blykbaar dat dans kan lei tot sonde en egbreuk.  Alkohol kan weer lei tot alkoholmisbruik.

Hallooooo! Kan jy ‘n plek die skuld gee vir ‘n mens se sonde? Kan mxit verantwoordelik wees vir tieners se ondergang? Of faceboek? Of dans? Of selfs alkohol? En ja selfs dwelms?

 Wel , ek het nuus vir almal wat so redeneer. Die meeste buite- egtelike verhoudings ontstaan NIE op die dansvloer nie, maar in die werksplek – bewys deur statistieke en navorsing. Gaan lees maar enige boek oor ontrouheid in die huwelik.

Dit beteken dat ons eintlik nie moet gaan werk nie- dit kan lei tot sonde! Ons moet ook nie motor bestuur nie- dit kan lei tot ongelukke. Ons moet nie op straat loop nie. Dit kan lei tot aanrandings. Ons moet nie asemhaal nie. Dit kan lei tot dodelike siektes.

Eintlik moet ons nie lewe nie, want as jy lewe, kan jy maar verseker wees, gaan jy iets verkeerd doen omdat die wereld so boos is – nie jyself arme onskuldige bloedjie nie.

So ‘n redenasie is mos belaglik! ‘n Mens is ‘n wese met ‘n eie wil en taamlik baie vryheid. As hy verkeerde goed op facebook, mxit of sommer rekenaars in die algemeen wil doen, is dit sy eie skuld. As hy te veel wil drink of losbandig wil lewe, is dit sy eie skuld, nie die alkohol, of die plek se skuld nie. En as hy verkeerde goed wil dink terwyl mense lekker saam beweeg op lekker musiek, is dit sy eie skuld.

Dan is daar nog die verontskuldiging vir iemand se optrede: Siestog, hy het al swaar gekry agv moeilike huislike of ander omstandighede. Hoewel ‘n mens empatie het met so ‘n persoon en hom/haar graag sal wil help, moet ons net asseblief ook besef: Die lewe is nie regverdig nie. Ons het al almal swaar gekry. Waarom gaan party dan onder en ander strewe die hoer morele waardes na? Is die nie omdat party veranwoordelikhied vir hulle eie dade aanvaar en ander nie?

Kom ons leer dus ons kinders verantwoordelikheid – teenoor ander mense, hulle troeteldiere, hulle werk, maar veral teenoor hulleself. Jy is verantwoordelik vir jou eie gedrag, goed of sleg, jy is ook verantwoordelik vir jou eie geluk. Hou op om ander mense, plekke, drank, dwelms, mxit, facebook, of wat ookal die skuld te gee vir dit wat jy self doen.

En hopelik het jy ‘n anker in die geloof om jou  te help.

Posted in Los opdrifsels | 6 Kommentaar

Toortsie se liggie aan die Suidpunt

Hier op die onderste punt van Afrika is lig! Vir ons wat hier woon, ‘n wonderlike gerusstelling om saans sy lig so te sien flits oor die see. Kyk gerus hoe mooi Toortsie oor hom skryf.

Behalwe dat sy liggie  deel van my kinderjare vakansie was , en dus deel van my lewe, stel die liggie ons ook gerus, omdat hy so amper-amper vir goed verdwyn het! Maar dis ‘n hele storie op sy eie. Dalk wil Toortsie self hierdie seestorie vertel? 

Ek wil egter hier ‘n paar brag-fototjies opsit- miskien geen fotografiese suksesse nie, maar wel ‘n sukses mbt “timing”! Om die liggie af te neem net as hy flits, is nogal fyn timing nodig- tel die sekondes af en nes jy DINK hy gaan nou flits, druk jy gou jou kamera VOOR hy flits en MOG HET TROFFE, as jy gelukkig is, kliek die kamera net op die regte oomblik.

J

Ja, dis hy hierdie, die Kaap Agulhas Vuurtoring. Toortsie kon nie ‘n beter liggie gekies het nie.

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | 14 Kommentaar

Seerowers (DEEL 5)

Hierdie is die tweede laaste deel van die storie. Om dit van die begin af te lees, klik hier.

X en vriend was die diepseeduikers wat ‘n skeepswrak vol tin in Struisbaai se baai ontdek het.  Oom  Fagan en oom D was die twee omies wat moes help om die bootjie te hou tewyl hulle geduik het. Hulle, wat grootgeword het met seerower- en ander avontuurstories, het  nou die kans gehad om deel te wees van so ‘n seerower -avontuur! Julle kan in die vorige episodes lees hoe hulle dit gedoen het. Om die storie van die begin af te lees, klik hier.

Hierdie laaste episode gaan egter oor die feite rondom die wrak.

Volgens kenners is die wrak met die tin op, die Borderer , ‘n ysterskip van 1062 ton  wat in 1864 in Glasgow gebou is. In 1868 het die Borderer, met Laback as kaptein, met ‘n vrag Indiese produkte en baie tin van Penang na Engeland gevaar.

Op 27 Oktober 1868 vaar die skip toe in ‘n sterk westewind oor die midblinding  op Saxonrif by Struisbaai en sink in 45m water. Die kaptein en 12 man het die land bereik met een van die klein bootjies, maar die 12 man in die ander klein bootjie, het verdrink. Die omgekeerde bootjie is later deur ‘n ander skip opgepik.

In 1977, net mooi 109 jaar nadat die Borderer gesink het, is die wrak ontdek deur Tubby Gericke en Brian Clarke( X en vriend in die vorige episodes). Toe is die eerste deel van die tin uit die wrak gehaal. Dit was dus in 1977 dat oom Fagan en oom D hulle lyf seerower gehou het.

Oom Fagan het sy tin 10 jaar lank begrawe en  dis in ongeveer 1987 weer gevind en opgegrawe, en het toe ook weer spoorloos verdwyn. Oom Fagan is in 1988 oorlede sonder dat enigiemand weet wat van sy tin geword het.

Gedurende 1990 het Aqua Exploration weer die wrak besoek en nog baie tin ontdek. Die diepte en swak sigbaarheid het daartoe bygedra dat dit ‘n baie moeilike en gevaarlike werk was, en dit was een van die redes waarom Tubby en sy vriend nie alles kon uithaal nie. Hulle het toe nog nie die moderne toerusting van vandag gehad nie.

Hierdie berging van tin op die Borderer was op daardie stadium ( en is miskien vandag steeds?) die diepste bergingsoperasie ooit in Suid Afrikaanse waters.

Hier kan julle foto’s sien van die tin wat met die tweede berging in 1990 uitgehaal is.

Daar is net een klein dingetjie  wat my pla.  Die tin oortjie in ons kluis lyk vir my ‘n bietjie anders as die tinoortjies op die foto’s.

Daar was blykbaar op verskillende skepe verskillende groottes tin stawe.  Wie se oom Fagan se tin kom van die Borderer af? Wie se daar lê nie nog ‘n tinwrak in Struisbaai se baai nie? Een van wie niemand weet behalwe die afgestorwenes nie? Een wat nêrens gemeld is nie?

En waar is die res van oom Fagan se tin? Is dit dalk weer begrawe?

Miskien ontdek iemand dit dalk eendag weer?

( Toortsie het gesê sy gaan begin soek….!)

Om die laaste interessante stertjie van die storie te lees, Klik hier.

Posted in Die Overberg: my wereld., Seestories | 16 Kommentaar