Liewe Kinders

Ek het nou al die briefies gerankskik en in ‘n boek gesit. Ek hoop julle sal dit sonder vooroordeel lees, en daar iets kan uithaal wat vir julle van waarde is. Selfs Annika het toe op die ou einde gese dat daar darem iets was wat sy nie geweet het nie.
Maar ai, ‘n mens kan mos nie aan alles dink nie, en nou net gister, nadat die boekie klaar, reg en onveranderbaar is, dink ek toe mos aan iets belangriks wat ek graag met julle sou wou deel.
SAAMWOON.
Ek kan amper nie dink dat ek niks hieroor gesê het nie. Daar is reeds van jou vriende wat dit doen, Leanie. Die saamwoonding word deesdae al meer algemeen. Die teorie is gewoonlik as volg. “Ons het nie geld om te trou nie, en hoekom sal ons nou twee plekke huur, as ons net een kan huur? Dis baie goedkoper.”
Ai, so baie mense trap in hierdie strik. Saamwoon beteken eintlik: ek dink ek is lief vir jou, maar ek is nie bereid om my ten volle te commit nie. Dit beteken dus al die voordele van die huwelik, maar sonder die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, bv volle oorgawe en ewige trou aan mekaar. Dit beteken eintlik: ek vertrou nie my maat genoeg nie en is nie lief genoeg vir hom/haar om my te verbind nie.
Watter stremming op ‘n verhouding, al is dit hoe onbewustelik! Dit is ook ‘n harde feit dat paartjies wat voor die troue saamwoon, se kanse om te skei groter is as die wat dit nie gedoen het nie. Het dit dalk iets te doen met hierdie aanvanklike gebrek aan vertroue en volle oorgawe? En nou voel hulle gebind in die huwelik? Ek weet nie, al wat ek wat ek weet is dat paartjies wat voor die huwelik saamgewoon het, baie meer skei as ander.
Wanneer ‘n paartjie saamwoon, is dit asof die ridder die prinses op ‘n skinkbord kry. Daar is regtig niks wat hy hoef te verower het nie, geen drake wat hy hoef te beveg het nie en ‘n respektabele ridder soek ‘n prinses.
Dis vir my deesdae so asof die prinses nie weet dat sy ‘n prinses is nie. Waarom dink sy so min van haarself dat sy bereid is om sommer saam met haar liefde te bly? As hy dan so lief vir haar is soos hy voorgee, waarom trou hy nie met haar nie?
En is die ou ooit ‘n regte ridder? Vir ‘n man is ‘n saamwoonverhouding baie meer voordelig as vir ‘n vrou. Dis vir hom baie gerieflik, want hy het nou iemand om vir hom huis te hou, sy klere te was, kos te maak en hom gelukkig te hou in die bed- alles gratis. Wanneer dinge skeefloop in so ‘n saamblyverhouding (en dinge loop maklik skeef in enige verhouding), dan is dit die maklikste ding op die aarde vir die ou om sy goed te vat en te loop. Hy het geen verantwoordelikhede nie, en meestal is dit die meisie wat al die pad verloor. Ons vroumense is gewoonlik die party wat die meeste van onsself gee- op fisiese sowel as emosionele gebied. Meisies gee alles met liefde, maar is ook die party wat die meeste verloor wanneer die verhouding beindig word. Dis ons wat die seerste kry en wat ook die hardste geoordeel word.
Eerlikwaar: Die storie van “Ons het nie geld nie,” is ‘n flou verskoning. Onthou asseblief dat die duur troues met fantastiese onthale en rokke, wel lekker is, maar nie noodsaaklik nie. Die regte “trou” is wanneer jy jou troubeloftes voor God aan mekaar aflê en die huwelikskontrak teken, wat ‘n wetlike ding is. As jy regtig voel jy wil nie langer apart woon nie en jy het nie geld nie, hou dan ‘n klein trouetjie met net julle ouers , broers en susters. Al die ander goed is bysaak en onnodig.
My kinders, om julleself aan mekaar te gee, in volle oorgawe en volle vertroue, en die belofte dat julle mekaar nooit in die steek sal laat nie en vir mekaar sal liefhê en sorg, is tog ‘n hoogtepunt, die kroon op julle liefde vir mekaar- iets om na te verlang en na uit te sien- ‘n lewe saam met jou geliefde. Dit is so ‘n belangrike besluit, dat ‘n mens nie sommer dit kan verwater deur sommer net by mekaar in te trek nie.
Moenie hierdie belangrike stap minag nie. Julle sal nooit spyt wees dat julle ‘n bietjie gewag en uitgehou het nie. Jy sal met trots kan terugkyk en ook mekaar meer waardeer- want julle het julleself uitgespaar- vir mekaar.
Ag, ek hoop ek het dit goed genoeg verduidelik, want dis regtig ‘n belangrike beginselsaak wat hier ter sprake is, en wat die hele sin van die huwelik raak.
Nou moet ek regtig nagsê. Lekker slaap prinsessies!
Ma
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.