Ek kry vanoggend hiedie mooi liedjie in die pos. (Ai, tog, computortaal: ek kry die e-mail). ‘n Moderne kersliedjie. En terwyl ons almal nou begin dink aan presente en Kersetes, versierings en liggies, ruk die liedjie mens nogal terug. Wat gaan jy hierdie Kersfees vir jou mense present gee? Wat gaan jy vir Jesus gee?
Ek het gisteraand so ‘n oulike present van iemand by ons omgeegroep gekry (ons moes presentjies van R10 of minder vir mekaar gee). Toe kry ek ‘n dun hardebladboekie, mooi oorgetrek met materiaal waarop geverf en geskryf is: ‘n kruis, ‘n klomp name wat God se liefde beskryf, bv Redder, Genade, Vredevors ens, my eie naam en ‘n Bybelteks uitgesoek spesiaal vir my.
Voorin is geskryf dat ek hierdie boekie moet gebruik om met die Here te praat deur dinge neer te skryf , bv gebedswense, drome, goed waarvoor ek God kan dank, iets wat ek gelees het en my geraak het, enigiets waaroor ek met Hom wil praat, ens.
Wat ‘n wonderlike geskenk- en seker net vir so R5, miskien R6. Dit het my weereens laat besef dat klein persoonlike handgemaakte presentjies dikwels soveel meer werd is as duur gekoopte koue goed. Nie dat ek nou dink dis verkeerd om iets te koop wat iemand graag wil he nie, maar tog. Dis vir my so of die handgemaakte dingetjie meer liefde uitstraal. En Kersfees is mos so ‘n tyd van Liefde .
Ek het ‘n vriendin wat elke jaar vir die mense wat haar vullissakke in die vullislorrie gooi, iets kleins met Kersfeestyd gee- ‘n klein blyke van waardering vir die jaar se werk. Kyk ons genoeg om ons rond? Daar is so baie mense wat so ‘n klein presentjie sal waardeer.
Wat wil julle graag present he? Wat will julle graag gee? en vir wie?
|