MA SE SEKSBOEK .BRIEF 26: Saamwoon

Liewe Kinders

Ek het nou al die briefies gerankskik en in ‘n boek gesit. Ek hoop julle sal dit sonder vooroordeel lees, en daar iets kan uithaal wat vir julle van waarde is. Selfs Annika het toe op die ou einde gese dat daar darem iets was wat sy nie geweet het nie.

Maar ai, ‘n mens kan mos nie aan alles dink nie, en nou net gister, nadat die boekie klaar, reg en onveranderbaar is, dink ek toe mos aan iets belangriks wat ek graag met julle sou wou deel.

SAAMWOON.

Ek kan amper nie dink dat ek niks hieroor gesê het nie. Daar is reeds van jou vriende wat dit doen, Leanie. Die saamwoonding word deesdae al meer algemeen. Die teorie is gewoonlik as volg. “Ons het nie geld om te trou nie, en hoekom sal ons nou twee plekke huur, as ons net een kan huur? Dis baie goedkoper.”

Ai, so baie mense trap in hierdie strik. Saamwoon beteken eintlik: ek dink ek is lief vir jou, maar ek is nie bereid om my ten volle te commit nie. Dit beteken dus al die voordele van die huwelik, maar sonder die verantwoordelikhede wat daarmee saamgaan, bv volle oorgawe en ewige trou aan mekaar. Dit beteken eintlik: ek vertrou nie my maat genoeg nie en is nie lief genoeg vir hom/haar om my te verbind nie.

Watter stremming op ‘n verhouding, al is dit hoe onbewustelik! Dit is ook ‘n harde feit dat paartjies wat voor die troue saamwoon, se kanse om te skei groter is as die wat dit nie gedoen het nie. Het dit dalk iets te doen met hierdie aanvanklike gebrek aan vertroue en volle oorgawe? En nou voel hulle gebind in die huwelik? Ek weet nie, al wat ek wat ek weet is dat paartjies wat voor die huwelik saamgewoon het, baie meer skei as ander.

Wanneer ‘n paartjie saamwoon, is dit asof die ridder die prinses op ‘n skinkbord kry. Daar is regtig niks wat hy hoef te verower het nie, geen drake wat hy hoef te beveg het nie en ‘n respektabele ridder soek ‘n prinses.

Dis vir my deesdae so asof die prinses nie weet dat sy ‘n prinses is nie. Waarom dink sy so min van haarself dat sy bereid is om sommer saam met haar liefde te bly? As hy dan so lief vir haar is soos hy voorgee, waarom trou hy nie met haar nie?

En is die ou ooit ‘n regte ridder? Vir ‘n man is ‘n saamwoonverhouding baie meer voordelig as vir ‘n vrou. Dis vir hom baie gerieflik, want hy het nou iemand om vir hom huis te hou, sy klere te was, kos te maak en hom gelukkig te hou in die bed- alles gratis. Wanneer dinge skeefloop in so ‘n saamblyverhouding (en dinge loop maklik skeef in enige verhouding), dan is dit die maklikste ding op die aarde vir die ou om sy goed te vat en te loop. Hy het geen verantwoordelikhede nie, en meestal is dit die meisie wat al die pad verloor. Ons vroumense is gewoonlik die party wat die meeste van onsself gee- op fisiese sowel as emosionele gebied. Meisies gee alles met liefde, maar is ook die party wat die meeste verloor wanneer die verhouding beindig word. Dis ons wat die seerste kry en wat ook die hardste geoordeel word.

Eerlikwaar: Die storie van “Ons het nie geld nie,” is ‘n flou verskoning. Onthou asseblief dat die duur troues met fantastiese onthale en rokke, wel lekker is, maar nie noodsaaklik nie. Die regte “trou” is wanneer jy jou troubeloftes voor God aan mekaar aflê en die huwelikskontrak teken, wat ‘n wetlike ding is. As jy regtig voel jy wil nie langer apart woon nie en jy het nie geld nie, hou dan ‘n klein trouetjie met net julle ouers , broers en susters. Al die ander goed is bysaak en onnodig.

My kinders, om julleself aan mekaar te gee, in volle oorgawe en volle vertroue, en die belofte dat julle mekaar nooit in die steek sal laat nie en vir mekaar sal liefhê en sorg, is tog ‘n hoogtepunt, die kroon op julle liefde vir mekaar- iets om na te verlang en na uit te sien- ‘n lewe saam met jou geliefde. Dit is so ‘n belangrike besluit, dat ‘n mens nie sommer dit kan verwater deur sommer net by mekaar in te trek nie.

Moenie hierdie belangrike stap minag nie. Julle sal nooit spyt wees dat julle ‘n bietjie gewag en uitgehou het nie. Jy sal met trots kan terugkyk en ook mekaar meer waardeer- want julle het julleself uitgespaar- vir mekaar.

Ag, ek hoop ek het dit goed genoeg verduidelik, want dis regtig ‘n belangrike beginselsaak wat hier ter sprake is, en wat die hele sin van die huwelik raak.

Nou moet ek regtig nagsê. Lekker slaap prinsessies!

Ma

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Ma se seksboek. Bookmark the permalink.

7 Responses to MA SE SEKSBOEK .BRIEF 26: Saamwoon

  1. toortsie sê:

    Ek is SO bly jy kon dit weer in die hande kry!!! Want dit wat jy hier skryf is SO KOSBAAR!!! In ons huis het ‘n hele paar mensies al die boekie gelees… ek dink net die tiener vir wie dit gekoop het, het nog nie… maar toe maar, wanneer sy reg is daarvoor, sal sy!!

  2. seegogga sê:

    Dankie vir kommentaar oor boek. Ek vind nogal positiewe terugvoering van tieners en sal graag wil weet wat sy dink , as sy nou eendag daarby uitkom.

  3. Louisa sê:

    Mmmm, aan die een kant dink ek jy’s reg oor die saamblyery, en aan die ander kant is ek bietjie van ‘n pessimis oor verhoudings in die algemeen. Die blerrie goed hou net nooit vir ewig nie (wel nie in my wereld nie in elk geval).

    Ek was al getroud, het nie saam gebly voor die tyd nie, en dit het in elk geval in my gesig opgeblaas. Daar’s baie papierwerk wat jou agtervolg wanneer so iets gebeur! Dis nou al 9 jaar later en ek moet nogsteeds orals loop en bewys dat ek nou weer my eie finasiele besluite kan maak.

    Ek reken as ek weer by so ‘n situasie uitkom sou ek dalk eerder die saambly ding probeer, net omdat dit makliker is om uit te kom as dit nie werk nie…maar as mens al klaar een voet by die deur uithet in die begin is dit seker maar in elk geval ‘n teken dat jy nie daar hoort nie, ne’?

    Miskien moet ek maar eerder 30 katte kry? 😉

    • seegogga sê:

      Hallo Louisa, welkom hier! Sjoe jy stel dit mooi- klaar een voet by die deur uit! Ja, die lewe het geen waarborge nie en die droomprins verander dalk in ‘n brulpadda, maar dis die kans wat mens maar vat. It is better to have loved and lost than never to have loved at all, ne, dus glo ons, hoop ons en vertrou ons dat die huwelik gaan werk, en spring ons in, boots and all. En somtyds loop dinge verkeerd, soos die lewe nou maar is, maar ten minste het ons dit ‘n stewige kans gegee- die liefde en die huwelik.
      30? wat van ‘n papagaai?

  4. Moeg sê:

    Hallo

    Ek het n paar vrae maar weet nie met wie om dit te deel nie, eerste vraag is ek bly saam met n man hy is 45 en ek 27 en ek haat elke sekond om daar te bly want ons stem saam oor niks ons baklei net want hy dit hy is die oudste so hy weet alles. Tweedens ons het n seuntjie van 2jaar saam en ek voel hy kan nie sonder n pa groot word nie so ek bly maar vir sy onthalwe. Derdens ek lui aan depressie en is op behandeling asgevolg van my huislike omstandighede. Ek wil so graag net my goed vat en loop maar dan dink ek aan my kind hy manuplieer my elke dag van my lewe. My enigste groot antwoord wat ek wil weet is hoe kom ek uit die verhouding?????????

    • seegogga sê:

      Liewe Moeg, ai jy is in ‘n moeilike situasie! Ek stel voor jy gaan spreek ‘n sielkundige of huweliksraadgewer. Ek hoop jy is by so ‘n persoon wat vir jou die anti -depressante voorskryf en nie net ‘n gewone dokter nie. Jy is baie jonk, jou lewe le voor jou. Of jy en jou maat moet julle verhouding verander, of jy moet aanbeweeg. Dit sal so goed wees as hy ook vir berading kan gaan. Jou kindjie het ‘n pa nodig, dis waar, maar hy het ‘n ma meer nodig! Kan jhy vir hom ‘n goeie mamma wees terwyl jy so depressief is? Ek stel voor dat jy julle huisdokter vra om jou na ‘n professionele raadgewer te verwys, wat die dinge met jou kan deurwerk, en ‘n doeltreffende plan van aksie kan opstel wat op die lang duur vir jou sowel as jou kind die beste is. Dit is nie nodig dat jy heeltyd soos ‘n slagoffer voel nie, jy kan iets positiefs daaraan doen. Sterkte. My e-mailadres is seegogga@gmail.com as jy dalk privaat wil kommunikeer.

  5. seegogga sê:

    Dis noujare later. Ek lees nouu weer vandag Moeg se kommentaar. Moeg, ek hoop jy het aanbeweeg! Laat weet asb. Liefde.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s