Nagliedjie

O silwerig glip-gly hy oor die donker waters

 wat saggies al harder donder op die klam sand.    

‘n Enkel ry voetspore maak holtes op die uitgestrekte strand-

daar waar sy uitbundig gehuppel-spring

en haar nagliedjie vir die maan gesing het.    

Strandnimf, fee, verbeel sy haar as die wind pluk – plukkies aan haar lang wit wye rok

en as die randskuimpies aan haar voete lok,

bot die uitbundigheid soos ‘n hewige emosie op

tot dit wil uitbars van vrolikheid en ekstase oor die wonderuur –

‘n geesteskuur.

Maar traag weet sy sy moet terug –

na die mense en die kampvuur se lig

waar hulle rokerig en benoud treurige liedjies sing,

onwillig om die hittekring te verlaat

en die maanliguur op die strand te gewaar.

Wat weet hulle tog ook daarvan af –

hulle wat prakties en gesellig is –

van die wydheid, ongebonde vryheid wat wag –

op die klam sand, die maanligaand? 

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in branders van emosies: musiek vir die siel, Die Overberg: my wereld., gedigte en rympies (seestrome van verlange), Seestories. Bookmark the permalink.

4 Responses to Nagliedjie

Lewer kommentaar