Dit was die jare toe damesstudente nog met rokkies en hoë-hakskoene klas toe moes gaan, en mansstudente met dasse.( Hoe oud is ek dan nou eintlik? Dit klink mos soos eeeeeue gelede! Maar glo my, daar was so ‘n tyd, en ek was toe student).
Ons klaslokaal by Tukkies was hoog- ‘n hele verdieping trappe, kompleet met so ‘n draai in die middel, waar ons moes op of af om in die klas te kom. Dis ook ‘n groot universiteit en elke periode is daar ‘n horde studente wat uit die lokaal trappe afgaan en dieselfde hoeveelheid wat weer met dieselfde trappe opgaan- heavy trafficing, dus, maar as jy links hou en ‘n redelike vinnige spoed, werk alles baie goed.
Een goeie dag, op pad uit, storm ek en my pelle oudergewoonte trappe af, maar iets gaan verkeerd: Ek gly….. val op my sitvlak en wip-wip elke trappie af tot onder met ‘n duiseligwekkende spoed! Die studente maak net pad dat ek kan verbywip en niemand kry my gekeer nie.
My vriende breek hulle van die lag, en ek sit verdwaas heelonder en wonder wat gebeur het. Toe ek omkyk, sien ek dit: Daar op die boonste trappie, netjies en regop, asof hy daar vir my wag, staan my skoen se hoë hakkie.
Ai tog! Het jou boud darem gehou???
Hy was sterker as my ego.