Rush, rush, rush

Hoe meer haas, hoe minder voel.

1 Kommentaar

Krater 4. These shoes are made for walking….

 Dit was oggend en ek was laat, soos dit maar met sommige ma’s van klein kindertjies gaan.

Ek jaag om klaar te kry, die lang pad deur die Pretoria oggendverkeer te ry en nog steeds betyds by die skool te wees. Ons moet mos eers almal saam in die personeelkamer vergader voordat die skool begin.

Ek hardloop vervaard die gang af, en naby die deur gly ek ook so effens.

“Dis nie vandag my dag nie,” se ek vir ‘n kollega wat daar staan.

“Haai ja siestog, ” se sy,” en ek sien jou skoene pas ook nie so mooi nie. ”

Ek kyk af en sien dit ook: Aan my linkervoet het ek ‘n groen suede wighakskoen aan, en aan my regtervoet ‘n pikswart, blink  hofskoen…

Nouja, ten minste het ek die personeel se dag gemaak. Elke keer as hulle my sien , het hulle opnuut gerol van die lag!

TIP: My ma het natuurlik later vir my vertel wat ek eintlik moes gedoen het.  Ek moes gese het dat dit nou hoogmode is- ek het nog so ‘n paar tuis ook. Onthou dit tog as julle dit dalk eendag oorkom.

Posted in kraters en ander skandes (humor) | 5 Kommentaar

Ouma se bababoek. Brief 3: Slapies by mamma?

Goeienaand Leanie, Annika en Lienkie

Vandag wil ek praat oor’n ding waar die mense jare lank al oor stry. Slaaptyd!

Kom ons gaan terug na die natuur.  Soogdiere versorg mos hulle kleintjies tot hulle groot is. Kleintjies slaap baie en soms moet die mamma -dier hulle alleen laat om te gaan jag vir kos. Dis gewoonlik terwyl hulle slaap. As sy hulle hoor huil, kom sy egter dadelik na hulle toe.

Maar soms moet die mamma -dier ook slaap, rus of ontspan. Waar gaan slaap sy? Los sy haar babas op een plek en gaan slaap agter die bult op ‘n ander plek? Ek kan my nou nie indink dat ek weet van een dier wat dit met sy pap klein babatjie doen nie. Die mamma-hond, kat, bok, olifant, muis, noem maar op, is soveel moontlik by sy babatjie, hoe kleiner die babajie, hoe meer.

Primate ( apies, bobbejane sjimpansees ens) se kleintjies is sommer die heeltyd by hulle. Die kleintjies klou vir lewe en dood van aan die ma en gaan sommer oral saam. Geen bababobbejaantjie slaap in een boom en sy ma in ‘n ander boom nie! Kangaroos ea het selfs ‘n spesiale buidel waarin die kleintjie bly en soort van permanent hom aan die ma vasheg tot ‘n sekere ouderdom.

Nou wat is dit dan nou met die moderne mens dat hy dink die beste ding is vir sy piepklein, pasgebore, hulpelose babatjie om in een kamer te slaap met sy ma myle van hom af in ‘n ander kamer, daar waar sy hom skaars kan hoor? Wie op die aarde het so ‘n simpel plan uitgedink? Dalk een of ander man wat sy vrou net vir homself wil he?

Sover ek weet, het die oermense hulle babatjies by hulle gehad, nes die ander primate (en of ons dit nou wil weet of nie- ons is ook primate en dit doen niks afbreuk aan ons geloof nie). Maar erens, soos die beskawing gevorder het, het mense begin om al minder en minder fisies betrokke te raak by mekaar en by hulle kinders. (Ek sal nie verbaas wees as die Britte se ‘stiff upper lip’ iets hiermee te doen het nie, maar voordat ek heeltemal aangekla word van rassisme, sal ek liewer hierdie woorde terugtrek).

Die babatjie het ‘n behoefte aan sy ma se aanraking. Trouens dis baie belangrik vir sy fisiese sowel as emosionele ontwikkeling. Dit is ‘n feit dat babatjies wat bv alleen in hospitaalbedjies of broeikaste le, nie so gou gesond word en nie so vinnig ontwikkel soos babatjies wat by die ma  bly nie.(onthou julle hoe ons hans- eendkuikentjies altyd kleiner was as die wat by die ma -eend was?)  Daarom word vroeggebore babatjies deesdae in ‘n tipe mensgemaakte buidel teen die ma se lyf gedra. Dis daardie blote fisiese kontak wat ‘n hemelbree verskil maak  aan die kindjie se ontwikkeling, fisies, emosioneel en intellektueel.

In hospitale en kinderhuise is selfs so ‘n sindroom te bespeur: die “inrigtingskind.” Kinders wat lang tye van babadae af in hospitale le, word emosioneel afgestomp, is minder intelligent en kan nie persoonlike verhoudings opbou nie.

Dit is natuurlik uiterste gevalle van kinders wat geen regte aandag en liefde van een persoon af kry nie en ek glo noudat mense van die probleem bewus is, word daar baie gedoen om dit te bekamp. So sal hulle dalk al die babas in dieselfde saal sit omdat dit makliker is om aandag te gee as een huil en omdat die babas mekaar kan sien en kommunikeer. Maar wag, ek dwaal nou te veel af.

Die punt wat ek wil maak, is dat die babatjie veilig en gekoester voel as hy hier langs sy ma le, en dat dit natuurlik en reg is dat dit so moet wees. Daarom slaap hy baie beter en word minder wakker.

Dit is vir die ma ook lekker en ‘n groot gerusstelling om haar babatjie so by haar te he. Borsvoeding is die heel maklikste sommer so in die bed met haar kindjie in haar arms. (Ek weet nou net nie wat as albei gelyk wil drink nie. Miskien weet ‘n tweeling-ma raad?) Die mamma slaap ook op haar lekkerste, want sy weet sy hoef nie bekommerd te wees dat sy nie haar babatjie sal hoor as hy wakker word, stik of een of ander probleem het nie. Sy sal NOOIT haar babatjie dood le nie, die instink om hom te beskerm is nou eenmaal te sterk.

Nou waarom beveg ons dit so sterk? Waarom glo ons die kind sal bederf raak as hy by sy ma wil wees? Die babatjie weet niks van  van allerlei sielkundige teoriee af nie – hy wil sy ma he en klaar. Dit is sy natuurlike primitiewe behoefte en dis ‘n behoefte wat ons maar kan bevredig. Jesus se : “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” Markus 10:14 . As Jesus dan nie kindertjies wegwys nie, waarom wil ouers, as primere versorgers van hierdie selfde  kindertjies hulle dan wegwys as die kindertjies na hulle toe wil kom?

Jy sal NIE jou baba bederf deur hom naby jou te hou of by jou te laat slaap nie. Dit sal van hom ‘n gebalanseerde gelukkige mens maak, sterk in die wete dat sy behoeftes ook belangrik is.

Ek het natuurlik hierdie goed op die harde manier geleer, eers toe ek tydelik verlam was na ‘n motorongeluk( al weer) en nie self kon opstaan om jou uit jou wiegie te tel nie, Leanie. Dit was makliker om jou by my in die bed te hou.

Toe weer, toe jy ses maande oud was en ons na ‘n ander huis toe getrek het, het ons jou in jou”babakamer” laat slaap. Jy het sewe keer ‘n nag wakkergeword -elke nag! Jou pa het die slaap van die onskuldige geslaap, terwyl ek op en af gestrompel het in die donker gang.

(Ek wil nog eendag ‘n loflied skryf vir al die ma’s wat snags op en af skuifel in die gange van donker huise terwyl die res van die wereld slaap. Elke nag as die wereld gaan slaap, begin die ma’s met hierdie middernagtelike sagte gestrompel babakamer toe en terug , kinderkamer toe en terug, badkamer en kombuis toe en terug… Niemand praat ooit van die duisende skuifelende figure wat snags saggies die huise patroleer , en dan bedags moet fris sprankel en skitter nie.)

Dit laat my nou dink aan tannie Rina met haar vier seuns. Sy kom sit mos eendag by my so behaaglik agteroor en se:” Weet jy wat? Ek het gisteraand deurgeslaap! Die eerste keer in twaalf jaar!”

In elk geval, geen siel kan dit hou nie en een nag toe ek so vaak en moeg was dat ek net die baba teen die muur wou gooi en verder gaan slaap, het ek met jou in my arms bed toe gestrompel- en salig verder geslaap – en jy ook. Einde van die storie.

Die volgende dag is die cot terug langs my bed en die eerste keer wat jy wakker geword het nadat ek gaan slaap het, het ek jou ingetel en het ons albei rustig en in vrede verder geslaap. Oom Kleintjie glo vas dat die cot vir twee jaar lank net daar moet staan: langs die ma se bed.

Jy het een van twee opsies. Jy kan by jou babas slaap in hulle kamer op ‘n ekstra bed. maar dan is jy nie by jou man nie, of jy kan jou babas by jou in die bed tel EN by jou man wees. Die geheim is: Koop ‘n groot bed! Moenie die kinders tussen hom en jou sit nie, hou hulle aan jou kant, sodat hy nie so baie wakker word nie. Een troos: jy gaan nie koud kry met  jou man aan die een kant en ‘n tweeling aan die ander kant nie! En as hulle nie stil le nie, grom maar so liggies soos die mamma leeu.  Jy kan hulle ook saggies in die cot terugtel as jy voel jy het asem nodig, maar omdat die cot langs jou staan, hoef jy nie eers op te staan om dit te doen nie. Gou-gou raak jy dit gewoond om so te slaap, jou man en jou babas ook.

Dus terug na die fundamentele uitgangpunte: Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie, soek fisiese aanraking en kontak. Die Bybel se hoeka: “As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is warm word?” Prediker4:11.  Hy praat waarskynlik van die huwelik, maar ook van die mens as geheel.

Moenie teen die prikkels skop nie, doen wat die gemaklikste en minste moeite is en die naaste aan die natuur: die “familybed”.  Gou- gou, hier by 2-5 jaar ouderdom, is die saamslapery iets van die verlede en het jy jou hele res van jou lewe om alleen saam met jou man te slaap.

Nou het ek genoeg geskryf. Kom ons sit en wag om te kyk of iemand hier lees en kommentaar skryf, want ek weet daar is baie verskillende uitgangspunte!

En dis rerig laat. Lekker slaap terwyl julle nog kan.

Baie liefde

Ma.

Om nr 4 te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 13 Kommentaar

Bloumaandagblues

Dis Maandagmore en ek voel sommer na weghardloop oor alles wat ek moet doen.

Eerste moet ek 100 kaartjies verkoop- voor Donderdag! Die kabaret “Die verdwyning van Poksie Pienaar is DONDERDAGal hier- ek het nog net 2 verkoop…. Dit gaan mooi wees, en kos net R50 , dus kan julle bloggers tog assebliefie elkeen een koop- of die geld stuur vir my vir liefdadigheid…..

Verder moet ek troureelings tref vir my kind se troue oor ‘n maand-en daar is duisende goed te doen…… En ek moet nog ‘n “outfit” kry om aan te trek!

Daar le berge wasgoed in die kombuis…..

Ek moet rekeninge betaal, Strandhuisbesprekings finaliseer( almal wil paasnaweek kom…..),  ens ens.

Ek moet panelbeater toe met my opgesmashde kar, die eisvorms invul( ek kry dit nooit reg om ‘n vorm in te vul sonder ‘n paar uitkrappe nie), die krane by die see laat herstel voor die volgende mense kom, die gasman kontak…….die katte se kos is ook op.

Dis makliker om te blog as om te lewe!

 Maar koop tog net eers ASSEBLIEF ‘n kaartjie!

Lewer kommentaar

Aandag alle motorvervaardigers en ander uitvinders !!!!

Hiedie was een van my eerste skrywes, lank gelede, en nog een van my idees. Noudat ek ‘n Aandag kategorie begin het, het ek besluit om dit te reblog. Miskien eendag, word iemand anders ryk uit my idees uit! Mmm,miskien moet ek die kategorienaam verander na: idees hoe om ‘n miljoener te word……

“Ek het al lankal gewonder, en dit ook een aand breedvoerig met my man bespreek, hoekom hulle dan nie motorkarre maak soos die rubberducks nie.

Kyk, rondom die rubberduck is daar mos so’n breë, luggevulde rubber”tube”, lekker styf gepomp, en my verstand se vir my, hy kan maar stamp. Hy gaan miskien “puncture’ of selfs bars, maar daardie stukkie boot in die middel gaan mos niks oorkom nie.

Nou hoekom op die aarde het karre nie ook so ‘n beskermende “stamp- proof”‘ rubber tube rondom nie? Sal die mense binne- in nie veiliger wees nie? Die assuransie minder? Die hele vervanging van opgesmashde karre minder? Die geld in die sak meer? Die hele motor-ry sensasie minder stresvol? Die lewensvreugde meer?

Ek kan nie glo dat niemand behalwe ek nog daaraan gedink het nie.  Of probeer die motor- industrie net geld maak met ons arme drommels wat van vervoer afhanklik is?

Ek het eergister uit die parkeerterrein gery en die motor langs my skrams getref. Net skrams. ‘ n Rubberbumper sou op die aarde niks oorgekom het nie- nie een van die twee karre s’n nie. Maar nou’s die ding mos van blik……

En gister is ek solid in ‘n pilaar in met die kar se voorkant. Die rubberbumper sou my liggies teruggebons het. Maar nou het ek mos ‘n blikkasarm………..

En vanoggend moet ek met die einste stuk blik Kaap toe ry! Bid asb vir my!!!”

So, Motorvervaardigers, gee aandag! Julle sal motorry soveel lekkerder maak! Dit ou wat eerste dit doen, gaan die wêreld eerste laat regop sit! ( veilig in ‘n opgeblaaste motortjie!)

Posted in Aandag! Verbeter die lewe en word 'n mijoener! | 8 Kommentaar

Die rooi kolletjies

Ek sien al lankal die mooi wereldkaartjies by party blogs en ek dag: Ek wil ook so ‘n plat aardbolletjie he! Na vele probeerslae gee ek effens moed op, want daardie heel laaste stukkie as jy dit doen, kry ek nie reg nie- tot Toortsie al weer vir my ‘n persoonlike les kom gee.

Nou pryk hy daar en dis vir my te mooi. My rooi kolletjies is maar min, maat laat my nogtans verstom: Suid Afrika 35, Ysland 9. VSA 4, Engeland 4, Nederland 2, Australie 1 en Taiwan 1

Liewe land- Ysland! Dis mos die plek waar die stories soms gebeur, en is dit nie ook daar waar vader Krismis woon nie? Verstaan julle in Ysland dan Afrikaans? Of is julle Suid Afrikaners wat die koue trotseer? Ek sou so graag wou weet wie julle is en wat julle doen. Wil julle nie maar antwoord nie?

Dan is daar  Taiwan. Is dit jy, Boer in Ballingskap? Australie- dalk my Elsabe vriendin? Maar hoe weet sy van my blog? Verder is daar  Engeland en die VSA. Ek weet daar is sommer baie Suid- Afrikaners daar. Dankie dat julle lees! En my Britse vriende van Barnard Castle? Kan dit wees dat julle ook hier rondloer?

Die Nederlandertjies ken ek, dink ek, maar ai, dis wonderlik om julle rooi kolletjies te sien.

Dus se ek dankie. Dankie dat julle darem hier inklok en lees. Hoe lyk dit: wil julle nie ‘n bietjie van julleself vertel nie? Ek sal dit baie waardeer.

Ek is mal oor my mooi rooi kolletjies!

Posted in Los opdrifsels | 20 Kommentaar

DAAR IS NIKS SOOS WARE LIEFDE………

I give to you, and you give to me- true love, true love…..

Nou onlangs het twee van my vriendinne geskei – dit nou behalwe die hele paar ander kennisse waarvan ek net verneem het. True love?

Dit was toe nie.

Erens, somewhere, gaan iets verkeerd. En ‘n mens kry seer en stomp af en maak toe. Beskerm jouself. Wat het geword van true love? Waarom word ‘n mens so seergemaak deur iemand wat veronderstel was om jou lief te he? En waarom is ons so besitlik?

Gee ware liefde nie juis vryheid nie? Waarom dan al die ongeluk? Is liefde nie dalk eintlik selfsugtig nie? Is dit ware liefde – dat jy iemand net vir jouself wil he?

Ek glo ware liefde is as jy die persoon vir wie jy lief het, se behoeftes bo jou eie stel. Of is dit? Beteken dit dan dus dat hy/sy kan maak net wat hy wil en jy is steeds lief vir hom?Wat is ware liefde? En wat is ‘n huwelik?

Posted in Los opdrifsels | 15 Kommentaar

Die taal van geheime liefde

Met duisend malende woordgedagtes

krap ek eentonig strepiespatrone in my boek,

daar waar ek jou wil skryf…

Posted in die tale wat ons praat, gedigte en rympies (seestrome van verlange) | Lewer kommentaar

Die taal van tyd en ouderdom

 Hoe het die spinnerakke van die tyd die ratwerk vasgevang en laat roes?

En waarom?

Posted in die tale wat ons praat | 1 Kommentaar

Ouma se bababoek 2: Huilende babatjies en die bevrediging van behoeftes

Liewe Leanie, Annika en Lienkie

My gedagtes is nog nie heeltemal agtermekaar met hierdie bababoek nie, so julle moet maar verskoon as my onderwerpe bietjie deurmekaar is. My seksboek het ek mos begeesterd op ‘n ou oefenigboek geskryf en uitgekrap en oorgeskryf en herrankskik. Maar  hierdie boekie doen ek sommer direk hier, hier op my blog. Dus is hier nie geskaaf en goed oordink nie. Maar ek sal probeer.

Ek dink ek moet eers by die basies fundamentel uitgangspunte begin.

Ons het nou reeds gesien dat instink ‘n belangrike rol speel. Wat is ‘n mens se instinktiewe gedrag as jou babatjie huil? Ek neem aan julle het gedink: Troos.

Wel, julle is heeltemal reg. ‘n Babatjie is ‘n klein, hulpelose dingetjie wat nie kan praat nie, en absoluut niks vir homself kan doen nie. Hy kommunikeer egter tog baie goed met jou! Ja, as hy gelukkig is, sal hy lag of tevrede lyk, en as iets hom pla, sal hy huil. Hy gaan nie huil sommer vir die plesier nie, nee, as hy huil, is daar ‘n rede. En jou eerste reaksie as ma, sal wees om hom te probeer gelukkig maak sodat hy ophou huil.

Dit is ook reg so. Huil is die babatjie se enigste manier om te kommunikeer, en julle as ouers moet aandag gee:DADELIK!

Hier is nogal ‘n diep sielkundige teorie. As jy dadelik aandag gee, se jy vir jou kindjie:Ek is lief vir jou. Jy is belangrik. Jou behoeftes is belangrik. Dit is die begin van ‘n goeie verhouding met jou kind,en ook ‘n goeie selfbeeld vir hom. Ignoreer jy die huil, se jy die teenoorgestelde:Jou behoeftes is nie belangrik nie en maak nie saak nie, JY is nie belangrik nie, ek is nie lief vir jou nie. Negatief verby!

Daarom glo ek nie daaraan om ‘n kind in die bed te laat le en huil omdat dit nou bv slaaptyd is  nie. Nee, jou instink se vir jou jy moet jou babatjie gaan optel en troos, en dis ook wat jy moet doen, al wil geleerdes jou ook wat se. Kyk maar weer na die natuur- hoe onmiddellik besorg die ma-hond of ma-kat is as hulle kleintjies kerm.

Waarom huil ‘n babatjie? Hy is dalk honger, kry koud kry warm, het ‘n vuil doekie, sy klere is dalk te styf, of krap dalk, hy het dalk maagpyn of windjies, hy voel dalk jeukerig en taai, of hy voel siek. Of, hy het eenvoudig behoefte aan nabyheid en aanraking.

Hiedie behoefte aan nabyheid en aanraking moet asb nooit onderskat word nie. Babatjies het ‘n groot behoefte aan liefdevolle aanraking ( vel tot vel kontak) en nabyheid.(cuddling). Hoe meer, hoe beter!  Babatjies wat by die mamma slaap, of in wiegie langs die bed huil ook minder as babatjies in ‘n ander kamer, want sodra hy roer, sit die mamma dalk haar hand op hom, of in die bed, “cuddle’ hom ‘n bietjie,en babatjie voel getroos. Opvallend was dit vir my toe ek babakatjies hans grootgemaak het. Hulle het vreeslik gemiaau ( huil). Darenteen is babakatjies by die mammakat baie stil en tevrede.  Hulle het die sekuriteit van die mammakat se liefdevolle aanraking en nabyheid, wat die ander katjies ongelukkig moes ontbeer, al het ek my bes probeer.

Dit kan natuurlik baie frustrerend wees as jy nie kan agterkom hoekom jou babatjie huil nie, maar wees verseker daar is ‘n rede – en jy moet dit soek. Dit is nie stoutigheid nie, soos die ouer mense my graag wou wysmaak toe julle klein was nie. My vriende het my goeie raad gegee: “‘n BABA ONDER EEN JAAR OUD IS NOOIT STOUT NIE.” Onthou dit asb as jy erg gefrustreed raak omdat jou babatjie dalk aanhou kerm en lastig is.

Ek onthou nog goed die eerste vakansie met jou hier by die see, Lianie. Jy was so 4 maande en het skielik begin huilerig raak, wou net op die arm wees en glad nie in jou cot nie. Die ou tannies het almal vir my gese jy is bederf en wil net opgetel wees. En ek het dit begin glo, maar ek het geweet dat jy nie gewoonlik so is nie. Toe vat ek jou dokter toe, teen almal se aanbevelings in. My arme kindjie, jy het al die tyd oorontsteking gehad en dit was jou seer oortjie wat jou so huilerig gemaak het!

Tannie Rosie het altyd gese dat sy en haar man hard probeer het om in al die behoeftes van hulle kinders te voorsien. Vandag het sy pragtige suksesvolle kinders met goeie gesinsverhoudinge.

Maar wag, dis baie laat ek ek moet nou eers bed toe.

Lekker slaap my lieflingkinders.

Ma

om nt 3 te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 6 Kommentaar

It’s summer!

IT’S SUMMER

It’s summer, and off to the sea I go,

not to swim, walk on the beach, or suntan, 

but to work – washing toilets, making beds, sweeping floors.

It’s summer, so off to the sea I go!

 

http://www.stayhere.co.za/ads/rusnbietjie

http://www.stayhere.co.za/ads/erika

http://www.stayhere.co.za/ads/anniesflat

Posted in Die Overberg: my wereld., English blogs, gedigte en rympies (seestrome van verlange), Los opdrifsels, Seestories | 2 Kommentaar

Brilsielkunde 2: kontaklense

Wel, hier gaan die nou nie eintlik oor die sielkunde nie, maar oor die bevryding van kontaklense.

Daar is min dinge so wonderlik soos weggooibare kontaklense. Ek daag elke brildraer uit om dit te probeer. Die goed is deesdae so gemaklik, en as hy jou pla, haal hom uit en sit ‘n ander een in.

Toe ek uiteindelik genoeg geld en moed het, het ek vir my van daardie harde kontaklense gekry. Die goed was maar ongemaklik en omdat dit makliker was om af te kyk, was draers geneig om hulle koppe agteroor te gooi en so uit die hoogte na mense te staar- ook nie baie bevorderlik vir interpersoonlike verhoudinge nie!

Gelukkig kon sagte kontaklense toe in, en later nog beter, weggooibare kontaklense! Niemand kruip meer op die mat rond op soek na ‘n verlore lens nie. Die goed val nie uit nie en as die onwaarskynlike wel gebeur, gaan haal jy sommer ‘n ander.

Die voordele is eindeloos: Jou oe brand nie meer as jy uie skil nie; jy kan actually uiteindelik sien hoe lyk die kos in die pot as jy die deksel oplig; jy is ligter – en sommer ook koeler; jy is baie beslis mooier; jy kan van daardie cheapstuff mooi modesonbrille dra en steeds sien; jy soen beslis baie lekkerder; jou eyemake-up word uiteindelik deur iemand gesien- en natuurlik jou pragtige kykers( waarvan jy nou sommer die kleur ook kan verander, sou jy wou); jy kan swem en steeds sien  en jy kan lekkerder in die bad le en boek lees.

Weg met die bril!………. Tot jy so jou 50’s slaan.

Ek neem aan versiendes het dalk nie die probleem wat ons bysiendes het nie. Hulle brille of lense help hulle om naby te kyk. Ons bysiendes moet gehelp word om ver te sien, naby is ons dooddollies. Maar nou kom die senior jare en jou oe raak geleidelik al meer versiende, al is jy nog bysiende ook. Dus word jou lense te STERK om naby te sien.

Oplossing? Koop van daardie goedkoop leesbrilletjies. Gewone ouens met goeie oe doen dit mos ook. Frustrasie!! ‘n Mens loop die helfte van die dag rond op soek na jouu leesbril! Hy is nooit daar waar jy hom nodig het nie. ‘ Gewone bril kan jy darem gou afhaal en dadelik weer opsit, maar ‘n leesbril word mos net nou en dan gebruik! Kontaklense kan jy nie sommer vinnig uithaal en insit as jy wil lees nie, dus is daar ‘n ander oplossing: eers was dit bi-fokale brille en toe later Multi-focals.

Ai tog! Weer terug na die bril? Aikona, se ek. Ek is nog nie gereed daarvoor nie. Die oogkundige het ook nie raad nie, die kontaklense vir sulke oe is blykbaar nie suksesvol nie.

Toe maak ek maar my eie plan- en hy werk baie goed! Ek sit net een lens in. Nou kan die een oog naby sien, en die ander ver. Probleem opgelos! ( Maar ek wonder steeds heimlik wat die oogkundige gaan se). Ek dra dit nou al jare so, en het nog nie agtergekom of dit nadelig is of nie, maar ek kom goed reg en brilloos. Daar is effense blur aan die een kant as ek ver kyk, en ‘n efffense blur aan die anderkant as ek naby kyk, maar die brein kompenseer, en ek sien dit nie eers meer raak nie.

Die vriendin wat altyd so saam met my gaan sokkie het, het so ‘n jaar gelede wel die operasie gehad. Sy beveel dit ten sterkste aan. ” Maar Rina, se my, dra jy nou glad nie bril nie? Wat van ver sien en naby sien?” vra ek.

“Nee, ou Anna-Marietjie, niks bril nie. Hulle het my een oog geopereer dat hy ver kan sien, en my ander oog dat hy naby kan sien”.

Daar het julle dit.

Posted in brilsielkunde | 5 Kommentaar

Brilsielkunde Deel 1

Dit was in st 5 toe ek agterkom ou Frannie kan baie beter as ek op die bord sien. Ek en sy het langs mekaar in die skoolbank gesit, en sy het altyd vir my gelees wat op die bord staan. Ek dag natuurlik dat sy besonder goeie oe het. Ek het nie vir een oomblik gedink dat daar dalk iets met my kon skort nie.

Toe kom die eksamen. Frannie mag nie help nie, en ek staan op om te gaan kyk wat Meneer op die bord geskryf het. Gou word ek uitgejou: Ek sit aan, ek probeer aandag trek, ek wil net wys ek’s slim…….Toe staan ek maar nie meer op nie, en skryf die grootste klomp tjol denkbaar…

Ek was heel trots toe ek almal kon verkeerd bewys en eendag met ‘n bril by die skool aankom. Min het ek geweet………

Net brildraers weet van die swaar gewig die heeltyd hier op jou neus; die bril wat gedurig teruggestoot moet word as hy afgly in die hitte omdat jou neus sweet; die glase wat toewasem as jy skielik van ‘n warm vertrek na buite gaan, of inkom, of in die kospotte loer, of sommer net omdat hulle lus het, die brilglase wat asvaal aanpak van die seelug; die bril wat skeef van jou neus afhaak as jy ‘n ou soen ( en as hy ook ‘n bril het haak julle brille mos aan mekaar vas), die bril wat soms wegraak, of nog erger – breek en dan’s jy gestrand……..

Hierdie mini- verhandeling  sonder enige wetenskaplike bewyse gaan egter oor my teorie – die teorie dat brildra die sosiale lewe van die individu negatief beinvloed. (As ek reg is, het Einstein ook jare lank sy relatiwiteitsteorie gehad voordat dit uiteindelik tog as waarheid bewys is…)

‘n Voorsmakie van hoe die bril jou wegskerm van mense, het gekom met die eerste groepfoto’s vir die skool se jaarblad. Daar staan ons hele groep toe, opgeline, en die fotograaf klik lekker. Op die foto is daar rye en rye pragtige jong adolessente, glimlaggend en vriendelik. Almal behalwe ek. Daar waar my oe moes wees, was twee wit kolle in ‘n donker raam. Die glase het die flash weerkaats, en die fotograaf het nie moeite gedoen om nog ‘n foto te neem nie.

Dit was die laaste keer dat ek ‘n foto met ‘n bril op laat neem het, maar dis ook nogal ‘n sigbare bewys van my teorie. Die glase  was ‘n SKERM tussen my gesig en die wereld , en die weerkaatsing het dit goed illustreer.. Sonder oe, is die gesig nie OOP nie, en kan iemand dus nie daardie gesig so goed SIEN nie, en dus nie so goed met hom KONTAK MAAK nie.

Daar is diegene wat met my sal verskil en se dat ‘n bril geen effek het nie en dat mense nie negatief teenoor brildraers reageer nie, en dat ‘n bril jou soms eintlik mooier maak. Dis die mense wat duidelik nooit gaan sokkie het met ‘n bril op nie.

As eerstejaar op Tukkies moes ons die bokjolle bywoon. Ek was ook baie lief vir dans . Maar net as iemand my vra! Daardie jare is baie meer vas as los gedans en wie wil nou soos ‘n muurblom die hele aand sit en hoop jy word gevra? Dit het altyd ‘n hele rukkie geduur voordat ek en my vriendin, ook ‘n brildraer, gevra is. Sodra die ouens dan agterkom dat ons lekker kan dans, is die saak reg en sit ons nooit weer uit nie. Maar hoe gemaak dat hulle ons kan vra?

Een aand besluit ons om sonder ons brille te gaan : Voila! Toe ons by die deur instap, word ons weggeraap op maat van die musiek. Toe begin ons eksperimenteer. Elke keer as ons ons brille op het, vat dit ‘n halwe aand om gevra te word.  Elke keer as ons sonder brille gaan, word ons dadelik gevra! ( Daar was immers niks verkeerd met ons “looks” nie!)

Vir die res van my Varsity loopbaan  het ek dus brilloos en blind gaan sokkie en gedans dat die stof so staan. Dit het baie goed gewerk in die skemer lig van die saal, behalwe nou vir ‘n paar klein insidente, soos die paar keer dat die ou my oor en oor moes vra omdat ek gedog het hy praat met iemand anders, of die keer toe ek gretig opgespring het, net om uit te vind die ou het die meisie langs my gevra, nie vir my nie!

So het ons brillose afsprake ook begin. Daar was kere wat ek in die fliek gesit het en alles mooi beluister het sonder om veel te sien- ek dink een van die flieks was nog die storie van Anne Bolyn.

En in my kop het die teorie begin broei.

Waarom vra die ouens jou nie as jy ‘n bril op het nie? As jy vir hulle daaroor uitvra, sal almal se dat hulle geen vooroordele teenoor brildraers koester nie. Maar hulle vra jou tog nie so maklik nie. Ek dink dis omdat hulle jou nie SIEN nie. Veral in die dowwe lig, kyk jy vir die blink van iemand se oe. Die oe is ‘n belangrike deel van die prentjie wat jou gesig vorm. Nou word jou gesig ‘op-geclutter” met ‘n bril. Die gesig is nie oop en skoon nie, maar vol clutter. Verder maak die glase die deel agter hulle byna onsigbaar vir die toeskouer. In plaas van helder duidelik gedefineerde oe, is dit dowwe goed, weggesteek agter glas wat reflekteer, of donkerder is , en alles valer en minder duidelik maak. In plaas van ‘n skoon, oop duidelike gesig met sy besondere trekke, is alles so half op een vlak, met min diepte, min spesifieke gesigskontoere en min oe. Dus kyk di toeskouer hom onbewustelik mis, en sien die helder , oop, goed gedefineerde gesig met die duidelike oe, langs jou, eerste raak. Dink net hoeveel moontlike liefdes is net daar gekelder- by die eerste mis-sien!

(En net ingeval julle nog twyfel: hoeveel mej Suid-Afrikas, mej Werelds  of enige ander skoonheidskompetisie wenner het jy al met ‘n bril opgesien? En hoeveel deelnemers aan so ‘n kompetisie het jy al met bril op sien deelneem? Niemand nie????? As byna die helfte van die wereld se mense bril dra, wil julle my nou vertel dat mense met swakker oë minder mooi is as mense met goeie oë??? Nie????  Nou hoekom neem hulle nie deel met hulle brille nie, hê? En sou hulle nou deelneem – wat sou hulle kanse gewees het om te wen met bril en al?)

Die glase is  ‘n skerm tussen jou en die persoon wat na jou kyk. Dit maak jou minder bereikbaar. Vgl bv ‘n olieverfskildery versus die waterverfskildery. Dit is heeltemal foutief om ‘n olieskildery agter glas te raam, nie net omdat hy niks sal oorkom sonder die glas nie, maar omdat die glas iets van die prent wegneem. Die glas is ‘n skerm tussen die toeskouer en die prent. Dis in die pad en bederf die kykgenot. Wel, ‘n bril is nog meer so.

Gereelde brildraers sal kan getuig dat hulle soms daardie skerm gebruik om agter weg te kruip. Hulle voel dan “kaal” sonder hulle bril. Hulle het gewoond geraak aan die veilige afstand wat die bril tussen hulle en hulle medemens skep. Sou daar verskille in hulle interpersoonlike verhoudings wees teenoor die wat nie bril dra nie? Ek wonder.

Maar genoeg vir een dag. Het julle gehoor van die student wat op ‘n blind date gegaan het en haar bril bo in die kamer gelos het? Toe sy onder  kom en die ou ontmoet, lyk hy vir haar na niks watwonders nie, en sy besluit dat hy nie die moeite werd is om voor blind deur die lewe te gaan nie. ‘Ag, verskoon my net gou ‘n oomblik?” vra sy en hol gou die trappe op om haar bril te gaan haal. Toe sy weer onder kom, sien sy dat hy nou ook sy bril opgesit het……

Posted in brilsielkunde | 3 Kommentaar

KRATER 3 Beauty is painful

Tog snaaks hoe fyngevoelig ‘n mens is as jy jonk en nog meer onseker van jouself is. Die dinge wat jy nou goed kan hanteer, was dikwels “Major issues” vir jou as jongmens. Krater maak bv. (Die teenoorgestelde is ook waar- dinge waaraan jy as jongmens jou nie so erg gesteur het nie, bv ander se pyn)

Vroeer jare, as student op Tukkies, het ek en my vriendin gou agtergekom dat ons ons brille moes afhaal as ons wil mooi lyk. Kontaklense was nog nie in daardie jare ‘n opsie nie.

(Ek wou nog altyd ‘n tesis skryf oof die effek wat die dra vin ‘n bril op verhoudings het, maar twyfel of ek daarby sal uitkom, dus kan ‘n sielkunde student wat ‘n onderwerp soek, my kontak vir riglyne. Ek glo daar is ‘n saak uit te maak daarvoor)

Wel, dit was een van daardie aande wat dit nie so nodig was om te kan sien nie, ek het ‘n nuwe liefde gehad en ek wou ekstra mooi lyk, dus weg met satan!  Toe my vegetarier kerel ( ek noem hom daar erens in Ma se seksboek) dus my laat roep oor die interkom, stap ek blindemol- blindemol die trappe af.

Onder gekom, sien ek hom met die meisie by die ontvangstoonbank staan en gesels. Ek trippel bakvissie -bakvissie vorentoe , gryp hom aan sy skouer om hom te laat omdraai, en se ewe guitig en voor op die wa:” Haai! Hier is ek!”

Toe hy omdraai – is dit ‘n wildvreemde!

Daar staan ek toe, verdwaas en krater!

Die ergste was egter dat my vegetariertjie op die bankie teen die muur gesit het- en die hele petalje aanskou het!

Posted in brilsielkunde, idioomstories, kraters en ander skandes (humor) | 22 Kommentaar

Ouma se bababoek. Brief 1: moederlike instink

Liewe Kinders

Hierdie briefies is nou vir Leanie, maar ek skryf sommer vir julle ander twee ook, wat dalk nog ook die voorreg gaan he om kindertjies te he.

Hoe het die jare nie gevlieg nie! Van daardie eerste keer toe ek jou vasgehou het, Leanie, tot vandag dat ek die woord”Ouma” sowaar hier kan tik! Wel , ek is natuurlik nog nie ouma nie, maar die hoop beskaam nie, en hopelik is ek oor 3 maande wel ‘n ouma!

Jy het ons natuurlik almal ontkant betrap, want toe verwag jy sommer ‘n tweeling!!! Hoe kan ek jou nou raad gee? Ek weet NIKS van tweelinge af nie! Ek hoop maar die mede-bloggers wat hier lees, gaan hulle stuiwer in die armbeurs gooi en help raad gee.

Ai my kind, een ding moet jy sommer nou dadelik verstaan: Soveel mense, soveel dinge. Dis maar die mens se natuur om vir almal te wil raad gee en hoe meer mense , hoe meer verskillende rate en raad gaan jy kry. Dit sal dalk voel of jy wil mal word, want die een se sus, en die ander so. Luister maar wat almal se, dink daaroor of jy  daarmee saamstem, en doen dan maar jou eie ding! Dws, gebruik die raad wat vir jou die beste werk. En as jy glad nie weet nie, gaan kyk maar na die natuur.

Selfs die mediese wetenskap verander en die sielkundiges verskil van mekaar, afhangende uit watter leerskool hulle kom. Ek vind egter dat die diere van die veld geen boeke opgeswot het nie, geen groot sielkundige wysgere  het wat vir hulle voorgeskryf nie ( behalwe nou die boer, en hy dink aan finansies), en selfs geen teologiese teorie nie. Wat hulle wel het, en BAIE daarvan, is instink.

Wel, my kind, jy as toekomstige mamma, sal waarskynlik agterkom dat jy ook INSTINK het- sommer baie daarvan. Ek wil asb sommer nou vir jou vra: Luister vir jou instink! Hy is selde verkeerd. Wees ingestel op jou kinders. Jou instink sal vir jou se  of hulle honger is, of hulle siek is en wat jy moet doen. Niemand ken haar kindjie beter as ‘n mamma nie, en al voel jy ook hulpeloos as jy nie weet wat om te doen nie, doen wat jou instink vir jou se, die beste vir jou kindjie(-s!- daar’s mos twee!) se welsyn sal wees.

Nou gaan jy vir my se ek praat nonsens.  In die skool vir serebraal gestremdes waar ek gewerk het, het ek dit egter telke male gehoor. Die dokters dink die outjie makeer niks, die pa ook, en op die oppervlak lyk hy reg, maar die ma het altyd “gevoel” daar is iets verkeerd. Die pediaters het ook vir ons geleer  Luister vir die ma!  Die ma is selde verkeerd. Daarom het ons altyd baie aandag aan die ma se opmerkings gegee, en haar kommentaar altyd in ‘n ernstige lig beskou, maak nie saak op watter vlak van ontwikkeling sy dalk was nie.

As jy dus absoluut niks weet van babatjies nie, gaan  jou instink jou tog deurdra. ‘n Mens het ‘n goeie skoot kennis nodig en nog ‘n groter skoot instink en liefde. Gewapen met kennis, liefde en instink, kom jy ver, maar sonder die kennis sal jy dit ook nog maak. En dis nogal ‘n troos ne! Die natuur het jou gewapen met byna alles wat nodig is om jou babatjie goed te versorg.

Ek gaan maar tog vir die wis en onwis vir jou ‘n paar goedjies neerskryf wat ek as ma van 3 geleer het. Gebruik dit maar as jy wil. Soos enige ou tannie, wil ek ook mos graag my raad uitdeel, en ons ou tannies is mos ervare. Maar onthou tog daardie stukkie van die instink, en gebruik hieruit wat vir jou aanvaarbaar en reg is.

Volgende keer sal ek nou met my ouma-raad begin!

Ek hoop jy slaap vannaand lekker, al maak daardie twee woelwatertjies dit klaar al ongemaklik om lekker te le.

Baie liefde

Ma

As jy nog wil lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 8 Kommentaar

Nog ‘n Valentynsbrief?

Damn Van, I love you, man!

Posted in die tale wat ons praat, English blogs, gedigte en rympies (seestrome van verlange) | 9 Kommentaar

Die gelukkige haai

Eendag , lank gelede, was daar ‘n haai. ( Ek kan nou nie se presies hoe lank gelede nie, want ek kom nie by die navorsing uit nie, maar julle kan verseker wees dat dit ‘n ware verhaal is, net uit die vuis vertel, soos ek dit nou het.)

Hierdie haai was ‘n skeurtandhaai en hy het lekker daar in Natal se waters rondgeswem ( en wie weet waar oral nog – hy was lief vir rondreis). Op ‘n goeie dag swem ou Tandjies per ongeluk in die haainette van Durban vas. Hy spartel en sukkel om los te kom, maar verniet. Hy is heeltemal verstrengel in die toue.

Die haai sou net daar gevrek het, soos so baie ander haaie voor hom, maar soos sy geluk dit wou hê, het die manne wat die nette patroleer, gekom net voordat hy dood was. Die manne maak die nette skoon en verwyder dooie vis, maar Tandjies was egter nog lewendig. Hulle merk hom met hulle vismerkers wat aandui waar en wanneer hulle hom gekry het, en laat hom vry.

Kan jy glo dat hy so gelukkig was? Ek glo dat Tandjies, hoewel al swak, sommer ‘n paar bokspringe moes gegee het van blydskap, en gesorg het dat hy so gou as moontlik so ver as moontlik van die aaklige nette af geswem het.

‘n Paar jaar later, hier op Struisbaai naby die Suidpunt van Afrika, vang daar eendag 2 ouens vis op die plaat. Die plaat is die lang stuk breë sandplaat ( die langste in die land) van Struisbaai se pragtige sandstrand. Dit is ongeveer 1991-2, want dis kort nadat die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad begin het. Omdat Kaapstad eintlik net EEN oseaan het, die koue Atlantiese oseaan, het hulle mos baie van die vis hier op Struisbaai kom vang en ook tenke vir die doel by Struisbaai hawe gehad.  Die tenke was egter nou al weg.

Ewentwel ( soos my pa sou sê), die twee ouens vang nog so vis, toe kry hulle ‘n tamaai ding aan die lyn: Dis ou Tande wat ongelukkig die verkeerde hap gevat het. Hy is vas – die keer aan ‘n vislyn.. Toe die manne vir Tande inkatrol en sien dat dit ‘n groot skeurtandhaai is, gaan hulle oor ‘n hoogste versnelling. Hulle weet dat die akwarium nog ‘n skeurtandhaai soek en hierdie een lyk net reg, maar hulle is MYLE van alles af!

Tande word op die bakkie gelaai en daar word gejaag na die naaste dam vol seewater. Die naaste plek is die Agulhas getypoel, ‘n afstand van ongeveer 10-15 Km. Ek verbeel my hulle het dalk ‘n nat handdoek om die haai gegooi en dalk die aasemmer vir water gebruik, maar hoe dit ookal sy, toe hulle so 20-30minute later by L’Agulhas se swembad kom, het Tande nog geleef: net-net.

Een van die ouens het by  Tande in die water geklim en hom gehelp en ondersteun tot hy weer  op sy eie begin swem het. Toe is die akwarium gebel. By nadere ondersoek vind hulle toe uit dat die dieselfde haai is wat ‘n paar jaar gelede uit die kloue van die haainette in Durban gered is. Die tweede keer ( waarvan ons weet) dat Tande die dood rakelings vrygespring het.

Nou moet ek eers die storie hier onderbreek. Vandat ek kan onthou ( en dis so die afgelope 57 jaar), swem klein kindertjies lekker in die poel, totdat iemand vir jou sê:” Daar’s ‘n haai in die swembad!” Jy skrik jou lam en is baie bang, al weet jy voor jou heilige siel dat dit sekerlik net ‘n bangmaakstorie is. Elke jaar is dit dieselfde storie . Iemand sweer hoog en laag dat hulle ‘n haai in die swembad gesien het. En as jy groter is, vertel jy self vir die nuwe onskuldiges dieselfde storie.

Wel, uiteindelik, hier ongeveer in 1992, is dit toe waar: Daar’s ‘n haai in die swembad! Ons gaan almal kyk na die rare verskynsel.

Die Twee Oseane het gekom, en Tande is vervoer na sy nuwe tuiste, waar hy vir iets soos veertien jaar lank gewoon het, en deur al die besoekers bewonder is.

Dit is egter nie die einde van die storie nie. Na  baie jare, besluit die Akwarium dat ou Tande nou lank genoeg gewerk het. Dis tyd dat hy weer sy vryheid terugkry. Hulle laai hom in ‘n tenk, en bring hom terug Struisbaai hawe toe. Daar by Struisbaai, in die diepsee, word Tande weereens gemerk en vrygelaat- die derde keer wat die geluk aan sy kant is.

Wie weet wat van ou Tande geword het? Ek hoop hy woon lank  en gelukkig in die grote oseaan.  En as hy weer in die moeilikheid raak, hoop ek daar is weer iemand om hom te help.

Fluit- fluit, my storie is uit.

Posted in Die Overberg: my wereld., feeverhale en ander stories, Seestories | 13 Kommentaar

Valentynspeletjie

Dis  een van die dae Valentynsdag en wie van ons is nog nie aangeraak deur die liefde nie? Miskien is jou geliefde by jou, miskien ver.

Maar as jy vir iemand lief is, wil jy dit graag vir hom se. Wat van ‘n liefdesbrief? Van alle soorte briewe, is dit seker die mooiste briewe, want wat is dan nou mooier as die liefde?

Kom ons skryf elkeen ‘n liefdesbrief. Dit kan ‘n werklike brief wees of denkbeeldig. Jy kan so oud wees as wat jy wil in jou brief, of dit kan dalk glad nie jou brief wees nie, maar ‘n liefdesbrief tussen twee vreemdes, denkeeldig of regtig. Dit kan komies wees of romanties, of selfs prakties. Hoe lyk dit: wil julle saamspeel, Toortsie, Xena en  Shalkskryf? En asseblief tog ook Olga.

Hier is myne: Denkbeeldige brief van  Cinderella aan haar prins

My liefste Charming

 Ek sit hier op die balkonnetjie en skryf. Dis nog vroeg. Die son maak spikkeltjies deur die bome en my voeltjiemaatjies sing vrolike oggendliedjies. Die muisies sit ook hier op die muurtjie in die sonnetjie.

Jy is vir my so ekstra dierbaar vandag, ek wens so jy was al terug van die jag af. Ek verlang regtig baie na jou. Ek het jou baie lief.

Watter ongelooflike jaar was dit nie – die bal in die paleis en ons wonderlike troue. Dankie dat jy so hard na my gesoek het.  Ek eis as ek dink hoe amper ons mekaar verloor het. Ek het nooit kon droom dat ek soveel geluk sou ervaar nie.  Soms is alles vir my nog so onwerklik. Ek het jou baie lief.

Geniet jou jagtog, my liewe man, ek hoop en glo dat my fee- peetma jou sal beskerm en veilig sal terugbring. Ai, ek wens daardie wit perd wil sommer nou daar deur die bome aangallop kom!

Ek het jou baie, baie lief.

Aspoestertjie

Posted in die tale wat ons praat | 14 Kommentaar

Sondagmiddagblues 2

Dis alweer Sondagmiddag en ek sit en tob alweer oor my blog. Wat maak ek nou eintlik hier?

Ma se seksboek is klaar- daar is nie nog episodes nie.( Terloops, ek kry baie goeie  terugvoering en ‘n 100 is al verkoop. Die koste van die druk van die eerste 200 boekies amper gedek. Ek gaan nou weer 200 laat druk, diekeer sonder die klein drukkersduiweltjies wat ingesluip het, en dan moet ek woes bemark- by skole ens asook deur ‘n boekverspreider).

Maar die punt is, ek moet iets kry om oor te blog- en gou ook! Dit moet iets wees wat tot mense spreek-iets wat hulle graag sal wil lees, anders het blog nie sin nie. Lewenslessies? Toortsie doen dit reeds. Interessante brokkies? Dit verg navorsing. En ek het min tyd. Toegegee, ek spandeer ure voor die rekenaar om niks konstruktiefs te doen nie- miskien moet ek meer gedissiplineerd wees….  nog ‘n boek? Ek dink en weet wat ek wil doen, maar somehow is die drang, die inspirasie nog nie daar nie. Persoonlike goeters, bv naderende oumaskap, ‘n troue in die vooruitsig, die resoutantbedryf en die sights wat mens by die nagklub sien? Sjoe, nee , dis net wat dit is- te persoonlik, al sou ek graag daaroor wou blog. Miskien as niemand nou geweet het wie ek is nie….

 So hier sit ek nou – bietjie in die middel en wankelrig, soos iemand met midlifecrisis.

Ek het nou ingeteken op ‘n hele paar blogs en sights wat goeie skryfgewoontes probeer bevorder, en kom ons hoop die help! Lyk my mens moet elke dag so 5 min of meer skryf. Maar dan moet mens iets he om te se.

Hoe kry julle dit reg om elke dag iets te he om oor te blog?

Posted in Los opdrifsels | 8 Kommentaar

Krater 2 Hakkies wil sy dra….

Dit was die jare toe damesstudente nog met rokkies en hoë-hakskoene klas toe moes gaan, en mansstudente met dasse.( Hoe oud is ek dan nou eintlik? Dit klink mos  soos eeeeeue gelede! Maar glo my, daar was so ‘n tyd, en ek was toe student).

Ons klaslokaal by Tukkies was hoog- ‘n hele verdieping trappe, kompleet met so ‘n draai in die middel, waar ons moes op of af om in die klas te kom. Dis ook ‘n groot universiteit en elke periode is daar ‘n horde studente wat uit die lokaal trappe afgaan en dieselfde hoeveelheid wat weer met dieselfde trappe opgaan- heavy trafficing, dus, maar as jy links hou en ‘n redelike vinnige spoed, werk alles baie goed.

Een goeie dag, op pad uit, storm ek en my pelle oudergewoonte trappe af, maar iets gaan verkeerd: Ek gly…..  val op my sitvlak en wip-wip  elke trappie af tot onder met ‘n duiseligwekkende spoed! Die studente maak net pad dat ek kan verbywip en niemand kry my gekeer nie.

My vriende breek hulle van die lag, en ek sit verdwaas heelonder en wonder wat gebeur het. Toe ek omkyk, sien ek dit: Daar op die boonste trappie, netjies en regop, asof hy daar vir my wag, staan my skoen se hoë hakkie.

Posted in kraters en ander skandes (humor) | 2 Kommentaar