ouma se bababoek. Brief 14: Positiewe dissipline

Liewe Kinders

Ag, dit was so lekker om die tweelingetjie hier te hê. Hulle is mos nou 7 maande oud en die vriendelikheid vanself! Opvallend was dit veral hoe die een outjie heeltyd gekyk het wat mense se reaksie is! Toe daar ‘n vreemde tannie in die vertrek inkom, het hy haar omtrent probeer “charm” en het haar stip dopgehou en vreeslik opgewonde sy armpies geswaai en gelag- en baie mooi gekyk wat haar reaksie is!

Dit het my weer laat besef hoe ‘n ongelooflike groot taak ouers het. Daardie klein babatjie van jou hou jou STIP dop, of jy dit nou agterkom of nie, en hy vorm sy gedrag STIP volgens jou optrede! Ja, kindertjies leer deur nabootsing! Terwyl ek en ‘n vriendin gesels, het ek eenkeer gesien hoe haar dogtertjie presies soos haar ma gaan staan-een voet voor die ander en op die mat, en die ander voet op die vloer en een hand op die heup. Sy moes haar mooi posisioneer om dit reg te kry, daarom was dit opvallend. Toe die mamma van posisie verander, verander die dogtertjie ook – weer net soos die mamma!

Ons is die rolmodelle vir ons kinders, dus moet ons die regte voorbeeld stel- in woord, daad, taal, gesigsuitdrukkings, humeur, optrede teenoor ander, geloof, sedes, waardes, net mooi alles waaraan jy kan dink.

Die moeilikheid is natuurlik dat nie een van ons perfek is nie! Maar ons moet probeer om te wees. Daarom is daar seker in elkeen van ons se verlede goed wat ons onthou van ons ouers, waar ons ouers dalk nie volgens ons heeltemal reg opgetree het nie, of ons verkeerd behandel het. Ouers is net mense! Die belangrike ding is dat ons as ouer ons bes moet doen om wel die regte voorbeeld te stel, ons kinders op ‘n liefdevolle manier groot te maak en te lei.

Gelukkig het die Sielkunde al intussen verder onwikkel as in my eie ouers se tyd en weet ons nou al dat positiewe dissipline beter is as afkrakende kommentaar of straf en dat ‘n mens optree volgens dit wat hy glo. Toe ek klein was, en veral toe my oupas en oumas klein was, het ouers en onderwysers nog nie hierdie kennis gehad nie en sommer gou vir ‘n kind vertel hoe stout hy is, hoe ‘n niksnuts of hoe onnosel! Vandag is dit ‘n ander storie!

Intussen het die sielkundiges uitgevind dat ‘n mens optree volgens dit wat jy van jouself glo. Dis byna ongelooflik waar- selfs ‘n  mate dat mense soms  volgens hulle vanne optree! Vergelyk GaryPlayer( golf), Mrs Lockwood, wat op Bredasdorp destyds ‘n winkeltjie gehad het met alles wat mooi is- van juwele tot fyn porselein.  Zoe Hamburger was ( wait for it) die PRO van McDonalds in New York en Summer Rayne Oakes was in 2009 ‘n omgewingsbewaarder van Brooklyn wat toe bosbou in Mosambiek gaan doen het. Daar is baie sulke gevalle. Dink maar aan al die Goldmans en Goldsmiths was juweliers geword het.

Dit beteken ook dat ons baie versigtig moet wees wat ons vir ons kinders sê, selfs  al is hulle nog baie klein! Navorsing het nou reeds bewys dat babas hulle moedertaal verstaan, selfs kort na geboorte.

Ons weet almal al van die eksperiment waar jy heeldag vir iemand vertel hy lyk bleek en siek. Aan die einde van die dag,voel die ou regtig siek! ‘n Mens noem dit suggestie. Daar was ook die eksperiment waar hulle ‘n klomp mansstudente gevra het om vir ‘n jaar lank aan ‘n gewone vaal meisietjie aandag te gee en haar te behandel asof sy ‘n aantreklike gewilde  skoonheid is. Aan die einde van  daardie jaar WAS sy pragtig en gewild in eie reg.  Haar gesig het nie verander nie, maar sy het nou so opgetree en aangetrek asof sy gewild en mooi was, en dit het gewerk – omdat sy dit geglo het!

Behandel dus julle kinders asof hulle mooi en soet en oulik is. Vertel hulle hoe soet hulle is as hulle iets goeds doen. Moet nooit vir hulle sê hulle is stout nie! Se liewer vir hulle daardie verkeerde ding wat hulle gedoen het, het jou teleurgestel en dit  pas nie by ‘n soet kindjie soos hulle nie, en verduidelik hoekom dit nie reg is nie.

Moenie vir hulle se”Pasop jy gaan mors!” nie, maar sê liewer: “skuif jou glas ‘n bietjie verder weg, of hou jou glas met altwee hande vas….”, “Kyk mooi waar die trappies is”, “wees versigtig”, “hou hier vas” ens…. in plaas van “Jy gaan val!” Leer hulle om boudjies eerste van stoele , beddens en trappe af te klim, in plaas daarvan om hulle te laat glo hulle gaan val. Kinders kan klein goed doen as hulle net geleer word hoe.

Glo my, as jy vir ‘n kind se hy gaan mors of val, GAAN hy mors of val , want hy glo jou. En dan gaan jy agterna weer sê: Ek het jou mos gesê!” Dan voel die kind weer hy KAN dit nie reg doen nie.’n Bose kringloop! ( Oumas en oupas is nogal geneig om klein kindertjie te oorbeskerm, in plaas daarvan om vir die kindertjies met die regte leiding tog ‘n bietjie te laat waag.)

Klein kindertjies wil oral ondersoek instel en aan alles vat. In plaas daarvan om vir alles nee te sê, of op die handjies te klap, soos sommige mense jou sal vertel, verwyder liewer die verbode voorwerp ( of die baba!)en gee iets waarmee hulle wel kan speel. Aandagafleiding is ‘n belangrike en positiewe manier om babatjies en klein kindertjies liefdevol te dissiplineer sonder dat hulle dit eers agterkom.

Dis ook belangrik om waak teen naamgewing -“labeling.” Met die tweelingetjie het ek self agtergekom dat ek wil sê  dat die een die outjie is met die plannetjies en dat die  ander die sagte skaam enetjie is , of dat die enetjie kwaai is as hy huil. Dis verkeerd! Hy word geleer om kwaai te wees of skaam te wees of wat ookal ‘n mens geneig is om voor die kind te sê!

As ‘n mens dan nie iets positiefs  sê nie, bly liewer stil! So glo een van julle tot my spyt steeds vandag dat jy vet is, en spyte daarvan dan almal vir my vertel hoe pragtig jy is. Dis is omdat jy as babatjie sulke vet wangetjies gehad het en almal( ja ook ek) altyd daaroor gesels en opmerkings gemaak het. Ai tog, so onskuldig, maar dit bly jou lewe by jou by.

Verder voel ek dit is belangrik dat die kind die gevolge van sy dade besef. Klein kindertjies moet dit liefdevol geleer word dat hulle ook verantwoordelikhede het. Die P.E.T. ( Parent effectiveness training) in Afrikaans die D.O.L. ( Doeltreffende ouerskapleiding) metode van Dr, Thomas Gorden kom oa. daarop neer dat jy met elke aksie vir jouself afvra: Wie se verantwoordlikheid is dit? Bv Wie se verantwoordelikheid is dit om te sorg dat die kind genoeg kos het om te eet? Wie se verantwoordelikheid is dit om skoolwerk te doen of eksamen te skryf? Ons as ouers is geneig om die verantwoordelikheid op onsself te neem vir alles, maar die kind het ook sy eie verantwoordelikheid( wat pas by sy ouderdom.) Hulle voer dit baie ver, en in ons Afrikaanse stelsel sal ons dit dalk nie alles so doen nie, maar dit is tog baie goed om te weet dat die kind verantwoordelik is vir sy eie welsyn. Laat hom bv van kleinsaf toe om te kies wat hy wil aantrek, deur vir hom twee of meer moontlikhede te gee om uit te kies. Geleidelik kan hy meer verantwoordelikhede gegee word. As hy nie sy verantwoordelikheid nakom nie, wys hom deur middel van “ek”boodskappe die gevolge van sy dade. bv “Ek voel ongelukkig omdat jy nie jou speelgoed opgetel het nie, want ek het nou amper baie seer geval omdat jou speelgoed in die pad lê.”

Jy as ouer is ook nie verantwoordelik om bv kennis in sy kop in te prop voor ‘n toets nie, hy is self daarvoor verantwoordelik en as hy swak doen omdat hy nie geleer het nie, moet hy die gevolge dra. Dis nie jy wat moet deurkom nie, dis hy en dis ook sy eie verantwoordelikheid. Lees ook hier en hier.  Dit is verbasend hoe gou kinders besef dat hulle verantwoordelike wesens het en dat elke aksie ‘n gelyke teenreaksie het.

Dit is ook baie belanrik om werklik te luister na wat jou klein kindjie sê,( soms terwyl hy speel en met homself praat, ook -hulle het mos ‘n manier om goedjies wat hulle pla uit te speel en as jy as ouer bedag is daarop. sal jy gou agterkom as daar iets is waaroor jy meer moet uitvind.)

As die kind besef dat sy stem ook tel en dat jy met ‘n oop gemoed luister na wat hy sê, leer hy dat hy ook ‘n eie mening mag hê.( Dit is nogal belangrik by die voorkoming van kindermolestering. Hy hoef nie te glo dat hy alles moet doen wat die grootmense vir hom beveel nie, hy kan dit maar eers met sy ouers bespreek.) Hy leer dat hy as individu ook tel.

Ouers kan hierdie gevoel versterk deur aktiewe luister. Hier word die kind se gevoelens gereflekteer en dus gerespekteer.  Bv: ” mamma sien jy is nou ongelukkig en wil nie meer in die motor stilsit nie, maar ons kan mos nie hier op die pad stop en uitklim nie. ons moet nog ‘n bietjie ry tot ons by die huis is.” Ek sien jy wil baie graag die speelding hê en is nou baie ongelukkig. Ons kan dit ongelukkig nie nou koop nie. Toemaar, jy sal gou gou beter voel. Kom help mamma gou om die waspoeier te soek.” Ha, ek weet nie of hierdie een so goed gaan werk nie, maar beweeg gou weg van daardie speelding af! As hy ‘n vloermoer gooi, se jy sien hy voel kwaad en ongelukkig, maar dat  hy steeds nie die speelding kan kry nie en dat jy nou klaar gepraat het, en dat dit nie sal help om verder te skree nie. En dan ignoreer jy dit en gaan aan met jou inkopies.

Tog moet die kind terselfdertyd ook weet dat  hy in die meeste gevalle dadelik moet luister! Dit geld veral in ‘n gevaarsituasie. Nouja, julle sal weet wanneer dit is. Opvoeding bly maar ‘n delikate onderwerp, en die groot saak is dat dit met respek en liefde van albei kante af  hanteer moet word.

Ai, gelukkig is daardie tweelingetjie nog klein en babatjies onder een jaar oud is mos nooit stout nie!

Baie liefde en lekker slaap.

Ma en ouma

Om die volgende brief te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | 15 Kommentaar

idioomspeletjie

Hoe lyk dit? is dit nie al lankal tyd vir ‘n speletjie nie? Ek kom mos gister agter dat baie van my bloggies idiome of uitdrukkings as opskrifte het, bv  ‘n oulap se rooi maak mooi Daar’s’n skroef los, Voor in die wapad brand ‘n lig,  the show must go on, hoogmoed kom tot ‘n val ens.

Toe dag ek nou so: Ek gee ‘n idioom of slagspreuk en tag iemand en hy skryf dan daaroor, tag iemand anders, gee ‘n idioom en daardie persoon skryf, tag ens.  Sommer die eerste ding wat in jou kop kom, dit hoef nie lank te wees nie-en as dit nog snaaks ook kan wees, soveel te beter, maar sommige idiome soek iets hartseer, ne!

Goed! Wat van….. ”’n Voël verander van veer, maar nie van kleur nie.” Aangesien Xena die enigste een is wat gereageer het op my vorige blog, kies ek sommer vir haar.En dan vra ek sommer een of twee ander ook: mmmm , ja! Toortsie en  Maankind!. Jy het mos laas ‘n mooi feeverhaal-einde ook geskryf, as ek nou reg onthou!

Posted in idioomstories | 20 Kommentaar

Aller Abshied ist schwer.

Dit val my vannaand weer op dat baie van my blogs idiome as name het. Waar kom dit vandaan? Is dit die lang lys idiomatiese uitdrukkings dat ons altyd op skool moes leer?

Nou is dit so dat as iets op my hart lê, en dan skiet die idioom sommer in my kop in, en sit daar, voor in my gedagtes, en word sommer die opskrif van my skrywe.

Vanaand is dit een van die Duitse lysie; Alle afskeid is swaar. Ai, dit is so waar-veral vir die een wat agterbly. Vir hom is daar mos net herinneringe, want hy bly agter in sy gewone omgewing. Dis nie hy wat die wye wereld invaar en nuwe werelde verken nie.

So is dit vannand met my. Die kinders is weer weg, so ook ouma en oupa se tweelingetjie, wat nou 3 weke lank hier gekuier het. In die 3 weke het eers die enetjie alleen leer sit en toe die ander enetjie. Hulle het ook geleer dat hulle kan beweeg – nou nog nie kruip nie, maar met skuif en rol kom hulle waar hulle wil wees. Kruip is sommer een van die dae. Hulle het geleer dat die water spat as mens daarop klap. Hulle het geleer om goedjies aan  te gee en weer te vat. Hulle het geleer om die mooiste geselsgeluidjies te maak en dat mense dink hulle is baie oulik as hulle lag. Hulle het geleer dat dat daar ‘n verskil is tussen ‘n mamma en ouma en vreemde mense – en dat dit baie lekker is om oupa se snor te trek.

Maar nou is hulle eers weg, na die verre Holland toe, terug winter toe, en hierdie ouma is aan die agterbly -kant van die afskeid. En Aller Abshied ist schwer.

En aan almal wat ook so voel vannaand, Sondagaand, bluestyd; liefde , sterkte, en lekker slaap. More skyn die sonnetjie weer.

n Nuwe week lê voor.  Mag dit vir julle almal ‘n mooi week wees, en onthou:”God is in bevel en alles is wel”.

Nouja, ek wou Nat King Cole hier sit, maar youtube het dit verwyder. kom ons kyk of hierdie enetjie werk en jou laat “smile.”

 

Posted in idioomstories, Los opdrifsels | 6 Kommentaar

for the love of money

Sing jy van blomme, of sing jy van geld? Nee, nee, nooit nie van geld! Nee, nee, nooit nie van geld!”Leon het mos oos vroeg vanjaar hieroor geskryf>

Wel, dit was seker in die goeie ou dae, toe ons seker ook almal arm was, maar daar tog meer dinge was om vreugde te gee – rustigheid, helder lug, groentetuine, ‘n melkkoei in die agterplaas, naaldwerk op die gras onder die boom, ridders op wit perde, kerse, ‘n lieflike gevoel van genoeg tyd……..of is ek nou simpel nostalgies, en idealisties?

Want vandag sing ons van geld, ons jaag dit na, ons bekommer ons dood daaroor, en raak heelteml depressief! Ja, ek ook! So, “ko laat ons sing!”

 

 

Wel, ek is ongelukkig nie ‘n ryk man nie, en ongelukkig het ek nou ook nie ‘n ryk man gekry nie, en ongelukkig is dit so waar deesdae:

Gelukkig woon ek mos hier in die OVERBERG, die plek wat ek al in my kinderjare uitgesonder het as die beste plek om te wees in tye van hongersnood- met al die allekruk, perlemoen, mossels, suurvytjies, waterblommetjies, skilpaaie, veldkool, bokkies harders en vleie, sal hier wel iets van wees om te oorleef. ( O ja, en ons restourant, Merino Grill was mos die eerste een op Bredasdorp om skaapstertjies op die spyskaart te sit! drie stertjies, vingeraflek-lekker met roosterkoek en konfyt vir net R28, hierdie hongersnoodtye voor Kersfees!)

Dus as ek so nou en dan bietjie wegraak, weet dan dat ek gaan soek het!

Ag, en terwyl ek so soek neurie ek mos saam met ou Lucas Maree:( ongelukkig is dit al video wat ek kry- luister maar na sy mooi stem en sien dat selfs die Ingelse gedink het die woorde is die moeite werd om te vertaal.) Ek dink regtig hy het ons volk se hart geraak met hierdie liedjie! En waar die hart van vol is…….

 En op die ligter noot, groet ek eers tot volgende keer! Maar hier is ‘n vrolike lessie:

11 Kommentaar

Help!!!!!

Waar is my bloggie? wat het gebeur???? is ek gedelete???? Het WordPress ‘n aksie teen my????? WAT GAAN AAN????

Skielik kry ek geen e-mail van my nuwe inskrywings nie, ook nie van die comments by my inskrywing nie. Het julle so ‘n e-mail gekry om te se ek het iets geskryf???? Hê???? En toe ek kliek op follow this blog, maak WordPress of hulle glad nie besef dat seegogga en Seegogga die een en dieselde ou seegogga is nie. Ek is deur die instrumentpaneel en al die woordjies en op die ou end besluit ek om hulle self te kontak, maar toe verskyn daar ‘n nota dat hulle toe is tot 28 Okt. Ek willie so lank waggie! Ek soek my “notifications!”Help!!! Asseblieftoggie iemand!!!

      

8 Kommentaar

Krater 11: Hoogmoed kom tot ‘n val

Ag nee-wat! Die lewe is deesdae heeltemal te ernstig! Dit tyd vir ‘n kraterstorie!

In my jong dae het ons taalonderwyseresse mos nog NAGESIEN: Duisende boeke-taalwerkboeke, opstelboeke, voorgeskrewe vrae-boeke, toetsboeke,…….

So stap hierdie jong juffroutjie met haar wit minirokkie eendag na haar klas toe met 3 stelle boeke(lees 90+boeke) in haar arms.

My klas was in een van die skool se”prefab” klasse. Voor die klasse was so ‘n sementpaadjie, twee trappies en weer sementpaadjie. My klas was die tweede een na die trappies.

Ek beur om bo-oor die boeke te sien, maar alles gaan baie goed, tot by die laaste trappie. Ja, natuurlik haak my hoëhakskoentjie daar vas en ek slaat daar neer dat jy net sien boeke spat!

Dit was nogal seer om so op my maag op die sement te skuif en toe ek verdwaas opkyk om te sien waar ek nou eintlik is, tref dit my: ek lê skuins voor die deur van die eerste klas sodat al  die matrieks daar my mooi kan sien- en almal se oë is ook in stilte stip op my gerig- maar sodat die onderwyser my nie kan sien nie.

Dit was erg en ek het dadelik besef hoe snaaks dit moes gelyk het!

Dit sou gaaf gewees het as ek net kon opspring en wegkom, maar ongelukkig was daar so 90 boeke wat die wereld volgelê het en wat ek eers moes optel.

Ek het opgespring en begin optel en die heeltyd het daardie kinders nie ‘n woord gehoor wat hulle onnie gesê het nie. Toe die laaste boek opgetel is en ek ( ego en knieë aan flarde) daar wegstap, hoor ek dit: hoe die hele matriekklas bulderend uitbars  van die lag!

Nagedagte: Nouja, as iets snaaks is, is dit snaaks en ek het in my stilligheid ook gelag. Maar dat nie eers een van daardie kinders opgestaan het en aangebied het om te help om al die boeke op te tel nie, het my nogal laat wonder oor baie goeters.

Posted in idioomstories, kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels, skoolstories | 4 Kommentaar

‘n Oulap se rooi maak mooi!!!

Ai, ek is nie goed met statistiek nie, maar vannaand toe ek na my rooi kolletjies kyk( neeeee, dis nie puisies nie, ook nie masels , bytplekke of uitslag nie- dis die kolletjies op my plat aardbolletjie!), sien ek iets raak: nog net 4 kolletjies, dan het 4000 mense my bloggie gelees! Dis nou vandat ek die plat aardbolletjie het.

As  ek van die begin af kyk, het 9829 mense al die bloggie onder oë gehad. Dus moet hy nog net 171 besoeke kry dan slaan ek die 10000 merk!!! WOW!!Ek kan dit nie glo nie, dat my klein ou bloggie al byna 10 000 keer deur julle besoek is nie!( en dit in net ‘n rapsie meer as een jaar) Dankie, dankie! Help nou tog asb om daardie magiese getal 10 000( tienduisend) te bereik!( ag, en as ek nog ‘n kommentaartjie ook kan kry, gaan ek mos behoorlik blom!)

Ag, ok,man, ek weet julle het sommer baaaaie meer kolletjies as ek, maar ek gee glad nie om nie, ek is baie trots op my klein kolletjies!

In die jaar het ek so baie geleer by al die wonderlike blogvriende se kommentaar en blogs. Saam is ons deur gelukkige tye, maar ook swaarkrytye. Ek het hier gelees van trolle, maar gelukkig nooit een hier raakgeloop nie. Die bloggers in hierdie blogland is wonderlike mense wat mekaar ondersteun en onderskraag. En dis lekker.

Daar is natuurlik ook die buiteperde wat hier inloer, waaroor ek ewig dankbaar is. Dis mos hoekom ek begin blog het- sodat iemand kan kom lees. Ek hoop dat julle darem soms hier iets interessants gevind het.

Nouja, net toe ek begin moedeloos raak, kikker die kolletjies my vannaand sommer heerlik op. Rooi bly maar mooi.

Ek hoop om sommer gou weer voort te gaan met ouma se bababoek, dis tyd vir ‘n kraterstorie en ook weer ‘n seestorie.

My wens vir almal in blogland is BAAAIE rooi kolletjies, lekker blog en lekker lees.

En sommer omdat dit al aand is: Lekker slaap!

Posted in idioomstories | 10 Kommentaar

maslow op ‘n sondagaand…

Dis Sondagaand, blues-tyd en ek sit hier, doodmoeg, voor my blog.

Ek moet skryf- ouma se bababoek, motoriese ontwikkeling, maar die krag en lus ontbreek. Ek wil graag ‘n gediggie opsit, ‘n paar maande gelede geskryf, maar dis te persoonlik. Ek wil vertel van twee groot swaarkrye, maar weereens is dit te na aan die hart- en frankly my dear, ek moet nou klaarkry hiermee!

Maar wat kan ek dan skryf??? Waarvan is die hart dan vol? Miskien is dit die probleem: Die hart is nie vol nie! Tans het ek so ‘n verlepte half leë hartjie – pap en sonder fut.

 Die mens funksioneer mos op verskillende vlakke. Eers moet die behoefte aan suurstof bevredig word, dan streef mens na water en kos en dan blyplek. Eers as hierdie goed in plek is , gaan mens hoër- na die emosies , die dieper en hoër begeertes.

Maar dit voel my tans ek ploeter hier onder rond, besig om so hard te werk hier onder, dat daar nie plek tyd of energie is vir die hoër dinge in die lewe nie. Ek bêre dus my gediggie, die bababoek moet bietjie wag, en ek plaas  vir julle Maslov se piramide hier sodat julle kan sien waar ek is, en sommer waar julle ook is. En klim daai piramide! Moenie hier onder in die stof bly lê nie! Een van die dae is ek ook weer bo, hoop ek.

En met die gedagte laat ek julle eers hier, MAAR ASSEBLIEF TOGGIE: Stem vir Tafelberg!!!

Posted in Los opdrifsels | 3 Kommentaar

Moenie dat jou akademie inmeng met jou sosiaal nie!!!

“Moenie dat jou akademie inmeng met jou sosiaal nie!” So het ons as studente dikwels vir mekaar gesê, gewoonlik as daar iets lekkers op die spel was, bv lentedag in die middel van ‘n toetsreeks, of ‘n uitnodiging na ‘n lekker partytjie net voor ‘n groot taak.

En so het ek en my goeie vriendin, Rina, eendag heerlik lentedag gevier, maar toe ons die aand laat begin swot vir die toets, besef ons dat ons nooit al 8 hoofstukke sal kan leer nie.

Toe leer ons net een.

Die oggend in die klas kry ons byna ‘n senu-ineenstorting toe die lektor ‘n ander hoofstuk se tema eerste noem- maar gelukkig gee hy toe ‘n keuse tussen twee vrae- en ons hoofstuk was die tweede keuse!

Toe kry ons die hoogste punte in die klas.

Nouja, nie iets wat ek my kinders ooit aangeraai het om te doen nie- om te spot nie, maar as die nood druk……

Wat ek wel vir hulle baie goed geleer het, was die gesegde hierbo- moenie dat jou akademie inmeng met jou sosiaal nie- bedoelende: handhaaf ‘n balans tussen werk en speel. Jy KAN albei doen as jy net reg beplan. Ons wyse en baie besonderse meneer Pellissier het destyds op Sasolburg vir ons dieselfde geleer, net in ander woorde. Sasol was ‘n atletiek- en sportskool en hy het tereg vas geglo en verkondig dat kinders wat sport en ander aktiwiteite ook doen, ook beter vaar akademies, omdat hulle balans het.

Met my koördinasievermoëns was ek nou geen aanwins vir ‘n sportskool nie, maar ek het geen partytjie gemis nie en steeds baie goed gevaar akademies! Hierdie balans het ek van jongsaf vir my kinders geleer – en ook dat hulle verantwoordelik was vir hulle eie prestasies. Ek het mos klaar skoolgegaan, dit was nou hulle wat moes leer.

Na standerd een het ek hulle nooit meer aangepraat om te leer nie. Hulle kon vir my kom vra as hulle iets nie verstaan nie, of as hulle wil he ek moet hulle werkies vir hulle vra, maar ek het nooit vir hulle vaste studietye gegee of hulle skoolwerk saam met hulle gedoen nie. Dit was hulle eie verantwoordelikheid. (Die duiwel was egter los as hulle swak punte huis toe gebring het en dit geblyk het dat hulle nie die werk geken het nie! Maar dit het gewoonlik net so eenkeer gebeur en dan het hulle geweet wat hulle verantwoordelikheide is!) Beplan dus jou tyd en jy kan al die lekker dinge ook doen – selfs konsert toe gaan in ‘n eksamen.

Ek het my altyd verstom as ek hoor hoe die ma’s praat.:” Jy weet, ek is mos nou in graad 5.” Waarvan praat die vrou? Dan besef ek dat sy van haar kind se skooleksamen praat. En nie lank gelede nie, hoor ek ‘n ouer sê dat hy nie die aand na ‘n funksie kan gaan nie, want sy kinders skryf eksamen. “watter standerd is hulle?” vra ek ewe simpatiek.

“Graad 12 en graad 10″.Wat??? Hierdie ouer het nie geglo dat haar tiener-kinders alleen by die huis kan bly en studeer nie, iemand moes kyk dat hulle dit doen. Wat sal van daardie kindertjies word, ‘n jaar later op universiteit? Wie gaan vir hulle met die lepel voer?

So het my oudste 8 vakke in st 9 geneem, en haar byna doodgewerk. Ek het gemaan dat sy moes afskaal. Toe twee ander ouers gesels, vertel die een dat sy haar seun aangesê het om tog vas te byt en hard te swot- matriek is naby. Die ander het beaam en genoem watter beperkings haar kind nou opgelê is. Dit was my beurt om iets te sê:”O, ek sê weer vir my kind dat sy nie moet toelaat dat haar akademie inmeng met haar sosiaal nie,” sê ek tot almal se skok en afgryse.

Maar daardie kindjie van my, wat maar redelik gemiddeld op skool presteer het, het op universiteit in haar BSc kurses die een onderskeiding na die ander gekry en elke oomblik van haar varsitydae baie geniet. Sy het ook baie goed presteer in haar beroep, tot sy nou voltyds tweelingma geword het. So ook het my ander twee kinders gedoen. Hulle is hardwerkend, pligsgetrou en het verantwoordelikheid – eintlik van kleinsaf al.

My jongste het egter tog wel eendag ‘n toetsie gedop: sy wou graag studenteraadgewer word, dws ‘n senior student wat ‘n paar eerstejaars moet touwys maak oor die universiteit- en koshuislewe, hoe om te studeer ens. en moes gaan vir ‘n onderhoud. Hulle vra haar allerlei vragies en sy antwoord alles mooi, totdat hulle haar vra:” en sê vir ons wat dink jy van die akademie?”

My jongste, effens impulsiewe, sê die eerste ding wat in haar kop kom:” Ek glo ‘n mens moet nie toelaat dat jou akademie inmeng met jou sosiaal nie.”

Na sy hulle gesigsuitdrukkings gesien het, het sy probeer verduidelik, maar dit was te laat. Sy is nie gekies nie. Die volgende jaar is sy darem tog wel gekies, en was ‘n baie goeie raadgewer.

Nou hoekom hierdie skrywe? Wel ek sluit mos aan by Toortsie se blog- en iets waaroor ek nogal sterk voel! En met hierdie gedagte: sterkte aan almal wat eersdaags eksamens moet skryf!

Posted in idioomstories, Los opdrifsels | 5 Kommentaar

Die taal van blog

So ongemerk, sonder dat ek dit self agtergekom het, het Seegogga verjaar!

Ja, dis net so mooi ‘n jaar en ‘n week gelede dat ek my eerste nederige bloginskrywing gemaak het.

In hierdie jaar het so baie gebeur! Ek het wonderlike nuwe blogvriende gemaak, geleer van goeters waarvan ek niks geweet het nie, en al selfs vir ‘n nuwe blogger raad gegee! Ek het geskryf: stories, gediggies, persoonlike issues uitgestryk, ‘n boekie die lig laat sien, foto’s vir die wereld opgelaai en selfs ‘n paar prentjies geteken. Ek het kommentaar by ander blogs gelewer, kyk steeds na die rooi kolletjies op daardie plat wereldjie en hierdie week was 2 van my blogs op die top blogs of the day.

Hoewel ek nou minder blog, beteken dit nie dat ek minder daarvan hou om te blog nie, dis net ‘n tydsfaktor probleempie.  As ek ‘n afknyptydjie het, gaan loer ek gou om te kyk of daar nuwe blogs is, of iemand darem my goed gelees het en of daar kommentaar is.

Nou hoekom blog mens? Toortsie het ‘n rukkie terug die vraag gevra. Dis omtrent dieselfde vraag wat ‘n vriendin van my so ‘n jaar gelede gevra het. Ek moes eers woes soek na die e-mail wat ek haar teruggestuur het.

Daar het ek die volgende kwytgeraak: “Mense blog om verskillende redes. Meestal is dit mense wat in hulle hart skrywers is. Baie werklike skrywers het ook blogs. Hulle het iets wat hulle graag vir ander wil sê, maar nie noodwendig dmv ‘n boek nie. ‘n Boek is ‘n lang proses. Dis ook ‘n uitstekende skryfoefening, want die ideaal vir elke skrywer is om elke dag ‘n stukkie te skryf. Dan is die stukkie darem nie so sinneloos nie, want mense lees dit en lewer kommentaar en so toets jy ook jou eie skryfsels. ‘n Mens ontwikkel oor oornag tot ‘n internasionale skrywer! Lees gerus hier.

 

Blog is egter ook ‘n soort virtuele dagboek en sommige gebruik dit om dinge te se wat hulle dalk nie van aangesig tot aangesig vir mense kan se nie. Dit is ‘n feit dat dit help om te skryf oor ‘n ding wat jou pla of jou gelukkig maak. Jy kry tyd om jou gedagtes te orden en in woorde uit te druk.  Dit het beslis vir my gehelp deur ‘n baie emosionele tyd in my lewe, hoewel ek nie regstreeks daaroor geskryf het nie.

Bloggers lees ander bloggers se goeters en lewer kommentaar. Daar is sekerlik ook baie ander mense wat dit lees, maar dit lyk my  dis veral ‘n blogger ding, ‘n soort skryfklub. Soms verander ‘n blog in ‘n boek, bv die vrou wat geblog het oor haar stryd om swanger te raak en haar gevoelens daaromtrent. Haar naam is Tertia Albertyn en nie net was haar blog gekroon as blog van die jaar nie, maar die boek, SO CLOSE, word hoog aangeskryf vir voornemende dokters en ginekoloë, omdat dit die eerste keer is dat die hele proses van invitro bevrugting ens vanuit die pasient se perspektief beskryf word . Dit het haar lewe verander.

Ek self vind dit wonderlik om iets te kan skryf wat mense wel lees, sonder dat ‘n mens die lang proses van keurders en drukkers en uitgewers hoef deur te gaan. Ek vind die mede bloggers wonderlik  ondersteuned en positief. Hulle is regtig ‘n besondere groepie mense en ek waardeer hulle positiewe kommentaar en geniet hulle skryfsels baie. Al ken ek hulle nie van aangesig tot aangesig nie, voel dit vir my soos goeie vriende.”

Nouja, BAIE DANKIE LIEWE BLOGVRIENDE! Dankie dat julle die jaar darem van my goeters gelees het en so positief ondersteun het. Dankie dat ek hier op die bloggie goeters kon se wat ek wou. Dankie tog dat julle nie Trolle is nie, maar Engele!

Posted in die tale wat ons praat, Los opdrifsels | 15 Kommentaar

Storietyd in Blogland 2: Ek help vir Mamma

Posted in feeverhale en ander stories | 6 Kommentaar

voor in die wapad brand ‘n lig

Wel, as ‘n mens heeltemal korrek wil wees, kry ‘n mens eers hierdie lig en dan eers kom die wapad- hierdie liggie hierbo is immers op die Suidpunt van Afrika, daar waar alles begin .

Maar kom ons wees maar bietjie simbolies. Die lewe hiervoor, naby die kamera, lyk maar donker. Miskien soos my lewe ook nou lyk? Maar daar is ‘n glimmering op die see- die water blink, en daar ver  flits ‘n helder lig- so helder dat mens die vuurtoring wat dit uitstuur, nie eers kan sien nie.

Dit kos moeite om hierdie liggie raak te vat, soos voorheen verduidelik. Jy moet jou kamera ( of blackberry) se knoppie druk as jy vermoed dat die lig gaan flits, VOORDAT hy wel flits. As jy wag tot jy hom sien, is dit te laat en kan jy hom nie op die film vaslê nie. ( Sien toortsie se liggie aan die Suidpunt)

So moet ‘n mens moeite doen om in hierdie lewe die liggie te soek en raak te sien. As jy nie mooi kyk nie, gaan jy dit mis en net donker sien. Jy moet soek vir die blink van die water, die liggie daar op die horison, die helder flits wat jou lewe verlig en die donker laat verdwyn.

In elke lewe is daar donker – maar ook lig. En bo alles is God se groot genade wat ‘n mens deurdra tot jy by daardie lig kom.

Mag almal van julle ook die liggie sien, al is dit hoe donker rondom jou.

Posted in Die Overberg: my wereld., idioomstories, Los opdrifsels, Seestories | 12 Kommentaar

My Overberg in die lente

By gebrek aan woorde; PRENTE.

Die eerste foto is sommer by die see voor Rus ‘n Bietjie ons strandhuisie met soldatepoel in voorgrond, die ander foto’s is sommer op ons gewone pad Kaap toe- ons hoef nie te gaan soek vir mooi dele om af te neem nie- hulle is oral sommer langs die pad en op ‘n sekere deel, op ‘n sekere draai, sien ons selfs die see!

Posted in Die Overberg: my wereld. | 11 Kommentaar

Ouma se bababoek. Brief 13 Jou baba en die ongelooflike waarde van musiek

Liewe Kinders

Ai, waar is die dae toe julle gedans het op Enkeling se musiek? Julle was kleuters en het presies gedoen het wat die liedjie gesê het: rug gedraai, onderstebo, ens. Annika, jy kon skaars alleen sit, toe wieg jy al op en af as jy musiek hoor.

Ja , positief of negatief, maar geen mens bly onaangeraak deur die aanhoor van musiek nie- dit beïnvloed selfs jou harttempo! Net so beïnvloed dit ook julle babatjies. Babatjies van slegs 4 dae oud word bv rustiger as hule liedjies hoor wat die mamma in haar moedertaal sing, in  teenstelling met liedjies wat sy in ‘n ander taal sing, of liedjies wat deur iemand anders gesing word. Sing dus, mammas!

Volgens veskeie opvoeders en arbeidsterapeute is dit noodsaaklik dat julle babas ELKE dag na musiek luister, maar ook dat die tipe musiek baie belangrik is, verkieslik rustige klassieke musiek en babaliedjies.Elke subtiele aspek van klank dra by tot die baba se gehoorontwikkeling, wat so belangrik is vir taalontwikkeling, konsentrasie en leervaardighede.

Musiek het die volgende belangrike voordele:

MUSIEK MAAK SLIM! Geheue en taalontwikkeling word gestimuleer met liedjies, maar motoriese ontwikkeling, wiskundige vermoëns en leesvaardighede word ook ontwikkel. Daar is op hierdie gebied ‘n duidelike voorsprong by kinders wat van jongsaf aan musiek blootgestel is.

Net soos ander sensoriese ontwikkeling, help en versterk musiek, veral klassieke musiek, die formasie van dentriete in die brein.  Dit bevorder dus breinontwikkeling. Klassieke musiek het ‘n vaste struktuur en die brein hou van hierdie orde en patrone. Ons weet nou al almal dat sagte barokmusiek bevorderlik is vir leer, omdat dit die breingolwe in die alpha ritme bring, waar die brein optimaal funksioneer. Daar is ook bevind dat babas die meeste van Mozart  en Bach se musiek hou, maar minder van Beethoven.

Musiek bevorder ook liggaamsbeeld aangesien die natuurlikie reaksie is om te beweeg op maat van musiek. Babas reageer eerste op die ritme van musiek. Goeie ritme is belangrik vir die aanleer van vaardighede soos loop, hardloop, praat, knip, en selfs bal speel. En as hulle eendag groot is, kan hulle dans!

Taal en musiek stimuleer die intellektuele en emosionele ontwikkeling van die brein,  omdat dit ‘n baie effektiewe manier is om eenvoudige denkpatrone te ontwikkel en om te skakel in meer komplekse patrone.  Daarom is die sing van liedjies so belangrik.

Sekere vorme van musiek verlaag vlakke van die streshormone soos kortisol, en laat die goedvoelhormone, die endorfiene meer vrystel. Daarom word musiekterapie vandag gebruik om pyn te verminder. Musiek kan selfs bloeddruk verlaag. As jul babatjies siek voel. speel vir hulle musiek!

Musiek stimuleer verbeelding, goeie selfbeeld, kreatiwiteit, neem ons op verbeeldingreise, laat ons beter voel, laat ons huil, laat ons voel dat ons behoort( as almal saam sing of dans), gee nuwe energie en laat ons vergeet van moegheid( bv soldate wat marseer op maat van musiek), laat ons beweeg, laat ons dans en oor die wolke vlieg van genot!

Nou watter soort musiek is die beste vir babatjies?

Eerstens is klassieke musiek baie belangrik-ja, Babas hou van klassieke musiek! Ek sal nooit vergeet hoe ons gratis kaartjie na ‘n konsert gekry het nie. Dit was die finale rondte in ‘n musiekkompetisie.. Daar sit ons toe in die tweede ry van voor af. Jy was skaars 2, Annika, en jy was maar 4 jaar oud ,Leanie. Ons dag ons gaan vrolike Afrikaanse liedjies hoor, dis tog immers ‘n ATKV kompetisie, maar toe ek die program bekyk,skrik ek. Dis hoogs klassiek!, oa ‘n orreluitvoering van ‘n Bach stuk, ‘n violis wat Creisler speel, ‘n Opera aria en natuurlik ‘n hoogs ingewikkelde klavieruitvoering.

Gou -gou “coach” ek julle. Julle moet asseblief doodstil sit en glad nie praat nie, anders gaan die kunstenaars deurmekaar raak en foutjies maak. My hart is egter in my skoene. Maar wonder bo wonder sit julle soos droommodelletjies en in vervoering! Julle hou van die konsert! Julle hou van die tannie met die lae rok se liedjie, die oom speel mooi klavier en die orrel daar bo is wonderlik!

Moenie julle kinders onderskat, soos ek daardie aand gedoen het nie! KINDER HOU VAN KLASSIEKE MUSIEK!

Mozart se simfonie nr 40 is blykbaar bo aan die lys. Verder is Eine kleine nachtmusiek van Mozart ook ‘n goeie keuse.

Marga Grey beveel die volgende aan:

JS Bach: Air on a G String, Concerto for two violins in D minor, ens.

Beethoven: Maanlig sonata, simfonie nr 5 in C mineur

Handel: Watermusiek, Die Messias

Shubert: Simfonie nr 8 in B mineur.

Vivaldi: die vier seisoene. Speel die musiek gereeld, sodat die babas later die wysies ken.

Dan is slaapliedjies en ander babaliedjies balie belangrik om hom rustig te maak en taal te stimuleer, veral liedjies wat ‘n herhalende patroon het. Hier is ons familie se eie slaapliedjie, waarvan julle almal baie gehou het!Koormusiek is ook ‘n  goeie keuse.

Volgens kenners moet babas ELKE dag  aan musiek blootgestel word. Gooi dus julle inhibisies by die deur uit, klap hande, stamp voete,wieg, spring, dans en sing op maat van die musiek saam met jou babatjies, Leanie, hulle sal mal wees daaroor en jy ook!

Sodra hulle kan, kan hulle saam musiek maak deur ratels te swaai lepels teen potte te kap, hande te klap ens.

Moet kinders leer om ‘n instrument te bespeel? JA, ja en ja. Om ‘n musiekinstrument te bespeel, is een van die min aktiwiteite wat albei hemisfere van die brein gelyktydig betrek- die linkerbrein by die notelees, en die regterbrein by die vertolking van die musiek, daarom is dit belangrik vir ‘n kind se intellektuele sowel as kulturele ontwikkeling. Dit gee hom ‘n voorsprong op baie gebiede vir die res van sy lewe. Ek beskou dit net so belangrik soos om te leer lees en teken. Dis jammer dis nie verpligtend op laerskool nie.

Dis egter belangrik dat die regte instrument gekies word.( en die regte musiekjuffrou!) Nie almal wil blokfluit speel nie!  Persoonlik dink ek kitaar of viool is wonderlike instrumente omdat ‘n mens dit so maklik kan saamneem oral waar jy gaan. Kitaar het die verdere voordeel dat mense maklik so begelei kan word. Klavier  is natuurlik pragtig- die ultimate instrument wat geen begeleiding nodig het nie, en ‘n elektroniese klavier is fantasties en ook meer vervoerbaar. Moet ook nie die saxaphone vergeet nie!

Moet seuntjies ook musiek neem? Natuurlik! Die meisies hou mos van ‘n ou wat hulle kan serenade! En bekommerde pappas, ek wil tog net hier noem dat die hoogsbetaalde mense in Engeland albei musiekante is: Paul McCartney van die Beatles en Andrew Lloyd Webber- albei mans. Dan dink ek ook nou sommer aan daardie weird ou, Freddy Mercury. Sekerlik nie ‘n ouer se idee van ‘n ideale seun nie. Maar Freddie se ouers kan vandag so trots op hom wees. Eendag as ons almal onder die grond lê, gaan die mense nog  steeds Klein Freddie se wonderlike talent geniet en waardeer, nes mense steeds vandag nog Mozart, Bach, Beethoven en die Beatles geniet.( En het julle opgelet? Hulle was almal mans!!!)

Nouja:” Don’t worry if its good enough for anyone else to hear, just sing- sing a song!”

Nou gaan hierdie ouma gou- gou af nagklub toe waar die jongklomp hip-hop luister en as ek terugkom is die meesleurende klanke van Edid Piaf se liedjies in my motor…..

Soete drome

Ma en trotse ouma.

Ns, ek het darem bietjie opgelees ook, hoor! Die LIG, September 2011 het ‘n oulike artikel, geskryf deur Susan Goosen,  en nou die dag het ek die wonderlike boek, Sensible Stimulation van arbeidsterapeut Marga Grey ontdek. Dis geskryf in 2009 en ek wens elke ouer kan dit lees.

Lekker slaap. Mamma

om die volgende brief te lees, klik hier.

Posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) | Tagged , , , , , , | 4 Kommentaar

Showtime! ( ‘n Week na: The show must go on)

‘Een hunters extreme asb?”

“Hier’s hy. R 20”

“2 Poncho’s asb!”

“Right! R36″

Ag, tannie, hou maar die kleingeld!” Ek neem die twee tweerandstukke en kap dit so tweekeer op die barcounter soos ‘n pro. Dis wat mens moet doen as jy ‘n tip kry.

Ek leer!

Om ‘n shooter te drink is ook ‘n ernstige besigheid. Eers word die shooterglasies in ‘n ry gesit en tot op die rand vol geskink. Dan tel die drinkers dit op en hou dit in hulle hande tewyl hulle mekaar ernstig aankyk. Dan, op ‘n gegewe moment, as almal reg is, word die glasies gelyk gelig en “gedown”. Die glasie word harderig  tweekeer op die counter getik voor dit neergesit word. Dan is die ernstige saak verby en kan almal weer normaalweg lag en gesels( welliswaar dalk effens lighoofdig van die skielike “shot?”).

Daar is ook die volgende:

“Anna-Marie, sjoe, jy lyk darem sexy vir jou jare.” en as ek op die stoel klim om die musiek te verander:” Hoor hier, jy het regtig sexy boude”

“Luister, mannietjie, Dis nou GENOEG! Dit stop nou HIER! ( nadat ek hom ‘n paar keer gewaarsku het). Jy noem my nie WEER op my naam nie! Vir jou is ek Tannie Anna-Marie en daar is die deur! UIT!”

Dan was daar Shaun, ‘n gereelde klant wat elke aand sommer daar rondgehang het en vanself gewag het tot ek toemaak om seker te maak dat ek veilig in my motor is voor hy ry. Sonder dat iemand gevra het of iets gese het. Dankie Shaun! Ek waardeer dit!

Donderdag het daar uit die bloute ‘n vroutjie by die restourant opgedaag wat werk soek en al voorheer gewaiter het en vandag het my barman weer opgedaag: welliswaar met twee blou strepe onder die oë en ‘n groot baie skewe neus, maar hy lyk darem nie meer of hy uit die Rocky horror picture show uitkom nie, en dus kan ek nou hier sit ek tik!!!!

Maar volgende week is Mega week, die heel besigste week op die Bredasdorp kalender.

It’s showtime!

Posted in idioomstories, Los opdrifsels | 3 Kommentaar

The show must go on

Maankind was weg, want sy’s siek en ek’s weg, want ek WERK!!!

Dit het so gekom: Eendag onverwags, net na ek en my motor wonderbaarlik veilig in die Kaap gekom het, tref ‘n  groot terugslag ons gesin, my man land ‘n maand lank in ‘n kliniek en ek (vervoerloos!) in twee ekstra besighede: ‘n restourant en ‘n nightklub.

Dis nou ook nie dat ek altyd hande gevou gesit het voorheen nie, ek het immers my raambesigheidjie by die huis en 3 selfsorgeenhede op Struisbaai en Agulhas.  Maar nou bestuur en waiter en barlady ek sommer in die restourant ook, en na hierdie naweek sommer by die nagklub ook!-Ek, prim en propper outydse tannie wat nie rook of drink nie( en net nou en dan vloek as ek my toon baie seer stamp).

Ek het darem intussen my motor weer teruggekry en kan weer in die dorp op en af jaag.

Nou moet ek leer van mengsels en drankies waarvan ek glad nie geweet het nie, maar met die hulp van die jong expert wat vir ons werk en die  vermengings, pryse, en veral die ingewikkelde werking van die till verstaan, gaan dit heel goed- tot eergisteraand toe.

Dit was tweeuur, die swart uur waarop die kroeg moes sluit en ons geen drank meer mag verkoop nie, ten spyte van die feit dat dit die top kuiertyd van die jong mense is. Maar ons is mooi pligsgetrou en die meeste mense al op pad huis toe, toe die deur skielik oopbars en so 6 of 7 jong bulle binnestap.  Hulle wil graag iets drink, maar mag nie, tog is almal heel gemoedelik oor die saak.

Die vorige eienares en ek sit lekker voor die vuurtjie en gesels toe daar skielik ‘n woeste gestoei onstaan. Een ou word deur al die ander toegetakel!  Ek en sy probeer keer , maar iemand skree:” tannie moenie oor hom bekommerd wees nie, gaan kyk liewer wat hy met tannie se barman gedoen het!”

Ek kyk: Die kroeg is leeg. My  regterhand is weg. Ek stap om die toonbank. Daar sit hy plat op die grond, gesig in die hande en daar is net bloed oral waar jy kyk.

Ek kan nou nog nie glo hoe so-iets so vinnig en sonder vooraf struweling kon plaasvind nie. Blykbaar het die ou ons barman van agteraf “getackle”. Sy neus bloei woes- van binne en buite en vorm poeletjies op die vloer.

In die haas om hom te help en die bloed te stop, dink ek te laat daaraan om die polisie te bel en die mans binne te hou. Hulle is weer weg, en die boosdoener ook, sonder dat ons weet wie dit werklik was- blykbaar ‘n ou van Pretoria af, maar dis al wat ons weet.

So gebeur dit toe dat ek en die jongeling, wat eers niks wou weet van ‘n dokter nie, toe tog wel so 4vm hospitaal toe is. Twee steke het die stukkende plek op sy neus reggesien, maar sy neus is op twee plekke binne gebreek, sy oog is toegeslaan , hy het harsinskudding en dit lyk regtig of hy in die oorlog was.

Nouja, so word dit toe Saterdagaand en ek is stoksielsalig alleen  agter die bar. Dankie tog daar is min mense.

“Een double Southern Comfort met ys asb!'”

“‘n single Captain Morgan met coke asb!”

“Hoeveel skuld ek?”

My, kind ek het nie ‘n clue nie!” Hoeveel dink jy behoort dit te kos?”

So het ons die aand deurgedraf, en almal was baie gaaf. Ek het sekerlik hier en daar bietjie te min laat betaal vir party goed, maar so what!

Algaande leert men!

Posted in idioomstories, Los opdrifsels | 15 Kommentaar

Storietyd in blogland

Eendag, nie so lank gelede nie, was daar ‘n dogtertjie. Sy was sommer dikbek en kwaai: ”Ek wil ‘n storie he!” brom sy.

“Kom ek vertel jou van Rooikappie”, se haar ma.

“NEE! Ek willie van Rooikappie hori , ek ken haar al. Ek wil my EIE storie hoor!”

“Ek weet, Sneeuwitjie is ‘n baie mooi storie!” se haar pa.

“NEE!” se die dogtertjie! “Dis nie my EIE storie nie!” Sy wil sommer begin huil.

“Nou hoe klink jou eie storie dan , my kind?” vra haar ouma.

“Ek WEEEWTIEEE!’ huil die dogtertjie nou kliphard.

“Nou kom ouma help jou: Eendag was daar ‘n dogtertjie…..”

“Ja en die blogfeetjies het haar gesê om ‘n storie te skryf, anders gaan die trolle haar vang!” Die dogtertjie snik soos sy huil.

“Toemaar, my kind, is jy bang vir die trolle?”

 “JAAAA!” snik die dogtertjie. “Ek kannie ‘n storie opmaak nie!!!!

“Maar my kindjie, het jy dan nie vroeer  vanjaar ‘n feeverhaal vertel nie?”

 “HUH? Waarvan praat ouma dan nou?”

“Mmmm-  was dit nie die storie van die prins en die diensmeisie nie?”

“O-ja nou onthou ek. Dankie ouma!” Die dogtertjie vee haar traantjies af.

“Nou sal ek hulle wys, ouma, ek kan ook ‘n storie vertel. Ek gaan darie storie ping- of tag of link of so-iets! Ag ouma, help my gou-gou om dit reg te kry toeeee????

“Ai, tog my kind, ouma is nie goed met hierdie nuwe goeters nie. Vertel maar vir die feetjies. Ek is seker hulle sal jou help.”

 Die dogtertjie huil nie meer nie. Sy lag! Sy het ‘n storie!

Die dogtetjie vat haar potlood en skryf op die papier: “Die prins en die diensmeisie. ‘n Feeverhaal met julle eie einde. Toe vat sy haar kryt en kleur dit in. Sy voel nou baie beter. Die trolle kan nou niks meer aan haar doen nie. Sy is veilig! Maar sy dink so saggies by haarself:

“As al darie feetjies nie ok stories vertel nie, gaan ek sowaar die trolle soek en hulle vertel!””

Fluit-fluit, my storie is uit!

O ja, En as  die feetjies gelukkig is, het sy nog ‘n babastorietjie ook wat sy later sal vertel!

Posted in feeverhale en ander stories | 5 Kommentaar

12 bottels water, 5 engele, ens. (deel 2)

Ek het in die vorige skrywe vertel van my besonderse rit Kaap toe ( klik hier om deel 1 te lees), maar die storie se stertjie moet ek darem bysit, veral gedagtig aan een van die onlangse blogs waar Toortsie sê dat ‘n mens niemand op sy baadjie moet takseer nie.

Toe ek nou so daar staan en wag vir Brian-hulle om my stad toe te neem, merk die assistent, so ‘n jong lat met sy “overall” en oorringetjie en tattoo’s, my Jaegermeister-rugsakkie op en is dadelik geinteresseerd. Ek verduidelik dat ons die sakkies as promosie gekry het omdat ons mos die “nightspot” het. Hy vertel my dat hy ook baie sulke goed het. Hy het ‘n Jaegermeister baadjie en nog klomp goeters, want hy was mos ‘n bouncer- ‘n uitsmyter- by ‘n nagklub.

Ek en die twee manne ry Canal Walk toe. Ons ry met Assistent se motor, wat baie soos ‘n ‘toolbox’ van binne lyk. Tange. ysters en goeters, asook ‘n boek , moet eers opsy geskuif word om plek te maak vir my om te sit.

Assistent vertel my dat ek eintlik nie Canal Walk toe moet gaan nie- dis baie groot en duur. N1 City is ‘n beter opsie, die klere is daar baie goedkoper en so ook die flieks. Ek verduidelik dat my kind my daar gaan haal omdat dit naby haar blyplek is en ek kan sien hy voel bietjie spyt oor die dure Canal Walk.

Ek kan ‘n boek mos nie uitlos nie, en kyk gou watter dik boek dan nou in sy motor lê. Angus Bucham. Dit is dagstukkies, verduidelik hy. Hy lees elke oggend sy dagstukkie. Hy het oom Angus al persoonlik ontmoet en hy is mal oor hom. Hy was mos bouncer op die verhoog toe Angus op Nuweland opgetree het. Hy moes bv voorkom dat mense op die verhoog kom, ens. Hy was ook al tweekeer by die MIGHTY MEN konferensie in Natal.

Nou toe nou, jonge man! Jy verras en beïndruk my!

By Canal Walk vra hy wat ek heeldag gaan doen.”Wel heel eerste gaan ek erens ontbyt eet.”

“SPUR!” verklaar hy dadelik. Hulle het die goedkoopste en lekkerste ontbyte.

“En verder sal ek maar daar rondhang. Ek kan nie te veel loop met al my goeters-rugsak, handsak sambreel en jas -nie”.

“Trollie!” se hy dadelik. “Daar staan een- ons ry gou soontoe”. Hy parkeer netjies langs die trollie en laai my pakkasie in. “Nou kan tannie lekker rondloop!”

Nouja, wat sal ek sê? Almal, van die twee dierbare mans op die snelweg, die ou wat my gewaarsku het dat ek die prop nie opgedraai het nie, Brian wat my motor vir ‘n baie redelike prys herstel en sy ekonomiese , hulpvaardige en besondere assistent, is engele, sout van die aarde, die mense wat ‘n huppel in my stap gee en my dankbaar maak vir die wonderlikheid van die lewe.

Moet nooit-ooit iemand op sy baadjie takseer nie- hy is dalkies ‘n engel!

Posted in engele op my paaie, Los opdrifsels | 11 Kommentaar

12 bottels water, 5 engele op wiele en nog een daar erens bo. ( Deel 1)

Iemand het lank gelede eenkeer vir my ma gese dat sy nie oor my bekommerd hoef te wees nie. Ek het ‘n buitengewone goeie beskermengel en sy werk nog oortyd ook. Dat ek nie lank gelede al iets ernstigs oorgekom het nie, is vir almal ‘n wonderwerk.

So pak ons kar mos toe nou die dag op. (En asseblief, hierdie storie kan mens nie in korrekte Afrikaans vertel nie, ek sal my eie storie nie verstaan nie). Die karretjie begin toe mos skielik water gebruik en blaas dik rookbollings uit elke keer as ek ‘start’. Ag tog! Ek sal vir Brian moet bel.

Ons het ‘n Daewoo Tacuma en niemand hier op ons klein dorpie kan die ding diens of vir hom parte kry nie, dis altyd ‘n gepiekel Kaap toe (twee uur se ry of 200km van hier af). Daar het ek darem vir Brian opgespoor, ‘n man wat ‘n Daewoo “mecanic” is, en wat nou sy eie besigheid begin het by sy huis (‘n backyard mecanic?).

Die dag voordat ek Kaap toe ry, sien my man my wegtrek en verklaar dat ek onder geen omstandighede Kaap toe kan ry nie- die enjin is besig om te ‘seize’. Ek is brommerig- die kar ry vir my dooddollies en boonop het ek en die kinders( wat in die Kaap woon) klaar gereël dat ons die aand na ‘n toneelstuk gaan kyk. Maar toe ons weer die motor probeer aanskakel, wil hy nie’vat’ nie.

‘n Plaaslike garageman word genader. Dié verklaar dat dit die’starter’ is wat foutief is, ‘n Mens moet net die kar ‘kickstart’. Verder is die rook wat uitborrel as hy wel aanskakel, net stoom, nie rook nie, dis hoe die motor water gebruik, hy dink daar het ‘n ‘gasket’ geblaas. Die onheilspellende tok-tok as die kar ry, is ‘wheelbearings’- ons moet nuwes kry vir beide voorwiele. Hy dink dis doodveilig om Kaap toe te ry, ek moet net nie vinniger as 80 km per uur ry nie en ek moet teen afdraandes stop en ‘kickstart’ of die heeltyd die motor laat ‘idle’ as ek water ingooi, wat ek mos kort-kort moet doen.

Gewapen met ‘n krat vol een’-en- ‘n-halwe liter Coke bottels vol water ( ons het mos nie verniet’n nagklub- kroeg ding nie?) val ek vroeg die volgende more in die pad. Ons eie straatjie is perfek vir die ‘kickstart’.

By elke garage langs die pad stop ek vir ‘n water ‘topup’. Op Caledon vergeet ek om die motor te laat ‘idle’, maar die hele garage personeel is mos daar om my te stoot. Alles gaan baie voorspoedig tot in Somerset-Wes, met sy robotte en verkeer. Toe begin die Tacuma protesteer en word kort-kort warm- maar gelukkig is daar ook kort- kort ‘n garage – tot ek op die R300 kom.

Daar ry die motors soos by die inryteater, en ek sien ek gaan dit nie maak nie. Die afdraandes is ook dun gesaai. Dan maar op die geelstreep staan en idle en hoop die enjin vrek nie. Ek maak die bonnet behendig oop (is mos al geoefen met hierdie motor), maar kry nie die dekselse stywe en warm waterdekseltjie oop nie, het skoon vergeet om ‘n lap ook in te pak.

Toe ek weer sien, is daar so ‘n krokkerige blou karretjie voor my. Twee kleurlingmans spring uit. Nee, lyk my nie hulle wil my beroof nie, hulle is ewe simpatiek , gaan grawe gou ‘n ou lap uit hulle motortjie, beveel my om eenkant toe te staan vir ingeval die stoom ‘skiet’ en gooi vir my water in. Hulle is heel beïndruk met my 12 bottel krat in die’ boot’. Die hoofspreker verduidelik my mooi dat hy nou die waterprop baie liggies toegedraai het sodat ek dit sommer maklik self kan oopdraai, en wys my ook daarop dat daar ‘n ongeluk of iets op die R300 moes gebeur het, en dat hulle maar nou by die volgende afrit gaan afdraai. Ek verduidelik weer dat ek nie kan nie, want anders sal ek nooit op die N1 kom, waar ek mos moet wees nie.

Ek sien ook hoe hulle afdraai en nie lank daarna nie, moet ek weer stop. Toe ek die ‘bonnet’ oopmaak, kom daar weer 2 mans aangestap – maar dis mos dieselfde twee! ” Het Merrim dan nie gesien nie? Ons ry nog die heeltyd agter Merrim aan!”

Ek het hulle tog met my eie oë sien afdraai?

“Ja, maar ek sê toe vir hom, ons kattie die merrim net soe lossie, die merrim is dan alleen ok en als. Ons sil moet help!” Nog 4 keer het ons op daardie R300 gestop, want daar WAS toe ‘n ongeluk, die verkeer was ongelooflik stadig en my tjorrie baie halstarrig. Een keer het die een ou glad met hulle eie 4 liter kan deur die bossies gedraf na die laekostebehuising daar naby, om nog water te gaan haal, om my 12 bottels bietjie uit te spaar.

Uiteindelik het hulle beduie dat hulle by die Ou Paarlweg moes afry, maar dat die N1 die volgende afrit is en dat hulle my sterkte toewens- en die proppie net liggies opgedraai het vir die oopmaakslag. Ek stop ‘n ontoereikende geldjie in hulle hande. Ons groet soos ou vriende.

Op die N1 moes ek ook 2x aftrek om al “idle – idle” water in te gooi, en nadat ek van die snelweg af is, nog eenkeer. Hier was darem ‘n tipe parkeer-inhammetjie. Net na ek die ‘bonnet’ toegeklap het, verskyn daar skielik ‘n man langs my: ” Mevrou, ek het nou net gesien jy het vergeet op weer jou waterprop op te draai!” Ek maak weer oop en sowaar, daar lê die prop nog op die battery waar ek hom neergesit het. “Ag, dankie tog, meneer!”

By Brian-mecanic se huis, maak my motor snaakse geluide. Brian en sy assistent bekyk die enjin sommer daar op die sypaadjie- hulle dink die ‘topgasket’ het geblaas. Hulle trek die motor die erf in en NET DAAR sê my karretjie “poef!” en vrek.

“Ek dink jou enjin het sopas gegaan” sê Brian. Hoe bedoel hy?

“Gegaan, gekalf, finaal gevrek en oor die muur. Kapoet.” Hy, sowel as sy assistent, ‘n jong lat van in die 20, stem albei saam dat dit die ‘conrod’ is wat nou gebreek het.

Conrod? Ek het nog nooit daarvan gehoor nie, maar dat dit ernstig is, is seker. Altwee ouens vertel my dat ek BAIE-BAIE gelukkig is dat ek die Kaap gehaal het. Hulle kan eintlik nie glo dat die motor dit tot daar gemaak het nie. Hulle glo egter hulle sal iets met die enjin kan regkry.

Die starter is nie ‘n probleem nie. ‘n Mens moet net ‘n ……..( het nou die naam vergeet) kry. Hulle bekyk ook gou die voorwiele vir die ‘wheelbearings’- Oh my word! Die linkervoorwiel het ‘n”bubble” in. Die regter voorwiel het ‘n yslike skroef in! Hulle skud hulle koppe in ongeloof. Ek is ‘bleddie’ lucky!

Dit was ‘n buitengewone en avontuurlike rit waarin die goedheid van die mensdom geseëvier het; ‘n rit wat ek jare lank sal onthou; ‘n rit waar die Here my waarlikwaar wonderlik beskerm het; ,”the stuff dreams are made of “.

Miskien was daardie tannie van jare gelede reg, toe sy so met my ma gesels het.

(Kliek hier vir vervolg)

Posted in engele op my paaie, Los opdrifsels | 13 Kommentaar

Krater- of nie? Macaroni jou doring!

Paleishuis, my klein tuisbesigheidjie, is ‘n raamplek en kunsgalerytjie. Vroeer jare het ek hom woes bemark.

My man het by ‘n firma gewerk wat soms uitgelese oorsese kliente gehad het. So kom daar een aand, so 6.30nm twee baie belangrike Duitsers- die hoofde van die hele Duitse ekspedisie- aan: Hulle kom soek skilderytjies ter aandenking aan hulle besoek in SA.

Nou kyk, my 3 kinders was klein, en die macaroni en kaas wat ek vir aandete gemaak het, was pas in die oond, maar business is business!  My man kom ook by en omdat hulle mekaar ken, word daar ‘n hond uit ‘n bos gesels. Macaroni neem 20 minute, en toe die tyd om is, nooi ek hulle maar om saam te eet.

Nee dankie, hulle wil nie, hulle eet nooit aandete nie. Maar hulle bly gesels in hulle geradbraakte Engels en my nog swakker Duits. Na nog so 10 minute beduie ek vir my oudste dogtertjie om versigtig die kos uit die oond te haal en solank aan te gaan en te eet. Die Duitsers gesels. Ek herhaal die uitnodiging- nee dankie, hulle is regtig nie honger nie.

So half tien daardie aand sê die manne skielik: Hulle dink hulle sal nou my aanbod aanvaar. Aandete sal heerlik wees.

Toe het ek net so ‘n halfgeëete, koue macaroni, waarvan die meeste kaaskors bolaag afgeëet is! Hulle moes dit maar so vat.  Ek het gelukkig ‘n bietjie ertjies gehad wat ek gou kon bymaak as troos. 

 Ons het om daardie tafel gesit met die halfgeëte koue macaroni in die middel en ‘n bottel wyn, en lang stukke gesels tot so 12nm. Ek was baie skaam oor die kos, maar die Duitsers het my verseker dat dit een van hulle lekkerste aande nog in SA was.

 Nou toe nou!

Posted in kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels | 6 Kommentaar