Ouma se bababoek. Brief 13 Jou baba en die ongelooflike waarde van musiek

Liewe Kinders

Ai, waar is die dae toe julle gedans het op Enkeling se musiek? Julle was kleuters en het presies gedoen het wat die liedjie gesê het: rug gedraai, onderstebo, ens. Annika, jy kon skaars alleen sit, toe wieg jy al op en af as jy musiek hoor.

Ja , positief of negatief, maar geen mens bly onaangeraak deur die aanhoor van musiek nie- dit beïnvloed selfs jou harttempo! Net so beïnvloed dit ook julle babatjies. Babatjies van slegs 4 dae oud word bv rustiger as hule liedjies hoor wat die mamma in haar moedertaal sing, in  teenstelling met liedjies wat sy in ‘n ander taal sing, of liedjies wat deur iemand anders gesing word. Sing dus, mammas!

Volgens veskeie opvoeders en arbeidsterapeute is dit noodsaaklik dat julle babas ELKE dag na musiek luister, maar ook dat die tipe musiek baie belangrik is, verkieslik rustige klassieke musiek en babaliedjies.Elke subtiele aspek van klank dra by tot die baba se gehoorontwikkeling, wat so belangrik is vir taalontwikkeling, konsentrasie en leervaardighede.

Musiek het die volgende belangrike voordele:

MUSIEK MAAK SLIM! Geheue en taalontwikkeling word gestimuleer met liedjies, maar motoriese ontwikkeling, wiskundige vermoëns en leesvaardighede word ook ontwikkel. Daar is op hierdie gebied ‘n duidelike voorsprong by kinders wat van jongsaf aan musiek blootgestel is.

Net soos ander sensoriese ontwikkeling, help en versterk musiek, veral klassieke musiek, die formasie van dentriete in die brein.  Dit bevorder dus breinontwikkeling. Klassieke musiek het ‘n vaste struktuur en die brein hou van hierdie orde en patrone. Ons weet nou al almal dat sagte barokmusiek bevorderlik is vir leer, omdat dit die breingolwe in die alpha ritme bring, waar die brein optimaal funksioneer. Daar is ook bevind dat babas die meeste van Mozart  en Bach se musiek hou, maar minder van Beethoven.

Musiek bevorder ook liggaamsbeeld aangesien die natuurlikie reaksie is om te beweeg op maat van musiek. Babas reageer eerste op die ritme van musiek. Goeie ritme is belangrik vir die aanleer van vaardighede soos loop, hardloop, praat, knip, en selfs bal speel. En as hulle eendag groot is, kan hulle dans!

Taal en musiek stimuleer die intellektuele en emosionele ontwikkeling van die brein,  omdat dit ‘n baie effektiewe manier is om eenvoudige denkpatrone te ontwikkel en om te skakel in meer komplekse patrone.  Daarom is die sing van liedjies so belangrik.

Sekere vorme van musiek verlaag vlakke van die streshormone soos kortisol, en laat die goedvoelhormone, die endorfiene meer vrystel. Daarom word musiekterapie vandag gebruik om pyn te verminder. Musiek kan selfs bloeddruk verlaag. As jul babatjies siek voel. speel vir hulle musiek!

Musiek stimuleer verbeelding, goeie selfbeeld, kreatiwiteit, neem ons op verbeeldingreise, laat ons beter voel, laat ons huil, laat ons voel dat ons behoort( as almal saam sing of dans), gee nuwe energie en laat ons vergeet van moegheid( bv soldate wat marseer op maat van musiek), laat ons beweeg, laat ons dans en oor die wolke vlieg van genot!

Nou watter soort musiek is die beste vir babatjies?

Eerstens is klassieke musiek baie belangrik-ja, Babas hou van klassieke musiek! Ek sal nooit vergeet hoe ons gratis kaartjie na ‘n konsert gekry het nie. Dit was die finale rondte in ‘n musiekkompetisie.. Daar sit ons toe in die tweede ry van voor af. Jy was skaars 2, Annika, en jy was maar 4 jaar oud ,Leanie. Ons dag ons gaan vrolike Afrikaanse liedjies hoor, dis tog immers ‘n ATKV kompetisie, maar toe ek die program bekyk,skrik ek. Dis hoogs klassiek!, oa ‘n orreluitvoering van ‘n Bach stuk, ‘n violis wat Creisler speel, ‘n Opera aria en natuurlik ‘n hoogs ingewikkelde klavieruitvoering.

Gou -gou “coach” ek julle. Julle moet asseblief doodstil sit en glad nie praat nie, anders gaan die kunstenaars deurmekaar raak en foutjies maak. My hart is egter in my skoene. Maar wonder bo wonder sit julle soos droommodelletjies en in vervoering! Julle hou van die konsert! Julle hou van die tannie met die lae rok se liedjie, die oom speel mooi klavier en die orrel daar bo is wonderlik!

Moenie julle kinders onderskat, soos ek daardie aand gedoen het nie! KINDER HOU VAN KLASSIEKE MUSIEK!

Mozart se simfonie nr 40 is blykbaar bo aan die lys. Verder is Eine kleine nachtmusiek van Mozart ook ‘n goeie keuse.

Marga Grey beveel die volgende aan:

JS Bach: Air on a G String, Concerto for two violins in D minor, ens.

Beethoven: Maanlig sonata, simfonie nr 5 in C mineur

Handel: Watermusiek, Die Messias

Shubert: Simfonie nr 8 in B mineur.

Vivaldi: die vier seisoene. Speel die musiek gereeld, sodat die babas later die wysies ken.

Dan is slaapliedjies en ander babaliedjies balie belangrik om hom rustig te maak en taal te stimuleer, veral liedjies wat ‘n herhalende patroon het. Hier is ons familie se eie slaapliedjie, waarvan julle almal baie gehou het!Koormusiek is ook ‘n  goeie keuse.

Volgens kenners moet babas ELKE dag  aan musiek blootgestel word. Gooi dus julle inhibisies by die deur uit, klap hande, stamp voete,wieg, spring, dans en sing op maat van die musiek saam met jou babatjies, Leanie, hulle sal mal wees daaroor en jy ook!

Sodra hulle kan, kan hulle saam musiek maak deur ratels te swaai lepels teen potte te kap, hande te klap ens.

Moet kinders leer om ‘n instrument te bespeel? JA, ja en ja. Om ‘n musiekinstrument te bespeel, is een van die min aktiwiteite wat albei hemisfere van die brein gelyktydig betrek- die linkerbrein by die notelees, en die regterbrein by die vertolking van die musiek, daarom is dit belangrik vir ‘n kind se intellektuele sowel as kulturele ontwikkeling. Dit gee hom ‘n voorsprong op baie gebiede vir die res van sy lewe. Ek beskou dit net so belangrik soos om te leer lees en teken. Dis jammer dis nie verpligtend op laerskool nie.

Dis egter belangrik dat die regte instrument gekies word.( en die regte musiekjuffrou!) Nie almal wil blokfluit speel nie!  Persoonlik dink ek kitaar of viool is wonderlike instrumente omdat ‘n mens dit so maklik kan saamneem oral waar jy gaan. Kitaar het die verdere voordeel dat mense maklik so begelei kan word. Klavier  is natuurlik pragtig- die ultimate instrument wat geen begeleiding nodig het nie, en ‘n elektroniese klavier is fantasties en ook meer vervoerbaar. Moet ook nie die saxaphone vergeet nie!

Moet seuntjies ook musiek neem? Natuurlik! Die meisies hou mos van ‘n ou wat hulle kan serenade! En bekommerde pappas, ek wil tog net hier noem dat die hoogsbetaalde mense in Engeland albei musiekante is: Paul McCartney van die Beatles en Andrew Lloyd Webber- albei mans. Dan dink ek ook nou sommer aan daardie weird ou, Freddy Mercury. Sekerlik nie ‘n ouer se idee van ‘n ideale seun nie. Maar Freddie se ouers kan vandag so trots op hom wees. Eendag as ons almal onder die grond lê, gaan die mense nog  steeds Klein Freddie se wonderlike talent geniet en waardeer, nes mense steeds vandag nog Mozart, Bach, Beethoven en die Beatles geniet.( En het julle opgelet? Hulle was almal mans!!!)

Nouja:” Don’t worry if its good enough for anyone else to hear, just sing- sing a song!”

Nou gaan hierdie ouma gou- gou af nagklub toe waar die jongklomp hip-hop luister en as ek terugkom is die meesleurende klanke van Edid Piaf se liedjies in my motor…..

Soete drome

Ma en trotse ouma.

Ns, ek het darem bietjie opgelees ook, hoor! Die LIG, September 2011 het ‘n oulike artikel, geskryf deur Susan Goosen,  en nou die dag het ek die wonderlike boek, Sensible Stimulation van arbeidsterapeut Marga Grey ontdek. Dis geskryf in 2009 en ek wens elke ouer kan dit lees.

Lekker slaap. Mamma

om die volgende brief te lees, klik hier.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in ouma se bababoek ( ouerleiding) and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.

4 Responses to Ouma se bababoek. Brief 13 Jou baba en die ongelooflike waarde van musiek

  1. MaanKind sê:

    Ek het Shani Grové se boek oor die onderwerp vreeslik geniet! En natuurlik haar tapes met Largo musiek, wat ek sommer nou gaan opsit…

    • seegogga sê:

      Ja, Shani is ‘n groot voorstander van studeer met barokmusiek en my oudste dogter het ook destyds met haar bandjies geleer. Ek het egter eers onlangs geleer hoe ongelooflik groot die fisiese invloed musiek werklik op die brein en die liggaam is. Veel groter as wat ons besef!

  2. toortsie sê:

    Ek het musiek geneem toe ek my meisiekind verwag het…. en nou is sy op pad na die Conserve… Maar nou ja, ons sing en speel en dans van babadae af, hoe kan dit dan ook anders? Sy was 2 toe gaan kyk ons Holiday on Ice. By die tweede liedjie het haar lyfie begin saambeweeg, sommer daar in die stoel. Die niggie langsaan het toe al begin vra wanneer dit dan klaar is dat ons kan huistoe gaan. So verskil kinders.
    Maar wat jy hierbo skryf – mag ‘n mens 200% saamstem???

  3. Terug pieng: Ouma se bababoek. brief 12: Taalontwikkeling en Stimulasie | Seegogga se Bloggie

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s