Ag nee-wat! Die lewe is deesdae heeltemal te ernstig! Dit tyd vir ‘n kraterstorie!
In my jong dae het ons taalonderwyseresse mos nog NAGESIEN: Duisende boeke-taalwerkboeke, opstelboeke, voorgeskrewe vrae-boeke, toetsboeke,…….
So stap hierdie jong juffroutjie met haar wit minirokkie eendag na haar klas toe met 3 stelle boeke(lees 90+boeke) in haar arms.
My klas was in een van die skool se”prefab” klasse. Voor die klasse was so ‘n sementpaadjie, twee trappies en weer sementpaadjie. My klas was die tweede een na die trappies.
Ek beur om bo-oor die boeke te sien, maar alles gaan baie goed, tot by die laaste trappie. Ja, natuurlik haak my hoëhakskoentjie daar vas en ek slaat daar neer dat jy net sien boeke spat!
Dit was nogal seer om so op my maag op die sement te skuif en toe ek verdwaas opkyk om te sien waar ek nou eintlik is, tref dit my: ek lê skuins voor die deur van die eerste klas sodat al die matrieks daar my mooi kan sien- en almal se oë is ook in stilte stip op my gerig- maar sodat die onderwyser my nie kan sien nie.
Dit was erg en ek het dadelik besef hoe snaaks dit moes gelyk het!
Dit sou gaaf gewees het as ek net kon opspring en wegkom, maar ongelukkig was daar so 90 boeke wat die wereld volgelê het en wat ek eers moes optel.
Ek het opgespring en begin optel en die heeltyd het daardie kinders nie ‘n woord gehoor wat hulle onnie gesê het nie. Toe die laaste boek opgetel is en ek ( ego en knieë aan flarde) daar wegstap, hoor ek dit: hoe die hele matriekklas bulderend uitbars van die lag!
Nagedagte: Nouja, as iets snaaks is, is dit snaaks en ek het in my stilligheid ook gelag. Maar dat nie eers een van daardie kinders opgestaan het en aangebied het om te help om al die boeke op te tel nie, het my nogal laat wonder oor baie goeters.
Haai shamepies, wat ‘n storie! Ja, dis die eerste gedagte by my gewees – dat die kinders jou sou kom help het. Ek sou wou as ek in daai klas was. Dalk was hulle te bang vir die onnie? 😉
Sjoe! Jy’s vinnig! Ek het nounet gepubliseer! Neewat dit was nie ‘n kwaai onnie nie, sover ek weet nie- ek dink net niemand het daaraan gedink om my te help nie. En kom ons vat dit uit ‘n kind se perspektief: watter interessante afleiding in ‘n vervelige periode!
Oeps! Gits, het jy my nou hoor lag???? Toemaar, so bly ons nederig. Ek bly dink aan jou wat vandag by die wenpaal vir my gewag het. Jy is kosbaar!! 🙂
Terug pieng: idioomspeletjie | Seegogga se Bloggie