Moenie dat jou akademie inmeng met jou sosiaal nie!!!

“Moenie dat jou akademie inmeng met jou sosiaal nie!” So het ons as studente dikwels vir mekaar gesê, gewoonlik as daar iets lekkers op die spel was, bv lentedag in die middel van ‘n toetsreeks, of ‘n uitnodiging na ‘n lekker partytjie net voor ‘n groot taak.

En so het ek en my goeie vriendin, Rina, eendag heerlik lentedag gevier, maar toe ons die aand laat begin swot vir die toets, besef ons dat ons nooit al 8 hoofstukke sal kan leer nie.

Toe leer ons net een.

Die oggend in die klas kry ons byna ‘n senu-ineenstorting toe die lektor ‘n ander hoofstuk se tema eerste noem- maar gelukkig gee hy toe ‘n keuse tussen twee vrae- en ons hoofstuk was die tweede keuse!

Toe kry ons die hoogste punte in die klas.

Nouja, nie iets wat ek my kinders ooit aangeraai het om te doen nie- om te spot nie, maar as die nood druk……

Wat ek wel vir hulle baie goed geleer het, was die gesegde hierbo- moenie dat jou akademie inmeng met jou sosiaal nie- bedoelende: handhaaf ‘n balans tussen werk en speel. Jy KAN albei doen as jy net reg beplan. Ons wyse en baie besonderse meneer Pellissier het destyds op Sasolburg vir ons dieselfde geleer, net in ander woorde. Sasol was ‘n atletiek- en sportskool en hy het tereg vas geglo en verkondig dat kinders wat sport en ander aktiwiteite ook doen, ook beter vaar akademies, omdat hulle balans het.

Met my koördinasievermoëns was ek nou geen aanwins vir ‘n sportskool nie, maar ek het geen partytjie gemis nie en steeds baie goed gevaar akademies! Hierdie balans het ek van jongsaf vir my kinders geleer – en ook dat hulle verantwoordelik was vir hulle eie prestasies. Ek het mos klaar skoolgegaan, dit was nou hulle wat moes leer.

Na standerd een het ek hulle nooit meer aangepraat om te leer nie. Hulle kon vir my kom vra as hulle iets nie verstaan nie, of as hulle wil he ek moet hulle werkies vir hulle vra, maar ek het nooit vir hulle vaste studietye gegee of hulle skoolwerk saam met hulle gedoen nie. Dit was hulle eie verantwoordelikheid. (Die duiwel was egter los as hulle swak punte huis toe gebring het en dit geblyk het dat hulle nie die werk geken het nie! Maar dit het gewoonlik net so eenkeer gebeur en dan het hulle geweet wat hulle verantwoordelikheide is!) Beplan dus jou tyd en jy kan al die lekker dinge ook doen – selfs konsert toe gaan in ‘n eksamen.

Ek het my altyd verstom as ek hoor hoe die ma’s praat.:” Jy weet, ek is mos nou in graad 5.” Waarvan praat die vrou? Dan besef ek dat sy van haar kind se skooleksamen praat. En nie lank gelede nie, hoor ek ‘n ouer sê dat hy nie die aand na ‘n funksie kan gaan nie, want sy kinders skryf eksamen. “watter standerd is hulle?” vra ek ewe simpatiek.

“Graad 12 en graad 10″.Wat??? Hierdie ouer het nie geglo dat haar tiener-kinders alleen by die huis kan bly en studeer nie, iemand moes kyk dat hulle dit doen. Wat sal van daardie kindertjies word, ‘n jaar later op universiteit? Wie gaan vir hulle met die lepel voer?

So het my oudste 8 vakke in st 9 geneem, en haar byna doodgewerk. Ek het gemaan dat sy moes afskaal. Toe twee ander ouers gesels, vertel die een dat sy haar seun aangesê het om tog vas te byt en hard te swot- matriek is naby. Die ander het beaam en genoem watter beperkings haar kind nou opgelê is. Dit was my beurt om iets te sê:”O, ek sê weer vir my kind dat sy nie moet toelaat dat haar akademie inmeng met haar sosiaal nie,” sê ek tot almal se skok en afgryse.

Maar daardie kindjie van my, wat maar redelik gemiddeld op skool presteer het, het op universiteit in haar BSc kurses die een onderskeiding na die ander gekry en elke oomblik van haar varsitydae baie geniet. Sy het ook baie goed presteer in haar beroep, tot sy nou voltyds tweelingma geword het. So ook het my ander twee kinders gedoen. Hulle is hardwerkend, pligsgetrou en het verantwoordelikheid – eintlik van kleinsaf al.

My jongste het egter tog wel eendag ‘n toetsie gedop: sy wou graag studenteraadgewer word, dws ‘n senior student wat ‘n paar eerstejaars moet touwys maak oor die universiteit- en koshuislewe, hoe om te studeer ens. en moes gaan vir ‘n onderhoud. Hulle vra haar allerlei vragies en sy antwoord alles mooi, totdat hulle haar vra:” en sê vir ons wat dink jy van die akademie?”

My jongste, effens impulsiewe, sê die eerste ding wat in haar kop kom:” Ek glo ‘n mens moet nie toelaat dat jou akademie inmeng met jou sosiaal nie.”

Na sy hulle gesigsuitdrukkings gesien het, het sy probeer verduidelik, maar dit was te laat. Sy is nie gekies nie. Die volgende jaar is sy darem tog wel gekies, en was ‘n baie goeie raadgewer.

Nou hoekom hierdie skrywe? Wel ek sluit mos aan by Toortsie se blog- en iets waaroor ek nogal sterk voel! En met hierdie gedagte: sterkte aan almal wat eersdaags eksamens moet skryf!

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in idioomstories, Los opdrifsels. Bookmark the permalink.

5 Responses to Moenie dat jou akademie inmeng met jou sosiaal nie!!!

  1. Toortsie sê:

    Dank Vader! Ek het matriek reeds in 1980 geskryf. Ek het ook tot die verbasing van baie, gesê dat ek verkies dat my matriekkind eerder die vakansietjie rus. Geen mens kan 3 weke aanmekaar eks skryf, nog 2 weke voluit leer, net om dadelik daarna weer 4 weke skryf nie. Sou daar tog goed wees waaraan sy aandag moes gee, kan sy. Maar n goeie rus voor die groot eks kan net goed wees. Dis my mening. Ek het dit ook met die seuns toegepas. Jy het pragtige kinders.

    • seegogga sê:

      Ek stem saam met jou. Se tog vir haar dat sy die dag voor haar wiskunde eksamens dieselfde moet doen- rus. Sy sal die volgende dag as die oplossings sommer maklik regkry! Dieselfde as sy moet kreatiewe skryfwerk lewer- as hulle ooit nog opstelle en briewe in die eksamen moet doen.. Maar jy het net sulke pragtige kinders, so iewers doen jy iets reg!

  2. MaanKind sê:

    EK het eenmaal in my tweedejaar gespot vir ‘n eksamen, die Anatomie vraestel is gesteel, hulle het ‘n onredelike vraag gevra, ek het raak gespot, 93% gekry, en is beskuldig dat ek afgeskryf het. Niemand ander kon die vraag antwoord nie.

  3. seegogga sê:

    ASi tog, ek glo jou! Ek hoop hulle het jou darem ook geglo.

  4. Terug pieng: ouma se bababoek. Brief 14: Positiewe dissipline | Seegogga se Bloggie

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s