Liewe Kinders
Ag, dit was so lekker om die tweelingetjie hier te hê. Hulle is mos nou 7 maande oud en die vriendelikheid vanself! Opvallend was dit veral hoe die een outjie heeltyd gekyk het wat mense se reaksie is! Toe daar ‘n vreemde tannie in die vertrek inkom, het hy haar omtrent probeer “charm” en het haar stip dopgehou en vreeslik opgewonde sy armpies geswaai en gelag- en baie mooi gekyk wat haar reaksie is!
Dit het my weer laat besef hoe ‘n ongelooflike groot taak ouers het. Daardie klein babatjie van jou hou jou STIP dop, of jy dit nou agterkom of nie, en hy vorm sy gedrag STIP volgens jou optrede! Ja, kindertjies leer deur nabootsing! Terwyl ek en ‘n vriendin gesels, het ek eenkeer gesien hoe haar dogtertjie presies soos haar ma gaan staan-een voet voor die ander en op die mat, en die ander voet op die vloer en een hand op die heup. Sy moes haar mooi posisioneer om dit reg te kry, daarom was dit opvallend. Toe die mamma van posisie verander, verander die dogtertjie ook – weer net soos die mamma!
Ons is die rolmodelle vir ons kinders, dus moet ons die regte voorbeeld stel- in woord, daad, taal, gesigsuitdrukkings, humeur, optrede teenoor ander, geloof, sedes, waardes, net mooi alles waaraan jy kan dink.
Die moeilikheid is natuurlik dat nie een van ons perfek is nie! Maar ons moet probeer om te wees. Daarom is daar seker in elkeen van ons se verlede goed wat ons onthou van ons ouers, waar ons ouers dalk nie volgens ons heeltemal reg opgetree het nie, of ons verkeerd behandel het. Ouers is net mense! Die belangrike ding is dat ons as ouer ons bes moet doen om wel die regte voorbeeld te stel, ons kinders op ‘n liefdevolle manier groot te maak en te lei.
Gelukkig het die Sielkunde al intussen verder onwikkel as in my eie ouers se tyd en weet ons nou al dat positiewe dissipline beter is as afkrakende kommentaar of straf en dat ‘n mens optree volgens dit wat hy glo. Toe ek klein was, en veral toe my oupas en oumas klein was, het ouers en onderwysers nog nie hierdie kennis gehad nie en sommer gou vir ‘n kind vertel hoe stout hy is, hoe ‘n niksnuts of hoe onnosel! Vandag is dit ‘n ander storie!
Intussen het die sielkundiges uitgevind dat ‘n mens optree volgens dit wat jy van jouself glo. Dis byna ongelooflik waar- selfs ‘n mate dat mense soms volgens hulle vanne optree! Vergelyk GaryPlayer( golf), Mrs Lockwood, wat op Bredasdorp destyds ‘n winkeltjie gehad het met alles wat mooi is- van juwele tot fyn porselein. Zoe Hamburger was ( wait for it) die PRO van McDonalds in New York en Summer Rayne Oakes was in 2009 ‘n omgewingsbewaarder van Brooklyn wat toe bosbou in Mosambiek gaan doen het. Daar is baie sulke gevalle. Dink maar aan al die Goldmans en Goldsmiths was juweliers geword het.
Dit beteken ook dat ons baie versigtig moet wees wat ons vir ons kinders sê, selfs al is hulle nog baie klein! Navorsing het nou reeds bewys dat babas hulle moedertaal verstaan, selfs kort na geboorte.
Ons weet almal al van die eksperiment waar jy heeldag vir iemand vertel hy lyk bleek en siek. Aan die einde van die dag,voel die ou regtig siek! ‘n Mens noem dit suggestie. Daar was ook die eksperiment waar hulle ‘n klomp mansstudente gevra het om vir ‘n jaar lank aan ‘n gewone vaal meisietjie aandag te gee en haar te behandel asof sy ‘n aantreklike gewilde skoonheid is. Aan die einde van daardie jaar WAS sy pragtig en gewild in eie reg. Haar gesig het nie verander nie, maar sy het nou so opgetree en aangetrek asof sy gewild en mooi was, en dit het gewerk – omdat sy dit geglo het!
Behandel dus julle kinders asof hulle mooi en soet en oulik is. Vertel hulle hoe soet hulle is as hulle iets goeds doen. Moet nooit vir hulle sê hulle is stout nie! Se liewer vir hulle daardie verkeerde ding wat hulle gedoen het, het jou teleurgestel en dit pas nie by ‘n soet kindjie soos hulle nie, en verduidelik hoekom dit nie reg is nie.
Moenie vir hulle se”Pasop jy gaan mors!” nie, maar sê liewer: “skuif jou glas ‘n bietjie verder weg, of hou jou glas met altwee hande vas….”, “Kyk mooi waar die trappies is”, “wees versigtig”, “hou hier vas” ens…. in plaas van “Jy gaan val!” Leer hulle om boudjies eerste van stoele , beddens en trappe af te klim, in plaas daarvan om hulle te laat glo hulle gaan val. Kinders kan klein goed doen as hulle net geleer word hoe.
Glo my, as jy vir ‘n kind se hy gaan mors of val, GAAN hy mors of val , want hy glo jou. En dan gaan jy agterna weer sê: Ek het jou mos gesê!” Dan voel die kind weer hy KAN dit nie reg doen nie.’n Bose kringloop! ( Oumas en oupas is nogal geneig om klein kindertjie te oorbeskerm, in plaas daarvan om vir die kindertjies met die regte leiding tog ‘n bietjie te laat waag.)
Klein kindertjies wil oral ondersoek instel en aan alles vat. In plaas daarvan om vir alles nee te sê, of op die handjies te klap, soos sommige mense jou sal vertel, verwyder liewer die verbode voorwerp ( of die baba!)en gee iets waarmee hulle wel kan speel. Aandagafleiding is ‘n belangrike en positiewe manier om babatjies en klein kindertjies liefdevol te dissiplineer sonder dat hulle dit eers agterkom.
Dis ook belangrik om waak teen naamgewing -“labeling.” Met die tweelingetjie het ek self agtergekom dat ek wil sê dat die een die outjie is met die plannetjies en dat die ander die sagte skaam enetjie is , of dat die enetjie kwaai is as hy huil. Dis verkeerd! Hy word geleer om kwaai te wees of skaam te wees of wat ookal ‘n mens geneig is om voor die kind te sê!
As ‘n mens dan nie iets positiefs sê nie, bly liewer stil! So glo een van julle tot my spyt steeds vandag dat jy vet is, en spyte daarvan dan almal vir my vertel hoe pragtig jy is. Dis is omdat jy as babatjie sulke vet wangetjies gehad het en almal( ja ook ek) altyd daaroor gesels en opmerkings gemaak het. Ai tog, so onskuldig, maar dit bly jou lewe by jou by.
Verder voel ek dit is belangrik dat die kind die gevolge van sy dade besef. Klein kindertjies moet dit liefdevol geleer word dat hulle ook verantwoordelikhede het. Die P.E.T. ( Parent effectiveness training) in Afrikaans die D.O.L. ( Doeltreffende ouerskapleiding) metode van Dr, Thomas Gorden kom oa. daarop neer dat jy met elke aksie vir jouself afvra: Wie se verantwoordlikheid is dit? Bv Wie se verantwoordelikheid is dit om te sorg dat die kind genoeg kos het om te eet? Wie se verantwoordelikheid is dit om skoolwerk te doen of eksamen te skryf? Ons as ouers is geneig om die verantwoordelikheid op onsself te neem vir alles, maar die kind het ook sy eie verantwoordelikheid( wat pas by sy ouderdom.) Hulle voer dit baie ver, en in ons Afrikaanse stelsel sal ons dit dalk nie alles so doen nie, maar dit is tog baie goed om te weet dat die kind verantwoordelik is vir sy eie welsyn. Laat hom bv van kleinsaf toe om te kies wat hy wil aantrek, deur vir hom twee of meer moontlikhede te gee om uit te kies. Geleidelik kan hy meer verantwoordelikhede gegee word. As hy nie sy verantwoordelikheid nakom nie, wys hom deur middel van “ek”boodskappe die gevolge van sy dade. bv “Ek voel ongelukkig omdat jy nie jou speelgoed opgetel het nie, want ek het nou amper baie seer geval omdat jou speelgoed in die pad lê.”
Jy as ouer is ook nie verantwoordelik om bv kennis in sy kop in te prop voor ‘n toets nie, hy is self daarvoor verantwoordelik en as hy swak doen omdat hy nie geleer het nie, moet hy die gevolge dra. Dis nie jy wat moet deurkom nie, dis hy en dis ook sy eie verantwoordelikheid. Lees ook hier en hier. Dit is verbasend hoe gou kinders besef dat hulle verantwoordelike wesens het en dat elke aksie ‘n gelyke teenreaksie het.
Dit is ook baie belanrik om werklik te luister na wat jou klein kindjie sê,( soms terwyl hy speel en met homself praat, ook -hulle het mos ‘n manier om goedjies wat hulle pla uit te speel en as jy as ouer bedag is daarop. sal jy gou agterkom as daar iets is waaroor jy meer moet uitvind.)
As die kind besef dat sy stem ook tel en dat jy met ‘n oop gemoed luister na wat hy sê, leer hy dat hy ook ‘n eie mening mag hê.( Dit is nogal belangrik by die voorkoming van kindermolestering. Hy hoef nie te glo dat hy alles moet doen wat die grootmense vir hom beveel nie, hy kan dit maar eers met sy ouers bespreek.) Hy leer dat hy as individu ook tel.
Ouers kan hierdie gevoel versterk deur aktiewe luister. Hier word die kind se gevoelens gereflekteer en dus gerespekteer. Bv: ” mamma sien jy is nou ongelukkig en wil nie meer in die motor stilsit nie, maar ons kan mos nie hier op die pad stop en uitklim nie. ons moet nog ‘n bietjie ry tot ons by die huis is.” Ek sien jy wil baie graag die speelding hê en is nou baie ongelukkig. Ons kan dit ongelukkig nie nou koop nie. Toemaar, jy sal gou gou beter voel. Kom help mamma gou om die waspoeier te soek.” Ha, ek weet nie of hierdie een so goed gaan werk nie, maar beweeg gou weg van daardie speelding af! As hy ‘n vloermoer gooi, se jy sien hy voel kwaad en ongelukkig, maar dat hy steeds nie die speelding kan kry nie en dat jy nou klaar gepraat het, en dat dit nie sal help om verder te skree nie. En dan ignoreer jy dit en gaan aan met jou inkopies.
Tog moet die kind terselfdertyd ook weet dat hy in die meeste gevalle dadelik moet luister! Dit geld veral in ‘n gevaarsituasie. Nouja, julle sal weet wanneer dit is. Opvoeding bly maar ‘n delikate onderwerp, en die groot saak is dat dit met respek en liefde van albei kante af hanteer moet word.
Ai, gelukkig is daardie tweelingetjie nog klein en babatjies onder een jaar oud is mos nooit stout nie!
Baie liefde en lekker slaap.
Ma en ouma
Om die volgende brief te lees, klik hier.
Ek sal my nou nie as ‘n kenner uitgee nie, maar daar is een ding wat die daglig uit my irriteer. Die ouers wat reken kinders moet doen wat hulle sê en nie wat hulle doen nie. Die ouers gedra hulle dan gewoonlik soos varke en die kinders moet engeltjies wees.
Ek dink jy kan nie dissipline toepas as jy nie self gedissiplineer is nie. En DIT is die probleem in vandag se skole.
Dankie Seegogga!
Mooi man! EK hoop baie mammas lees hier.
En mense soms volgens hulle vanne optree! – Steve Jobs
Xena, Toortsie en Maankind: Dankie dat julle lees.!
Hoe dan anders? Natuurlik lees ons jou goed!
Ek lees en neem alles in. Dis lekker om die advies te kry van iemand wat nie net ondervinding ingooi nie maar ‘n klomp lees stof van experts af.
Hallo Googa,dankie dat jy lees! Ek dit gaan nog goed met die voornemende mamma!
Seegogga – ek het al lankal ‘n knoop in my oor gemaak om weer hier te kom lees as ek nou ooit sover kom om ook die pienkvoete permanent oor te nooi na ons huis 😉 Intussen leer ek ‘n paar dinge en oefen solank op almal ander se kinders …… kennis is mag en mens kan soveel van ‘n verskil maak in ‘n kind se lewe as jy net weet hoe! Die tweeling is defintief in goeie hande met ‘n ouma wat soveel omgee en die tyd maak om briewe te skryf!
Jy kan solank lekker op daardie tweeling gaan oefen! Ek dink hulle mamma sal dit somme baie waardeer!
So nou het ek ook by “ouma se bababoek,” uitgekom. Hier hardloop genoeg kleinkinders rond vir my om daardie kennis toe te pas, dankie. Jy het my nou aan die dink oor die vanne… of miskien werk dit net as ‘n mens bekend raak. 😉
Miskien kan ons so ‘n lys maak van name en vanne wat pas by die ouers se werk of geaardheid?
Dis ‘n idee!!! Nie ‘n halfuur nadat ek jou “kindergrootmaak-resepte” gelees het nie, kon ek dit op my vierjarige kleinseun toepas. Ek sien al hoe mors hy sy glas koeldrank oor die bank, my en naaldwerk, maar voordat ek kan vermaan, onthou ek, en doen dit toe op die positiewe manier 😉
Ek is bly- hoop jou naaldwerk en bank is nog skoon!
Terug pieng: Ouma se bababoek: Brief 17, ‘n brief aan pappas | Seegogga se Bloggie
Terug pieng: Ouma se bababoek. Brief 13 Jou baba en die ongelooflike waarde van musiek | Seegogga se Bloggie