12 bottels water, 5 engele op wiele en nog een daar erens bo. ( Deel 1)

Iemand het lank gelede eenkeer vir my ma gese dat sy nie oor my bekommerd hoef te wees nie. Ek het ‘n buitengewone goeie beskermengel en sy werk nog oortyd ook. Dat ek nie lank gelede al iets ernstigs oorgekom het nie, is vir almal ‘n wonderwerk.

So pak ons kar mos toe nou die dag op. (En asseblief, hierdie storie kan mens nie in korrekte Afrikaans vertel nie, ek sal my eie storie nie verstaan nie). Die karretjie begin toe mos skielik water gebruik en blaas dik rookbollings uit elke keer as ek ‘start’. Ag tog! Ek sal vir Brian moet bel.

Ons het ‘n Daewoo Tacuma en niemand hier op ons klein dorpie kan die ding diens of vir hom parte kry nie, dis altyd ‘n gepiekel Kaap toe (twee uur se ry of 200km van hier af). Daar het ek darem vir Brian opgespoor, ‘n man wat ‘n Daewoo “mecanic” is, en wat nou sy eie besigheid begin het by sy huis (‘n backyard mecanic?).

Die dag voordat ek Kaap toe ry, sien my man my wegtrek en verklaar dat ek onder geen omstandighede Kaap toe kan ry nie- die enjin is besig om te ‘seize’. Ek is brommerig- die kar ry vir my dooddollies en boonop het ek en die kinders( wat in die Kaap woon) klaar gereël dat ons die aand na ‘n toneelstuk gaan kyk. Maar toe ons weer die motor probeer aanskakel, wil hy nie’vat’ nie.

‘n Plaaslike garageman word genader. Dié verklaar dat dit die’starter’ is wat foutief is, ‘n Mens moet net die kar ‘kickstart’. Verder is die rook wat uitborrel as hy wel aanskakel, net stoom, nie rook nie, dis hoe die motor water gebruik, hy dink daar het ‘n ‘gasket’ geblaas. Die onheilspellende tok-tok as die kar ry, is ‘wheelbearings’- ons moet nuwes kry vir beide voorwiele. Hy dink dis doodveilig om Kaap toe te ry, ek moet net nie vinniger as 80 km per uur ry nie en ek moet teen afdraandes stop en ‘kickstart’ of die heeltyd die motor laat ‘idle’ as ek water ingooi, wat ek mos kort-kort moet doen.

Gewapen met ‘n krat vol een’-en- ‘n-halwe liter Coke bottels vol water ( ons het mos nie verniet’n nagklub- kroeg ding nie?) val ek vroeg die volgende more in die pad. Ons eie straatjie is perfek vir die ‘kickstart’.

By elke garage langs die pad stop ek vir ‘n water ‘topup’. Op Caledon vergeet ek om die motor te laat ‘idle’, maar die hele garage personeel is mos daar om my te stoot. Alles gaan baie voorspoedig tot in Somerset-Wes, met sy robotte en verkeer. Toe begin die Tacuma protesteer en word kort-kort warm- maar gelukkig is daar ook kort- kort ‘n garage – tot ek op die R300 kom.

Daar ry die motors soos by die inryteater, en ek sien ek gaan dit nie maak nie. Die afdraandes is ook dun gesaai. Dan maar op die geelstreep staan en idle en hoop die enjin vrek nie. Ek maak die bonnet behendig oop (is mos al geoefen met hierdie motor), maar kry nie die dekselse stywe en warm waterdekseltjie oop nie, het skoon vergeet om ‘n lap ook in te pak.

Toe ek weer sien, is daar so ‘n krokkerige blou karretjie voor my. Twee kleurlingmans spring uit. Nee, lyk my nie hulle wil my beroof nie, hulle is ewe simpatiek , gaan grawe gou ‘n ou lap uit hulle motortjie, beveel my om eenkant toe te staan vir ingeval die stoom ‘skiet’ en gooi vir my water in. Hulle is heel beïndruk met my 12 bottel krat in die’ boot’. Die hoofspreker verduidelik my mooi dat hy nou die waterprop baie liggies toegedraai het sodat ek dit sommer maklik self kan oopdraai, en wys my ook daarop dat daar ‘n ongeluk of iets op die R300 moes gebeur het, en dat hulle maar nou by die volgende afrit gaan afdraai. Ek verduidelik weer dat ek nie kan nie, want anders sal ek nooit op die N1 kom, waar ek mos moet wees nie.

Ek sien ook hoe hulle afdraai en nie lank daarna nie, moet ek weer stop. Toe ek die ‘bonnet’ oopmaak, kom daar weer 2 mans aangestap – maar dis mos dieselfde twee! ” Het Merrim dan nie gesien nie? Ons ry nog die heeltyd agter Merrim aan!”

Ek het hulle tog met my eie oë sien afdraai?

“Ja, maar ek sê toe vir hom, ons kattie die merrim net soe lossie, die merrim is dan alleen ok en als. Ons sil moet help!” Nog 4 keer het ons op daardie R300 gestop, want daar WAS toe ‘n ongeluk, die verkeer was ongelooflik stadig en my tjorrie baie halstarrig. Een keer het die een ou glad met hulle eie 4 liter kan deur die bossies gedraf na die laekostebehuising daar naby, om nog water te gaan haal, om my 12 bottels bietjie uit te spaar.

Uiteindelik het hulle beduie dat hulle by die Ou Paarlweg moes afry, maar dat die N1 die volgende afrit is en dat hulle my sterkte toewens- en die proppie net liggies opgedraai het vir die oopmaakslag. Ek stop ‘n ontoereikende geldjie in hulle hande. Ons groet soos ou vriende.

Op die N1 moes ek ook 2x aftrek om al “idle – idle” water in te gooi, en nadat ek van die snelweg af is, nog eenkeer. Hier was darem ‘n tipe parkeer-inhammetjie. Net na ek die ‘bonnet’ toegeklap het, verskyn daar skielik ‘n man langs my: ” Mevrou, ek het nou net gesien jy het vergeet op weer jou waterprop op te draai!” Ek maak weer oop en sowaar, daar lê die prop nog op die battery waar ek hom neergesit het. “Ag, dankie tog, meneer!”

By Brian-mecanic se huis, maak my motor snaakse geluide. Brian en sy assistent bekyk die enjin sommer daar op die sypaadjie- hulle dink die ‘topgasket’ het geblaas. Hulle trek die motor die erf in en NET DAAR sê my karretjie “poef!” en vrek.

“Ek dink jou enjin het sopas gegaan” sê Brian. Hoe bedoel hy?

“Gegaan, gekalf, finaal gevrek en oor die muur. Kapoet.” Hy, sowel as sy assistent, ‘n jong lat van in die 20, stem albei saam dat dit die ‘conrod’ is wat nou gebreek het.

Conrod? Ek het nog nooit daarvan gehoor nie, maar dat dit ernstig is, is seker. Altwee ouens vertel my dat ek BAIE-BAIE gelukkig is dat ek die Kaap gehaal het. Hulle kan eintlik nie glo dat die motor dit tot daar gemaak het nie. Hulle glo egter hulle sal iets met die enjin kan regkry.

Die starter is nie ‘n probleem nie. ‘n Mens moet net ‘n ……..( het nou die naam vergeet) kry. Hulle bekyk ook gou die voorwiele vir die ‘wheelbearings’- Oh my word! Die linkervoorwiel het ‘n”bubble” in. Die regter voorwiel het ‘n yslike skroef in! Hulle skud hulle koppe in ongeloof. Ek is ‘bleddie’ lucky!

Dit was ‘n buitengewone en avontuurlike rit waarin die goedheid van die mensdom geseëvier het; ‘n rit wat ek jare lank sal onthou; ‘n rit waar die Here my waarlikwaar wonderlik beskerm het; ,”the stuff dreams are made of “.

Miskien was daardie tannie van jare gelede reg, toe sy so met my ma gesels het.

(Kliek hier vir vervolg)

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in engele op my paaie, Los opdrifsels. Bookmark the permalink.

13 Responses to 12 bottels water, 5 engele op wiele en nog een daar erens bo. ( Deel 1)

  1. NetJane sê:

    Wat ‘n rit! Ek sou aan die huil gegaan het en ek is nie eens die tranerige tipe nie. Moet net nie jou engel opgebruik nie! Bly jy’s veilig.

  2. ‘n Ervaring en ‘n half, maar seker nie een wat jy gou weer wil herhaal nie. Hoop jou kar is nou uitgesorteer of beter nog: Dat jy die damn ding net daar gelos het en ‘n kar gekry het wat jy by die huis kan laat regsien. 😉

  3. seegogga sê:

    Ons het nogal gedink ons moet nou die motor inruil vir ‘n ander krokkie, maar nou het my man intussen die bakkie afgeskryf…… As alles goed, gaan gaan ek Dinsdag weer die Dasewoo haal. Brian het my in die week gebel met die ‘goeie nuus'( sy woorde-klink of dit ‘n wonderwerk is dat hy dit reggekry het) dat die motor weer loop. Hy verseker my hy sal nie gou weer breek nie.

  4. toortsie sê:

    Ai, Seegogga!! 😉
    Weet jy, dis ‘n algemene sê hier by ons dat as jy gaan staan, dit die kleurlinge is wat stop en help. Kyk net hoe FANTASTIES is jy gehelp!!
    Maar ‘n hele paar engele het jy beslis aan jou kant. IEWERS het jy iets goeds gedoen!!

  5. seegogga sê:

    Ek dink ook ek is FANTASTIES gehelp. En hulle is toegerus hoor: lap, waterkan, die lot!

  6. Terug pieng: Wat is die kans? | Toortsie en Kameel

  7. Son sê:

    Ek lees nou eers hierdie storie. Dit versterk net weer my geloof dat daar veel meer goeie as slegte mense in ons ou wêreld is. En ja, vele male al het kleurlinge my (en my ma ook) al gehelp as ons kar probleme langs die pad gehad het. Die wit mense jaag net verby en kyk anderpad.

    Maar wragtig, jou engel kort ‘n medalje 😆

  8. seegogga sê:

    Weet, jy , Son, ek dink ook so!

  9. Terug pieng: Tweede briefie aan ‘n bloggie | Seegogga se Bloggie

  10. Terug pieng: nog engele op my paaie | Seegogga se Bloggie

  11. Terug pieng: The show must go on | Seegogga se Bloggie

  12. Terug pieng: 12 bottels water, 5 engele, ens. (deel 2) | Seegogga se Bloggie

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s