My pa het altyd die interessantste stories gehad – avonture in ‘n tyd wat verbygegaan het, ‘n tyd wat niemand ooit weer kan beleef nie; netso my ma en haar baie besonderse Falck familie.
As die 11 Falck broers en susters en hulle gesinne bymekaargekom het, is daar gegons en gesels en die een wedervaring na die ander is opgediep, afgestof en met smaak weer beleef.
Nou is die nefies en niggies die storievertellers – van hulle ouers se avonture, maar ook hulle eie.
Ek het altyd vaal gevoel tussen hierdie groot groep kleurvolle karakters. Watter stories kan ek eendag vir my kinders vertel? Watter avonture het ek beleef? Dit my gevoel daar is niks nie.
En tog. “Skryf al Ma se stories neer voor Ma vergeet”, het my jongste dogter gesê. As ek nou terugkyk op my bloggie, sien ek: ek het ook stories! Ek het wél heelwat avonture beleef- en die helfte is nog nie vertel nie. En ja, baie is ook in die goeie ou tyd wat nie meer bestaan nie.
Elke mens se lewe is ‘n storie, het ons al dikwels gehoor. Dit is so waar.
Moet dus nie vaal voel nie. Moenie die klein insidente in die lewe miskyk nie. Dit is die goed wat die lewe interessant maak; wat jou laat lag; wat jou laat huil; ; wat jou familiegeskiedenis oordra van geslag tor geslag; wat jou gesin en familie saambind; wat jou kinders kan vertel as hulle bymekaarkom; wat jou lewenswaarhede leer; wat jou herinner aan vervloë jare; wat jou ryper maak en meer volledig mens.
En as jy hierdie stories skryf, is daar moontlik iemand anders daarbuite wat dit ook sal waardeer.
Die afgelope paar dae het ek nog ‘n paar stories onthou wat nog vertel moet word – voor ek vergeet. Die skryfgogga het weer gebyt. Laat ons hoop dat ek tyd sal kry.
En aan my medebloggers – as julle nie besig is om moorde op te los, te werk of in die Rebusdam rond te plas nie, skryf julle stories! Voor julle vergeet!
Skryf daai stories ja!!
ek gaan probeer!
Dit is net die wonderlikste foto daardie!
Frannie, daardie aand het het ons op n stadium almal gehuil en later weer almal gelag. Daar is tot laatnag familiestories vertel.
Die skryf muse het besluit om haar ballingskap af te lê. Sy fluister kort kort iets nuut in my oor terwyl ek pak. So sommige bokse het bo op geskryf- kombuisware ( die oom en sy rolstoel) . So staan daar nou al n paar met n titel….
… ek kan nie wag nie
Kan nie wag om jou stories te lees nie. Bly die skryfgogga byt.
😩
Oeps, druk ek verkeerde een so in ry. Maar, is seker ok, ek kry nie tyd nie ..
o ek is beroemd daarvoor -touchscreentaal. Kom eergister agter ek het Struisbaai leeskring se nommer gestoor as Struisnaai Leeskring
Wat ñ heerlikheid om soveel van jul mense om ñ tafel te hê en stories te kan uitruil, Seegogga.
Hierdie was eintlik maar n klein deeltjie van ons baie groot familie, Una, maar die aand en die stories was GROOT.
Jy het my nou oorreed om weer te begin blog. Alhoewel ek julle almal s’n lees en geniet het ek seker 3 jaar laas oor my eie dinge geskryf….wie sal nou belangstel in my onopwindende dinge. Maar ek gaan weer, moet net die moed kry 😨😂
wonderlik! Ek is bly om dit te hoor.o Onthou, n mens skryf maar eerstens vir jouself. As ander dit lees en geniet is dit ,n bonus. Ek self het lanklaas vir myself geskryf. Maar nou is ek lus. en ek sien uit na jou skrywes!
💖😍
Dromer ek sien jy het 2021 laas geskryf? Laat waai en skryf weer ‘n stukkie