Ouma se bababoek . Brief 10. Babas en dokters

Liewe Leanie, Annika En Lienkie Ek is eintlik nog heeltyd besig met basiese uitgangspunte. Het glad nie geweet daar is so baie nie! Vandag wil ek praat oor babas, dokters en medisyne.

‘n Babatjie het mos die manier om sommer vinnig te verander. Die een oomblik is hy springlewendig gesond en die volgende oomblik dodelik siek. En dan word hy net so gou weer gesond ook!( gewoonlik net mooi voor jy by die dr se spreekkamer instap!) Maar liewer bang Jan as dooie Jan, glo ek. As jy bekommerd voel oor jou babatjie(s), vat hom dokter toe, verkieslik na ‘n kinderarts. Ek weet van mense wat net gedog het hulle kind het verkoue, maar toe hulle uiteindelik dr toe gaan , het die outjie altyd longontseking gehad en was dodelik siek. Of ander wat gedog het hulle kindjie het maar net ‘n kwaai hoes, maar toe het sy een longetjie al eintlik platgeval en hy moes jare lank baie goed opgepas word. Miskien vat jy dus jou kindjie soms verniet dokter toe, maar dan het jy ten minste die gerusstelling dat hy “OK” is.

Kyk wat die dr doen as hulle die babatjie ondersoek, sodat jy kan leer. So is daar sekere goed wat jy later self kan kyk, bv hoe lyk ‘n gesonde keelgat, hoe lyk mangelontsteking, hoe lyk ‘n strep keel, ens. Maak seker dat jy weet wat die medisyne is wat hulle voorskryf. Is dit antibiotika? Is daar penicillin in? Is dit kortisone? Hoeveel? Is dit ‘n slymopdroogmiddel of ‘n slym losmaakmiddel? Vra die dokter uit daaroor as hy iets voorskryf.

Leer ook nog ‘n paar goedjies: Wat is die normale hartklop vir jou babatjie se ouderdom? ‘n Hartjie wat te vinnig klop is ook ‘n goeie aanduiding dat jou kindjie regtig siek is, maar onthou dat hulle normale hartklop vinniger is as die an ‘n volwassene.

Kry ‘n koorspennetjie.

Let op na jou babatjie se gedrag. Is hy besonder dooierig , of besonder huilerig? Al hierdie goed is tekens. Kry vir jou ‘n goeie bababoek wat al die kindersiektes verduidelik en wat die simptome is, sodat jy ‘n idee het wat om te doen.

Daar is egter ‘n paar belangrike reels wat ek nou sommer self vir julle hier wil se: Moet nooit ‘n babajie plat laat le en drink nie- dit veroorsaak oorinfeksie. Moet nooit vir ‘n babatjie slymopdroogmiddels gee as hy verkoue is nie- dit veroorsaak oorinfeksie en ‘gom’-ore. Algemene dokters (gp’s) is baie geneig om dit voor te skryf. Weier hierdie medisyne  en vra vir ander medisyne. Gee ALTYD slymlosmaakmiddel, nie andersom nie. Stoom help ook baie vir lugweginfeksies, die oopmaak en dit voorkom of help met moontlike kroep. Kook bv ‘n ketel in die kamer, of sit met die babatjie in die badkamer, maak die deure toe en draai die warm waterkrane oop vir stoom.

Lees ook hier oor verkoue by babatjies: update oor verkoue by babatjies

‘n Koue lappie op die maag, help vir koors. Of bad die babajie in ‘n lou bad. Trek die babatjie uit en sit hom kaal teen jou kaal vel. Jou liggaam neem van die hitte weg en normaliseer syne, nes dit hom ook warm maak as hy uitermatig koud is.

Sny sommer uit die staanspoor soveel moontlik goed uit wat allergie kan veroorsaak. Was bv babatjies met skoon ongegeurde  ongekleurde aqueous room( waterige room in Hollands). Dit is die goedkoopste van alle rome, want alle rome bevat aqueousroom as basis en voeg dan goed by soos kleur, geur en ander produkte bv lanolien( waarvoor Annika bv allergies was)  by baie babaprodukte.

Koeimelk( gebruik eerder soja of bokmelk as jy nie moedersmelk kan gebruik nie), eiers, kleursels, geursels ens kan alles probleme veroorsaak by babajies en klein kindertjies en babatjies. Leanie, jy het eenkeer byna twee dae lank nie geslaap nie en soos ‘n maniak op en af in die gang gekruip na ‘n bietjie lekker rooi jellie! Annika, was weer so siek soos ‘n hond na haar maselsinenting en moes dokterbehandeling kry- die serum word in eier gemaak, dink ek.Ens.Gebruik ook natuurlik waspoeiers, soos Sunlight vir babas. Dit werk heel goed in ‘n outomatiese wasmasjien.

Gaan altyd eerder na ‘n kinderarts as na ‘n gewone dokter as jy vermoed dat daar iets ernstig skort.  Gewone dokters gee meer dikwels te kwaai medisyne vir ‘n klein babatjie en is nie so op hoogte soos ‘n kinderarts wat heeldag met kleintjies werk nie.  Hulle hele benadering tot die babatjie verskil ook.  So sal ‘n gewone dr maklik slymopdroogmiddel voorskryf, of ‘n maagstopmiddel, maar ‘n kinderarts sal slymlosmaakmiddel voorskryf en dalk ‘n swamdoder vir die magie. Julle het nou ‘n kinderarts, Leanie, so hou maar daar ipv die gewone dr sover moontlik.

Beskou alle diaree as ernstig. Dit is dalk nie, maar sommige soorte is dodelik, moet dus nie kans vat nie, maak seker. Maak seker jou babatjie kry genoeg vloeistof in, veral as hy opgooi. Sit met druppertjie of telepeltjie kort kort bietjie water in sy mondjie. Ontwatering is ‘n groot gevaar. Dit beteken nie slegs vloeistof nie, maar ook elektroliete, dws liggaamsoute. Daarom neem mens afgekoelde gekookte water en roer suiker en sout by en gee dan vir so ‘n gastrobabatjie om te drink mbv druppertjie of teleltjie( 1 liter gekookte afgekoelde water, 1 eetlepel sout en 1 eetlepel suiker is ‘n goedkoop, maar effektiewe elektrolietoplossing, maar maak elke dag ‘n vars oplossing aan solank nodig).

As jou kindjie mangelinfeksie kry,( simptome naarheid en koors en rooi keel met soms wit stippeltjies op mangels) is onmiddellike behandeling nodig, dit voorkom moontlike rumatiekkoors. As jy egter reeds die tekens van mangels ken, is Tonsolyt ‘n baie effektiewe natuurlike middel ipv antibiotika. Dit is deur ‘n apteker wat self klein kindertjies gehad het vir my aanbeveel, en  het baie doktersonkostes gespaar. Sekere keelinfeksies het ook onmiddellike doktersbehandeling nodig: As jy in jou kindjie se keel afkyk en die rooi kolletjes sit daar in sulke rytjies: DR TOE! Die meeste nare peste en kwale  sien mens eerste daar: in die keel. As ek julle nie so ondersoek het nie, het julle al drie skarlakenkoors gekry. Gelukkig is dit so gou ontdek dat net Annika effens siekgeword het.

Alle kursesse antibiotika moet altyd ten volle voltooi word, al is die babatjie gesond lank voordat die antibiotika klaar is. Dit voorkom dat die baba allergies raak vir of immuun raak teen die betrokke antibiotika. Gee altyd inteflora of probiflora saam met antibiotika. Dit help om die dermkanaal te normaliseer. Antibiotika gooi dit omver en die kindjie word daarvan naar of kry weer daarna swaminfeksies. Dokters vergeet om dit voor te skryf, daarom moet julle as ouers daarvoor vra as hulle dit nie doen nie.  Hierdie pilletjies is ook die eerste wat jy gryp as jou kind ( of jou man!) ‘n maagongesteldheid opdoen en is skadeloos. Dis dus goed om in die huis te he.

Daar is verskillende soorte babakoorsmedisyne. Brufen help ook vir infeksies, maar maak baie seker van die dosis en of dit nadelig vir jou babatjie kan wees.   Vra jou kinderarts wat sy sou aanbeveel om in die huis te hou.

Gaan asb 1x per week met jou babatjies kliniek toe, of soos daar in anderland voorgeskryf. Dis ‘n gerusstelling  om rekord te hou van hulle gewigtoename en hulle inentings te kry op hulle tyd. So hoor jy ook sommer of jou babatjies gesond is of nie. Babatjies kry direk na geboorte tering inenting in SA die volgende inenting by die kliniek is die vir kinkhoes, klem in die kaak en witseerkeel. Dit staan bekend as die 3 in 1.’n Mens kan egter ook die twee in een gee. Ek het bv geweier dat julle die kinkhoes kry, aangesien daar epilepsie aan jule pa se kant van die familie was, en die kinkhoesinenting epilepsie kan aanhelp. Ek dink egter dat julle te ver verwyder is daarvan, en dat dit veilig behoort te wees vir julle babatjies. Dit kan ook wees dat die inenting met die jare verbeter het. Kinkhoes is potensieel dodelik vir babatjies, dus met mens mooi dink voor jy dit weier.Vra die kinderarts. Polio inentings word ook hierdie tyd gegee. Op ongeveer 9 maande tot 1 jaar kry babatjies die maselinenting. Dis ‘n taamlike kwaai inenting. Dit is belangik dat julle ‘n jaar later die volgende 3 in 1 gee, die MMR, nl masels, duitse masels en pampoentjies( rubella). Vir alle kinders is masels baie gevaarlik en die booster is nodig. Vir dogtertjies is die duitse masels baie nodig om probleme later  tydens swangerskap  te voorkom en vir seuntjies is die pampoentjies inenting baie belangrik omdat pampoentjies onvrugbaarheid tot gevolg kan he. Dit is baie belangrik dat julle seker maak van die ouderdom waarop die inentings gegee moet word.

Nouja, as mens aan siektes dink, wil ‘n mens sommer weghardloop. Ek wil egter een laaste tip gee. Daar bestaan ‘n inspuiting, berri-globien, wat ‘n bloedproduk is, wat weerstand versterk. Dis ongelooflik fantasties en word in ‘n reeks van so 3 gegee. ‘n Mens hoop dat dit nooit nodig sal wees om dit  gebruik nie, maar hulle het dit wel vir jou gegee toe jy gediagnseer is met te min yster, Leanie.( Jy het baie gesukkel met diaree as babatjie.) Dit het jou behoorlik laat huppel en gesond word. Ek weet nie of dit noodsaaklik was dat jy dit kry nie, maar wat ek wel weet, is dat dit Lientjie se lewe gered het.  Toe sy as 7mnde oue babatjie ernstig griep kry, en haar koors elke 4 uur oor die 40grade was vir 5 dae lank, het ek besef dat haar liggaampie nie sterk genoeg is teen hierdie siekte nie en die dr gevra om dit te gee.(Ek het mos gesien wat dit aan jou gedoen het) Hy het nie gedink dit sal help nie, maar het dit uit desperaatheid probeer- met onmiddellike ongelooflike resultate! Die koors het dadelik dramaties begin sak en die siekte gedraai. Dit was ongelooflik en die dokter sowel as ek het iets geleer. Onthou dit as dinge begin desperaat lyk.

Verder moet ‘n mens natuurlik aanvanklik baie skoon werk met sulke klein babatjies, maar ek glo daaraan dat babatjies geleidelik kiembestand moet raak. Daarom kan ‘n mens hulle aanvanklik op hulle kombersie op die grond laat le en skop,. maar as hulle begin omrol, is dit goed dat hulle bv op die mat of gras ook rol. Ek glo nogal aan ‘n babatjie plat op die vloer of grond. Sodoende leer hy teksure, vorms, kleure , geure en ook kieme ken. So ontwikkel hy ook sy fyn en groot spierbeheer. Loopringe is absoluut UIT, en so ook Jumping jims, maar dit ‘n hoofstuk op sy eie: klik  hier om meer daaroor te lees: Dis nie doodsake as hulle soms ‘n ding in hulle mond druk wat julle as nie absoluut skoon beskou nie.  Hulle gaan dit in elk geval doen, en sodoende bou hulle weerstand op.

Nouja, al hierdie siektes het my nou skoon uitgeput. Gelukkig is julle babatjies baie goed beskerm met al die moedersmelk wat hulle kry!

Sterkte en baie liefde.

Mamma

Om die volgende brief te lees, klik hier.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in ouma se bababoek ( ouerleiding). Bookmark the permalink.

5 Responses to Ouma se bababoek . Brief 10. Babas en dokters

  1. Kinders is baie vatbaar vir virusse, wat letterlik net vir ‘n dag of twee daar is.

    Die probleem om vir elke bakatel na ‘n spesialis toe te hardloop, is dat dit 3 maande (of meer) waglyste tot gevolg het. Dit hou die kind van die platteland wat dalk dodelik siek is, so lank van die spesialis af weg. Wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken.

    Mens kry goeie en slegte dokters. Verder kry ‘n mens huisdokters wat goed met kinders is en die wat eerder by volwassenes te hou. Mens moet net die regte een kry.

    ‘n Absolute moet is dat ‘n kursus antibiotika ALTYD voltooi moet word. Sonder uitsondering. Dit is omtrent die belangrikste raad wat ‘n nuwe ma (eintlike enige mens) moet weet.

    Mens moet ook nie kinders keer om hulle kiembasis te vergroot nie. Die alles in die mond steek fase is net ‘n manier om immuniteit te bou.

    • seegogga sê:

      Hallo Xena, dankie dat jy die antibiotika ding genoem het. ‘n Mens aanvaar partykeer vanselfsprekend dat almal dit weet. Ek het dit nou in my blog ingevoeg, en ook die kieme ding- ek het skoon daarvan vergeet.
      Dankie ook vir die kommentaar oor die kinderarts, ek het nooit so daaraan gedink nie. Ek het natuurlik met my eie eers GP toe gegaan, maar toe by die kinderarts gedraai toe my kind se diaree nie wou beter word nie .Pretoria het gelukkig baie gehad. Dit was opvallend oe die medisyne en behandelingsmeodes verskil het. Verder het ek mos ook saam met hulle gewerk en dan gehoor wat hulle alles te se gehad het.

  2. Terug pieng: Ouma se bababoek, brief 9. Geloof | Seegogga se Bloggie

  3. En ek word môre (dis nou as die mannetjie nie nog wil doedoe nie), ‘n eerste keer ouma! En nou kry ek dié op jou blog!! Dankie daarvoor!

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s