Seegogga se Bloggie

I believe I can fly 3 ( ofterwel: Die dag toe ek op Worcester se sypaadjie kampeer het)

Einde verlede jaar het ek en my man ons kleinkind gaan oppas op Worcester, en natuurlik is Bekkie, my blou ringnekkie saam in sy reishokkie. Hy geniet die ryery altyd vreeslik en lewer kommentaar op alles.

Vroeg die volgende oggend is dit heerlik buite en my man besluit om Bekkie se hokkie met ‘n toutjie aan die prieel vas te maak sodat Bekkie die buitelug kan geniet sonder  dat my dogter se twee katte hom kan bykom.

Disaster! Nie lank nadat ons die huis binne is nie, hoor ons ‘n slag. Ek storm uit en ja: toutjie het gebreek en daar lê Bekkie se hokkie uitmekaar gespat op die grond en voëltjie is skoonveld.

Ek het met die jare al geleer om nie ontsteld te raak as Bekkie uitvlieg nie, maar dit was nog altyd by sy eie huis, waar hy die omgewing baie goed ken.(Lees hier van sy vorige eskapades) Maar Bekkie ken glad nie vir Worcester nie!!!

“Bekkie, waar’s die blou voëltjie?”  roep ek, en probeer my uiterste bes om my stem kalm en vriendelik te hou. Hy mag nie weet hoe benoud ek is nie!

“Wat maak jy? Vlieg? Mamma se babatjie!” koer ek benoud.

Daar roep hy! Erns van oorkant die straat af!

Ek vlieg om die huis by die voordeur uit en gaan op die sypaadjie praat.”Kom kyk hier!” roep ek entoesiasties. In my hand het ek die groot stuk sjokolade wat ek vir my man gekoop het. “Mmm, lekker! Nam nam nam!”

Bekkie antwoord ewe entoesiasties. Daar sien ek hom! Hoog in die takke van die hoogste boom op die sypaadjie oorkant die pad, sit hy.  Maar Bekkie wend geen poging aan om die heerlike sjokolade hier onder te kom proe nie.

Brood. Bekkie is mos baie lief vir brood. My man, kleinkind op die arm, bring pligsgetrou ‘n sny brood, lekker dik met botter. Bekkie gesels opgewonde saam oor die brood en vlieg na die volgende boom – steeds ewe hoog, en daar sit hy. Ek kry duidelik die indruk dat hy nou oor sy skrik is, en die avontuur daar bo in die boom begin geniet. Hy pik-pik aan die stam, stap, bietjie heen en weer, en maak hom tuis op ‘n lekker dik kort stomp tak reg onder ‘n ander dik tak – dus uit die oog van moontlike valke, en heeltemal te hoog vir katte of mense. En daar sit hy. Brood, sjokolade, neute? Neewat, hy geniet dit nou eers daar bo. Hy is in elk geval nie vreeslik honger nie. Boonop raak dit tyd vir sy siesta.

Intussen het my man ‘n koffietafeltjie  en stoel vir my aangedra. Ek kamp uit op die bure oor die pad se sypaadjie en alle verbygangers staar my aan. Die bure kom almal uitvind wat aangaan. Een gawe man dra ‘n leer aan – ‘n lang, lang leer. Ek waag my lewe tot heel  heel bo , maar die leer is, helaas, nie lank genoeg nie. Bekkie klim ewe nuuskierig af tot naby my hand, maar loop dan weer terug – nog nie gereed om sy vryheid prys te gee nie. Ek kry die nare idee dat hy nogal al die aandag baie geniet en weet dat hy die hef in die hand het.

Dan maar weer na my uitkampplek onder die boom. (Gelukkig tog dat my kinders nie daar was om hulle ma se se eskapades te aanskou en hulle dood te skaam nie.) Ek verorber sjokolade, neute, brood,  vrugte en wat nog, en hoewel Bekkie saamstem dat dit heerlik lyk, sit hy lekker op sy nuwe plek, dankie. Ek moet maar nog ‘n bietjie soebat. My arme man moet heeldag alleen die kleinkind oppas  (gelukkig is hy baie lief vir babatjies) Verder dra hy aan: eetgoed, tee, water, selfoon, skryfgoed, sonhoed….

Dit raak 5- 5.30 nm: Aandete tyd vir voëltjies en babatjies. Ek stap terug oor die straat na my dogter se huis toe. Daar staan ‘n kophoogte boompie op die sypaadjie.”Kom, Bekkie, op, op , op” roep ek hoopvol. En Bekkie kom! En vlieg verby my tot in die bure langsaan se erf en weg, waar ek nie kan bykom nie.

Daar is geen genade meer nie. Babatjie moet kos kry. Teen ‘n geweldige spoed word kossies uit yskas gepluk, in mikrogolf gedruk, buitentoe gehardloop om voeltjie te roep, weer binnetoe om kossie uit te haal, tafel weer buite op stoep gedek, voeltjie geroep. Ons  gaan maar aandete buite eet, net daar waar die hokkie afgeval het.  Teen hierdie tyd het Bekkie oor die erf gevlieg na die bure aan die ander kant. Daar sit die blou voëltjie  tussen die pienk rankplant in die buurman se heining en laat weet luidkeels dat dit nou etenstyd is. Maar ek moet nou die kleinkind voer. Bekkie kan nou net homself red.

Ek gesels en dis “nam-nam” vir die kleinkind, , “lekker-lekker” vir my man, “mm-mm” vir my  en vir die blou voëltjie. En hy besluit dat dit darem nou hoog tyd is dat hy kry wat hom toekom. Met ‘n swierige boog land Bekkie by ons op die tafel. Mak soos ‘n lammetjie klim hy op my hand, en eet entoesiasties die kossies wat ons vir hom aanbied.

End goed, alles goed. Bekkie het sy avontuur geniet, soet gaan slaap, ouma en oupa het taamlik uitgeput ontspan, en die bure het seker lekker gegrinnik oor die mal vroumens  op die sypaadjie wat die heel dag lank onsinnige goed met ‘n blou voëltjie bo in ‘n boom gepraat het.

Om meer te lees oor die etiek daarvan om vlerke te knip, lees hier:

https://seegogga.com/2017/02/09/i-believe-i-can-fly-nr-2-n-saak-van-beginsel/

Om meer te lees oor die vreugde van vlieg, klik asb hier.

Om meer te lees oor Bekkie se jongste  avontuur en die foto’s te sien, klik hier:

https://seegogga.com/2017/08/28/i-believe-i-can-fly-en-toe-doen-hy-dit-weer/