Hoe het Seegogga gebeur?

blogging 001.jpgVan jongs af was ek lief vir skryf. Op 10-jarige ouderdom het ek al ‘n paar “gediggies” geskryf gehad, wat ek dan Desembers ewe manmoedig by die CSV Kampkonserte op Struisbaai opgesê  het.

As ek klavier geoefen het, het ek dit dikwels in die vorm van ‘n Siembamba program aangebied.  Nou moes die “maatjies” trippel soos feetjies of storm soos reuse( toonlere) , dan  weer spring soos hasies ( arpeggios), ens. Die musiekstukke was stories van Prinsesse en verlore liefdes en wonderlike balle in die kasteel. So het ek eendag ‘n goeie pak slae gekry( baie onregverdig!!!), omdat my ma vir ons huishulp gevra het of ek geoefen het, en dié vertel toe dat ek net gespeel het en nie geoefen het nie. My ma glo toe vir haar en nie vir my nie!

Op skool, universiteit en my jongmensjare het ek van tyd tot tyd in ‘n dagboek geskryf. Tog snaaks hoe die drang daar is om te skryf as jy emosioneel voel ( gelukkig of ongelukkig), ‘n saak het om uit te pluis, of sommer net soms die drang kry. Jy kan mos sê wat jy wil, sonder onderbrekiing, wat jy nie kan doen as jy met iemand gesels nie..  Goed- goed, tyd is ook ‘n faktor né!

So het ek jare lank nie geskryf nie, en baie sterk die behoefte begin voel. Ek het ver van my hartsvriendinne gewoon en my lewe het nare draaie gegooi. Ek het internet begin ontdek, ook Julia en Juliette gesien, ‘n paar interessante blogs toevallig ontdek en my verstom oor wat mense alles skryf. En ek wou dit ook doen!!!

So loop ek, rekenaargestremde,  ‘n lang ruk met hierdie groot behoefte in my hart om ook sommer my goeters te skryf, maar ek sal mos nie goed genoeg wees nie en sê vir niemand nie, want daar is eintlik niemand om dit voor te sê nie, niemand hier wat my behoefte sal verstaan of wie ek eintlik goed genoeg ken om my eie goeters mee te praat nie. As ek nou terugkyk, besef ek hoe eensaam ek eintlik was.

Toe gesels ek toevallig eendag met my kind se ou musiekonderwyseres en sy noem iets van haar blog. WAT??? Blog sy? Sowaar? Maar ek wou  dit nog altyd doen! Ek is onmiddellik sommer jaloers: dat sy, ‘n Bredasdorper, sowaar die moed het om op die internet te skryf en ek nie. Dat sy sowaar weet hoe om dit te doen en ek nie. Dat sy die moed gehad het om te begin, en ek nie.

Maar weet julle, sy is gaaf verby! Sy bied aan om my te help. Sy kom selfs na my huis toe om my bietjie meer rekenaargeletterd te maak.  Sy skryf die mooiste en positiefste goed op haar blog. Destyds was sy besig met “40 dae van positiwiteit“, waar sy elke dag iets positiefs geskryf het. Sjoe, dit was vir my wonderlik en eintlik net wat ek nodig gehad het toe my eie lewe heeltemal buite beheer begin raak het.

Sy wys my op die belangrikheid van ‘n skuilnaam en ek besluit op Gogga, die troetelnaam wat my ouers my as kind genoem het ( gelukkig het ek dit nooit as negatief gesien nie, al klink dit nou vir my baie snaaks: nie Liefie of Hartjie of Prinses nie – Gogga!). Maar toe ek wil gogga word, is daar reeds ‘n Gogga. Ag, en ek wou haar nou hier getag het, maar kry nie haar “profile” nie. Sy het baie lanklaas geskryf. Waar is jy, Goggatjie?

Toe word ek Seegogga.

En hier is ek nou vandag, 7 jaar later, steeds met my bloggie. My selfsorgakkommodasie by die see word  Seegogga Akkommodasie en ek begin daar ‘n tweede bloggie,en ek het selfs sopas ‘n Faceboekbladsy  oopgemaak onder die naam van Seegogga. My epos adres is seegogga, en ek weet nie hoe ek ooit sonder daardie titel klaargekom het nie. Nou die dag sê die een van my akkommodasie kliënte selfs: ” Ek hoor jy is Seegogga.”

So ek is lankal nie meer incognito nie, maar wat, dit maak ook nie saak nie. Ek het nooit oor my heel ergste persoonlike goed geskryf nie. skryf was net ‘n wonderlike uitlaatklep, ‘n ontvlugting, ‘n manier om gedagtes te orden, om dalk ‘n veskil aan iemand se lewe te maak, en ‘n manier om my stories neer te skryf voor ek dit vergeet,  soos my een kind my so mooi gevra het.

Om te blog het my lewe verander. ‘n Boekie is gedruk na aanleiding van my bloggie en een van my bloginskrywings is in ‘n leesboek vir skoolkinders opgeneem. Ek het ook aan ‘n radiodramakompetisie deelgeneem agv ‘n bloginskrywing, ( nee nie gewen nie, maar ten minste het ek dit gedoen – baie dankie André  Kotze vir al jou motivering en inspirasie !!!) en een van my blogstories is op Tjailatyd deur Amore vertel. Een van my 5 minute prentjies het een vd gewildste Kersfeesprentjies op Google images geword, en is selfs deur ‘n Suid Afrikaanse tydskrif gegaps. My tikvermoë en my rekenaar kennis het baie verbeter. Ek het wondelike nuwe blogvriende gemaak en het ook ‘n goeie blogviendin geraak met die dierbare blogger hier op ons klein ou dorpie, Bredasdorp.

Ja, liewe Toortsie ( wat intussen ook haar eie baie suksesvolle banting kookboek geskryf het), jy was en is steeds ‘n groot bron van inspirasie en ek dank jou daarvoor! En toe ek nou vanoggend die storie van Toortsie lees, het jy my weereens geïnspireer om ook Seegogga se storie te vertel en dus weer ‘n slaggie te blog!

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in die tale wat ons praat, Los opdrifsels, Seestories. Bookmark the permalink.

27 Responses to Hoe het Seegogga gebeur?

  1. Terug pieng: Hoe het Seegogga gebeur? | Seegogga se Bloggie

  2. Wat n lekker blog storie Seegogga. So inspireer Toortsie nogsteeds met haar raad en hulp.

  3. Aag dit is nou interessant! My suster-hul het ook in Bredasdorp gebly, en oor dit onthou ek jou naampie altyd goed. Ja – Toortsie is voorwaar ‘n inspirasie vir ons almal. Ek het nie geweet sy bly ook op Bradasdorp nie? Sterke aan jul almal.

  4. travel460 sê:

    Wat ń pragtige verhaal, Seegogga. Is dit nie wonderlik hoe die ‘alleen’ gevul kan word deur woorde en neerskryf nie. Ek noem dit ‘vasskryf’, om ons binne woorde vas te skryf. Al is ons alleen, kan ons dan gesels. Toortsie het die blok wêreld vir my ook moontlik gemaak, en daarvoor is ek haar ewig dankbaar. Dankie dat jy jou verhaal gedeel het.

  5. Toortsie sê:

    So bly jy het weer geskryf!

  6. Seegogga bly jou griffel jou geskiedenis. Lyk my Bredasdorp is ‘n metropool vir stories. Ek het vir maande nie geskryf nie maar het darem nou weer aan die gang gekom (my vasgedraai maar darem weer losgewikkel). Jou storie is ‘n inspirasie

  7. Ai ek lees darem altyd te lekker hier by jou …

  8. Dit was nou baie interessant!

  9. Olga sê:

    Nou toe nou. Jy het darem ‘n keuse gekry. Ek was vertel, “Bly ‘n slag uit die tuin. Ek het vir jou ‘[n blog begin. Kyk wat jy daarmee kan doen.

    • seegogga sê:

      My aarde Olga
      Was dit jou dogter wat jou so in die werk gesteek het? Maar ek is seker jy geniet dit baie. Miskien kan jy vertel hoe Olga se okseltjies gebeur het?

  10. Thys sê:

    Moet nooit ophou skryf nie! 😀

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s