Hierdie is ‘n dialoog tussen ‘n ouma en ‘n keinkind wat ek vir die VLV moes skryf. My dialoog was nie een van die 3 bestes nie, maar ek dink tog ek wil dit hier plaas vir die GOUE VROUE!
Dialoog tussen ouma en 9-jarige kleinseun: As ek weer kon
KLEINKIND: Yis, ouma, ek wens so ek kan vlieg!
OUMA: Ja, Daniël? En hoekom wil jy vlieg?
KLEINKIND: Sommer Ouma. Ek wetie. Ek dink dit sal lekker wees!
OUMA: Mmm…Die grendeltyd maak mens moeg, né, Daniël! En dan kan jy sommer so sjoep-sjoep na ander lande toe gaan, of saam met die voëls op die wolke ry….
KLEINKIND: Jaaa! Yis, Ouma, dit sal darem cool wees. Ek het nooit eers daaraan gedink nie!
OUMA: Nou waaraan het jy dan gedink?
KLEINKIND: Ek het eintlik aan ‘n vliegtuig gedink. Of ‘n Jet. As ek nou ‘n pilot kon wees van ‘n jet!
OUMA: Mmm… Miskien word jy nog eendag een! Dit laat my nou dink aan Elon Musk.
KLEINKIND: Wat?
OUMA: Elon Musk is mos nou die rykste man in die wêreld. Hy het ook so gedroom soos jy, maar hy dink toe mos aan ‘n vuurpyl.
KLEINKIND: ‘n Vuurpyl?
OUMA: Ja. En weet jy, toe ontwikkel hy een! Hy wil nou mense daarmee laat rondry. Maan toe en so. Wil jy maan toe gaan?
KLEINKIND: Sjoe! Ek weet darem nie. Sal ouma daarvan hou om te gaan?
OUMA: (trots) Ek was al daar!
KLEINKIND: Aag ouma! No ways!
OUMA: Sowaar! Elon het vir my en die Goue Vroue op Rebusfontein kom oplaai en met ons so ‘n draai om die maan gery.
KLEINKIND: (skepties) Ouma speel nou seker.
OUMA: Sowaar, Daniël! Een van ons, Scrapy van Nieu Zeeland, ken hom mos, en toe reël sy dit. Maar die béste ding waarin ek nog gevlieg het, is in ‘n tent.
KLEINKIND: Aaag, ouma, ‘n tent kan nie eers vlieg nie! Ouma praat nou sommer nonsens.
OUMA: Jy sal verbaas wees. Ek en die Goue Vroue van Rebusfontein het met ‘n vlieënde tent reg om die wêreld gevlieg.
KLEINKIND: Ouma, ek verstaan niks wat ouma sê nie. Wie is die Goue Vroue en wat is Rebusfontein?
OUMA: Die Goue Vroue is ‘n groepie tannies wat saam stories skryf. En ons woon op ‘n dorpie met die naam van Rebusfontein.
KLEINKIND: Maar Ouma, Ouma woon mos op Bredasdorp?
OUMA: Ja dis reg. Maar ek woon ook op Rebusfontein. Rebusfontein is nie ‘n regte dorp nie. Dis ‘n dorpie in ons verbeelding. Ons gaan gereeld soontoe en daar beleef ons wonderlike avonture.
KLEINKIND: O. Soos in ‘n storie, nie rêrig-pêrig nie?
OUMA: (lag) Ja. In ‘n mens se verbeelding is enigiets mos moontlik, né, Daniël?
KLEINKIND: Ouma bedoel nou soos ‘n tent wat kan vlieg?
OUMA: Ja! Of ‘n spieël wat kan praat. Weet jy, ons het eendag selfs in ‘n gat in die grond ingerol na ‘n ander wêreld toe – ‘n haasgat.
KLEINKIND: (lag) Aaag ouma, ouma is te groot vir ‘n haasgat – maar ouma bedoel seker ook speel-speel.
OUMA: (lag) Eintlik regtig! In ons verbeeldingstorie! En daar onder is ‘n wonderwêreld en ons het die koningin gehelp!
KLEINKIND: Weird… Maar ouma, dit klink mos soos Jan en die Boontjierank!
OUMA: Wel eintik meer soos Alice in Wonderland, né. Maar ons Goue Vroue het sommer ons eie storie geskryf oor ons eie wonderwêreld.
KLEINKIND: Jis dis soo cool ouma! As ek weer kon kies sou ek ook met ‘n towertent wou vlieg!
OUMA: Ja dit is! En jy kάn weer kies, Daniël! En dis net so lekker om op ‘n verbeeldingdorp te woon, waar alles net so is soos jy dit wil hê. As ek weer kon, sou ek dit net alles baie vroeër gedoen het – toe ek nog so oud soos jy was!
KLEINKIND: Jis, Ouma, ek dink Ouma is baie cool, maar as ek my maats vertel, gaan hul dink Ouma is lekker koekoes.
OUMA: (lag) Hulle kan mos maar so dink, wat! Maar ek en jy weet mos beter. Ken jy Walt Disney?
KLEINKIND: Dis mos hy wat al daardie cool tekenprente gemaak het, né ouma?
OUMA: Ja. Dis net hy. Nou: Walt Disney wou tekenprente maak en almal het gedink hy is mal in sy kop. Maar hy het gesê: ”The only limitation is the limitation of your own imagination.” Met ander woorde, jy kan jou enigiets verbeel. Die enigste ding wat jou terughou, is die beperkings van jou eie verbeelding. Verstaan jy dit?
KLEINKIND: E…Ek dink so ouma. Dit beteken jy moet probeer om jou verbeelding so veel as moontlik en so way out as moontlik te gebruik?
OUMA: Ja, presies netso . Dis nou as jy eendag ‘n uitvinder wil word – of ‘n skrywer. Of ‘n beroemde ingenieur… Of sommer net om die lewe vir jouself interessanter te maak hier in die grendeltyd.
KLEINKIND: Sjoe ouma – ‘n uitvinder?
OUMA: Ja. ‘n Uitvinder dink mos aan goeters waaraan ander mense nog nooit gedink het nie, en dan probeer hy dit waar maak. Soos die ou wat gesien het die ketel se deksel rittel as die water kook. Toe dink hy as die stoom die deksel kan oplig, kan die stoom dalk gebruik word om iets vorentoe te laat gaan. Toe maak hulle die eerste treine.
KLEINKIND: (opgewonde) Jis, Ouma, as ek weer kan, gaan ek ook probeer om wayout goed te dink! Ouma moet vannaand vir my die storie van die haasgat en die trein vertel. Maar nou gaan ek en my boetie eers vlieg!
OUMA: Regso jong! Vlieg? Met ‘n jet?
KLEINKIND: Ja dit ook. Maar eintlik het ek gedink…soos…net soos…
OUMA: Ja?
KLEINKIND: Net soos Ouma en daai Goue Vroue. Ouma sê mos ek kan weer dink.
OUMA: Ja! En as ek weer kon vlieg, sou ek saam met jou gevlieg het.
KLEINKIND: Maar Ouma kan mos! Kom Ouma. Pieter! Kom hier!
Ouma, mens kan mos met ‘n pophuis ook vlieg, né?
OUMA: Ja beslis.
KLEINKIND: Kom klim in, Ouma.
OUMA: (steun) Waarheen gaan ons, Daniël?
KLEINKIND: Ons gaan mos Ysland toe!
OUMA: Hoekom Ysland?
KLEINKIND: Mos na Kersvader toe, Ouma. Hy woon mos daar!
OUMA: (lag) O, Natuurlik! Niks is onmoontlik nie, nê!
KLEINKIND: Nee Ouma, rêrig!
Gelukkige seuntjie, om so ‘n (“weird”) ouma te hê!
Dis dierbaar, Seegogga, en jy is ń ouma duisend. En ń Goue Vrou, né…
Dankie Una, ek vermoed die Goue Vroue is almal nogal lekker oumas?
Ag Frannie ek is so ‘n gelukkige ouma om sulke oulike kleunseuns te he
Seegogga, ek voel steeds dat hierdie een puik was.
Pragtig, ek dink dit is ‘n wenstorie.
Ek dink ook die is ‘n wen-storie, maar ek is bevooroordeeld want ek verstaan van Rebusfontein en goue vroue, dink die VLV het lekker kopgekrap
As sy ouma in n vlieënde tent kan vlieg, kan hy seker in n pophuis vlieg
Jou dialoog is só eg.Hierdie ouma en haar kleinkind ‘connect’! Vlg oorlewering het die VLV behóórlik kopgekrap. Ek is seker – as hulle weer kon – sou jou storie “in” gewees het!
En nou is meer as n jaar al verby. Kleinkind word groot en ouma word oud.