Liewe Leanie, Annika en Lientjie
In die LION KING sing hulle mos oor die circle of life en ek dink deesdae baie daaraan. Dis vir my so of byna alles in die lewe uit sirkels bestaan. Is dit waarom ons praat van ‘n vriendeKRING, ons Bybelstudie KRINGE genoem word , King Arthur ‘n RONDE tafel gehad het? En ja, die aarde is ook rond! Ons lewe is rond en as mens oud is , eindig jy nie ver van waar jy begin het nie ( sonder tande, hare, en op doeke!).
Maar alle grappies op ‘n stokkie, ek glo nogal dat ons lewens soos kringe is en ‘n babatjie se ontwikkeling ook die ronde baan volg, al verder van sy ouers af.
My vriendin, Deirdre, was die wysheid vanself. Sy het twee klein kindertjies gehad, en vir my was dit opvallend hoe ongelooflik rustig sy altyd was in haar hantering van haar kinders. Een van die redes was haar teorie, wat ek tot vandag toe onthou.
Deirdre het geglo dat’n moeder die spil is waarom ‘n klein babatjie se lewe draai. Eers is hy binne-in haar, in die baarmoeder, besig om te groei. Dan beweeg hy in die volgende kringetjie, buite haar, maar steeds styf teen haar, en word bv geborsvoed en kry kort kort aandag. Dan beweeg hy effens verder weg ( langer ure tussen voedings ens) en verder( begin kruip) ens. Dit is vir die baba belangrik dat hy weet waar sy anker is( waaraan hy eers vasgeheg was met ‘n naelstring en dan met ‘n onsigbare band, maar steeds vas).
Soos die kindjie ontwikkel en groei, beweeg hy in spiraalvormige sirkels al verder van die bron af. Klein kindertjies wil dus by hulle mamma bly, maar as hulle sekuur voel , sal hulle later tevrede wees om in ‘n aangrensende vertrek te gaan speel , of buite, al is die ma steeds op haar plek in die huis. Hulle sal miskien kort-kort kom kyk of sy steeds daar is, en dan weer verder gaan speel. Later sal hulle gerus wees om selfs na ‘n ander huis te gaan, skool toe of waar ookal, maar met die vertroue en wete dat die ma daar sal wees al hulle wil terugkom.
Hierdie verloop van omstandighede is oral te bespeur in die natuur. Die mamma dier is net na geboorte feitlik heeltyd by haar kindertjies en sal net weggaan om gou te gaan eet , of selfs die ete mis, as sy bekommerd is oor hulle. Soos hulle groter word begin hulle klim- eers oor haar, en dan effens verder weg, maar nog steeds in die nes, later rondom die nes Ens
Dis belangrik om hierop te let dat dit nie die mammadier is wat ooit haar kinders wegstoot nie, dit is die kinders wat self al verder van haar wegbeweeg soos hulle groter word. Die dier jaag nooit haar kinders weg nie, die band word net geleidelik flouer totdat die kind later volwasse is en op sy eie bene kan staan.
Ook by die mens moet dit so wees. Die babatjie, styf by mamma, 24uur van die dag, en geleidelik al verder- nie weggestoot deur die ouers nie, maar wegbeweeg deur die babatjie self, met die oop pad terug na die ouers toe as hy benoud raak of hulp nodig het.
As ‘n mens jou kinders op hierdie manier gootmaak, kry hulle iets wat jy noem: geborgenheid. Die kind kry die sekuriteit om te weet, sy ouers is daar as hy hulle nodig het, dis ok om hulle hulp te vra as hy hulle nodig het, hulle sal hom beskerm as hy beskerming nodig het, hulle sal vir hom sorg en hulle sal altyd daar wees, hy kan hulle vertrou. Sjoe, watter mondvol!!
Hoe strook dit met ons geloof? Ek glo God het aan ouers hierdie baie belangrike taak gegee- om die anker en die krag in hulle kinders se lewe te wees, totdat die kind naderhand self groot genoeg is om op God alleen te vertrou. Ons is dus die aar waardeur God se liefde na ons kinders toe gaan, die anker wat weer in God geanker is, om ons kinders sekuriteit en geborgenheid te gee. Watter groot verantwoordelikheid rus daar nie op ‘n ouer se skouers nie!
Wanneer hierdie sirkels versteur word, kom daar ‘n deurmekaarspul endus ook probleme. Nouja, niemand is perfek nie, en toe ek die prentjie bo geteken het, kon ek ook nie my sirkels met die vry hand eweredig trek nie. Dit laat my weer dink aan die lewe- sirkels, maar nie perfek nie, want die lewe is nie regverdig nie en daar gebeur goed wat die sirkels maar krom en skeef maak. Maar dit is die basiese teorie, die ideaal.
Die volgende stellings is my teorie, gegrond op goed wat ek gelees het oor mense met probleme en is nie noodwendig waar nie, want ek het dit nie deur toetsing vasgestel nie, maar dis hoe ek dit sien en vermoed. As ‘n sielkundige hier lees, sal ek graag sy opinie wil hoor: Wanneer hierdie kringe doelbewus versteur word deur die ouer, gebeur daar goed wat ‘n mens dalk nie altyd dadelik van bewus word nie. Die kind se geborgenheid word versteur.
Dit kan wees dat die ouer wil wegbeweeg ipv die kind, maw die kind word in ‘n baan te ver van die ouer af geforseer- ‘n baan waarvoor hy nog nie gereed is nie. Dit kan ook andersom wees, maw die ouers hou die bande te styf van en is nie bereid om die kind toe te laat om geleidelik al hoe meer onafhanklik te raak nie.
So leer die outjie dalk dat hy nie die moeite werd is nie.( swak selfbeeld). Hy leer dat die ouer nie iemand is op wie hy nie kan vertrou nie,( en gaan dus nie met sy probleempies na sy ouer nie, maar na iemand of iets anders, drank,. dwelm of ander krukke). Hy word in gevaarsituasies geplaas waarvoor hy nog nie gereed is nie, ( bv hy weet nie dat hy moet wegvlug na sy ouers as ‘n pedofiel lelike goed met hom wil doen nie). Hy vorm dalk ‘n band met iemand anders wat vir hom meer die gevoel van geborgenheid gee,( en gee in vir groepsdruk) hy soek dalk sy lewe lank na daardie geborgenheid wat hy as jong kind moes ontbeer( en raak dalk oordrewe ma-vas en lei aan skeidingsangs in sy verhoudinge). Hy leer nie selfdissipline en verantwoordelikheid nie( bv dit hang van die ouer af of hy leer of nie, hy breek heeltemal uit as hy bv op universiteit kom , gaan mal en dop sy eerste jaar ) ens.
Ek voel dus baie sterk dat ‘n babatjie nie toegelaat moet word om te huil sonder dat ‘n ouer sy bes doen om die kindjie te help nie. Die ouer stoot dan die kindjie weg in ‘n baan te ver van hom af en maak die baan van kommunikasie en hulpverlening, maw die gevoel van geborgenheid toe. Dieselfde gebeur wanneer ‘n kindjie gedwing word om bv by vreemde mense te bly ipv by sy ouers , waar hy veilig voel. Op ongeveer 6 mde leer die kindjie mos sy eie ma en pa erken en huil as hy in ‘n vreemde se arms geplaas word. Dis interessant dat hierdie skeidingsangs by babatjies min of meer ooreenstem met die ouderdom waarop hy begin kruip,l dws die eerste keer dat hy uit sy eie kan wegbeweeg. Dit is die natuur se manier om daardie kindjie te beskerm, en dis ‘n belangrike natuurlike veiligheidsmaatreel. Daarom moet ons dit respekteer.
So kan ons aangaan. Wanneer die outjie liefdevol op sy baan versorg word, en algaande meer onafanklik raak, is hy op die ou einde gereed om skool toe te gaan, en voel hy veilig genoeg om sy veilige ouerhuis te verlaat omdat hy genoeg geborgenheid ervaar het om te weet: dis reg so, vanmiddag gaan ek weer huis toe. Ensovoorts.
Daarom glo ek nie in “sleeptraining” soos ek op die internet gelees het nie, dit het my hare laat orentstaan. Daar word mooi veduidelik dat sommige babas selfs tot ‘n driekwartuur of meer sal skree voordat hulle aan die slaap raak sonder hulle ouers en dat dit baie hard op die ouers is, maar dat ‘n mens net moet volhou en dat die babatjie dan later leer slaap. Dit druis vir my totaal in die natuur, die idee dat kinders geleidelik al verder an hulle ouers af beweeg uit eie eie vrye wil, die natuurlike band van ouerliefde, die sielkunde van empatie, simpatie, ondersteuning, onderskraging, vertroue en liefde en meer nog: teen die woorde van Jesus:” Laat die kindertjies na my toe kom en verhinder hulle nie.”
Dis ook een van die redes waarom ek nie so ten gunste van chreche’s is nie- of van klein kindertjies in skoolkoshuise nie. Ek weet in sommige gevalle is daar geen ander uitweg nie, maar ek voel die kringe word versteur en die duidelike en ooglopende, maar ook die subtiele en onopvallende skades wat so ontstaan, bly die kind soms sy hele lewe by.
Ek is nou baie teoreties en wens ek weet of iemand al ‘n toets gedoen het om te sien hoe die persoonlike verhoudinge en ouer- kind verhoudinge daar uitsien as die kind bv van kleinsaf in ‘n skoolkoshuis is. Die mense wat ek ken wat dit ervaar, sal almal se dat hulle maar van kleinsaf vir hulleself moes sorg, en dis vir my asof die intieme familiebande swakker is. Aan die ander kanthet ek ook al gesien hoe ‘n twaalfjarige seun huil en aan sy ma vasklou omdat hy bang is om op ‘n weeklange skooltoer saam met sy klasmaats te gaan. Waarom het hy hierdie gebrek aan sekuriteit gehad?
Vir die ouer van ‘n klein babatjie voel hierdie kringe om jou soms baie styf, sodat jy daarvan wil versmoor. Jy is vasgedraai in alle opsigte! Tog wil ek hier vir julle drie en sommer vir alle ouers van babatjies se: al voel dit nie so nie, draai hierdie bande al losser en losser, baie gouer as wat jy vermoed, en as jy jou oe uitvee, is die kindjie groot en die bande so los soos jy dit nie wil he nie. Dan kan jy maar trek en draai soos jy wil, maar hierdie noue stywe band, kan jy nooit weer terugkry nie.
Ek onthou die tyd toe julle so tussen 1 en 6 jaar was. My vriendin, Altalise, se man en haar kinders het vir ‘n week gaan kuier en sy was alleen tuis. Ek het gesmag na daardie bietjie alleenheid en gewens dit was ek. Maar nie lank nie, glo my, is mens se kinders groot, uithuisig, en sit ‘n mens alleen-sonder dat ‘n mens dit wil he!
In die mens se leeftyd ( se 70 jaar, sommige word ouer, ander sterf jonger, maar kom ons vat dit op 70 jaar) is die mens net ‘n baie klein rukkie pap babatjie.( 1 jaar-2jr?n) ‘n Klein rukkie voorskoolse kindjie wat op jou skoot kan sit en deur jou rondgedra kan word(6jr), en dan, ongelukkig of gelukkig(?) word hy groter- te groot om te borsvoed, te groot om aan die slaap gewieg te word, te groot om rondgedra en getroetel te word, onafhanklik, al meer op sy eie. In ‘n lewe van se 70 jaar, is die kindjie dus ‘n baie klein rukkie regtig klein. Waarom wil ‘n mens hom dan forseer om gouer groot te word? Hy het die res van sy hele lewe om groot te wees! Geniet en waardeer hierdie mooi tydjie in jou kind se lewe. Glo my, jy gaan dit nog mis.
Nouja, ek weet nie of ek nou eintlik hier iets gese het wat die moeite werd is nie, behalwe dat ek voel dat ouers beskikbaar moet wees vir hulle kinders, hoe kleiner die kind hoe meer beskikbaar. Julle is julle kinders se enigste en grootste anker, en hier moet ons as ouers werklik probeer om ons kinders met soveel liefde te vesorg soos Jesus dit sou gedoen het. Dit is soms baie swaar vir ons as ouers, want niemand is perfek nie, maar ons moet probeer. Dit beteken nie ons moenie hulp he nie, inteendeel, hoe meer hulp ons het, hoe makliker sal dit vir ons wees om hierdie liefdevolle groot taak te verrig. Daarom wil ek ook alle jong mammas aanraai om hulp te kry as hulle kan, want hierdie is ‘n 24uur job!
Dit beteken ook geensinds dat daar nie dissipline moet wees nie, maar dissipline moet toepaslik wees vir die baan waar die kind is. Dit leer op liefdevolle wyse vir die kind die regte manier van doen en dit help die kind binne-in sy regte baan bly( bv geen flieks wat nie geskik is vir jou oudedom nie). Dissipline is nie om ‘n kind uit sy veilige baan te verwyder of die anker weg te neem nie.Vir my is hierdie idee van naby en verder sonder forsering nogal baie belangrik.
Nouja ek het net gevoel dat ek hierdie basiese teorie wil verduidelik.
Ek wil nou graag hier se soos die Engelse: Happy parenting!
Lekker slaap en baie liefde
Ma
ns. As ek so hier lees, dan besef ek dat ek baie keer tekortgeskiet het as ouer en nie my eie teorie volkome kon uitvoer nie. Daaroor is ek oneindig jammer, en ek weet dat niks dit kan regmaak nie. Vergewe my asseblief.
Om die volgende brief te lees, klik hier.
Stem saam. Ons maak maar almal foute, maar ons moet DAAR wees vir ons kinders.
Ag, dankie tog, IEMAND het gelees! Hallo en welkom Toortsie, mis jou positiewe stukkies, maar ons verstaan.
Ek stem 100% saam oor die sg. sleep training. Kon dit nooit doen nie en verlang nou na die dae van die kleintjies in ons bed!
Hallo Marile! Ja, daardie tye gaan so gou verby, ne.
Seegogga, ek gebruik nou jou forum om uit te vind wat van Toortsie geword het?? Ek weet sy lees jou inskrywings en hoop sy sien my navraag. Ek was laaanklaas by die blogs en skielik kan ek haar nie meer lees nie.. Voel soos ‘n goeie vriendin wat getrek het en nie gesê het waarheen nie….
Toortsie het besluit om net eers gou op haar baie werk te konsentreer. Ek hoop sy lees hier , want baie sal wonder, maar soos ek verstaan, is sy nie permanent weg nie.
Terug pieng: Ouma se bababoek . Brief 10. Babas en dokters | Seegogga se Bloggie