telefoonoproep na Rebusfontein

Dit word  skemer op Rebusfontein. Die voeltjies sing pragtige aandliedjies. Die Goue Vroue sit elkeen met ‘n glasie wyn op Seegogga se bont stoepie, en kyk hoe die son agter die bome sak. Op ‘n tafeltjie is die eetgoed wat almal gebring het. Daar is banting muffins, biltong, vrugte en neute, maar daar is sowaar ook kaaskoek en tiramisu. Eenkant staan ‘n botteltjie Franjeliko.

“Ek wens so ons kan weer partytjie hou,” sug Seegogga. “Ja, soos ons Abba partytjie!” Toortsie spring op en gooi ‘n paar passies terwyl sy “Dancing Queen “ neurie.

Die ander vroue lag heerlik saam. “Die snaakste was toe ou Pierce Broseman per ongeluk Virgo C se groenblare eksperimente geëet het, in plaas van die quacamole wat sy vir ons partytjie gemaak het. “Hy kon amper nie opstaan nie, so het hy gelag. Hy moes hom so aan die verhoog se traliewerk ophys!” Woordnoot  eet nog ‘n stukkie Tiramisu.

‘En wat van Appeltjie? Sy was heeltyd aan sy sy, soos ‘n goeie ambassadeur betaam, maar ek sê julle,sy  kon ook net nie ophou giggel nie!”

Die Goue Vroue giggel van vooraf. Una skink vir elkeen nog ‘n glasie, maar VirgoC verkies haar rooibostee.

Meteens lui daar ‘n telefoon. ‘n Telefoon op Rebusfontein? Dit kan mos nie wees nie? Die Goue vroue hou op met praat en kyk rond. Dis Seegogga se telefoon wat so lui!

“Goeie middag?” antwoord Seegogga. Skielik sit sy  regop in haar hangmat.

“Ekskuus? ‘n Storie.”

Die stem aan die anderkant is welluidend en warm. Seegogga voel hoe die bloed vinniger deur haar are vloei.

“Ek is ongelukkig nie nou tuis nie. Waar? Op Rebusfontein. Ag jy sal tog nie verstaan nie.”

Die stem praat sag en rustig. “Ek sal probeer, regtig. Vertel my van Rebusfontein.

Seegogga vertel. Sy vertel van die groepie dames wat saam begin blogstories skryf het. Elkeen het sy eie blognaam.

Sy vertel hoe hulle in die blogwereld die perfekte misdaad gepleeg het toe hulle die verlore krugermiljoene ontdek en gesteel het. Sy vertel hoe hulle hulle slap gelag het vir mekaar se manewales en snaakse idees.

Die goue vroue beaam en luister saam.

“Dit klink vir my wonderlik! Vertel nog!”

Sy vertel hoe hulle uiteindelik  hulle eie dorpie gekry het: Rebusfontein, en hoe hulle elkeen hulle eie huisie daar gekry het, hoe hulle met ‘n vlieënde  tent om die wereld getoer het en hoe hulle Jumanji saam met Tarzan gespeel het.  Dit was in die Covid-tyd.

“En ek kry toe mos ‘n pasgebore wildebeeskalfie” lag Trommeltjies.

“Ja, toe Trommeltjies op ‘n blouwildebees ry, kalf díe mos. En die krokodille vang die ma, nou maak Trommeltjies die kalfie groot, hier op Rebus. O-ja, En dan het Kameel mos ‘n bont koei – een met al die kleure van die reënboog…”

As hulle geld nodig gehad het, het tannie Frannie hulle gered met haar broodjies vol diamante en goud – deel van die Krugermiljjoene.

“Ons het al tweekeer deur Suid Afrika getoer – eers met ‘n giggelgroen bus en toe met so ‘n perspienk bus wat kon vlieg ook”. Seegogga giggel. “Die polisie dink ons is gevaarlike wesens van die buitenste ruimte.”

“Julle klink vir my na ‘n wonderlike groepie vroue. Is dit nou alles in julle verbeelding?”

“Wel-ja en nee. Niks is regtig nie , en Rebus is ‘n denkbeeldige dorpie. Maar vir ons is Rebus nogal baie werklik. Veral in die Covid tyd was dit ‘n lafenis om hier op Rebus te kom rus. Dis moeilik om te verduidelik. Maar hier is vrede, en humor en avontuur.”

“Dit klink na ‘n wonderlike plek. Vertel my nog van julle avonture?”

“Ons was al in ‘n haasgat af en het daar ‘n koninin gered en ons was buitenste ruimte toe ook. Dit was vreesaanjaend, want party van ons is gekaap. Maar end goed, alles goed.

“Onthou ek het op die maan gaan tango, né!” roep Frannie.

Ja, na  ‘n tango op die maan saam met Silwer en sy motorfiets waarmee hy in die ruimte kon ry, het ons almal weer veilig op Rebus geland.”

“En nou gaan ons op ‘n reuse strykyster op die oseane vaar!” Una is sommer baie opgewonde. Die ander towerinne gesels ook lustig saam.

“Seegogga, het julle al ooit mooi stories gemaak oor telefoonoproepe?” Daar is ‘n tergklankie in die mooi stem.

“Nee, maar ek is seker ons sal kan! Gee net kans”. Seegogga frons. Dis nou ‘n vreemde versoek – en dit nogal van iemand wat nog nooit op Rebus was nie.

Seegogga skud haar kop. Dis al asof daar iets is wat sy moet onthou.

Die goue vroue lag en gesels, want op Rebus is daar niks wat jou ontstel nie, selfs nie eers ‘n telefoonoroep nie.

“Seeggogga, is jy nog daar?” Die mooi stem aan die anderkant is nog daar. Sy hou so van hom, maar sy wens hy wil weggaan.

“Ek bring vir jou ‘n bietjie koffie, my lief.”

Sy skrik. Koffie? Op Rebus? Sy luister steeds na die pragtige voeltjiegesang, maar sy sit nie op haar Rebushuisie se stoep nie, sy sit in haar sitkamer op Bredasorp. Voor haar staan haar man met ‘n koppie koffie in sy hande.

“Ek geniet jou Rebusstories, my lief, maar dis tyd dat jy jou storie skryf, Anna-Marie, daar is nog net ‘n dag oor. “

Sy wens so sy was nog op Rebus. Die goue vroue sou haar gou gehelp het. Sy weet sy moet ‘n storie skryf .Dis vir ‘n kompetisie. Die tema  moet wees: Die stem aan die anderkant van die telefoon. En sy kan aan niks dink nie.

“Nee, dis nie waar nie”, né. Jy het ‘n klomp idees neergeskryf. “Haar man praat mooi met haar.

Sy dink aan die mamma wat jare laas van haar verlore dogter gehoor het, en toe bel die dogter een dag. Sy dink aan die afperser wat iemand bel en afpers. Daar is ook die persoon wat die nooddienste bel en dan sy storie vertel en hoe hulle hom help. Of dit kan iemand wees wat vir jou bel en vertel van die miljoen wat jy gewen het. Of dit kan ‘n verlore liefde wees wat weer jou opgespoor het….Haar dogter het vir haar gesê sy moet ‘n oproep van haar alter-ego kry. Die moontlikhede is eintlik eindeloos.

“Seegogga…Anna-Marie!’

Sy hoor sy mooi stem, sy geduld. Sy weet dat daar vir haar geen ander stem aan die anderkant van die telefoon kan wees nie. Dis net hy – haar man, haar geliefde. Hy is die stem aan die anderkant van die telefoon… aan die anderkant van haar lewe. . Nou en vir altyd.

Sy sleep haar rekenaar nader en begin skryf.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in feeverhale en ander stories, Los opdrifsels, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein and tagged , , . Bookmark the permalink.

13 Responses to telefoonoproep na Rebusfontein

  1. Toortsie sê:

    Oe dit is hoendervleismooi.

  2. Dit is so mooi geskryf. En ja, dit is die beste stem om te hoor, die een van jou geliefde oor die foon.

  3. Una sê:

    Seegogga, soos Toortsie sê, jou storie is hoendervleis mooi. Ons het soveel herinneringe opgebou dat ek nie eens meer dink Rebus bestaan nie regtig nie. Rebus bestaan uit ons, en ons is so werklik as wat kan kom. Nogmaals geluk met ń pragtige skrywe.

  4. woordnoot sê:

    Ek het nou die dag n legkaart op my foon gebou…en op n huisie afgekom wat my laat verlang het.

  5. VirgoC sê:

    Stem saam Toortsie, hoendervleis-mooi🌻🌻

  6. appeltjie sê:

    Jy het ‘n uitstekende slag met woorde. Kan ‘n prentjie daarmee skilder net so mooi soos met verf.

  7. Ooeewwww ek het nou lekker gelees. Dalk sal Lolla annerdag (ná daai kompetisie klaar is) vertel van haar eie telefoonstorie. ♡

Laat 'n boodskap na Una Kanselleer antwoord

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s