Die eensame koning

Eendag, lank gelede, so vanaf, 1845 af, was daar ‘n klein prinsie. Die arme prinsie se pa was natuurlik die koning van die land, Bavaria, en baie besig. Hy  het nie gedink kindersgrootmaak is deel van ‘n koning se pligte nie, daarvoor het hy mos ‘n klomp diensknegte. Die prinsie se ma het seker maar dieselfde gedink, want almal vertel hoe dom sy was.

So het die prins maar taamlik alleen en liefdeloos grootgeword. Sy oupa, ook Ludwig, het darem nou en dan bietjie aandag aan hom gegee. Klein Ludwig het hom waarskynlik besig gehou met feeverhale van die broers Grimm, ander mooi stories, musiek en sy verbeelding.

Toe Ludwig 18 jaar oud word, sterf sy pa skielik en die jong prinsie word koning. O wereld: Skielik moet hy voor groot gehore optree, en konverensies bywoon en die land help regeer, hy wat maar altyd so op sy eie in sy eie wereld geleef het.  Dit was nie vir hom baie lekker nie, maar daar is ‘n paar dinge wat hy graag vir sy volk wou gee- goeie teater en goeie musiek.

So het Ludwig, nou koning, gehelp om twee goeie teaters te bou sodat sy mense goeie opvoerings kon bywoon, selfs Shakespeare-dramas. Hy het ook daardie groot komponis, Wagner, gehelp om weer op die been te kom. Wagner was altyd bankrot en  in die moeilikheid.  

Ludwig het op sy reise ook Versailes besoek en die weelderige kasteel van koning Louis 14 bewonder. Terug in Bavaria, het hy begin kastele bou- die een mooier as die ander. So kon hy sy verbeelding vrye teuels gee. Nouja, hy was natuurlik gewoond om in kastele te bly- in Nymhenberg in Munchen, waar hy gebore is en in Hohenschwangau waar hy as tiener baie tyd spandeer het, maar nou wou hy graag iets spesiaals skep.

Een van die kastele was Herrenschiemsee, wat op ‘n eiland in die Schiemsee, een van die grootste mere in Duitsland, gebou is; ‘n ander was Neuschwanstein, ‘n regte feeverhaalkasteel, so mooi dat Walt Disney dit jare later gebruik het as model vir sy feeverhaal-flieks. Sy gunsteling was egter Linderhof, ‘n klein kasteeltjie, as mens nou na kastele, kyk, maar met pragtige tuine en ongelooflik mooi binne-in.

In Linderhof het koning Ludwig graag gewoon, maar siestog, heel alleen.  Daar het hy ‘n wonderlike klavier (of is dit nou klawesimbel?) gehad, wat hy laat maak het vir Wagner om vir hom te speel, maar ongelukkig het Wagner om so wangedra dat hy moes landuit, en het hy nooit die koning in Linderhof besoek nie. Die klavier het maar daar bly staan.

Die koning het ook besluit dat hy ‘n towertafel wil he, soos in die feeverhaal “Dek tafeltjie dek.” Die tafel het deur ‘n opening in die vloer verdwyn, en dan het die kokke onder die heerlikste kosse daarop gesit, en dan het die vloer oopgeskuif en die tafel weer uit die vloer uit verskyn, nes ‘n towertafel. Wonderlik, want dit was jare voor James Bond se gadgets, maar siestog, dis maar ‘n kleinerige tafel met net een stoel. Die koning het maar meestal alleen geeet in sy kasteel. 

Die dromer van ‘n koning het nog iets begeer: ‘n romantiese grot met ‘n meer en verhogie waar Wagner se mooi operamusiek opgevoer kon word. Ai, die Wagner weet nie wat hy gemis het nie! Die koning het die pragtigste grot laat bou, kompleet met stalagtiete en stalagmiete, ‘n sagte blou meer so onder die grond, met ‘n bootjie op waarop mens kon rondroei. Maar nie sommer so ‘n bootjie nie, hoor! ‘n Droombootjie wat lyk soos ‘n skulp, met klein cupido  op die een punt. Te pragtig en romantes verby!

So het die koning in sy droom voortgelewe en nie besef dat sy kabinetsministers baie kwaad vir hom is nie. Hy mors mos die land( wat intussen deel van Duitsland geword het) se geld, en hy doen nie wat hulle wil he hy moet doen nie! Sy volksgenote was lief vir die koning, maar wat gaan van die land word?

Die kabinetsministers maak ‘n skelm plan. Hulle kry 4 belangrike psigiaters en se vir hulle om te getuig dat die koning mal is. Ek neem aan hulle het vir hulle skelmpies ‘n hele paar Frank onder die tafel deurgegee, en die prins se alleen-lewe baie verdraai. Hierdie 4 psigiaters getuig toe almal dat die prins sielsiek is- hy ly aan paranoia( vervolgingswaansin), dit ten spyte van die feit dat 3 van die 4 hom nog nooit ontmoet het nie, en die vierde hom tien jaar vantevore laas gesien het.

In 1886, t0e koning Ludwig 41 jaar oud is, kom vang hulle hom en neem hom na Kasteel Berg by die Starnberg meer, wat hulle vooraf ingerig het sodat hy nie kan ontsnap nie. Eers daar sien die dokter, Dr Guden, hom vir die eerste keer weer. 

Daardie aand, toe dit stormagtig en koud is, besluit die dokter en koning Ludwig om te gaan stap. Wou Ludwig ontsnap? Hy was ‘n fikse jong  man. Of was dit ‘n komplot? ‘n Mens gaan stap nie op so ‘n aand nie! Wat het gebeur:????

 Ons weet dat die dokter die koning se wagte teruggestuur het kasteel toe. Hulle mag nie saamgestap het nie.  Ons weet dat die mense later meer as 3 uur lank na hulle gesoek het voor hulle hulle gekry het- albei dood, in die vlak water van die meer. Koning Ludwig het nie verdrink nie- hy was ‘n uitstekende swemmer en die water was te vlak. Is hy geskiet? Sommige beweer dit, ander se nee, daar was geen merke aan sy lyf nie. Het die dokter hom dalk ingespuit met iets? Die dokter het wel merke van ‘n struweling aan sy lyf gehad. Het Ludwig homself probeer verdedig? Of probeer ontsnap? Of is die dokter dalk stilgemaak omdat hy te veel geweet het? Wie sal weet? Tot vandag toe het niemand die antwoorde nie.

Maar daar hoog op ‘n koppie, daar op die eiland in die groot meer en daar by Linderhof, is vandag nog die pragtigste, pragtigste kastele- kastele wat vir sy land meer geld inbring as enigiets anders, want daagliks stroom duisende besoekers vanoor die hele wereld soontoe om hulle te verkyk aan die wonderlike drome van die eensame koning.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Euro-trip, feeverhale en ander stories. Bookmark the permalink.

9 Responses to Die eensame koning

  1. Ronelle sê:

    Annamarie,
    Was ook so opgeneem met die arme Prins Ludwig wat die pragtige kastele en al die kunste en Opiumsaal en musiekgrot laat oprig het, maar nie goed genoeg was om ‘n koning te wees nie!!
    Ronelle

  2. Dankie vir die vertel en die mooi fotos, dis ‘n baie lekker blog hierdie!

  3. toortsie sê:

    Sjoe, ek voel ek moet ‘n maand Duitsland toe gaan. Geld!!! TYD!!! WAAAAAARRRRRRR is julle????

  4. seegogga sê:

    Laat weet my as jy hulle gekry het. Ek SOEK hulle ook!!!
    ..

  5. seegogga sê:

    ja, want hier by my is hulle nie!

  6. Terug pieng: gediertes met knypers | Seegogga se Bloggie

  7. Terug pieng: die lewe is ‘n feeverhaal | Seegogga se Bloggie

Laat 'n boodskap na toortsie Kanselleer antwoord

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s