Huise, name en Seegogga se Rebushuisie

Seegogga sit lekker agteroor op haar stoepie met ‘n koppie Bolandse flat white in haar hand.( Sy is mos nou gerehabiliteer).

Sy bekyk die pragtige groen veld. Die gras is net reg- nie te lank nie, nie te kort nie. Die blommetjies is pragtig en die voëltjies sing. Voor haar is die Rebusdam met hier en daar ‘n waterlelie.

Sy dink oor die al die dramas wat hulle die afgelope tyd gehad het, toe Rebusfontein byna verdwyn het agv die polisie se ontydige sanitasie. Hulle het so baie gespuit, dat die huisies begin gly en geskuif het en die hele plek was toe onder die mis, sodat die Towerinne almal baie ontsteld was.

“Is dit nie wonderlik nie”, dink Seegogga. Haar huisie het geskuif tot by die dam! Sy is mos lief vir water. Sy kan ook die ander se pragtige huisies mooi sien. Sy sien hoe almal werk en woeker om hulle huisies weer mooi te maak. Mnr Krap het ook haar huisie se planke mooi vasgekap en hier en daar oorgeverf.

Seegogga het klaar haar badkamertjie gemaak om haar aan haar seehuisie te herinner. Sy wil erens nog ‘n blommetjiesmuur verf en bietjie werk aan haar skulpmeubels, maar oor die algemeen is sy mal oor haar ou Rebushuisie wat nog vir haar net so mooi lyk soos toe sy hom gekry het.

Gaan sy nou vir haar ‘n naam kies? Seegogga dink aan haar seehuisies en haar Bredasdorp huisie. Hulle het almal name en almal stories.

Rus ‘n Bietjie was al die jare, seker van so 1939 af, Rus’n Bietjie. Daar het hulle en die mense voor hulle wonderlike vakansies deurgebring, al is dit ‘n klein vissershuisie met gyte en boer-maak-‘n-plan-aanbouinkies. Sy en mnr Krap is nou juis besig om ‘n stort in te bou waar daar eintlik nie voorheen plek was vir ‘n stort nie. Sy hoop dit werk. Rus ‘n Bietjie is wyd en syd bekend , want hierdie love-it-or-hate-it huisie is baie mense se allergunsteling vakansieplekkie. Hulle noem hulleself Rus’nBietjieverslaafdes.

img-20200806-wa00022424643221726696619.jpgDan het sy Erika op Struisbaai, vernoem na die fynbos al is dit met ‘n k om dit te onderskei van al die Ericas, soos haar mammie dit graag wou doen; Annies, vernoem na haar Mammie, omdat dit haar Mamma se idee was en omdat dit haar Mamma was, en Fagans vernoem na haar Pappa, omdat dit in sy garage gebou is, en omdat dit haar Pappa se huis was en omdat dit haar pappa was.

Seegogga se Bredasdorp huisie is Paleishuis, so genoem deur haar kindertjies, toe hulle nog klein was.

Toe sy en mnr Krap moet besluit watter huis om te koop, was hierdie een spesifieke ou huis met groot vertrekke leeg en ongemeubileerd. Die kindertjies was 6, 4 en 1 jaar oud. Na ‘n piepklein Pretoriahuisie , het hulle in die groot leë vertrekke donderend op die plankvloere rondgehandloop, en selfs effens verdwaal. “Sjoe, dis seker hoe ‘n paleis moet voel”het hulle gesê en hulle verbeel dat hulle in een van die paleise van die kinderstories is. Hulle het wou baie graag gehad het dat hulle ouers die Paleishuis moes koop – wat mnr Krap toe ook gedoen het. Toe noem Seegogga maar die huis Paleishuis.

Maar nou het Seegogga ook ‘n huisie in die binneland gekry. ‘n Wonderhuisie in ‘n wonderland – ‘n droomhuisie. Die huisie is perfek. Sy naam was nog altyd Seegogga se Huisie. Soms noem sy hom Rebushuisie. En so gaan hy bly. Seegogga se huisie, en soms, as die gevoelente haar lei, Seegogga se Rebushuisie.

Sy dink weer aan Vuurvliegie wat die huisie vir haar present gegee het. Vuurvliegie weet nie watter wonderlike ding sy gedoen het toe sy Rebusfontein geskep het nie en Seegogga se huisie vir haar present gegee het nie. Sy wens so Vuurvliegie en Hester wil weer terugtrek. En naduurlik, die moeder van almal, Kameel. Hulle is mos van die oorspronklike towerinne.

Ja, soms trek mens uit en weg en verken nuwe lande en weë, maar gelukkig kan ‘n mens altyd weer teruggaan na jou eie wonderhuisie in ‘n wonderdorpie want daardie huisie bly altyd net jou huisie. Niemand anders kan in hom intrek nie – net jyself – solank daardie huisie en dorpie nog in jou hart is.

Dis reeds skemer. In hierdie tyd van inperking is dit lekker op haar stoepie.Hier kom Toortsie ook aangestap.

Seegogga gaan haal vir hulle albei lekker red cuppachino. Hulle klink hulle koppies

” Op ons Rebushuisies!” sê Seegogga.

“Lank lewe die towerinne!” Klink Toortsie.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in feeverhale en ander stories, goue vroue, Los opdrifsels, rebusfontein, perfect day, vriende, nostalgie, rhebusfontein. Bookmark the permalink.

13 Responses to Huise, name en Seegogga se Rebushuisie

  1. Letty-Ann sê:

    Seegogga, jou huisname gee my skoon hoendervleis!

  2. Ag Seegogga, dit was nou pragtig. Ek is mal oor jou huisie.

  3. Una sê:

    Dit klink perfek, Seegogga se Rebushuisie, en jou plekkie bly lieflik mooi.

  4. Toortsie sê:

    Mal oor jou en al jou mooi name.

  5. Positief sê:

    Al daai name is baie oulik, maar ek hou meeste van Seegogga se Rebushuisie, dalk is ek bietjie bevooroordeeld?

Lewer kommentaar