Seerowers!(deel 1)
Seerowers! (Deel 2)
SEEROWERS! ( DEEL 3)
Seerowers!(deel 4)
Seerowers (DEEL 5)
Wat is al hierdie links hierbo tog?
Wel hulle is almal links na die verskillende hoofstukke van ‘n baie gewilde familiestorie-‘n seerowerstorie, deel van ons famieliestories wat gereeld weer opgediep en met smaak vertel word wanneer ons familie bymekaar kom.
Dis dan ook hoekom ek dit jare gelede, in die beginjare van my bloggie, neergeskryf het.
Nou hoekom nou weer hier? WANT- en ek kan nie ophou giggel nie- my kleinkinders wat in graad 7 in die Paarl op skool is, kry toe mos gister die einste eerste hoofstuk van my seerowerstorie as ‘n begripstoets in hulle eksamen.
Ja sowaar! Erens het hulle Afrikaans juffrou( wat ek glad nie ken nie) my bloggie raakgelees en besluit on dit te gebruik as begripstoets in die eksamen. En toevallig is sy mý tweelingkleinkinders se Afrikaanse juffrou!
Die kindertjies het seker eers die woorde Struisbaai raakgelees en toe die Seegogga gesien en besef hulle ouma is mos ook Seegogga.
Die goeie juffrou het gelukkig die skrywer se naam, nl Seegogga, bygesit, anders het hierdie groot toeval ongesiens verbygegaan.
Ek wonder hoe hulle gevoel het? Dit het hulle darem genoeg getref dat hulle hulle ma vertel het en sy toe weer vir my Die tweetjies het nog glad nie die storie geken nie en was verbaas om te hoor dat dit ‘n ware verhaal is.
Hulle is gewoond om te hoor dat hulle Seegogga-ouma saam met Tarzan in die takke rondswaai of saam met die Goue Vroue in die buitenste ruimtes rondkerjakker in ‘n vuurpyl.
Ek wonder of hulle maats hulle gaan glo? Ek wonder of hulle darem dink die storie is oraait?
Eintlik lê die Seegogga op haar nuwe seesponsmatrassie in haar skulpbedjie en sy giggel soos ‘n bakvissie van pure plesier. Een van die dae kom die tweeling kuier en dan gaan sy vir hulle die bewys uit die kluis haal en dan sal sy al die skoolstories ook hoor.
Maar nou gaan Seegogga eers slaap- met ‘n glimlag op haar gesig!

Hierdie is kosbaar verby en ek verkneukel my in jou plesier
LikeLike
Dankie liewe Trommels. Ek dog toe, dis nie goed genoeg om net vir almal wat ore het te vertel nie. Dit hoort hier op my bloggie- vir die nageslag!
LikeLike