Kraterstories: Ons gaan Rose Show toe!

Dis lankal tyd dat ek vertel van die Rose Show.

Kyk, ek is mos Bredasdorp se roomyskoektannie. Veral vroeër jare het ek omtrent vir elke kinderpartytjie ‘n roomyskoek gemaak: katkoeke, teddies, trolle, watookal. Die koeke moes in die vrieskas bly en is verkieslik die dag voor die verjaardag afgehaal sodat die koek mooi kliphard kon vries voor die partytjie.

Soms het mense egter nie ‘n geskikte vrieskas gehad nie. Hierdie spesifieke naweek, jarre gelede voordat ons nog selfone gehad het, sou die dame Saterdagmiddag 2nm ,net voor die kindjie se partytjie, gou die koek kom haal en ek het pligsgetrou gesorg dat die koek al die Vrydag klaar was.

Die Saterdagoggend staan ek en die kinders luilekker op. Manlief was uithuisig vir werk. Die lieflike dag lê wyd en oop voor ons. By ons plaaslike supermarkie trek ‘n plakkaat ons aandag: Greyton, daardie pragtige kunsdorpie, het hulle jaarlike “ROSE SHOW” vandag, en net daar besluit ek en my 3 dogters: Ons gaan Rose Show toe! Op Greyton! Ek reël dat ek die sleutel vir die huis in my posbus sou laat sodat die koek 2nm beskikbaar sou wees vir die klant.

Ons wikkel en roer en toe is ons op pad. By Van Brakelstoor besluit ons om die kortpad deur die plaaspaaie te vat: die ry is mos deel van die avontuur. En dit is ook net so. Op ‘n sekere bult is daar skielik 2 sekretarisvoëls reg voor ons in die pad! Om een van naby te sien is klaar ‘n baie skaars ding, maar twee! Op ‘n ander draai ry ons verby ‘n pragtige plaaswerf. Sjoe – groot en baie netjies. Ons sing en gesels en is vrolik.

Net toe, net toe ons amper by die N2 is, tref die skoot koue water my:” Ma, wat van die roomyskoek?” – Die roomyskoek in die vrieskas. Die een wat die vrou 2 uur vanmiddag kom haal. Ek het vergeet om die sleutel in die posbus te gooi!

Ek maak plan. Ons draai gou om. Dit naaste telefoon sal by daardie pragtige plaasopstal wees, besluit ons. Daar gekom , klop ons en roep, maar daar is nie ‘n siel op daardie werf nie. “Hulle is natuurlik almal by die Rose Show!” besluit ons.

Dan maar verder terug.

Ons kom by ‘n kleinerige huisie met ‘n 6 voet hoë doringdraad heining om. Agter die heining is ‘n gevaarlike wolfhond besig om ons wantrouig dop te hou. Ons waag dit nie te naby die hek nie, maar gelukkig loer daar ‘n ou tannie uit. Ek verduidelik dat ons dringend ‘n telefoon nodig het, en sy laat ons binne. Sy het sowaar nog een van daardie fone wat met ‘n ronde skyfie werk waarmee mens skakel, so ‘n regtige groot swart outydse telefoon.

My buurvrou, Elsabe, het my lank gelede reeds gewys hoe ek by my eie deur kon inbreek met ‘n kredietkaart, maar ai, Elsabe is nie tuis nie! Ek bel gou my buurvrou met die twee tienerseuns oor die straat en gee gou vir hulle ‘n les hoe om in te breek. Hulle moet asb my deur oopmaak met die kredietkaart sodat die vrou haar roomyskoek kan gaan uithaal, en dan sal ek weer vir haar vertel dat die deur oop is. Maar ai, tieners of te not, hulle kry dit nie reg nie. Na meer as ‘n driekwartuur se heen en weer skakel en ‘n ou tannie wat al wantrouiger na my staar, ten spyte daarvan dat ek haar sal betaal, laat weet die bure dat hulle dit glad nie regkry om my deur oop te maak nie.

Daar is net een genade. Ons moet terug. En vinnig! Dis net ‘n uur voor die partytjie begin. Ons kyk nie meer vir mooi voëls , plaashuise, landerye en blou berge nie. Ons jaag, so vinnig soos die grondpaaie ons toelaat – terug Bredasdorp toe.

Net mooi so 2nm is ons terug by die huis. Teen die deur is daar ‘n briefie: “Ons het dit toe reggekry. Die seuns het jou diefwering van die katte se venstertjie afgeskroef en ingeklim om die deur oop te maak en toe die diefwering weer aangeskroef.” ‘n Vinnige loer in die vrieskas bevestig dit: die koek is klaar weg.

Nouja. Al die gejaag verniet. Ons het toe maar gaan roomys eet.  Maar wat ‘n avontuurlike dag: Die dag toe ons na Greyton se Rose Show toe gegaan het!

003

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in kraters en ander skandes (humor), Los opdrifsels and tagged . Bookmark the permalink.

14 Responses to Kraterstories: Ons gaan Rose Show toe!

  1. Toortsie sê:

    Hoe lekker skryf jy! Wel, die soontoegaan was darem mooi en lekker, maar wat ‘n teleurstelling!

  2. Kostelike gebeurtenis!Dis wanneer die waarde van selfone eers waardeer word,né!

  3. seegogga sê:

    Ai ja! Dis die naaste wat ons ooit aan die rose show gekom het!

  4. Ai, Seegogga! Jy kan maar sketse skryf! Publiseer nou ‘n bundel, asseblief. Moenie opgee nie. Gebruik ‘n kontak by ‘n uitgewer, slaap by ‘n keurder, betaal ‘n skrywersbydrae, maar moet liewer nie selfpubliseer nie. Die uitgewers help jou darem versprei. Oorl Esje du Toit het suksesvol selfpublikasie gedoen, maar sy het duisende aan drukkoste betaal, duisende kilometers gery met bokse boeke wat sy by honderde punte gelos het en dan weer die kontant en oorblyboeke gaan kollekteer het. Baie boeke en geld het net weggeraak.

  5. Kameel sê:

    Ek dink julle dag was meer opwindend as die roosskou. Kyk hoe goed onthou jy nog die detail van daardie dag 🙂

  6. Olga sê:

    ou Murphey en sy groot pote ne.

  7. travel460 sê:

    Dit klink na ñ heel opwindende dag, julle Rose Show ekskursie. Ek moes glimlag. Omdat ek self 3 meisiekinders het, kan ek net dink hoe hulle ma ondersteun het in al die planne maak.

  8. Terug pieng: Ledigheid is die duiwel se oorkussing | Toortsie, Kameel en Bokbaaivygie se blog

Lewer kommentaar

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s