Van Uitstel kom Afstel

Elke liewe dag kyk ek na my bloggie. Ek sien tot my verstomming hoe die leserstalle groei en groei – dit ten spyte van die feit dat ek 2 maande laas geskryf het.

Elke dag dink ek ek moet iets skryf. Dis nou al twee weke wat ek mik om oor ou Rusky te skryf – ons geliefde hondjie wat nie meer met ons is nie. Maar ek wil ‘n mooi foto bysit – en die foto is weg en ek het nie regtig tyd om dit te soek nie.

Ek wil graag die storie van Struisbaai se pelikaan vertel, maar ek moet eers my feite bietjie agtermekaar kry. Ek wil al jare lank die storie van Toortsie se liggie, ons eie liggie hier aan die Suidpunt van Afrika vertel, en ek hét eintlik al die navorsing gedoen en al die feite op ‘n papier neergeskryf – jarre gelede al. Die papier is nou al weg…

Ek wil nog eendag ‘n lys maak van alle oorsese skole en universiteite wat Afrikaans as vak doseer, maar…

Ek het nog ‘n hele paar goed op my lysie.

Ai, dis baie makliker om elke dag net gou na die stats te loer en te sien dat die bloggie darem nog asemhaal, selfs al ontbreek nuwe skrywes, blogs en idees. Dit raak al hoe moeiliker om te sit en te skryf!

Van uitstel kom afstel! Dis die dat ek nou vannaand sommer hier sit en bietjie nonsens skryf – net om darem iets te skryf.

Voel julle ook soms so?

Ter versagting wil ek net pleit dat ek besig is met ‘n skilpadstorie en hy ry my. Maar as dit werk, en ek hoop dit realiseer, dan sal dit wonderlik wees. en dan sal ek daaroor skryf hier op die bloggie.

En ten slotte wil ek julle sommer  hier op die Donderdagaand vertel van Louis die Laeveld leeu  wat my al heel week tickle. Hy sit mos nou die dag daar in sy strokiesprentjie in die Burger en hy gesels met sy vriend, die bobbejaan. “Het jy geweet dat mense afstammelinge van bobbejane is?” vra hy.” “Mense was in die oertyd bobbejane.”

“Ag nee!” sê die bobbejaan:” En wat het dan toe verkeerd geloop?”

 

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in idioomstories, Los opdrifsels and tagged . Bookmark the permalink.

12 Responses to Van Uitstel kom Afstel

  1. Toortsie sê:

    Lekker lag ek nou! Wat SOU verkeerd geloop het?
    Ek wil ek moet ek sal … ag ja,. eintlik is die blog mos net vir die lekkerte, so as jy nie daarby kom nie, maak dit ook nie saak nie.

  2. MMMMM dalk het die Ape nie bygebly nie? Lekker om jou te sien

  3. perdebytjie sê:

    Ek het gewonder waar jy is.Jy skryf so lekker!

  4. Dalk is ons die vermiste skakel!

  5. Kameel sê:

    Lekker om jou stem weer te hoor 🙂 of moet ek sê sien?

  6. seegogga sê:

    Sien is hoor! Ek is elke dag hier in blogland , nes jy, maar net bietjie stiller as gewoonlik. Hoop dit gaan goed!

Lewer kommentaar