Dolfyne op Struisbaai

Like ·  · Promote · 
  • Klik op die prentjie om hierdie mooi video van Struisbaai Fishing Adventures te sien. Hulle het my toestemming gegee dat ek dit kan plaas.

By die see gebeur daar altyd iets! Soos die see nooit twee dae lank dieselfde is nie, so is die gebeutertenisse ook altyd ‘n verrassing.

Ek onthou hoe ek en die kinders een winderige koue Sondagmiddag af see toe is. Niemand wou water toe gaan nie, agv die gure weer, maar ek het voet by stuk gehou dat ‘n mense nie ‘n hele  naweek see toe kan gaan en dan nooit eers by die see self uitkom nie.

Toe ons daar by die twee ou mure van Struisbaai kom ( vandag Die Blokke genoem), lê daar seesterre: duisende en duisende! ‘n Mens kan nie trap nie, of jy trap op een. Hulle is almal redelik groot en grys. Die wat op die sand lê, is opgekrul en lyk dood, en die in die water lewe . As die “droë” seesterre in die water teruggesit word, het hulle pote weer oopgekrul en het hulle weer begin lewe kry! Ons het begin om die op die sand terug te sit in die water – ‘n onbegonne taak, want daar was duisende! Vergete was die wind, die koue en die gure weer. My kinders het hulle gate uit geniet en een van daardie wonderlike seeoomblikke beleef- iets wat hulle dalk nooit weer so sal sien nie.

‘n Ander keer het ons by die walle op daardie groen pampoentjie skulpies afgekom. Ook duisende en mooi groot ook! Ons het daardie dag 3 streepsakke vol seepampoentjies opgetel  – strus bob!.Gelukkig tog dat my pa die sakke agter in sy bakkie gehad het. As hy meer sakke gehad het, sou ons hulle ook kon vul. Ek het nog nooit weer so ‘n oorvloed van die groen skulpe beleef nie.

Hier op die video hierbo, sien julle ook ‘n wonderlike gesig- ook iets wat nie aldag op Struisbaai voorkom nie. Die dolfyne -honderde van hulle! Dit moet seker deel wees van die ‘dolphin run’ wat elke jaar plaasvind as die vis loop, maar ai, dis mooi!

En dan is daar ons nuutste onverwagse aanwins in die hawe – maar meer oor hom in my volgend blog. Klik hier om van hom te lees.

Liewe Transvaalse besoekers, onthou tog , as die weer dalk nie is soos u bestel het nie, die see is altyd opwindend. Daar gebeur altyd iets. al is dit ook nou net die skuimende groot branders en die seevoëls wat vlieg, maar iets sal jy kry wat spesiaal is.

Struisbaai bo!

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Seestories and tagged , . Bookmark the permalink.

7 Responses to Dolfyne op Struisbaai

  1. Toortsie sê:

    Ek love die see. Jy weet mos! Weet jy, elke jaar kom daar so rondom nuwe jaar ‘n verskriklike skool dolfyne verby wat ons van ons huis af kan sien. Ek wonder altyd of hulle ‘n vergadering iewers het waarheen almal op pad is. XD

    • seegogga sê:

      Ek het eenkeer op TV gesien dat hulle praat van die dolphin run. Nes die sardyne rondom die land trek, trek die dolfyne agter hulle aan. Die program het nogal spesifiek van Struisbaai en Agulhas gepraat – en daar leer ek toe iets van ons eie plek op TV! Hierdie groot skool moet deel van die dolfyn”run” wees. En agter hulle kom die orcas, die moordwalvisse, wat nou onlangs op einste Struisbaai gesien is.

  2. Kameel sê:

    Ai, ai hoe lus maak jy my nou vir die see!! So van pampoentjies gepraat ons het eenkeer op Stilbaai so ‘n lekker ondervinding gehad. Op die strand naby aan die water sien ons die water op ‘n plek borrel soos ‘n ketel wat kook. Een van ons seuns druk hulle hand daarin en daar verdwyn sy hele arm in die water so diep is dit. Natuurlik is ons almal toe op on knieë met ons arms in die water, maar kan nie die bodem vind nie. Wat ons wel uit die water haal is groen pampoentjies. Onder in daardie borrelende gat was dit net seepampoentjies. Dit was vir ons ‘n rare en wonderlike ondervinding.

    • seegogga sê:

      Sjoe! Wat ‘n rare verskynsel! Dis soos die see is – op die onverwagste tye gebeur daar altyd iets. Lekker herinneringe. Maar ek sou skrikkerig wees om my arm sommer so in ‘n gat in te sit as ek nie kan sien wat onder is nie!

      • Kameel sê:

        Dit was so ‘n “anderste” ondervinding…. en ja, dit was met groot huiwering dat ons ons hande daarin gesit het. Soos jy sê dit was werklik skrikkerig… maar toe ons eers pampoentjies ontdek was daar geen keer aan ons nie. Dit was soos groot skatte wat ons ontdek het 🙂

  3. seegogga sê:

    Maar dit IS groot skatte – seeskatte! Ai, ek kan liries raak oor die skatte van die see, Ek dink dis tyd dat jy by Toortsie kom kuier sodat jy ons see kan beleef en sodat sy daardie lekker tert kan maak en vir my ook kan nooi…..ek gaan nou oor nog ‘n seestorie en skat skryf.

  4. Terug pieng: Seeskatte | Seegogga se Bloggie

Laat 'n boodskap na Kameel Kanselleer antwoord

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s