Paleishuis, my klein tuisbesigheidjie, is ‘n raamplek en kunsgalerytjie. Vroeer jare het ek hom woes bemark.
My man het by ‘n firma gewerk wat soms uitgelese oorsese kliente gehad het. So kom daar een aand, so 6.30nm twee baie belangrike Duitsers- die hoofde van die hele Duitse ekspedisie- aan: Hulle kom soek skilderytjies ter aandenking aan hulle besoek in SA.
Nou kyk, my 3 kinders was klein, en die macaroni en kaas wat ek vir aandete gemaak het, was pas in die oond, maar business is business! My man kom ook by en omdat hulle mekaar ken, word daar ‘n hond uit ‘n bos gesels. Macaroni neem 20 minute, en toe die tyd om is, nooi ek hulle maar om saam te eet.
Nee dankie, hulle wil nie, hulle eet nooit aandete nie. Maar hulle bly gesels in hulle geradbraakte Engels en my nog swakker Duits. Na nog so 10 minute beduie ek vir my oudste dogtertjie om versigtig die kos uit die oond te haal en solank aan te gaan en te eet. Die Duitsers gesels. Ek herhaal die uitnodiging- nee dankie, hulle is regtig nie honger nie.
So half tien daardie aand sê die manne skielik: Hulle dink hulle sal nou my aanbod aanvaar. Aandete sal heerlik wees.
Toe het ek net so ‘n halfgeëete, koue macaroni, waarvan die meeste kaaskors bolaag afgeëet is! Hulle moes dit maar so vat. Ek het gelukkig ‘n bietjie ertjies gehad wat ek gou kon bymaak as troos.
Ons het om daardie tafel gesit met die halfgeëte koue macaroni in die middel en ‘n bottel wyn, en lang stukke gesels tot so 12nm. Ek was baie skaam oor die kos, maar die Duitsers het my verseker dat dit een van hulle lekkerste aande nog in SA was.
Nou toe nou!
Wys jou, net soos my oorskiet op toast…
Netso!
Kos is kos!! Ek sou hulle met die Macaroni gegooi het as hulle daardie tyd van die aand honger geraak het.
Nee wat, hierdie kwalifiseer darem nie as ‘n krater storie nie, in ‘n huis vol seuns sou dit in elk geval so gewees het!
Hallo Leon, ek het darem ook gedink dit kwalifiseer nie eintlik as kraterstorie nie- dit was mos nie my skuld nie! Maar glo my, ‘n mens voel ewe simpel!
Hulle het dit so geniet omdat hulle liefde en gasvryheid ervaar het. Ek glo hulle dat hulle daar die heel lekkerste gekuier het!