Kersfees, vakansietradisies en verandering.

gert se hawefoto

My ma was die tweede oudste van 11 kinders. Al 11 is getroud en al elf het kinders gehad. En elke jaar het hierdie groot familie in ‘n groot halfmaan van tente vakansie gehou dat dit klap, daar tussen die bosse op ou Struisbaai voordat dit ontwikkel het.

Dit was nie sommerso nie, hoor! My oupa, Tom Falck, het elke jaar ‘n groot vragmotor0 gehuur. Daarin was ‘n groot swaar seiltent vir elke gesin, ‘n tent vir die niggies, ‘n tent vir die nefies, ‘n tent vir die huishulp en haar seun en ook die groot kombuistent ( dws ten minste 16 tente?) Daarin was ook ‘n regte ysterbed en matras vir elke persoon,( dus meer 30 beddens en matrasse, want sommige nefies en niggies moes nog gebore word). Daar was opslaan tafeltjies, outydse parafienstofies, van die soort met ‘n glasvenstertjie in, olielampe, waterhouers, lang koekblikke, potte, panne, braairoosters, ‘n “safe” ( wat die kos onder ‘n boom koud hou), ‘n hok met eende en hoenders, en goeters. Dit was ‘n toe vragmotor en hy was tot byna teen die dak gelaai. Aan die eenkant was ‘n klein venstertjie, en ek en my niggie, Annette, het een jaar die voorreg gehad om saam te ry. Van Robertson tot op Struisbaai het ons met ons neuse by die venster op die matrasse gelê en uitloer met ons sitvlak teen die dak. Daar was nie plek om regop te sit of selfs eintlik te draai nie.

Vir my as enigste kind, was die vakansies ‘n absolute fees, met die hordes niggies en nefies as speelmaats. Elke Oom en Tannie het ook hulle eie unieke baie sterk individuele karakter gehad en dit was ‘n belewenis om saans na hulle eksentrieke idees, stories en goedige geredekawel te luister. Soms het dit vir my geklink asof elkeen gelyk sy eie storie vertel terwyl hulle terselfdertyd nog kommentaar lewer op die ander se stories ook. Die ” aangenaaide lappe” se familie is Kerfees nie besoek nie. Al die Falcke en hulle gades was Desembers op Struisbaai by my ouma en oupa.

Soggens moes ons eers met die emmer gaan water haal. Die hele Struisbaai het net 1 kraan gehad en dit het ‘n pennie ‘n emmer water gekos.

Na ontbyt is ons af strand toe en in die see, tot ons honger geword het. Dan terug kombuistent toe , waar die groot koekblikke gewag het met die heerlikste tuisgebakte koekies in. Gewoonlik was dit egter al byna middagete. My ouma was nogal kwaai dat middagete stiptelik 12h moes wees.

Dit was sorgvrye jare, waar klein kindertjies alleen see toe kon gaan, of sandduine toe as die gier ons pak, of omstap Skuitbaai toe, (soos ons toe Struisbaai hawe genoem het) , sonder dat ons vir iemand hoef toestemming te vra. Saans met volmaan het ons as gesinne op die wye sandplaat gaan stap terwyl die maan op die water blink.

Hoeveel mense het al besef dat Struisbaai waarskynlik die veiligste strand in die land is? Daar het nog nooit ‘n swemmer verdrink nie en niemand is nog deur ‘n haai gevang nie! Elke jaar hoor ons van iemand wat kamstig verdrink het, maar dit het nog nooit gebeur nie. Dis amper soos die haai in die L’Agulhas swembad. Elke jaar vertel die kinders met groot oë dat daar ‘n haai in die gety poel is, maar dit het het nog nooit gebeur nie, behalwe eenkeer. Maar dit was ‘n ander storie, wat jy hier kan lees.

Na ete moes ‘n mens ‘n uur rus voor jy weer see toe gegaan het, want anders “sal jy ‘n kramp kry in die water”. Gelukkig was dit baie pret in daardie niggietent, maar ai, ‘n uur is baie lank! Daarna see toe, tot dit skemer raak en tyd raak vir braai – gewoonlik, vis wat die mans gevang het, soms seekat, witmossels en natuurlik allekruk wat ons met springetye van die rotse gaan afhaal het en nou en dan perlemoen. Daar was oorvloed van alles.

Toe ek 6 was, het ons op Sasolburg gaan woon, maar elke jaar, 24 Des, het my pa sy winkel gesluit en dan het ons in die pad geval en dwarsdeur die nag gery om op Struisbaai te kom. Dit was vir my wonderlik en ek en hy het nagte om gesels en gesing. Hy het altyd graag gesing terwyl hy ry en het ‘n pragtige stem gehad.

So 1960 het Struisbaai ontwikkel en ‘n ( treurige) kampplek op die wit sand te na aan die see probeer bou, waar die bome nie wou groei nie, en ons tente in wind en weer gestaan het met geen bosse om dit te beskerm nie. (Dit is vandag 60jr later, steeds so!). Maar ons kamp te lekker. Hier en daar het van die 11 kinders vir hulle karavane gekry, en die niggie en nefietente het in die slag gebly. Dit was die dae van die “bob” en my oudste niggies en jongste tannies, het gebob dat die sand so spat rondom die braaivuur. Gewoonlik was daar erens iemand wat trekklavier gespeel het.

Kersfees was ‘n groot storie. Ons het die stranddienste se kerk bygewoon. Hulle het gewoonlik ‘n pragtige preekstoel van seesand gebou en versier met oranjerooi duinebessies, seegras en skulpe. Dan het ‘n mens daar op die strand se wit sand gesit met die soet soutgeur van die see in jou neusvleuels, terwyl die wind jou hare in jou oë waai, die son jou rug lekker warm kielie en die blou see lieflik in jou ore ruis . Die jong student se boodskap was altyd begeesterd en uitsonderlik. So naby aan die Here het ‘n mens gekom by daardie stranddienste!

Vir kersete het elk van die 12 gesinne ( my oupa-hulle was mos ook daar), dan ‘n heerlike spesiale gereg gemaak,( op primusstofies want Struisbaai het eers in die laat 80er jare krag gekry) wat op die tafels uitgepak was sodat ons kon skep wat ons wil. Die poeding was altyd Struisbaai se doekpoeding met vla. Dit is ‘n poeding met baie droëvrugte en speserye in wat in ‘n doek in die water gekook word. En erens in daardie poeding was ‘n tiekie of twee. Gelukkig is jy as jy dit in jou bakkie poeding kry!

Van kersfeespresente kan ek nie by die see onthou nie. Ek onthou tog die Kersboom en die kussingsloop wat ek elke jaar saans moes ophang sodat Krismisvader sy presente daarin kon sit, maar dit was by ons huis in Sasolburg, so ek glo ons het vroeër as wat dit moes, ons Kersboom daar gehou. As jy klein is, weet jy nie veel van datums af nie, behalwe dat ons elke jaar op 24 Desember vir 3 weke lank Struisbaai toe is.

Nog later, toe my ouma en oupa te oud raak vir kamp, het hulle Rus ‘n Bietjie op Agulhas ( eintlik maar deel van Struisbaai of andersom) gehuur – die einste huisie wat nou aan my en my man behoort. Waar almal in die klein huisie geslaap het, weet ek nie, ek weet net ek en my niggie moes saam met my ouma en oupa in die een kamer slaap en ek het elke nag lê en luister na die wysies wat my oupa gesnork het. Kersfeesete was nog groter as voorheen, ‘n fees.

Nou is die groot anker wat almal saamgebind het, my ouma en oupa, lankal weg, en van die 11 kinders is daar nog net 4 oor. Op ‘n stadium het 8 van die 11 kinders en hulle gesinne egter hulle eie strandhuise op Struisbaai en Bredasdorp gehad Die kinders van die oorspronklike 11 is almal al getroud en baie van hulle se kinders ook. Baie van my ouma en oupa se kleinkinders is nou ook oumas en oupas. Deesdae gaan die kinders en kleinkinders ook soms na die skoonfamilie toe, maar gereeld hou ons ‘n familiebraai of samekoms op Struisbaai of Agulhas, ons familieplek. Struisbaai bly maar baie van ons se hartsplek.

In my 69 jaar is daar slegs 4 keer waarvan ek weet, wat ek nie op Struisbaai of Agulhas was met Kersfees nie. Vanjaar sal dit die 5de keer wees: Ons gaan Worcester toe na die kinders wat nie verlof kan kry nie. Maar ou matie, volgende jaar, as die Here ons spaar, is dit Rus ‘n Bietjie en familiefees!

Hierdie is nie ‘n woordsnoer nie, maar tog geskryf in opdrag van Scrapy.

Om nog kersstories deur te lees, klik hier. En plaas jou eie skrywes ook hier.

VLUU L210  / Samsung L210

IMG_1079

000031

20181031_131205.jpg

Rus ‘n Bietjie, L’Agulhas

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Die Overberg: my wereld., Los opdrifsels, Overberg, Seestories. Bookmark the permalink.

13 Responses to Kersfees, vakansietradisies en verandering.

  1. Toortsie sê:

    Ag, hoe lekker het ek saam gelees! Daar is maar net een Struisbaai. 😁

  2. AM, dit is die mooiste storie! Dankie. Ek het heerlik gelees. En, ai, die ‘memories’. So baie – kamp stories en kamp avonture ook saam met my Ouma en Oupa . Een spesiale vakansie was ons almal Kalahari Gemsbok Park toe. Dit was winter en snags erg koud. Die eerste nag slaap elke familie in hul eie tent. Die volgende nag word al die beddegoed uitgedra en word daar ‘n massiewe kermisbed opgemaak om die groot vuur. Almal moed saam slaap en mekaar warm hou. Met die volmaan, die rooi sandduine, en nou en dan, die vêraf gebrul van ‘n leeu, het ons nie lank geslaap nie. Voor die son op is word die vuur weer gestook vir koffie en beskuit. Net jammer al die melk in the twee groot melk kanne is solied gevries. My pa dink hy gaan vir homself melk kap met ‘n hammer. My Ouma stem nie saam nie. Sy wen. Ek kan nie eers onthou of die melk ooit gesmelt het nie. xx Lynn

  3. Watter pragtige herinneringe. Lekker gelees, dankie.

  4. Kameel sê:

    Dit is nou heerlike herinneringe Seegogga. Kan net dink hoe almal dit moes geniet het. Net in die vol trok ry laat my bors benoud voel… engtevrees!!!

  5. Ooooo, dis n heerlike terugdink aan die goeie dae van nie net kind wees nie maar ook regtig uitkamp met die hele familie. Jy het pragtig geskryf. Dankie vir jou terug pieng na my blog. Waardeer dit baie. Mooi Kersfees en goeie Nuwe Jaar vir jou en jou familie.

  6. woordnoot sê:

    AI toggie, en om te dink ons arme dorpskinders het dit heeltemal gemis! Wonderlike herinneringe!

  7. Nikita sê:

    Ai, die lekker groot families het altyd die lekkerste pret. Dis lekker om sulke goeie herinneringe te he van jou kinderdae. Voorspoedige Nuwe Jaar vir jou!

Laat 'n boodskap na Nikita Kanselleer antwoord

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s