Jare gelede, is 1976-77 om presies te wees, het ek 3 maande lank deur Europa getoer , net me , myself en I. En geldjies was skraps. En ‘n Boer moes ‘n plan maak, ne! Ek vertel hierdie storie in opdrag van Una van Travel 640. Gaan lees gerus wat sy in Bali aangevang het!
Destyds het “Europe on 5 dollars a day” vir my werelde oopgemaak en ek sal nog daaroor blog, maar vandag wil ek vertel van ‘n ‘street procession’ in Cardiff. Die Walliesers sing mos ongelooflik mooi en sommer in stemme. Dus moet jy ,as jy daar is, oa ‘n rugbywedstryd bywoon, of kerk toe gaan. Die hele Wallis was ongelukkig daardie tyd in Frankryk omdat hulle daar teen die Franse gaan rugby speel het, dus is ek die Sondag kerk toe.
Die hoop het nie beskaam nie. Die gemeente het pragtig gesing. Wat egter vreemd was, was dat daar ‘n kadetorkes soms saam met die orrel gespeel het, en dat daar besonder baie mense in uniform in die kerk was.
Toe die dominee begin preek, kom ek agter dat dit die gedenkdiens is van koningin Elizabeth se 25ste jaar as heerser. Die hele Engeland was vol aandenkinkies wat mens kon koop van die geskiedkundige jaar, en nou het ek selfs ‘n gedenkdiens bygewoon!
Toe die diens klaar is, begin die kadetorkes ( of weermagorkes?) lekker marsmusiek speel, en almal marsjeer by die kerk uit: ‘n Klomp soldate in uniform, skoolkadette, die orkes, die boy scouts, die girl guides, toe die burgemeester en sy gade met hulle goue kettings en deftige klere, en daarna die gepeupel ook mooi netjies in hulle kerkklere( of so het ek gedink, maar ek het later besef dat dit eintlik die VIP’S van Cardiff was.)
Nou kyk, soos Herman Charles Bosman, is ek ook MAL oor optogte en soos hy ook altyd saamgestap het, as almal saamstap, stap ek ook! So val ek toe in saam met die gepeupel (eintlik mos die Cardiff VIP’S), al agter die orkes aan, sonder om te weet waarheen ons gaan en of ek ooit weer my pad sal terugvind.. Dis te heerlik om so in die middel van die strate te marsjeer!
Ons marsjeer nog so lekker, toe draai die hele prosessie links en marseer verder op ‘n lang rooi tapyt en in ‘n groot gebou in. Dalk die stadsaal? Ek, met my ma se ou All Weather reenjassie aan, en my SAL/SAA handbagasie sakkie oor die skouer , stap saam, heeltemal nie in staat of lus om nou te stop en uit die lyn te val nie.( In for a penny, in for a pound).
Steeds op maat van die kadetorkes, marsjeer ons op daardie rooi tapyt, binne-in daardie groot gebou in en op met die trappe tot by ‘n pragtige groot onthaalarea met tafels oorlaai met die heerlikste eetgoed denkbaar ! Oral staan oop bottels wyn en glase, net reg vir skink!
Almal begin gesels en eet en drink: Die army outjies, die orkes, die skoolkadette, die boyscouts, die girlguides, die Burgemeesterspaar, die Cardiff VIP’S en Seegogga.
Nouja, ‘n gratis ete vir ‘n arme backpacker is nie te versmaai nie. Ek het my SAL/SAA sakkie ongemerk op ‘n bankie in die foyer gaan neersit, my ma se all weather reenjassie met waardigheid oor my verslete bloujeans reggetrek, my kop gelig en gemaak of ek daar hoort. Ek het wyn gekry en geëet en van tafel tot tafel beweeg en geglimlag en kop geknik asof ek iemand sien wat ek ken, maar eintlik het ek stoksiel alleen op my eie ge-“cheese en wine!” Almal was so besig om met mekaar te gesels dat niemand hulle eintlik aan die buitestaander gesteur het nie( Altans ek hoop nie so nie!). Of was dit dalk die geval van die olifant in die kamer wat doelbewus misgekyk word?
‘n Mens voel heel géklik om so ongenooid saam te kuier, maar dit was eetgoed en dit was verniet en daar was baie. ( As dit pap reën moet jy skep). Toe ek my maaltyd vir die dag in het, het ek my ongemerk maar weer skraal gemaak, my blou SAL/SAA sakkie ongemerk weer gaan optel, die trappe en rooi tapyt afgestap en my stilweg uit die voete gemaak. Ja, ek het so nou en dan omgekyk of ‘n sekuriteitswag my nie dalk agtervolg nie, maar tot dusver het niemand my gelukkig nog aangetree nie!
Ek wil my tog verstout om te sê dat my “streetprosession” dalk meer suksesvol was as ou Herman s’n. Hy was ‘n paar keer deur die Salvation Army bekeer, en het met verskillende protesoptogte saamgestap, maar ek glo nie hy het ooit by ‘n kaas en wynonthaal geeindig nie.
O Seegogga, ek het hierdie een nou sommer baie geniet! Dalk was jy in elk geval ingesluit onder die genooides omdat jy in die kerk was! Jy is ‘n ster!
Nee, Toorts, dit was beslis net vir die VIP’S van Cardiff!
En vir die prinses van die Overberg!
wel, die Seegogga, of as jy haar nou prinses wil noem… as die skoen pas trek ek dit aan!
Wonderlik!! Ek sou beslis saam met jou aan die optog deelgeneem het. Mos vir volk en vaderland…,al is dit nou ook in die vreemde. En ons as Suid Afrikaners neem altyd deel. Gelukkig het jy nie ñ paar van ons danspassies op die onthaal uitgevoer nie. Jy weet mos, die ritmiese ‘moves’. Sou ek nou nie heerlik ook van die wyntjie geneem het nie. Het jou stuk baie geniet, Seegogga.
Soos ek jou dag met die handoek geniet en waardeer het!
Dit was nou lekker om te lees! Wat ‘n gelukskoot 🙂 Bly jy was nie uitgevang nie!
Ons het een keer op eilande van die Skotse kus af, en het toevallig op hulle Highland Games afgekom wat die dag plaasgevind het. Toe skryf ons in, ek vir die 100m, 200 m en my kêrel vir verspring. Ons het 2de en 3de gekom, en lekker ponde gewen, wat vir deel van ons vakansie betaal het.
bly om weer van jou te hoor, Karen. Waar was jy en waar is jou blog?
Seegogga, ek het eindeksamens en gaan nie weer blog voor volgende jaar nie. Ja, skuus, ek het my blog uitgevee na ek aanlyn aangeval was deur ‘n mallerige vrou. Hier is die skakel van my nuwe blog: https://swartbeltvirdiere.wordpress.com/
hA HA lekker vinnige Karen! Ek sou daardie een maar veby gegaan het.
Daar was maar net min kompetisie 😉
Watter wonderlike storie!
Dankie Frannie!
Ag hoe wonderlik is my volk; hulle vier sommer die heerskappy van ‘n ander land se staatshoof 😀 😀 Ek het die vertelling nou so geniet!
Ha ha Hester! As dit pap reen moet jy skep! Mar ek dink tog my Vrystaat familIe wat d Boereoorlog beleef het, sou in hulle grafte omgedraai het as hulle geweet het!
Uitstekende skets, net soos jou vriendin uit Bali s’n. Ek is nie seker oor die genre nie, maar dit klink vir my soos die “sketse” van bv Dana Snyman. As jy genmoeg het, kan jy dit as sketse, saam met ander soos Lawrence en die Juffrou laat publiseer.
Andre
Dankie Andre, vir jou altyd positiewe kommentaar.Sal dit dalk eendag publiseer as ek dit regkry om saam met keurder te slaap of so-iets.
Seegogga jou party crasher en keurder crasher!! Koningin Victoria, haar nasate en jou voorsate draai in hulle graf om 🙂 As die VIP’s nie kan skryf nie, is hulle nie VIP’s nie.
Ha ha ja Abrie!
Ek het dit nou baie geniet….. kon jou daar tussen die klomp sien. Lekker vertelling!!!
Dankie Kameel. Ek het intussen besluit ek was eintlik soos die speeekwoo4deelike olifant in die kamer. Almal het myy gesien, maar omdat hule nie lekker geweet het hoe om die saak te hanteeer nie, het almal my gerieflikheidshalwe “misgekyk”! ..gelukkig…