The show must go on

Maankind was weg, want sy’s siek en ek’s weg, want ek WERK!!!

Dit het so gekom: Eendag onverwags, net na ek en my motor wonderbaarlik veilig in die Kaap gekom het, tref ‘n  groot terugslag ons gesin, my man land ‘n maand lank in ‘n kliniek en ek (vervoerloos!) in twee ekstra besighede: ‘n restourant en ‘n nightklub.

Dis nou ook nie dat ek altyd hande gevou gesit het voorheen nie, ek het immers my raambesigheidjie by die huis en 3 selfsorgeenhede op Struisbaai en Agulhas.  Maar nou bestuur en waiter en barlady ek sommer in die restourant ook, en na hierdie naweek sommer by die nagklub ook!-Ek, prim en propper outydse tannie wat nie rook of drink nie( en net nou en dan vloek as ek my toon baie seer stamp).

Ek het darem intussen my motor weer teruggekry en kan weer in die dorp op en af jaag.

Nou moet ek leer van mengsels en drankies waarvan ek glad nie geweet het nie, maar met die hulp van die jong expert wat vir ons werk en die  vermengings, pryse, en veral die ingewikkelde werking van die till verstaan, gaan dit heel goed- tot eergisteraand toe.

Dit was tweeuur, die swart uur waarop die kroeg moes sluit en ons geen drank meer mag verkoop nie, ten spyte van die feit dat dit die top kuiertyd van die jong mense is. Maar ons is mooi pligsgetrou en die meeste mense al op pad huis toe, toe die deur skielik oopbars en so 6 of 7 jong bulle binnestap.  Hulle wil graag iets drink, maar mag nie, tog is almal heel gemoedelik oor die saak.

Die vorige eienares en ek sit lekker voor die vuurtjie en gesels toe daar skielik ‘n woeste gestoei onstaan. Een ou word deur al die ander toegetakel!  Ek en sy probeer keer , maar iemand skree:” tannie moenie oor hom bekommerd wees nie, gaan kyk liewer wat hy met tannie se barman gedoen het!”

Ek kyk: Die kroeg is leeg. My  regterhand is weg. Ek stap om die toonbank. Daar sit hy plat op die grond, gesig in die hande en daar is net bloed oral waar jy kyk.

Ek kan nou nog nie glo hoe so-iets so vinnig en sonder vooraf struweling kon plaasvind nie. Blykbaar het die ou ons barman van agteraf “getackle”. Sy neus bloei woes- van binne en buite en vorm poeletjies op die vloer.

In die haas om hom te help en die bloed te stop, dink ek te laat daaraan om die polisie te bel en die mans binne te hou. Hulle is weer weg, en die boosdoener ook, sonder dat ons weet wie dit werklik was- blykbaar ‘n ou van Pretoria af, maar dis al wat ons weet.

So gebeur dit toe dat ek en die jongeling, wat eers niks wou weet van ‘n dokter nie, toe tog wel so 4vm hospitaal toe is. Twee steke het die stukkende plek op sy neus reggesien, maar sy neus is op twee plekke binne gebreek, sy oog is toegeslaan , hy het harsinskudding en dit lyk regtig of hy in die oorlog was.

Nouja, so word dit toe Saterdagaand en ek is stoksielsalig alleen  agter die bar. Dankie tog daar is min mense.

“Een double Southern Comfort met ys asb!'”

“‘n single Captain Morgan met coke asb!”

“Hoeveel skuld ek?”

My, kind ek het nie ‘n clue nie!” Hoeveel dink jy behoort dit te kos?”

So het ons die aand deurgedraf, en almal was baie gaaf. Ek het sekerlik hier en daar bietjie te min laat betaal vir party goed, maar so what!

Algaande leert men!

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in idioomstories, Los opdrifsels. Bookmark the permalink.

15 Responses to The show must go on

  1. toortsie sê:

    Seegogga! Jy bly in my gedagtes en ek WEET ek moet bel. Ai mens, ek wil nie vra wat ek vir jou kan doen nie, net nou sê jy ek moet in die nagklub kom werk. Ek sal probeer om more met jou kontak te maak.

  2. Jussie!! En julle dink dit gaan rof hier by ons?!

  3. klippie sê:

    Ek het gewonder hoekom jy so stil is. Maar nou kan jy definitief nie sê dat jou lewe boring is nie!

  4. seegogga sê:

    Leon en Klippie,nou weet julle sommer: hier in die platteland gebeur dinge!!!

  5. karen sê:

    Wow, goed gedoen! Ek sou waarskynlik die plek gesluit het en gewag het vir versterking. Het geen tyd vir skoorsoek-dronk mense nie. Maar dit moet cool wees om al daai drankies te leer meng. Hoop jou man is oraait…

  6. Nadia sê:

    Vat hulle vas Seegogga! Ek dink die jongmense gaan nog die “ou tannie” mis wanneer die regterhande weer almal terug is op hulle plek. Hoop almal raak vinnig gesond en sterkte vir die besige dae!

  7. Gogga sê:

    Sjoe dinge klink rof. Ag shame ek hoop die jong afneus outjie is gou weer beter en almal weer gesond en terug op hulle poste. Maar vir nou hou maar kop en dalk as hullen binne ghou was sou hulle baie skade aan die plek wou maak omdat hullen ingehok was. blerrie dronk doppies

  8. Terug pieng: idioomspeletjie | Seegogga se Bloggie

Lewer kommentaar op toortsie Kanselleer antwoord