Ek het in die vorige skrywe vertel van my besonderse rit Kaap toe ( klik hier om deel 1 te lees), maar die storie se stertjie moet ek darem bysit, veral gedagtig aan een van die onlangse blogs waar Toortsie sê dat ‘n mens niemand op sy baadjie moet takseer nie.
Toe ek nou so daar staan en wag vir Brian-hulle om my stad toe te neem, merk die assistent, so ‘n jong lat met sy “overall” en oorringetjie en tattoo’s, my Jaegermeister-rugsakkie op en is dadelik geinteresseerd. Ek verduidelik dat ons die sakkies as promosie gekry het omdat ons mos die “nightspot” het. Hy vertel my dat hy ook baie sulke goed het. Hy het ‘n Jaegermeister baadjie en nog klomp goeters, want hy was mos ‘n bouncer- ‘n uitsmyter- by ‘n nagklub.
Ek en die twee manne ry Canal Walk toe. Ons ry met Assistent se motor, wat baie soos ‘n ‘toolbox’ van binne lyk. Tange. ysters en goeters, asook ‘n boek , moet eers opsy geskuif word om plek te maak vir my om te sit.
Assistent vertel my dat ek eintlik nie Canal Walk toe moet gaan nie- dis baie groot en duur. N1 City is ‘n beter opsie, die klere is daar baie goedkoper en so ook die flieks. Ek verduidelik dat my kind my daar gaan haal omdat dit naby haar blyplek is en ek kan sien hy voel bietjie spyt oor die dure Canal Walk.
Ek kan ‘n boek mos nie uitlos nie, en kyk gou watter dik boek dan nou in sy motor lê. Angus Bucham. Dit is dagstukkies, verduidelik hy. Hy lees elke oggend sy dagstukkie. Hy het oom Angus al persoonlik ontmoet en hy is mal oor hom. Hy was mos bouncer op die verhoog toe Angus op Nuweland opgetree het. Hy moes bv voorkom dat mense op die verhoog kom, ens. Hy was ook al tweekeer by die MIGHTY MEN konferensie in Natal.
Nou toe nou, jonge man! Jy verras en beïndruk my!
By Canal Walk vra hy wat ek heeldag gaan doen.”Wel heel eerste gaan ek erens ontbyt eet.”
“SPUR!” verklaar hy dadelik. Hulle het die goedkoopste en lekkerste ontbyte.
“En verder sal ek maar daar rondhang. Ek kan nie te veel loop met al my goeters-rugsak, handsak sambreel en jas -nie”.
“Trollie!” se hy dadelik. “Daar staan een- ons ry gou soontoe”. Hy parkeer netjies langs die trollie en laai my pakkasie in. “Nou kan tannie lekker rondloop!”
Nouja, wat sal ek sê? Almal, van die twee dierbare mans op die snelweg, die ou wat my gewaarsku het dat ek die prop nie opgedraai het nie, Brian wat my motor vir ‘n baie redelike prys herstel en sy ekonomiese , hulpvaardige en besondere assistent, is engele, sout van die aarde, die mense wat ‘n huppel in my stap gee en my dankbaar maak vir die wonderlikheid van die lewe.
Moet nooit-ooit iemand op sy baadjie takseer nie- hy is dalkies ‘n engel!
Ek kan nie glo dat mens nog trots kan wees op Suid Afrikaanse diens lewering nie. Ek sukkel om Engeltjies in my lewe te kry. Hier by ons is almal Rugby spelers en onder steun net een span en dis nie die blou bulle nie …
Hallo Bierpens, welkom hier! Wys jou net, daar is nog Engele, al dink mens dalk nie so nie!
Wonderlike storie. Jare terug het ek en my man ook so stop-stop van die Krugerwildtuin af Pretoria toe gery. Ek sou dit egter nie op my eie wou aanpak nie. Jy’s dapper.
Hallo Klippie, ja, gelukkig het alles wonderlik goed uitgewerk ne! Ek glo dis net die Heer se genade.
Dankie Seegogga. Dis sulke stories wat ons MOET hoor!
Ja, Toortsie, die lewe is vol skatte, ne. Ons moet net ons oe oopmaak.
My swaer gaan kyk altyd na die duurste moontlike karre in sy overall en kaalvoete uit asprisgeid. Hy kan hulle almal bekostig, maar HAAT dit dat mense hom op sy baadjie takseer.
jy het ‘n oulike swaer!
Terug pieng: Die voëlding « OLGA SE OKSELTJIES
Terug pieng: Tannie Tossel se blokstorie « Toortsie se Blog
Terug pieng: 12 bottels water, 5 engele op wiele en nog een daar erens bo. ( Deel 1) | Seegogga se Bloggie