Liewe Leanie, Annika en Lientjie
Sjoe, ek het rerig lanklaas geskryf- het mos intussen by daardie twee dierbare goedjies gekuier en die voorreg gehad om hulle vas te hou. Dit was wonderlik en ek en Oupa verlang sommer baie na hulle!
Vandag wil ek egter begin praat oor al die vorme van stimulasie, en al weet jy nou al seker baie van die goeters, Lientjie, onthou ek skryf sommer vir julle ander wat nog nie kindertjies het nie, en ander mammas wat hier lees ook.
Die babatjie kom as hulpelose wesentjie op die aarde en hy moet ALLES leer. Moenie ‘n fout maak nie, hy leer vinnig, hoor!
Die eerste ding wat hy waarskynlik leer, is atmosfeer. Hy onderskei sommer gou tussen ‘n gespanne atmosfeer en ‘n rustige atmosfeer, en gedra hom daarvolgens. Hierdie atmosfeer sluit in goed soos mooi musiek, ‘n raserige TV( het julle al mooi geluister hoe ‘n tv raas in vgl met bv ‘n radio?), mense wat hard lag en gesels en mense wat hard stry en baklei. Glo my, ‘n babatjie is baie gevoelig vir die atmosfeer van liefde of onrus.
Vandag wil ek egter praat oor taalontwikkeling en taalstimulasie.
Taal bestaan uit reseptiewe taal, dws dit wat ‘n mens hoor, en dan verwerk tot iets wat ‘n mens verstaan, en ekspressiewe taal- die geluide wat jy maak wat deur ander mense verstaan kan word.
Lank voordat die babatjie kan praat, kan hy reeds goedjies verstaan( reseptiewe taal), en veral die algemene strekking van die woorde.
Ek het nou interessante studies op die internet gelees. Daar is bevind dat babatjies in hulle eie taal huil! So sal Duitse babatjies bv heeltemal anders huil as Franse babatjies, selfs direk of kort na geboorte. Dit is maklik navorsbaar, omdat die Franse taal bv meestal in toonhoogte styg aan die einde van sinne, maar die Duitsers meestal hulle stemtoon laat sak aan die einde van sinne. (Dit laat my mos wonder of Kaapse Afrikaanse babatjies nie ook anders huil as Transvaalse babatjies nie, want hier is mos ook so ‘n stemtoonverskil, welliswaar nie so sterk soos die Franse nie, maar darem!)Franse babatjies huil dus meer met stemtoon hoër aan die einde van hulle “huilsinne”.
Hierdie bevinding dui daarop dat babas al reeds in die baarmoeder op taal reageer, maar nie net dit nie, dit sê ook dat babas al reeds met geboorte taal begin naboots.( Ekspressiewe taal) Verstaan van ‘n taal kom lank voor die vermoe om dit te praat, dus kan mens aanneem dat daar reeds ‘n mate van begrip is by geboorte, al is dit ook net die begrip tussen liefdevolle of kwaai kommunikasie.
Verder is ook vasgestel dat die babas reeds net na geboorte die mamma se stem kan onderskei tussen ander mense se stemme. Dit het hulle vasgestel deur goeters soos hartklop en dummiesuigreaksies te toets as die mamma praat in haar eie taal of as ander mense dieselfde goed sê. Die babas reageer op hulle mammas se stemme die beste en toon minder reaksie op ander se stemme. Wat beteken dit? Hulle luister al van voor geboorte af na hulle mamma! En omdat sy waarskynlik die persoon is wat meeste met hulle praat van geboorte af, ken hulle haar stem, dws hulle luister met aandag vir haar!
Praat dus baie met julle babatjies. Noem die name van hulle liggaamsdele as jy hulle was of aantrek. Noem die name van die goeters wat hulle sien. Wys vir hulle die dinge in julle huis en noem die name! Sê vir hulle jy is hulle mamma en jou man is hulle pappa. (Let ook maar op jou eie taal, ne! Wat sê jy as jy jou toon stamp? Pasop, jou babatjie hoor dit en een van die dae sê hy dieselfde as jy!)
Meestal glo spraakterapeute dat babataal vermy moet word. Die hond is dus ‘n hond, nie ‘n woef nie .Verder praat ons mos in Afrikaans die heeltyd in verkleinwoordjies as ons met babatjies praat! Dit maak die woorde langer en moeiliker om te leer. Ek sal egter weer bietjie hieroor moet oplees. Daar is ook die kwessie van twee tale. Spraakterapeute glo ‘n mens moet een moedertaal he. As ‘n mens met die klein baba twee tale praat, leer hulle goeie tweetalighied, maar albei tale is “arm,” dws swakker ontwikkel as die kind wat net een taal geleer het, en dus het die outjie ‘n agterstand as dit kom by skoolwerk. Aan die ander kant is dit ook so dat mens ‘n tweede taal moet leer voordat jy skoolouderdom bereik, anders sal jy nooit vokome tweetalig wees nie. .
Taalontwikkeling begin dus baie vroeg en ons as ouers het ‘n belangrike taak om ons kinders taalryk te maak. Die aanleer van ‘n taal berus op luister en naboots en oefen.
Maak dus vroeg -vroeg na geboorte veral seker dat jou kindjie goed kan hoor. Hulle kan babatjies se gehoor vroeg toets, en dis belangrik dat dit gedoen word. Siektes soos verkoue, sinus ens tas dikwels die ore aan en die babatjie kan maklik oorinfeksie ontwikkel, wat weer gehoor aantas. Selfs al het hulle oorontsteking nie, maar net chroniese vog in die ore, word die gehoor aangetas en hoor hulle sekere klanke verkeerd, en praat dit dus verkeerd en skryf dit later verkeerd, omdat hule dit verkeerd hoor.(asseblif geen slym opdroogmiddels nie, hoor, gee slym LOSmaak middels!) Selfs al word die oortjies gesond , het hulle nou ‘n effense taal agterstand, want die verkeerde klanke moet nou weer vervang word met die regte klanke. Pas dus maar hule oortjies mooi op en gaan dokter toe as hulle oorpyn het of as jy enigsinds iets vermoed. ‘n Babatjie wat begin babbel en dan heeltemal ophou , mag bv ‘n aanduiding wees van moontlike gehoorsverlies.
Kommunikeer met jou babatjie deur positief op sy geluidjies te reageer, dit na maak en te prys. Hy sal weer geleidelik jou woorde en geluide namaak. Speel klankspeletjies deur snaakse klankies te maak, bv ” op op op” met elke trap klim of ons ry “rrrrrrr” ens en lag lekker en baie. Ek en pappa glo nou nog dat dat jy die woord, “mamma” reeds van 3 maande af kon se, Lientjie. Jy het van 3 mde af elke huilsessietjie begin met mmmammmmeaaa en dan verder gewoonweg gehuil. Jy het ook op ongeveer dieselfde ouderdom eendag so in jou stootwaentjie by ons in die kombuis gele en mmmmm geluidjies gemaak. Jy “mmmmm” nog so, toe se ek”mmmmm mamma!” , waarop die pap babatjie toe dadelik reageer met ‘n “ma!”
Dit was ‘n goeie voorbeeld van klanknabootsing, hoe primitief ookal, wat later lei tot spraak.
Lees sommer vroeg-vroeg vir jou babatjie boekies. Eers wys jy prentjies en laat hom kyk terwyl jy die woorde se, maar sodra hy bietjie kan verstaan vertel jy stories wat pas by sy vlak van ontwikkeling. Moenie vir die TV hierdie allerbelangrikste werk gee nie, doen dit self! TV moet liefs heeltemal vermy word, maar dis ‘n hoofstuk op sy eie.
Elke kind behoort groot te word met baie stories en interessante feite. Dit leer hulle luister na die gesproke woord- iets van baie belang as jy skool toe gaan, dit leer hulle konsentreer- en ons weet hoe belangrik dit is, dit leer hulle hulle verbeelding gebruik, ( Einstein,daardie groot wetenskaplike, het oneindig waarde geheg aan feeverhale vir die ontwikkeling van kreatiewe denke),maar dit leer hulle ook taal. Daarom glo ek nogal daaraan om ook gereeld stories te lees- so leer hulle woorde wat jy dalk nie gereeld gebruik nie en brei hulle woordeskat en taalbegrip ongelooflik uit. Elke kind behoort ten minste een storie per dag te kry, glo ek.
Verder is die sing van liedjies baie belangrik. Sing vir jou babatjie liedjies. Dit is ‘n aangename en ritmiese manier van klankstimulasie en leer hulle gou lang sinnetjies wat hulle nie met gewone praat sou kon se nie. So het Juffrou Alma bv haarkleuterklassie die Abc geleer in die vorm van ‘n liedjie, kompleet met aksies, en hulle het sommer dit maklik geleer. Sy het ook haar skooltjie laat begin , nie met ‘n klokkie nie, maar met ‘n liedjie:”Kom kinders, kom kinders, ons gaan nou begin….’ Wat ‘n lekker manier- daardie kindertjies het gehardloop as hulle die liedjie oor, want die begin van die klassies klink sommer lekker! So kan mens mos liedjies opmaak oor badtyd etenstyd en slaaptyd. Wat is lekkerder as n sagte slaapliedjie van jou mamma elke aand? Dit maak die babatjie rustig en gee ‘n aangename konnotasie aan die slaaptyd. Toemaar, jy hoef nie mooi te kan sing nie, dit het niks daarmee te doen nie, solank jy net sing, dit is ‘n aangename en liefdevole manier van kommunikeer.
Verder wil ek net se dat taalontwikkeling baie verskil van babatjie tot babatjie. Jy het baie vroeg met jou eerste woordjie begin, Lientjie, maar baie lank geneem om verder ekspressiewe taal te gebruik. Jy het egter vreeslik vroeg begin rol, kruip en loop. Annika, jy het weer baie vroeg begin praat, met ‘n woordeskat wat my verstom het. Op 5 maande was jy in die hospitaal met kroep en ek onthou goed hoe jy daar in die bedjie gele en wieg het en “mamma, pappa , baba tatta” gekoer het, maar ook “ho-ku!” Jy was gefassineer met Hokus, ons hond, en het hom op 5 maande al geroep! Jy het ook vroeg sinnetjies gepraat, maar was bietjie stadiger met die kruip en loop. Lientjie, jy was so tussen hulle twee, maar toe jy eers begin babbel, was dit vir jou so lekker dat jy dit heeldag gedoen het. So verskil elke kind . Op twee jaar ouderdom behoort kinders egter al woordjies te sê. Einstein het mos eers op 4 begin praat, maar ek sou tog se, gaan toets net jou kindjie op so na 2 jaar by ‘n spraakterapeut as jy bekommerd is.
Maar nou praat ek self mos heeltemal te veel!
Lekker gesels met julle babatjies, hoor!
Liefde
Ouma.
Om die volgende brief te lees, klik hier.
Baie mooi! Net te laat vir my eie kiddies en heeltemal te vroeg vir my kleinkinders!
Hallo Biliam.Hoe oud is jou kiddies? As nog in die laerskool, kan jy nog lees!
My baba’tjies is al te groot, maar ek gesels met my diere baba’tjies alhoewel hulle ook nie meer baba’tjies is nie 😉 Lekker dag.
ek stem 100% saam! sing sing sing stories lees stories lees oor en oor en oor en oor en oor en hulle hou daarvan om dieselfde bekende boekie oor en oor en oor te lees en so leer hulle baie baie. Hulle kry ook ‘n GOEIE ERVARING saam met hulle mamma, so lees is lekker!! (Al sukkel ek nou op die oomblik om dit vir my matriekkind te oortuig!!)
Dankie, Tooertsie, ek stem weer saam met jou. Ek het nou vergeet om te se van die liefde vir lees, die lekke bonding en al die ander positiewedinge vanstories lees
Dit was nou sommer lekker om vir ‘n slag weer hier te kom lees. Insiggewende raad … gaan beslis dit eendag weer kom lees. Baie bly daar was so lekker gekuier. Ons hoor gereeld hoe daar nou verlang word so hopelik is die volgende kuier darem nie ver nie!
Hallo Nadia. bly om weer van jou te hoor! Ja, hopelik is hulle darem oor twee maande hier. Klink of jy wonderlike avonture beleef!
Terug pieng: Ouma se bababoek. brief 11: Sirkels en spirale | Seegogga se Bloggie