Liewe Leanie, Annika en Lienkie
Maar se nou net? Wat as julle te ver gaan? Wat as julle swanger raak voor julle getroud is? Wat as?
Een van die redes hoekom ek hierdie briefies geskryf het , is om julle voor te berei sodat julle sal besef hoe belangrik dit is om te wag totdat julle getroud is voordat julle een word met julle maat.
Hierdie eenword is die kroon op julle liefde, dit is die grootste geskenk wat julle mekaar kan gee, dat julle een word in liggaam en gees. Omdat seks so ‘n emosionele ervaring vir ‘n meisie is, is dit belangrik dat dit in die huwelik gebeur.
Dit is ook vir die outjie baie belangrik, al weet hy dit net nie. Het julle geweet dat baie mans later sukkel met skuldgevoelens en selfs depressie oor hulle rondslapery in hulle jong dae? Hulle word ook groot en verantwoordelik en vaders van dogters, en besef dan die skade wat hulle aangerig het deur miskien ‘n jong meisie te verlei. Dis ‘n feit, maar dis te laat. Daar is niks wat hulle daaromtrent kan doen nie.
Julle, as emosionele wesens, sal net so geraak word deur voorhuwelikse seks, al wys AL die flieke dat dit algemeen is. Weerhou julle asseblief daarvan en bespaar julle dalk baie hartseer en skuldgevoelens.
Maar wat as dit dan tog gebeur en jy raak dalk swanger?
Onthou asseblief dat die babatjie nie gevra het om gemaak te word nie. Onthou ook dat jy nie ‘n lewe mag neem nie. In ons land is aborsie nou wettig, maar aborsie is ook moord op ‘n onskuldige babatjie, en hoe min jy ookal wil swanger wees, nog minder wil jy ‘n moordenaar wees!
Vroue wat wel aborsies gehad het, getuig feitlik almal daarna hoe spyt hulle is dat hulle dit gedoen het, en hulle ly aan sielwroeginge vir die res van hulle lewens. Dit druis ook teen ons Christelike geloof in. Is dit nie God self wat lewe gee nie?
My kinders, ek bid dat dit nooit met julle sal gebeur nie, maar as julle wel swanger raak, onthou asb dat ‘n mens verantwoordelikheid moet aanvaar vir dit wat jy doen. Jy het ook ‘n verantwoordelikheid teenoor die mensie wat geskep is. Daar is baie getroude paartjies wat smag na ‘n eie kindjie. As jy nie gereed voel of in staat is om self vir jou kindjie te sorg nie, is aanneming wel ‘n goeie opsie. Aborsie nie!
Moet trou? Nee. ‘n Mens trou net met iemand vir wie jy werklik lief is en as julle gereed is daarvoor. ‘n Mens trou nie omdat jy ‘moet’ nie. Is jy werklik lief vir hom en bereid om jou hele lewe met hom te deel? Is hy op dieselfde manier lief vir jou? Dan en slegs dan, kan julle trou.
Maar wat praat ek alles. Ek glo julle is reg grootgemaak en weet waar die grense le.
Ek is baie lief vir julle. Lekker slapies.
Ma
Hierdie brief is nie deel van die oorspronklike seksboek nie, maar is vannaand geskryf na aanleiding van Olga se onlangse blog. Dink julle dit hoort in die boekie? Ek sou graag julle kommentaar wou hoor.
ja, krappie, ek dink beslis dit hoort in jou boek. Daar is 2 moets in die lewe, net 2. Jy moet belasting betaal. Hier kan jy met versuim weg kom. Dan ook, jy moet doodgaan. Dis al ne. Trou behoort n WIL te wees, nie n moet nie.
sjoe, Olga, ek het al lankal agtergekom jy is net so ‘n nagwolf soos ek! Ek stem ook heeltemal met jou saam oor die troustorie.
My ma het ons altyd vertel dat ‘n disprin die beste voorbehoedmiddel nog is. Sy het ons ook vertel dat ons net moet onthou dat niemand ons kan dwing om te trou nie, nie eers ‘n baba nie.
😆
Oe! Wag ek moet dit deel. Sy het dit eendag ook vir ‘n kennis vertel. Natuurlik 9 maande later is die kennis swanger. Sy het getrou elke oggend haar disprin gedrink en sy het nogtans swanger geraak. Sy het nie die hele storie geken nie. Solank die disprin tussen die kniee vasgedruk bly, is dit onmoontlik om swanger te raak.
Van die os op die jas.
Soos ek die storie verstaan wil jy die briewe in ‘n boek uitgee waarvoor jy boonop self gaan betaal.
Geen tiener of selfs ‘n jong vrou gaan ‘n boek lees met die titel “Ma se Seksboek nie”. Onthou – tieners is baie beeld bewus. Vir hulle is ‘n “ma” oor die muur en outyds. Dus nie iemand na wie hulle wil of gaan luister nie. Ervaring is van minder belang as cool – verstaan.
Ek is seker (van) die ma’s gaan toustaan om te lees, maar ervaring het hulle alles geleer wat hulle moet weet. Te laat.
Lekker gelag- die storie van die disprin! Die ware titel van die boekie is: Ma, ek is verlief! , Maar omdat my kinders dit sommer ma se seksboek genoem het, en hulle wou doodlag en my geterg het voordat hulle dit gelees het, het ek dit sommerso hier genoem. Brief 1 is wel getiteld . Ma, ek is verlief. maar dis te lank om alles elke keer uit te tik. Natuurlik gaan geen tiener dit koop nie. Hulle ma’s gaan( hopelik) en vir hulle dogters gee om te lees.En ( hopelik) gaan die dogters dit so ongemerk lees sonder om vir iemand te se, want seks interesseer hulle, al sal hulle dit nie erken nie. Moenie bekommerd wees nie, ek gaan min druk om eers die mark te toets.
😉 Haal eerder die Ma heeltemaal uit.
Ek word die heeltyd gely om Hooglied 3 hier te kom neerpen. Vers 5: “Vroue van Jerusalem, ek smeek julle en ek roep die ribbokke en die takbokke in die veld tot getuie: moenie die liefde wakker maak en aanvuur voor die tyd daarvoor ryp is nie.”
Tieners moet geleer word om situasies te vermy (seker jongmense ook) waar hulle oor die tou kan trap. As jy besef hierdie is jou trou man of vrou… hoekom dan wag … trou dan!
Ja, dis ‘n goeie aanhaling. Ek dink ook altyda daaraan as ek sulke jong meisietjies sien wat so vroegryp is. Deesdae moet ‘n mens al ‘n jaar voordat jy wil trou besluit jy wil trou, anders kry jy nie ‘n lokaal nie, ‘n fotograaf nie ens. Verder studeer baie mense nog en woon bv in koshuise. Dadelik trou is dus meestal nie ‘n opsie nie.
oor die aborsie stuk. baie mense voel om ‘n aborsie te kry, veral as hulle swanger word na ‘n verkragting, omdat die helfte van die kind hulle herinner aan iemand aan wie hulle nie herinner wil word nie. maar hulle vergeet dat die helfte van daardie kind HULLE EIE VLEES EN BLOED IS!!! Moenie dit aan jouself doen nie. Asseblief!!! en dink mooi voor jy die baba sommer laat aanneem. Sien jou ma of die seun se ma nie dalk kans om tydelik die baba te versorg totdat jy self vir haar kan sorg nie? maar aanneem is nog beter as aborsie. en deesdae kan ‘n mens kontak behou met die baba, al is sy aangeneem… dis ook ‘n opsie om te oorweeg. ek ken soveel volwassenes wat aangeneem is in die dae toe geheimhouding nog die alfa en omega was, wat SMAG daarna om hulle ouers te vind. net so is daar mammas wat hulle babas afgegee het, en dieselfde behoefte het…. en hulle vind nie mekaar nie. tragies!!