Die Geheim van die vis

Seegogga lê rustig op haar hangmat en suig klein suigies aan haar pittekou. Waarvoor kan sy dankbaar wees? Wat het sy geoes? Het sy rede om ‘n dankfees te hou? En ‘n party? Haar gedagters gly oor die afgelope jaar. Dit was besig, besig besig. Maar dit was góéd besig!

Seegogga glimlag. Die groot familiereünie wat sy gereël het, is verby.  98 volwassenes en so 15 kinders onder 10. En dit wil voorkom asof almal  dit baie geniet het. ‘n Job well done. Sy moet nog daaroor blog, dink sy.

Daaroor is daar baie stof tot dankbaarheid. Seegogga het verniet gestres. Sy moes meer vertrou het. Hiervoor alleen kan Seegoggas behoorlik dankfees hou.

Trommeltjies, Aalsie en Christa kom nadergestap. ”Skink darie pittekou dat  ons kan proe, Krappie,” roep hulle vrolik. Hulle lag en giggel. Ook hulle het baie om voor dankbaar te wees.

Seegogga skink en vir haar sommer nog enetjie. Sy voel baie vrolik. Na die oor en weer groetery  skuif sy haar reg op haar hangmat en lag saggies.

“Nee, dis nie  van die pittekou wat ek so lag nie, dis van die vis!” giggel sy.

“ ‘n Vis?” Die Goue vroue proes saam, en wag geduldig dat sy moet vertel.

“Ek en mnr Krap het mos vandag by my nefie, John, op Struisbaai gaan vis braai terwyl my huishulpe my strandplekkies gaan skoonmaak het. Hulle moes eerste Annie en Fagan skoonmaak, want daar het vandag nuwe mense in albei plekke ingetrek. Die huurders wat die afgelope naweek daar gebly het, het hulle jaarlikse afsluiting daar gehad en hulle baas het Annie, Fagan en Erika vir hulle gehuur vir ‘n heerlike naweek saam met hulle gesinne.

“ Nou wat was fout met die vis? “, laat hoor Trommeltjies.

“Nee, die geelstert loop mos op Struisbaai en ons het een by John gaan braai. Hy braai dit heerlik. Daars niks fout met sy vis nie.

Maar ons  het skaars klaar geëet, en mnr Krap sopas weg om my skoonmakers te gaan aflaai, toe laat weet die nuwe mense in Fagan dat hulle ‘n rooster soek. En wat soek die vis op hulle stoep?

“Lê daar toe van julle vis op hulle stoep?” Trommels.

“Neeman. John se huis is ‘n hele ent van my twee woonstelle, Annie en Fagan af. Hulle praat toe van ‘n ander vis waarvan ek niks weet nie.

Ek skakel eers vir manlief – hy moet vir hulle die rooster gaan soek. Ek skakel Dewald, wie se werkers die naweek daar gebly het. Hy vra groot omverskoning. Hy het Saterdag visgevang en toe een van die geelsterte vir sy werkers present gegee. Hy is regtig jammer, maar hy het nie gedink hulle sal dit op die stoep los nie. My man word weer gebel. Hy moet iets doen met die vis. Weggooi of iets, want as die vis al van Saterdag af daar lê, is dit verby met hom.”

Die Goue Vroue ril. “Ek  hoop net hy is nie oop nie. Ek sien al die brommers!” lag Aalsie.

“Wel, ek skakel toe my huishulp. Hoe maak hulle huis skoon en los ‘n vis van alle dinge op ‘n stoep? En sy sweer hoog en laag dat hulle die braaie op die stoep skoongemaak het.

Intussen kom my man weer by my nefie aan – vis in die hand– ‘n vars geelstert, netjies in n swart sak, nog mooi koud asof hy pas uit die yskas kom. Dit kan mos nie?

Dis toe dat ek die foto bestudeer wat die huurder gestuur het. Die foto wys duidelik dat dit nie op haar stoep is waar die vis gelê het nie, maar op die stoepie langsaan by my woonstel Annies, reg langsaan.”

“Oh my word, toe was dit altyd die ander huurders se vis.” Die Goue vroue kraai soos hulle lag

“ Ja. Dis wat ons ook gedink het. Dis natuurlik hulle vis wat hulle daar uitgesit het om later te braai. Ek bel hulle – geen antwoord nie. Ons bespiegel. Hulle is waarskynlik see toe of winkel toe en dan gaan hulle braai. As hulle terugkom gaan hulle ontdek hulle vis is weg – ons het dit gesteel!”

Die Goue Vroue bars weer uit van die lag. “Stel jou voor jy sit jou vissie daar reg om te braai en as jy terugkom is hy weg!”

“En dan vind jy uit jou landlord het jou vis gegaps!” Seegogga kan nie help om saam lag nie.

“Ons piekel toe maar weer vis en al terug na Annie en Fagan toe,” vertel sy verder.

” Nee”, sê die huurders, dis nie hulle vis nie. Hulle eet slegs vis uit boksies uit, nie vars seevis nie. Die ander huurders weet ook van geen sout of water nie. Nou waar sal hierdie lekker vars geelstert dan vandaan kom? Nie een van die twee groepe huurders weet enigiets van die vis af nie.”

‘Die geheim van die vis” sê Christa. Haar kop is vol stories.

“Ek bel toe maar weer my skoonmakers” sê Seegogga. “en tóé onthou hulle:  Die mense wat eers daar gebly het, het ‘n vis in die vrieskas gehad wat sy vir hulle uitgehaal het en gaan gee het, want hulle was nog nie weg nie. Hulle moes dit op die stoep vergeet het toe Dewald hulle kom oplaai het. Daar het julle dit nou! Nou het ek eintlik ‘n lekker vars vis present gekry!” sluit Seegogga haar vertelling af.

“Cheers op die geheimsinnige vis!” Trommeltjie lig haar glasie.

“Ja tog iets om voor baie dankbaar te wees in hierdie tyd van geldskaarste! Moreaand braai ek en mnr Krap vis! “

Seegogga dink aan die lewe se gelukkig plesiertjies. ‘Julle weet, ek het soveel om voor dankbaar te wees. Ek gaan hierdie dankseggingsfees vier! Die Here is waarlik goed vir my. Ek oes miskien nie koring nie, maar ek oes nou en dan ‘n boks wyn of ‘n boks druiwe, of ‘n vis! En dit maak die lewe lekker.

“Ek hoop jy kan my hier van Rebus af hoor, Dewald! Baie dankie vir my Kersgeskenk! Dit gaan heerlik wees.” roep Seegogga in die wind.

“Dankie Dewald” ego die Goue Vroue vrolik. Dis die klein goedjies wat die lewe interessant maak.

Seegogga vat nog ‘n pittekou slukkie en strek haarself uit. “Dis lekker om te lewe, ja dit is!” Sing sy saggies. Die goue vroue neurie saam.

Unknown's avatar

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Die Overberg: my wereld., goue vroue, Kossies vir 'n seegogga en ander resepte, Los opdrifsels, Overberg, Seestories and tagged , , . Bookmark the permalink.

8 Responses to Die Geheim van die vis

  1. 😊😁😆
    Hoe lus skryf jy my nou vir ‘n visbraai, met patats, tuisgebakte brood en korrelkonfyt – die Kaapse teenvoeter vir tjops, stywepap en sjeba …
    O, en ek’s innig verlig dat die landlord en landlady toe darem nie die vis vasgelê het nie!

    Like

  2. woordnoot's avatar woordnoot sê:

    So reis die vis van huis tot huis terwyl dit eintlik nêrens heen gegaan het nie!!

    Liked by 1 person

  3. Toortsie's avatar Toortsie sê:

    En daar eet ek toe ook lekker saam aan die ongesteelde vis! Heerlik, soos net ‘n vars geelstert kan wees!

    Like

  4. Una se gedagtes's avatar Una se gedagtes sê:

    Wat ñ interessante visstorie, Seegogga. Ag, en ek glo die ete was absoluut heerlik!

    Like

  5. Oe, wat ‘n goedvoelstorie, ek voel skoon knoppies op my vel. Dit is baie rede om dankbaar te wees,

    Like

  6. Karinsegriffels's avatar Karinsegriffels sê:

    Lekker gelees aan jou visstorie en sommer lusgekry vir visbraai.

    Like

Lewer kommentaar