Soos julle seker al agtergekom het, is ek antiek. En in in die antieke tyd toe ek op universiteit was, was daar antieke reëls: Eerstejaars moes saans 8 nm in die koshuis wees, en naweekaande moes almal, seniors inkluis, 12 nm in wees. Alkohol, sigarette en langbroeke was heeltemal UIT! As daar so iets by jou in jou kamer of aan jou lyf gevind sou word, word jy uit die koshuis geskors. Ons praat nou nie eers van mans nie.
Sekere mense was egter bo die reëls verhewe. Die HK’s het nou en dan ‘n manskoshuis se HK genooi vir aandete, en dan is daar vir hulle ‘n pragtige spesiale tafel in die eetsaal gedek, kompleet met bottels wyn op die tafel. Ons ander gewone pleps was maar lekker jaloers as ons die HK’s so ‘in style” sien sit by die pragtig gedekte tafel met die mooi manne as geselskap.
Een aand sit ek en my 5 goeie vriendinne toevallig naby die HK tafel en eet. Toe hulle al geselsend met die manne uitstap, let ons op dat daar ‘n onoopgemaakte bottel wyn op die tafel agtergebly het. Dadelik werk ons koppe in die hoogste versnelling. Ons is mos ook lus vir ‘n bietjie wyn!
Christine, die kalmste en besadigdste onder ons, moet die wyn vat. Rina het ‘n trui by haar, waar in die bottel weggesteek kan word. Alles word mooi beplan, en ewe ongemerk staan ons op, Christine vat so onopsigtelik moontlik die bottel en weg is hy in die trui. Ons stap met ons harte in ons keel, maar ons hou ons ‘pose’ tot in die kamer.
In die kamer was dit natuurlik ‘n ander storie! Ons wou ons byna doodlag en het dadelik ons koffiebekers gegryp en die wyn gedeel, saam met nog ‘n paar ander vriende op ons vloer. Ag, ons het maar elkeen seker ‘n kwart bekertjie wyn gekry , maar dit was die idee wat getel het!
Nie lank nie, toe word daar kwaai oor die interkom afgekondig:”Sal die dames wat die bottel wyn uit die eetsaal verwyder het, dit asb onmiddellik na ontvangs toe bring”. Ons het gekrul van die lag, maar was ook maar bietjie bekommerd. Wat as hulle ons sou uitvang?
Hierdie afkondiging word ‘n paar keer deur die aand herhaal, met toenemende dreigemente by. Teen díe tyd was die hele koshuis al in rep en roer oor die bottel wyn wat gesteel is.
Ons groepie vriende het almal op die eerste vloer van die ses -verdieping gebou gebly , want ons het spesiaal die kamers op hierdie vloer gekies omdat ons almal bymekaar wou wees. Ons besluit toe om te wag to net na 12 wanneer al die seniors al in is en daar niemand meer op voordeurdiens is nie.
Toe sluip ons af met die leë bottel en gaan sit hom op die ontvangstoonbank by die voordeur neer, en kondig af: “Dames, die bottel wyn is by die voordeur,” en laat spaander terug trappe op.
Toe kom ons weer af, kamtig ewe verbaas, saam met die res van die koshuis se 600 nuuskierige meisies. Daar op die ontvangstoonbank staan die leë bottel wyn toe met ‘n strikkie om sy nek.
En tot vandag toe, weet ‘niemand’ wie die bottel wyn gevat het nie!
Goed julle het dit maar hik….uitgedeel… hik…. anders was julle miskien…. hik…. uitgevang 😆
Baie lekker storie! Dankie!
Sulke insidente maak lewe soms so LEKKER!
Stouterds!! 😆
😆
In my dae ‘n paar jaar (dekades) later was daar nog ‘n reël dat daar nie drank in die kamers gehou kon word nie. Almal het dit geweet, maar dit was nie streng toegepas nie. Juis omdat dit ‘n skors-oortreding was nie, het die mense nie juis misbruik gemaak daarvan nie.
Eendag het ons ‘n HK vergadering gehad waarvoor ek en ‘n ander HK-lid vroeg was. Om onsself besig te hou, gaan ons na die “stout” semi kamer (tweedejaars kamer) en kondig kamerinspeksie aan. Die girl het haar in ‘n ander bloedgroep ingeskrik en sy kon ons nie bra weier nie. Ons het duidelik geweet daar gaan iets in haar yskas wees.
Toe lag ons maar vir haar en erken dat ons net speel. Toe wou sy niks daarvan weet dat ons net kan kyk nie.
En toe deel julle maar?
Nee – om drank om universiteit te deel is soos om ‘n glas water in ‘n kombuis te deel.
Mens moet darem die lewe kleur gee.
Ons het mos ook so gereken.
Terug pieng: Iets opwindends nr 1: joolblad eskapades | Seegogga se Bloggie