Liewe Leanie, Annika en Lienkie
Ek het nou (soos Annika se-effens te laat) besluit om vir julle briefies te skryf om te vertel hoe werk ‘n man se kop- of altans hoe ek dit verstaan.
Ek dink nie ons vroumense sal ooit presies weet hoe ‘n man se kop werk nie en hulle verstaan mos glad nie hoe ons werk nie.
Baie goeters weet julle al en kan julle eendag vir julle kinders vertel, maar daar is tog dingetjies, dink ek, wat julle nog moet uitvind. Ek wou en het ook nogal destyds met jou, Leanie, gesels oor waar babatjies vandaankom ens, maar jy, Annika, wou net nooit weet nie, en jy , Lienkie, dink alewig ek wil vir jou preek of is negatief. Intussen is dit eintlik vir ons almal ‘n fasinerende onderwerp.
Nou goed. Kom ons begin by die begin ( en waar is dit-by die hoender of die eier?)
Gelukkig het julle al drie Biologie gehad. Dus weet julle hopelik dat feitlik elke dier en plant begin deur die samesmelting van twee selle, die manlike en vroulike selle, om een nuwe wese te vorm.
In soogdiere praat ons van die ovum (die vroulike geslagsel) en die sperm (die manlike geslagsel). Elkeen van hierdie selle bevat die helfte van die normale aantal chromosome sodat hulle, as hulle saamgesmelt het, die volle aantal chromosome het wat die selle van daardie soogdier moet he. So het die nuwe wese wat geskep is, eienskappe van albei ouers. Dit noem ons voortplanting.
Die drang om voort te plant is seker een van die sterkste drange in die natuur en dit voorkom dat spesies uitsterf. Ook by die mens is dit die geval.
Dit is belangrik om te onthou dat God ons so gemaak het. Ons is dus aangetrokke tot die teenoorgestelde geslag en wil graag by mekaar wees en op die ou end wil ons graag saamslaap. Dit is die oeroue drang van voortplanting.
Daar is egter meer as net die fisiese drang. Ook op emosionele gebied het ons die aangetrokkenheid en gehegtheid aan mekaar. Ook dit het God geskep, sodat ons in ons onvolledigheid vervul kan word deur iemand met eienskappe waaraan ons behoefte het. So kry ‘n mens dikwels dat teenoorgesteldes mekaar aantrek- introverte en ekstroverte, kunssinniges en logiese denkers, malletjies en ernstiges.
Wanneer albei partye op albei maniere tot mekaar aangetrokke voel, is dit wonderlik. Nouja, tot sover vir vandag. Lekker slaap en liefde. Ma
Nota: Hierdie is die eerste deel van ‘n reeks briewe wat nou saamgevat is in ‘n boek.
Ma, ek’s verlief, oftewel Ma se seksboek, is nou in die handel beskikbaar. Koste slegs R 35 +posgeld van R15 =R50.
Om u kopie te bestel, sms u naam en kontakbesonderhede na 0845874228.
Om deel 2 te lees, klik hier.
dankie, ek sal sommer my dogter ook hier laat lees!
Ek het hierdie boekie geskryf vir my kinders toe die jongste so 15 -16 jr oud was en. die oudste 21. Hulle wou hulle eers doodlag toe hulle hoor wat ek skryf, maar hulle het almal erken dat hulle darem iets uitgevind het wat hulle nie geweet het nie.
Ek sal maar geduldig wag vir verdere aflewerings.
Terug pieng: Seegogga se verjaardaggeskenk | Seegogga se Bloggie
Terug pieng: Tweede briefie aan ‘n bloggie | Seegogga se Bloggie
Terug pieng: gediertes met knypers | Seegogga se Bloggie
Terug pieng: 4 jaar | Seegogga se Bloggie
Terug pieng: Hoe het Seegogga gebeur? | Seegogga se Bloggie