Dis Donderdagmiddag voor die groot dag. Later die middag moet ons 14 emmers groen loof gaan aflaai vir die saal se opmaak,maar nou is ek en my oudste eers besig om die finale afrondingswerk te doen aan die troukoek wat sy self gebak het.
Ek is besig om met ‘n lang dun kunstenaarskwassie die sjokoladeversiering aan die een kant bietjie in te verf. Die kwassie se agterkant is splinterig en gehawend , want my papagaai hou daarvan om daaraan te kou, maar die haartjiesgedeelte is mos nog reg. Die koek staan op ‘n koekstaander.
”Die koek staan nie in die middel nie!” verklaar my oudste .Sy buk vinnig vorentoe om die koek te skuif – en land met haar oog binne-in die kwassie se agterste punt. Of liewers: Die gesplinterde houtsteel van die kwassie druk met vors in haar lieflike groenerige oog in!
EINA! Haar oog is dadelik bloedbelope en BAIE seer! Ons ry om ‘n oogkundige in die hande te kry, maar daardie dag is daar geen oogkundige op ons dorp nie! Die sekretaresse van die oogkundige is egter baie oulik en bel ‘n oogspesialis in Kaapstad en verduidelik die noodsituasie. Die kind trou oor 1 en ‘n halwe dag, en dan moet die oog reg wees! Dié beveel aan dat ons hom in Kaapstad kom sien. Dis meer as 2 uur se ry van ons af, dis reeds omtrent 3 .30nm en daar is eenvoudig geen tyd nie. Is daar ‘n ander plan? Ons moet dokter toe dat sy kan kyk of daar splinters in die oog is, indien nie, kan hy oogdruppels voorskryf.
Die dokter loer met ‘n vergrootglas na haar seer ogie. Die cornea het seergekry, maar dit lyk darem nie of daar enige splinters in die oog is nie. Terug na die oogkundige se sekretaresse. Die gawe oogarts in Kaapstad, wie hy ookal mag wees, gee sowaar vir ons ‘n voorskrif van oogdruppels wat antibiotika sowel as cortisoon bevat en beveel dat sy dit elke halfuur in die oog moet gooi – o-ja, en sy moet te alle tye ‘n oogklap dra. Mmmm die oogdruppels word gegooi , maar ‘n oogklap soos ‘n seerower? Aikona!
Net toe lui die telefoon. Dis my man se werk. Ek moet nou nie skrik nie, maar hy het ‘n klein ongelukkie gehad en hulle het hom hospitaal toe geneem. Sal ek hom asseblief daar gaan haal?
By die hospitaal word die pa wat die bruid die kerk moet inneem, met ‘n rolstoel uitgestoot. Hy kan nie eintlik loop nie, want ‘n houtstomp het hom in sy been gesteek en die spier en senuwee beskadig. Hy het in die veld ‘n stuk hout opgetel , wat toe altyd ‘n pofadder was. Die slang is eenkant toe, en hy anderkant toe – en toe val hy oor die stomp….
Daardie aand sit ons gesinnetjie toe met tonne loof wat gesny en saal toe gekarwy moet word, en twee kranklikes, – die einste twee wat Saterdag moet “shine”.
Ken julle ‘n seer oog wat heelnag traan? Die voornemende bruid het nog in die nag wakker geword en gehuil omdat haar oog so pyn. Toe my pragtige kind die Vrydagoggend voor die troudag opstaan, is haar oog dik geswel en bottoe. Die vel hang sulke riwwe hier oor haar wang, asof sy ‘n boksgeveg verloor het.
Dit was tyd vir positiewe denke. ” Ons het nou gebid vir hierdie oog, en jy glo nou net hy sal more reg wees.” ” Jy sê net vir jou oog, hy is more reg!” “Glo dit!” Die oogklap word uitgepluk en met’n wattetjie onder word hy pliggetrou heeldag gedra tot slapenstyd. Elke halfuur word die druppels gegooi. Die oog lyk sleg, maar ons hou vol met positiewe denke.
My tannie bel. Sy het nou so gedink: as die oog nie reg is nie, gaan koop ons ‘n klomp oogklappies en plak hulle vol sequins. Dan dra ons almal die klappies en sê dis deel van die trou-uitrusting….
Daardie Vrydagaand eet ons almal lekker saam in ons restourant, my kind met oogklap en al en ons bly positief, al lyk die getuienis verdoemend. My man met krukke. (Hy kan darem intussen al ‘n paar treë gee- met moeite. ) Ook hy moet sy been bemoedig en aanspreek.
Ek is vandag spyt dat ek nie foto’s geneem het van daardie oog en daardie been nie, want hulle het regtig baie sleg gelyk. My man het nou, 6 jaar later, steeds ‘n lelike litteken van sy ontmoeting met die slang en die stomp en êrens op ‘n video het ons ‘n deeltjie waar my kind met oogklap en al weereens nog die ” weddingplanner” se onversadigbare lus na groen loof probeer bevredig.
Maar julle moet my glo ( en ons kon dit self byna nie glo nie!) as ek julle vertel: Toe my dogter daardie Saterdagoggend wakker word, is haar oog reg! 100%!!! Wow! Dankie liewe Vader, ons gebede is verhoor! Dis ‘n wonderwerk! My man kon haar die paadjie af begelei ( met moeite, maar nie so dat iemand dit sal agterkom nie) en my kind het geblom.
Dit was ‘n pragtige troue, al die dramas ( en loof) ten spyt.
Wonderlik! Stuur net so vir Amore op RSG se Tjailatyd.
Andre
Dankie Andre! Gestuur, maar ek dink hulle neem net reisverhale op ons paaie. Sal maar sien wat word.
Terug pieng: Anoniem
Natuurlik weer lekker gelees!!1 Dankie. Jy is seker bly jy het nie agt kinders gehad nie 🙂
!!!
My tweede katastrofe is ook geskryf 🙂
Sjoe, klink omtrent na ‘n spanningsverhaal so voor die troue! Het lekker gelees.
Bly jy geniet dit.
Eina. So amper hou julle seerowertroue. Maar God is goed, end goed, alles goed.
Oh my word! Dit was sowaar amper!
Jy wat sulke fantastiese troues vir elke kind hou! Ek sal nooit jou musiekinstrumenttroue vergeet nie, en ai toggie, ek wou nog die instrumente kom leen het vir meisiekind se 21st! Skoon vergeet!
ai tog jy kon hulle met liefde geleen het!
Dis nou weer die sif in my kop…
!
Ek het toe die storie gestuur soos Andre beveel het , en dit is vandag deur Amore gelees/ vertel. Sy het dit regtig goed en interessant gedoen.
Terug pieng: Hoe het Seegogga gebeur? | Seegogga se Bloggie