Ouma se bababoek nr 4, liggaamlike kontak, sjuut en borsvoeding

Liewe Kinders

Jammer ek het so lanklaas geskryf, dit gaan maar dol- heeltemal te dol vir ‘n “ouma!”

Kom ons gaan bietjie terug. Ons het gesien dat die mens, hoewel baie beskaafd, nog steeds deel van die soogdiere is en dus sekere basiese soogdier-karaktertrekke het, oa. die versorging van sy kinders met liefde en deernis tot hulle groot genoeg is om vir hulleself te sorg.

Hierdie versorging van kindertjies is instinktief. Daarom het mens( en dier!) ‘n ingebore affiniteit vir klein diertjies of babatjies. Hierdie aantrekkingskrag van babatjies is so sterk dat dit soms gebeur dat diere van verskillende spesies mekaar se kleintjies grootmaak. Ook by die mens is dit die geval.

By ‘n mens, wat eintlik maar min op sy instinkte staatmaak, is moederskap ‘n tyd waar jou instinkte superskerp is. Die instinkte help jou om ‘n goeie mamma vir jou kinders te wees en te weet wat aangaan met jou babatjie.

Jou babatjie moet by jou wees, hoe nader, hoe beter. Liggaamlike kontak is baie belangrik vir sy ontwikkeling. Slaaptyd is ‘n lekker tyd vir hierdie liggaamlike nabyheid en dis natuurlik dat jou babatjie by jou slaap. Dit versterk ook die goeie band tussen ouer en kind, wat later in die tienerjare so belangrik is.

Hier kom klere ook in gedrang. Deesdae word babatjies so toegemaak in babygrows wat hulle van kop tot toon bedek, maar eintlik moet hy kaal wees. Deur minder klere aan te he, het hy meer velkontak met sy omgewing en sy ma. Nie net word die behoefte aan aanraking beter bevredig nie, maar sy tas-sensasies word beter ontwikkel. In een studie wat ek gelees het ( en moenie nou vir my vra wie en waar nie, ek het dit jare gelede reeds gelees) het hulle uitgevind dat kinders wat in die somer gebore is, effens intelligenter is as kinders wat in die winter gebore is. Dit is volgens hulle omdat babas in die somer minder klere dra  en dus meer teksture voel en gouer meer dinge ervaar. Ek het nogal daarvan gehou om julle nie te dik aan te trek met slaaptyd nie, en eerder ‘n warmer kombersie te gebruik. ‘n Ander studie het bevind dat swart babatjies tot op seker so 3 jaar, verder ontwikkel is as wit babatjies, omdat hulle die hele tyd op hulle ma se rug sit( liggaamlike kontak en emosionele  sekuriteit agv nabyheid) en oral saam met die ma gaan en sien wat sy doen.

Dan het ons ook gesien dat die ma  dadelik moet reageer as haar babatjie huil. Dis sy metode van kommunikasie. Tel hom op! Meestal hou hulle sommer dadelik op met huil, wat dalk vir jou se hy het sommer verlang na bietjie aandag! Maar wat se ons vir iemand as hy moet stilbly? Dis reg:”SJUUUT!” Dit werk met grootmense, en ek kan julle verseker dit werk soos ‘n bom met babatjies! Ek kan nie verstaan hoekom so min mense dit vir hulle babatjies se nie. My ouma het mos altyd, terwyl sy in die kombuis werk, so ‘n sjuu-sjuu=sjuu geluid geneurie-sing. Ek het altyd gewonder hoekom. Jare later, toe ek vir jou op haar knie sit, Leanie, gaan my ouma dadelik oor in die “sjuu-sjuu-sjuu” mode. Toe besef ek eers dat sy mos al die jare kombuiswerk moes doen met ‘n babatjie by haar – sy het immers 12 gehad! Die sjuuu-geluid is iets waarvan babatjies baie hou, en wat hulle rustig maak ( is dit wat hulle in die baaarmoeder gehoor het?). Daarom se mense vandag nog in alle tale “sjuut” as jy wil he iemand moet stilbly.

Terwyl ons nou so nader aan die natuur praat, is die volgende stukkie waaroor ons moet gesels, borsvoeding.

Almal weet nou al dat moedersmelk die  allerbeste vir die klein babatjie is en dat dit hom ook beskerm teen siektes. Nou die dag het ‘n verpleegster-blogger gese hoe die nasies verskil. As ‘n wit vrou gevra word hoe sy haar baba gaan voed, se sy sy gaan probeer om te borsvoed. ‘n Swart mamma antwoord eenvoudig: borsvoeding. Daar is geen alternatief nie.

Die  pasgebore babatjie, het een belangrike refleks: om te suig. As enigiets aan sy gesiggie raak, draai hy sy kop in daardie rigting en begin suig! Dis te dierbaar om te sien. Hulle suig letterlik aan alles wat voorkom. Soms sal hulle aan hulle handjies ook suig. Dit maak glad nie saak nie, hulle gaan nie noodwendig duimsuiers word nie, trouens, borsbabas is minder duimsuiers as ander.

Berei jouself vir borsvoeding voor terwyl jy swanger is, deur jou tepeltjies te rol en te knie en te trek, sodat jy gewoond raak aan al die aanraking. Dan word hulle nie so maklik seer nie. Dit help om ‘n goeie room in te vryf- vra die apteker.

Aanvanklik sit ‘n mens die babatjie ‘n kort rukkie aan elke bors, seker so 5 -10min, en maak dit geleidelik langer. Met tweelinge ruil hulle nie die babas om nie, maar as die outjie nou aan die linkerbors gedrink het, moet hy volgende keer aan die regterbors drink. Tannie Coralie het my vertel dat sy vir elke outjie ‘n karton horlosie gemaak het wat vir haar kon aandui wanneer die laaste keer was wat die babatjie gedrink het, en aan watter bors. Dit help, want ‘n mens raak maklik deurmekaar.

Dit is ook so dat borsbabatjies gouer honger word en dus meer dikwels drink as bottelbabas. Die algemene teorie is nie meer die van vaste roetine nie, maar voed op aanvraag. Dit is nogal hard op die mamma, maar dit is ook so dat hoe meer die babas drink, hoe meer melk het jy. ( jy moet natuurlik baie vloeistowwe ook drink)Later, as die aanvanklike gevoeligheid van die borste verdwyn het, laat jy jou babas drink so lank hulle wil , en hulle raak ook gewoonlik sommer lekker aan die slaap – en jy ook, as jy nou gemaklik le of sit. Dit het altyd vir my gevoel ek gee vir my kinders slaapmedisyne is as ek borsvoed. Dis ongelooflik hoe hulle ogies sommer toegaan.

Wat borsvoeding aan betref, is dit belangrik dat jy as mamma moet ontspan. Eers dan”sak” jou melk en vloei maklik. Sit mooi musiek op, sit of le gemaklik en geniet die oomblik. Die huiswerk kan wag – dis nou babatyd! Borsvoeding is nog ‘n wonderlike geleentheid vir “bonding”. Dit help om by ‘n organisasie aan te sluit wat hulle beywer vir borsvoeding, en wat vir jou waardevolle raad kan gee, as jy dalk sukkel.

As ‘n mens eers geoefen is om jou melk te laat ‘sak’ het jy ook nie meer ‘n borspomp nodig indien jy jou wil uitmelk nie. Jy druk net so ligggies op die bors soos die babatjie sal suig, en die melk vloei!

Hoe lank borsvoed ‘n mens? Tannie Altalise, wat met honde geboer het, het hierdie interessante brokkie deurgegee. Soogdiere voed hulle babas so lank as wat hulle dragtig is. Honde is bv twee maande dragtig en babahondjies word net tot op 8 weke gevoed, daarna is hulle heeltemal gespeen. Blykbaar is dit met alle soogdiere so.

Dit beteken dat die natuurlike tyd om op te hou borsvoed, 9 maande is.  Ek het jou op 6 maande  van die bors afgehaal , Leanie, en oneindig moeilikheid opgetel. Pleks ek langer aangehou het! Annika en Lienkie het ek tot op ‘n jaar geborsvoed, en dit het goed gewerk. Ek dink daar is baie waarheid in tannie Altalise se teorie, dus hou uit en aan. Dis in elk geval die allerminste moeite!

En so word ons as hoogsbeskaafde wesens skielik weer aards. Daar is min dinge wat jou so af aarde toe bring as geboorte en moederskap. So “back to nature!”

Dit maak jou nederig by die besef van die wonder van die skepping en die ongelooflike voorreg om ‘n kindjie ( of dalk twee kindertjies) groot te maak. ‘n Mens kan God net dank vir sy genade.

Maar wag, dis alweer slaaptyd. Lekker slaap en baie liefde!

Mamma

Om nr 5 te lees, klik hier.

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in ouma se bababoek ( ouerleiding). Bookmark the permalink.

4 Responses to Ouma se bababoek nr 4, liggaamlike kontak, sjuut en borsvoeding

  1. Vlam sê:

    “En so word ons as hoogsbeskaafde wesens skielik weer aards. Daar is min dinge wat jou so af aarde toe bring as geboorte en moederskap.”

    Praat jy wat tanne het daar! :mrgreen:

  2. toortsie sê:

    Waar was jy toe ek kinders gehad het????? Ek wens jy kon my help met die voeding-storie!! 🙂
    My was masjien was verlede week nie so lekker nie, toe moes ek noodgedwonge hulp inroep van die plaasmense. ‘n Mamma met ‘n 1.5 jaar oue kind het kom klere was met die hand. Ek wou ‘n foto neem, want baba was die hele tyd op haar rug!! Ongelooflik! En Mooi!

    • seegogga sê:

      Ons kan baie by hulle leer.Ek het my tweede kind so op die rug grootgemaak, my ” ousie” het my gewys hoe. Die ongeluk is net- met my koordinasie het ek die arme kind ‘n hele paar keer katswink geslaan as ek deur ‘n deur loop en vergeet van die ekstra spasie wat ek moet toelaat vir die baba se kop! Gelukkig lyk sy darem vandag heel normaal en het nie te veel skade oorgehou nie.

  3. Terug pieng: Ouma se bababoek. Brief 3: Slapies by mamma? | Seegogga se Bloggie

Laat 'n boodskap na seegogga Kanselleer antwoord

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s