(Hierdie is deel 4 van die storie. Klik hier om van die begin af te lees.)
Nouja, ek het laas vertel hoe die twee ou karnallies, oom Fagan en oom D hulle lyf seerower gehou het. Oom D het sy ‘gesteelde’ tinstaaf verloor omdat X dit weer terug’gesteel’ het en van oom Fagan se staaf het niemand iets geweet nie. Hoe ernstig die omies die seerower- seerower speletjie opgeneem het, het eers later aan die lig gekom.
Dis ongeveer 10 jaar later. Oom Fagan besluit dat hy nou regtig oud word. Netnou gaan hy dood en dan weet niemand van sy tin nie. Toe sy dogter en haar man kom kuier, kommandeer hy sy skoonseun om saam met hom te gaan ry- en hy moet sommer ook ‘n graaf saambring.
Oom Fagan neem sy skoonseun na ‘n familielid van hom se vakansiehuis. Die huis is in die hoofstraat van Struisbaai, maar die dorpie is nog klein en die meeste huise staan deur die jaar leeg. Ook die familielid kom maar net vakansies na sy strandhuis toe.
Daar gekom, haal oom Fagan ‘n papiertjie uit sy sak- ‘n seerowerskatkaart? Hy beveel sy skoonseun as volg. ” Staan met jou rug teen die wasgoedpaal reg voor die minnetokkaboom. Loop nou 3 tree vorentoe parallel met die wasgoedlyn. Draai 90grade regs. Wat sien jy?” Skoonseun sien nou die hoek van die bure se huis.” Stap nou 2 tree reguit na die hoek van daardie huis. Draai 90grade regs. Sien jy ‘n kragpaal? Stap 7 tree reguit na die kragpaal toe. Buk nou af en begin grawe.”
My man (ja, hy is die skoonseun en oom Fagan was my pa) begin grawe en sowaar, presies daar, grawe hy die staaf tin uit! Toe hoor ons vir die eerste keer die storie van die tin.
Oom Fagan en skoonseun is terug huis toe met die ‘skat’ sonder dat die familielid ooit geweet het dat daar byna 1o jaar lank ‘n staaf tin in sy agterplaas begrawe was.
By die huis gekom, moet skoonseun die staaf tin deursaag, want oom Fagan wil mos spinners laat maak! Dis nogal ‘n harde werk om so ‘n blok tin deur te saag, en skoonseun, wat die hele skattejag ook geniet het, vra toe of hy maar die handvatsel of oor van die tin vir hom mag afsaag ter herinnering. Die het hy toe ook gedoen.
Oom Fagan het die een helfte van die tin na oom D toe geneem, want Oom D was die man wat die vorms gehad waarmee mens spinners maak. Oom D se kop het waarskynlik oortyd begin werk toe hy hierdie blok tin van lank gelede sien!
Sover ons weet, het oom D wel ‘n paar spinners met ‘n bietjie van die tin gemaak. Die orige tin het hy in ‘n streepsak gesit en vir oom Fagan teruggegee. Oom Fagan het die tin agter op sy bakkie gesit, maar op pad huis toe gou ‘n dop gaan drink en skoon van die tin vergeet.
Eers ‘n week later onthou hy van sy tin. Hy gaan haal die sak van sy bakkie af, maar binne- in die sak ontdek hy net ‘n klomp klippe. Sy tin is weg! Ja, oom D het uiteindelik sy tin gekry! Finders keepers.
Maar wat het van die ander helfte van die tin geword? Die deel wat agtergebly het in die garage? Is dit gesteel? Is dit verkoop? Is dit dalk weer begrawe? Niemand van ons weet nie, en al 3 hierdie besondere karakters het reeds die tydelike met die ewige verwissel. Die tin is weg – nes die Kruger miljoene.
In ons kluis lê die oor van die tinstaaf wat my man afgesaag het, soveel jare gelede- ‘n stille getuienis dat daar wel so ‘n tinstaaf ( en so ‘n storie) was.
En miskien, net miskien lê daar erens op Struisbaai ‘n klein skat begrawe.
Hierdie 2 foto’s is van die oor van die tinstaaf waaroor die storie gaan (Inligting oor die moontlike wrak volg volgende keer).
more, more. Waarvooi word tin gebruik? Dis nou behalwe spinners? Krappie, gelukkig wou die vriende nooit tuin maak nie.
ja, as hulle tuin gemaak het, het die graaf dalk ‘n hou gekry!!
hoekom kry ek so ‘n snaakse gevoelentheidjie oor hierdie storie????
Watse snaakse gevoelentjie, Toortsie?? Ek moet se, ek byt swaar aan die laaste stukkie van die sak vol klippe. Ek glo ook nie oom F, wat so noukeurig seerowerstyl sy tin weggesteek het, sal dit sommer agter op sy bakkie vergeet nie. Dit kan heel moontlik dalk ‘n stertjie wees wat met die jare bygelas is. Die twee ou omies was in elk geval goeie vriende totdat oom F later gesterf het en as die een die ander dalk uitoorle het met die tin, sou hulle dit gevat het soos ware seerowers ; Some you win, some you lose.
Dankie Seegogga, dit is nou ‘n regtige, egtige , oulike werklike sorie!!! ek het dit geniet.
Wonder wie gaan nou soek na die moontlike wrak? 😉 Ja daar sit die bewyse wit op die twee fotos, hulle het bestaan!! So daar moet ‘n wrak ook bestaan!
Hallo Olga. Geelkoper word gemaak van ‘n allooi van koper en tin, pewter bestaan ongeveer 90% uit tin. Alle blikkies vir blikkieskos is vroeer gemaak van tin, maar deesdae iets anders bedek met dun lagie tin ( tin can). Alle soldeersel is tin, sommige met lood gemeng, ander 100% tin. Word ook in die proses van floating glass vir glasventers gebruik. Tinfoil is vroeer van tin gemaak, nou van alimunium. Dit word gebruik om ander metale ‘n glanslaa te gee en teen roes te beskerm. Tin roof.
In die ou skepe is dit soms gebruik as gewig om die skepe te balanseer terwyl hulle leeg is. Dan is die tin in Indie of waarookal verkoop en die romp van die skip is gevul met die goed wat aangekoop is.
dankie krappie. So tin moet basies n sagte metaal wees. Maak nogal sin on as ballast te gebruik as die skip leeg is en dan van die hand te sit ne.
Ja, dis sag, maar ek dink bietjie harder as lood? (Dink ook aan die ou tandepastabuisies- ek dink tin was ‘n belangrike besstanddeel).Dis ook blink en roes nie eintlik soos yster nie. Onthou my tin het meer as 100jaar onder die see gele en toe jare lank onder die grond. Die stuk wat afgesaag is het byna 30 jr in ons kluis gele, so die afgesaagde deel het ook al hier en daar verdof.
Dankie Seegogga, leer ek ook nou meer oor die dinge waarvoor Tin gebruik word!
Ek moes maar gaan opsoek, nadat Olga my opkommandeer het. So het ek ook nou weer iets geleer!
Terug pieng: SEEROWERS! ( DEEL 3) | Seegogga se Bloggie
Dit is darem regtug’n mooi storie.
Dis een van ons gunsteling familiestories wat gereeld weer opduik.
Ek glo dit sal behoue bly. By ons us ‘n gunsteling hoe my pa manalleen vir 6 mense gaan draairoomys en hamburgers koop het. Ek voel nounig sleg daaroor, hy hét my gevra om saam te gaan.
Dis een van ons gunsteling familiestories wat gereeld weer opduik.